Hardwerkendheid—Wanneer dit ’n deug is
ORAL in Suidoos-Asië sit talle jong diensmeisies hulle kombuiswerk opsy en sit hulle vasgenael voor hulle televisiestelle wanneer die Japannees-vervaardigde TV-vervolgverhaal Osjin opkom. Dit is ’n suksesverhaal van ’n vrou wat arm was en ná jare lange harde werk en swaarkry ryk geword het. Met trane in hulle oë vereenselwig die meisies hulle met Osjin, die heldin. Die episodes is blykbaar net wat hulle nodig het om hulle deur nog ’n dag van harde werk te help.
Wanneer mense hulle dag na dag afsloof en daardeur selfs hulle gesondheid en lewe in gevaar stel, moet hulle beslis redes daarvoor hê. Waarom doen hulle dit? Soos in die geval van die Asiatiese diensmeisies is dit beslis ’n algemene en kragtige aansporing om hard te werk as ’n mens jou lewenstandaard wil verbeter. Maar blykbaar is die materiële beloning nie al wat hierby betrokke is nie.
“Finansiële beloning word begeer, maar is amper ’n toevallige aansporing”, skryf Stephen D. Cohen aangaande die Japannese werksetiek. Wat beweeg die Japannese dan om so hard te werk? “Die sukses van ’n maatskappy se verkope in verhouding tot dié van sy mededingers is ’n bron van ontsaglike trots en selftevredenheid. Harde werk wat hiertoe bydra, is op sigself ’n beloning”, verduidelik Stephen Cohen. Getrouheid aan hulle maatskappy is die rede waarom werknemers hard werk, en werk word vir hulle die enigste manier om hulle verdienstelikheid te toon. Wat ook nie uit die oog verloor moet word nie, is die begeerte om die maatskappyleer te bestyg. Die moontlikheid om eendag heel bo uit te kom, bly ’n sterk aansporing vir harde werk.
Redes om ’n mens se gesondheid in gevaar te stel?
Is dit goeie redes om ’n mens se gesondheid en lewe op die spel te plaas? Aangaande iemand wat hard vir materiële rykdom werk, toon die Bybel dat ‘sy oë ook nie genoeg van rykdom kry nie’. Uiteindelik kan so ’n persoon begin wonder: “Vir wie tog vermoei ek my en laat ek my siel gebrek ly aan die goeie?” (Prediker 4:8). Diegene wat hard werk om ryk te word, weet blykbaar nie wanneer of waar om op te hou nie. Hulle word vasgevang in ’n bose kringloop van werk, werk en nogmaals werk. Die Bybel waarsku eenvoudig: “Vermoei jou nie om ryk te word nie.”—Spreuke 23:4.
Wat van lojaliteit teenoor die maatskappy? Hoewel dit ’n deug kan wees, moet die moontlike uitwerking van oorwerkery in ag geneem word. “As ’n kêrel hom uitbrand”, het ’n hoof- uitvoerende amptenaar van ’n Amerikaanse maatskappy gesê, “wil ek hom in elk geval nie op my span hê nie.” Ná ’n “maatskappystryder” voor die ouderdom van 40 weens oorwerkery gesterf het, het sy vrou aan ’n koerant geskryf: “Watter betuigings van meegevoel is ons veronderstel om te vind in hulle bewering: ‘Ons is jammer dat ons so ’n kosbare persoon verloor het’? Daardie maatskappymartelare word, as hulle eers dood is, behandel asof hulle bloot ‘weggooibare goed’ was.”
Wat gebeur wanneer ’n mens aftrede bereik, selfs as jy werkverwante uitbranding of sterfte weens oorwerkery vrygespring het? “Ten spyte van die baie harde werk wat hulle vir hulle maatskappy doen”, sê Motojo Jamane, ’n Japannese omroeper, “word hulle bewus gemaak van die feit dat die maatskappy hulle nie meer nodig het nie en dat hulle waardeloos is.” Vir die onpersoonlike maatskappy is hardwerkende werknemers maar net ratjies in hulle groot onderneming wat vervang moet word wanneer hulle uitgeslyt is. Geen wonder nie dat baie Japannese vertroue in hulle maatskappy verloor! Hulle begin besef dat hulle toewyding aan die maatskappy nie ’n wederkerige liefde is nie.
