Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 7/22 bl. 12-17
  • Die moed om God eerste te stel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die moed om God eerste te stel
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons vind die waarheid
  • Die vlagsalueringskwessie kom na vore
  • Tuisonderrigting begin
  • Voor die hof
  • Die Appèlhof
  • Ons volhard onder vervolging
  • Eindelik ’n verandering
  • ’n Loopbaan in Jehovah se diens
  • Sedelike waardes wat respek verdien
    Jehovah se Getuies en opvoeding
  • Die Filippynse Hooggeregshof beslis tengunste van vryheid van aanbidding
    Ontwaak!—1994
  • “Redding behoort aan Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Ons ouers het ons geleer om God lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 7/22 bl. 12-17

Die moed om God eerste te stel

DAAR was iets onheilspellends aan die gelui van ons telefoon om drie-uur die oggend. Dit was een van Pa se vennote wat kort tevore ’n vergadering van die Amerikaanse Legioen bygewoon het. Hy was rasend van kommer. “Wally”, het hy vir my pa geskreeu, “as jy nie die Philadelphia Inquirer nou dadelik, betyds vir die oggenduitgawe, skakel en sê dat jy die vlag sal salueer nie, gaan ’n klomp oproeriges vandag jou kruidenierswinkel en jou gesin aanval, en ek sal nie verantwoordelik wees vir wat gebeur nie!” Pa en Ma het al voorheen gepeupelgeweld deurgemaak. Hulle was nou wawyd wakker en het begin bid.

Met dagbreek het hulle die ses van ons wakker gemaak. Pa het gesê my broer Bill moet die jonger kinders na ons grootouers se huis toe neem. Daarna het ek en Bill soos gewoonlik met die huiswerk en in die winkel gehelp. Pa het na Minersville se polisiehoof toe gegaan en hom van die dreigement vertel. Kort daarna het ’n polisiemotor van Pennsilvanië se Staatspolisie voor ons winkel stilgehou en heeldag daar gebly. Ons het ons werkies in die winkel gedoen en klante bedien, maar ons het gedurig die sypaadjie dopgehou. Elke keer wanneer ’n groep mense stilgestaan het, het ons hart in ons keel geklop. Maar die klomp oproeriges het nooit gekom nie. Miskien het hulle afgekoel nadat hulle dinge goed oorweeg het—en die polisiemotor gesien het!

Ons vind die waarheid

Maar wat het tot hierdie plofbare situasie gelei? Dit het met ons godsdiens te doen gehad. Jy sien, in 1931, toe ek sewe was, het Ouma en Oupa ’n ruk lank by ons kom woon. Hulle was Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe bekend gestaan het.

Oupa het nie vir Pa getuig nie, maar wanneer Ouma en Oupa uit was, het Pa na hulle kamer toe gegaan om uit te vind waaroor hulle lektuur handel. Hy het dit verslind! Ek kan steeds sy vreugdevolle uitroep hoor: “Kyk wat sê die Bybel!” Die waarheid het hom net plesier verskaf. Ma het ook die lektuur gelees, en teen 1932 het sy uit die Metodistekerk bedank en het ons ’n tuisbybelstudie gehad. Ek was net so verheug soos hulle om van die wonderlike, komende Paradysaarde te hoor. Ek het die waarheid van die begin af ’n deel van my lewe gemaak.

Teen die einde van 1932 het Ma gevra of ek gereed was om die predikingswerk van huis tot huis te doen. Gedurende daardie dae het ons, jonk of oud, alleen na die deure toe gegaan. En ons het ’n getuieniskaart gebruik. Ek het net gesê: “Goeiemôre, ek het ’n belangrike boodskap. Sal u dít asseblief lees?” Aanvanklik het ek, as die huisbewoner selfs net ’n bietjie onontvanklik was, wanneer hy klaar gelees het eenvoudig gesê: “Goed, tot siens.”

Ons het gou teenstand begin kry. In die lente van 1935 het ons in die dorp New Philadelphia getuig. Ek onthou dat ek by ’n deur met ’n man gestaan en praat het toe die polisie my en die ander kom wegneem het. Dit het gelyk of die huisbewoner ontsteld was omdat hulle hierdie 11-jarige meisie in hegtenis neem. Hulle het ons na ’n brandweerstasie met twee verdiepings geneem. Buitekant was daar ’n groep van ongeveer duisend skreeuende oproeriges bymekaar. Die kerke het mense daardie Sondag klaarblyklik vroeg laat uitkom as aansporing vir almal om deel te neem. Een meisie het my met die vuis op my arm geslaan terwyl ons deur die skare mense gelei is. Maar ons het veilig ingekom en gewapende wagte het gekeer dat die klomp oproeriges die deur afbreek.

Daar was 44 van ons in die stampvol brandweerstasie, en ons moes op die trappe sit. Ons was glad nie terneergedruk nie; ons was bly om ’n paar Getuies van die Shenandoah-gemeente te sien wat ons met die predikingswerk in die dorp gehelp het. Ek het Eleanor Walaitis daar ontmoet en ons het baie goeie vriendinne geword. Ná ’n paar uur het die polisie ons laat gaan.

Die vlagsalueringskwessie kom na vore

By die betekenisvolle byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1935 in Washington, DC, het iemand vir broer Rutherford, die Wagtoringgenootskap se president, gevra of skoolkinders die vlag moet salueer. Hy het geantwoord dat ’n mens ontrou aan God is as jy redding aan ’n aardse embleem toeskryf deur dit te salueer; hy het gesê dat hy dit nie sou doen nie. Dit het ’n indruk op my en Bill gemaak. Ons het dit met ons ouers bespreek en Exodus 20:4-6, 1 Johannes 5:21 en Mattheüs 22:21 nageslaan. Ma en Pa het nooit druk op ons uitgeoefen of ons skuldig laat voel nie. Toe die skool in September weer begin het, het ons presies geweet wat ons moet doen. Maar elke keer wanneer ons onderwysers vir ons gekyk het, het ons verleë ons arm gelig en ons lippe beweeg. Een van my probleme was vrees dat ek my wêreldse skoolvriende sou verloor as ek my standpunt inneem.

Maar toe ’n paar pioniers ons besoek het, het ek vir hulle gesê wat ons doen. Ek sal nooit vergeet wat een suster gesê het nie: “Lillian, Jehovah haat ’n huigelaar.” Toe, op 6 Oktober, het broer Rutherford ’n landwye radioprogram met die naam “Vlagsaluering” uitgesaai. Hy het verduidelik dat ons die vlag respekteer, maar dat dit in werklikheid afgodediens is om voor ’n beeld of embleem rituele uit te voer. Ons verhouding met Jehovah het dit beslis verbied.

Op 22 Oktober het Bill, wat net tien was, baie tevrede van die skool af gekom. “Ek salueer nie meer die vlag nie!” het hy trots gesê. “Die onderwyser het my hand probeer oplig, maar ek het aan my sak vasgehou.”

Omdat ek bang was dat ek sou kop uittrek, het ek die volgende oggend vóór skool met ’n bonsende hart na my onderwyseres toe gegaan. “Juffrou Shofstal”, het ek gestamel, “ek kan nie meer die vlag salueer nie. Die Bybel sê in Exodus hoofstuk 20 dat ons geen ander gode voor Jehovah God mag hê nie.” Tot my verbasing het sy my net ’n drukkie gegee en gesê dat ek ’n liewe meisie is. Wel, toe die tyd vir die vlagseremonie aangebreek het, het ek nie gesalueer nie.a Kort voor lank het almal my aangestaar. Maar ek was in die wolke. Jehovah het my die moed gegee om nie te salueer nie!

Die meisies van wie ek gehou het, was geskok. ’n Paar het my om ’n rede kom vra en dit het tot aangename gesprekke gelei. Maar die meeste kinders het my begin ignoreer. Wanneer ek soggens by die skool gekom het, het ’n paar seuns uitgeroep: “Hier kom Jehovah!” en my met klippies bestook. Die skool het twee weke lank toegekyk. Toe het hulle besluit om op te tree. Op 6 November het die skoolraad saam met Pa en Ma en die ouers van ’n ander Getuieseun vergader. Die superintendent, professor Charles Roudabush, het volgehou dat ons standpunt op verset neerkom; die ander in die raad het spoedig met hom saamgestem. Hulle het ons uit die skool gesit.