Wat kan gesê word van mense wat die maatskappyleer bestyg? Diegene wat die sport van middelbestuur bereik het, besef gou dat nie almal heel bo sal uitkom nie. Wat gebeur dan? Aangesien hulle van vooruitsigte vir bevordering beroof is, gaan hulle van die een werk na die ander. Hulle lojaliteit en deugsaamheid was tevergeefs!
’n Gebalanseerde beskouing van hardwerkendheid
Hoewel harde werk wat deur liefde vir geld, lojaliteit aan ’n maatskappy of ’n mededingende gees aangedryf word ’n mens uiteindelik frustreer en teleurstel, erken die Bybel die waarde van harde werk. “Elke mens [moet] eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God” (Prediker 3:13). Die Bybel raai ons aan om die vrug van ons harde werk te geniet. Hieruit kry ons ’n wenk oor wat die behoorlike beskouing van harde werk behoort te wees.
Die Japannese Departement van Gesondheid en Welsyn het werkers onlangs aangeraai om “na-ure van die werk te vergeet (en) aandete saam met hulle gesin te geniet”. Party sakeleiers besef blykbaar die wysheid van hierdie raad. Die president van ’n groeiende biotegnologiese firma het byvoorbeeld gesê: “Ek wil hê dat al ons werknemers allereers goed vir hulle gesin moet sorg. Hulle werk by ons maatskappy is niks meer as ’n middel tot ’n doel nie.”
’n Goeie gesinsverhouding is beslis die moeite werd om na te streef. As ’n hartlike gesinsatmosfeer in gevaar gestel word of jou gesondheid as gevolg van jou werk versleg, geniet jy nie die goeie by al jou moeitevolle arbeid nie.
Maar in die Japannese samelewing, waar die senioriteitstelsel heers, het party die gesindheid ontwikkel: “Moenie afwesig wees nie, moenie traag wees nie, moenie werk nie.” Hulle gee voor dat hulle ywerig is deur laat by die werk te bly, maar wag net vir die toesighouer om huis toe te gaan. Kendji, ’n verkoopsagent vir ’n binneversieringsmaatskappy in Hirosjima, het daardie beskouing gehad. Hy was ledig by die werk en het tyd in ’n kafee of ’n spykertafelarkade deurgebring.
Maak so ’n gesindheid ’n mens gelukkig? “Traagheid lei tot dwangarbeid”, sê ’n Bybelspreuk. ’n Mens sal vandag miskien nie as gevolg van jou luiheid onder letterlike dwangarbeid kom nie. Maar die werk kan sleurwerk word, verstandelik gesproke dwangarbeid. Daarenteen toon dieselfde spreuk die voordeel van ywer: “Die hand van die vlytiges sal heers” (Spreuke 12:24). Al is jy nie in beheer van ’n land of ’n maatskappy nie, sal jy ten minste deur jou gesin gerespekteer word en jou eie baas wees. Daarbenewens kan jy die vertroue van jou werkgewer wen en ’n skoon gewete verkry.
Kendji het gevind dat dit die geval is. Hy het besluit om die Bybel te bestudeer, en sy lewe het ingrypend verander. “Deur die beginsel van eerlikheid by die werk toe te pas”, sê hy, “het ek begin om pligsgetrou te werk hetsy die baas daar was of nie. Ek het sy vertroue gewen.”
Wanneer hardwerkendheid ’n deug word
Om die waarheid te sê, werk moet tot ander se voordeel strek om sinvol te wees. ‘Bevredigende werk is’, volgens ’n sakeskrywer se definisie, ‘werk wat gerief, gemak of genot in baie mense se lewe meebring.’ Sulke werk verskaf die werker groot bevrediging. Dit is soos Jesus Christus gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
Hoewel dit prysenswaardig is om tot die voordeel van ander te werk, is daar nog ’n sleutelfaktor om bevrediging in jou werk en in die lewe te vind. Koning Salomo het, ná hy al die luukshede en rykdom geniet het wat die lewe kan bied, tot hierdie belangrike gevolgtrekking gekom: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.”—Prediker 12:13.
Dit is duidelik dat ons God se wil in ag moet neem in alles wat ons doen. Werk ons in ooreenstemming met sy wil of daarteen? Probeer ons hom tevrede stel of net onsself? As ons versuim om God se wil te doen, word ons niks meer as materialiste of genotsugtiges nie en sal ons uiteindelik die pyn van eensaamheid, leegheid en wanhoop ervaar.
Ons moet derhalwe onthou dat ons diens aan Jehovah God—om werk te doen wat ons Skepper behaag—ons nooit sal teleurstel nie. Jehovah is self ’n harde werker, en hy nooi ons om by hom aan te sluit en sy “medewerkers” te word (1 Korinthiërs 3:9; Johannes 5:17). Maar bring sulke harde werk werklik ware geluk mee?
’n Besturende direkteur van ’n drukkersfirma het die Wagtoringgenootskap se drukkery in Japan eenkeer besoek om sy uitleg te bestudeer. Dit was nie net die masjiene wat sy aandag getrek het nie. Hy het gesien hoe jong mans hulle werk geniet, en hy was verbaas om te hoor dat hulle almal vrywilligers is en dat baie ander gretig aansoek gedoen het om by hulle aan te sluit. Waarom was hy verbaas? “By ons maatskappy”, het hy verduidelik, “moet ons, wanneer ons tien mense in diens neem, dit as redelik goed beskou as vier van hulle ná een jaar nog by ons is. Julle Wagtoringmense het ’n skat in hierdie jong werkers!”
Wat maak hierdie jong mans so gelukkig en sulke harde werkers? As vrywilligers werk hulle beslis nie vir geld nie. Wat spoor hulle derhalwe aan? Hulle toewyding aan en waardering vir Jehovah, hulle Skepper, en hulle liefde vir hulle naaste. Hulle gesindheid toon dat hulle nie werk as “mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen”.—Efesiërs 6:6.
Dit alles is bloot ’n voorskou van wat nog moet kom. Diegene wat nou hard werk om Jehovah te dien, kan uitsien na die tyd wanneer hy binnekort die Paradys sal herstel en die hele aarde vol werke sal wees wat die moeite werd is. Jesaja, ’n eertydse profeet van God, het aangaande daardie lewe voorspel: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; . . . my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”—Jesaja 65:21, 22.
Wat ’n seën sal werk dan tog nie wees nie! Deur te leer wat God se wil vir jou is en in ooreenstemming daarmee op te tree, kan jy onder die geseëndes van Jehovah wees en altyd ‘die goeie geniet by al jou moeitevolle arbeid’.—Prediker 3:13.
[Venster op bladsy 9]
’n Gebalanseerde beskouing van werk red ’n huwelik
Vir Jasoeo, wat in Hokkaido, Japan, woon, was werk tot ’n paar jaar gelede sy enigste tydverdryf. Hy het ’n posisie in middelbestuur beklee, en hy was met die vermeerdering van verkope behep. Dag na dag het hy tot 11:00 nm. gewerk sonder om enige verlof te neem. Hy sê: “Toe het ek besef dat ek, ongeag hoe hard ek my ingespan het, geen vreugde uit my werk geput het nie.” Jasoeo se liggaamlike toestand het begin agteruitgaan. Nadat hy met sy vrou gepraat het, het hy besef dat daar iets belangrikers as sy werk was—sy gesin. Hy het sy lewenstyl verander en saam met sy vrou die Bybel bestudeer. Hy is nou die geliefde en gerespekteerde hoof van ’n gelukkige gesin.
[Prent op bladsy 9]
Jou werk moet nie jou gesinsverhoudinge in gevaar stel nie
[Prent op bladsy 10]
Binnekort sal almal dit geniet om van die aarde ’n paradys te maak