Tuisonderrigting begin

Ons kon ons skoolboeke hou en het dus dadelik met tuisonderrigting op ons solder begin, onder toesig van ’n meisie wat Ma in die huis gehelp het. Maar kort daarna het ons ’n brief ontvang wat gesê het dat ons na ’n verbeteringskool toe gestuur sal word as ons nie ’n gekwalifiseerde onderwyser het nie.

Paul en Verna Jones, wie se plaas 50 kilometer van ons af was, het ons binne ’n paar dae geskakel. “Ons het gelees dat julle kinders uitgesit is”, het Paul vir Pa gesê. Hulle het ’n muur tussen hulle sit- en eetkamer uitgebreek om ’n klaskamer te maak. Hulle het ons genooi om te kom. ’n Jong onderwyseres van Allentown, wat in die waarheid belanggestel het, het hierdie werk gretig aanvaar, al het dit beteken dat sy baie minder geld sou verdien as wat die openbare skole aangebied het. Soortgelyke Getuieskole het landwyd soos paddastoele begin opskiet.

Die Jones-egpaar het vier kinders van hulle eie gehad; maar hulle het ten minste tien ander ingeneem. Ons het drie op een bed geslaap en ingestem om tegelyk om te draai! ’n Ander Getuiegesin in die omgewing het byna net soveel kinders ingeneem en die skoolbywoning het gou tot meer as 40 aangegroei. Ons het baie pret en plesier gehad, maar daar was werkies ook. Ons het om 6:00 vm. opgestaan. Die seuns het buite gehelp en die meisies het in die kombuis gewerk. Ons ouers het Vrydag ná skool gekom om ons vir die naweek huis toe te neem. Eendag het die Walaitis-kinders en my vriendin Eleanor opgedaag.

Skoolprobleme het steeds opgeduik. Die dierbare broer Jones het gesterf en Pa het dus ons vragmotor in ’n skoolbus verander om ons die 50 kilometer skool toe te vervoer. Toe het party van ons hoërskoolouderdom bereik en moes ons ’n gekwalifiseerde onderwyser vir daardie ouderdomsgroep hê. Vir elke hindernis het Jehovah klaarblyklik ’n oplossing voorsien.

Voor die hof

Intussen wou die Genootskap ’n saak maak oor die onregmatighede in verband met die vlagsalueringskwessie. Die honderde van ons wat ’n standpunt ingeneem het, het nou duisende geword. Die een gesin ná die ander is gekies, maar die staatshowe het geweier om hulle sake vir verhoor te aanvaar. Ons gesin is genader en in Mei 1937 het die Genootskap se prokureur en die prokureur van die Unie vir Amerikaanse Burgerlike Vryheid ’n saak voor die Federale Streekhof in Philadelphia gebring. ’n Verhoordatum is vir Februarie 1938 vasgestel.

Ek en Bill sou getuienis moes aflê. Ek kan nog onthou hoe koud en senuweeagtig ek oor daardie vooruitsig gevoel het! Die Genootskap se prokureur het moontlike vrae herhaaldelik saam met ons deurgegaan. By die hof het Bill eerste getuienis afgelê. Hulle het hom gevra waarom hy nie die vlag salueer nie, en in antwoord daarop het hy Exodus 20:4-6 aangehaal. Toe was dit my beurt. Dieselfde vraag. Toe ek “1 Johannes 5:21” antwoord, het die prokureur vir die ander kant gebulder: “Ek maak beswaar!” Hy het gemeen een teks is genoeg! Daarna het professor Roudabush getuienis afgelê en beweer dat ons geïndoktrineer is en “minagting vir . . . vlag en land” bevorder. Maar regter Albert Maris het die saak in ons guns beslis.

‘Moenie eers probeer om terug te kom skool toe nie!’ was die skoolraad se boodskap. ‘Ons gaan appelleer.’ Ons is dus terug na Philadelphia, hierdie keer na die Amerikaanse Hooggeregshof. In November 1939 het die driemanhof die saak in ons guns beslis. Die skoolraad was woedend. Die saak is na die Amerikaanse Appèlhof geneem!

Die Appèlhof

Ons was verheug om te hoor dat broer Rutherford self ons saak sou bepleit! ’n Groep van ons het hom die aand voor die verhoor by Union-stasie in Washington, DC, ontmoet. Wat ’n oomblik was dit tog! Dit was April 1940 en nog koelerig. Die volgende dag was die hofsaal stampvol Getuies van Jehovah. Eindelik was dit ons beurt en broer Rutherford het opgestaan om te praat. Ek sal nooit vergeet hoe hy ons as Getuiekinders met die getroue profeet Daniël, Daniël se drie Hebreeuse vriende en ander Bybelkarakters vergelyk het nie. Hy het ’n verstommende toespraak gelewer en die gehoor het baie aandagtig geluister.

Dit het nooit werklik by ons opgekom dat die hofbeslissing ongunstig sou wees nie. Ons het op stuk van sake die vorige twee sake gewen. Maar die oggend van 3 Junie 1940 het ek en Ma in die kombuis gewerk terwyl die radio op die agtergrond aan was. Daar was skielik ’n nuusuitsending. Die regters het teen ons beslis—en nie net met ’n paar stemme nie, maar met 8 teen 1! Ek en Ma het uit verbasing net versteend bly staan. Toe het ons ondertoe gehardloop om vir Pa en Bill te vertel.

Hierdie beslissing het ’n byna ondenkbare vlaag van geweld ontketen. Oor die hele land is Jehovah se Getuies onvoorwaardelik vervolg. Mense het gedink hulle doen hulle patriotiese plig as hulle ons aanval. Binne ’n paar dae is die Koninkryksaal in Kennebunk, Maine, afgebrand. In Illinois het ’n klomp oproeriges 60 Getuies aangeval terwyl hulle die predikingswerk gedoen het en hulle motors omgekeer en hulle lektuur vernietig. In die gebied van Shenandoah, Pennsilvanië, het die koolmyn, die klerefabrieke en die skole almal kort ná mekaar vlagsalueringseremonies gehou. Getuiekinders is dus uit die skool gesit op dieselfde dag as wat hulle ouers hulle werk verloor het.

Ons volhard onder vervolging

Dit was op hierdie tydstip dat my gesin die dreigement van gepeupelgeweld ontvang het wat ek aan die begin beskryf het. Kort nadat dít misluk het, het ’n kerk in Minersville ’n boikot teen ons winkel aangekondig. Ons het baie van ons klandisie verloor. Dit was ons hele lewensonderhoud en teen daardie tyd was daar ses kinders in die gesin. Pa moes geld leen om lewensbenodigdhede te kon koop. Maar mettertyd het die boikot verswak; klante het begin terugkom. Party het selfs gemor dat dit “’n bietjie te erg” is dat hulle priester vir hulle sê waar om kruideniersware te koop. Maar talle Getuiegesinne het gedurende daardie jare hulle onderneming en hulle huis verloor.

Een aand het ek ons gesin ná ’n paar Bybelstudies huis toe geneem. Net nadat Ma en Pa ingeklim het, het ’n klomp oproerige tieners uit hulle wegkruipplek gekom en die motor omsingel. Hulle het die bande begin afblaas. Skielik het ek ’n opening voor ons gesien. Ek het vet gegee en ons het weggekom! “Lillian, jy moet dit nooit weer doen nie”, het Pa gemaan. “Jy kon iemand beseer het.” Maar ons hét veilig by die huis gekom.

Tydens al hierdie fanatiese geweld was die pers ons baie goedgesind. Minstens 171 toonaangewende koerante het die vlagsalueringsbeslissing van 1940 veroordeel. Slegs ’n handjievol het dit goedgekeur. Eleanor Roosevelt, die presidentsvrou, het ons saak in haar koerantrubriek “My dag” bepleit. Tog het dit nie gelyk of die geweld gou sou afneem nie.

Eindelik ’n verandering

Maar teen 1942 het party van die regters van die Appèlhof gemeen dat hulle die verkeerde beslissing in ons saak gelewer het. Die Genootskap het dus die saak van Barnett, Stull en McClure, ’n groep Getuiekinders wat in Wes-Virginië uit die skool gesit is, voor die hof gebring. Die Amerikaanse Streekhof van Wes-Virginië het eenparig ten gunste van Jehovah se Getuies beslis! Nou het die Raad van Onderwys vir die Staat die saak na die Amerikaanse Appèlhof geappelleer. Ons gesin was in Washington, DC, toe die Genootskap se prokureur, Hayden C. Covington, ’n kragtige pleidooi voor die Appèlhof gelewer het. Op Vlagdag, 14 Junie 1943, is die beslissing gelewer. Dit was ses stemme teen drie ten gunste van Jehovah se Getuies!

Hierna het dinge landwyd begin bedaar. Daar was natuurlik ’n paar kanniedoods wat steeds maniere gevind het om die lewe moeilik te maak vir ons jonger susters nadat hulle teruggekeer het skool toe, maar ek en Bill was nou ver oor die skoolgaande ouderdom. Agt jaar het verbygegaan sedert ons ons standpunt ingeneem het.

’n Loopbaan in Jehovah se diens

Maar dit was slegs die begin van ons loopbaan in Jehovah se diens. Bill het op 16 ’n pionier geword. Ek en Eleanor Walaitis (nou Miller) het pioniermaats geword en in die Bronx, New York-stad, gedien. Ek was verheug om, ná ’n jaar, by die Brooklynse Bethel, die Wagtoringgenootskap se hoofkantoor, te begin dien. Daar het ek ook vriendskappe gesmee wat lewenslank gehou het.

Gedurende die somer van 1951 het ek die byeenkomste in Europa bygewoon en Erwin Klose daar ontmoet. By ’n geselligheid in Duitsland het hy en nog ’n paar Duitse broers ons met hulle pragtige sang vermaak. Ek het geesdriftig vir hom gesê hoe ’n mooi stem hy het. Hy het vriendelik geknik en ek het aanhou gesels. Hy het nie ’n woord van my gesprek verstaan nie! Ek het Erwin maande later in Brooklyn, New York, in Bethel gesien, aangesien hy by die Wagtoring-Bybelskool Gilead ingeskryf was om vir sendingwerk opgelei te word. Ek het weer lank met hom gesels en hom in Brooklyn verwelkom, en hy het weer vriendelik geglimlag. Dit was steeds vir hom moeilik om my te verstaan! Maar met die verloop van tyd het ons mekaar begin verstaan. Nie lank daarna nie is ons verloof.

Ek het ’n sendeling geword en by Erwin aangesluit waar hy in Oostenryk gewerk het. Maar Erwin se gesondheid het agteruitgegaan weens die wrede manier waarop die Nazi’s hom behandel het omdat hy een van Jehovah se Getuies is. Terwyl ek uit die skool gesit is, was hy in gevangenisse en konsentrasiekampe.b Ons het teen die einde van 1954 na die Verenigde State teruggekeer.

Ons het sedertdien die vreugde gehad om te dien waar daar hulp nodig was en om twee pragtige kinders in Jehovah se weë groot te maak. Terwyl ons kinders op skool was, het ek gesien dat dinge nie heeltemal verander het nie. Judith en Stephen is albei weens hulle oortuiging aangeval en ek en Erwin se harte het trots geswel omdat hulle ook die moed gehad het om hulle standpunt in te neem vir wat reg is. En ek het altyd gevind dat hulle onderwysers teen die einde van die skooljaar besef het dat die Getuies nie ’n fanatiese groep is nie, en ons het baie goeie verhoudings opgebou.

As ek oor die jare terugkyk, kan ek nou duidelik sien dat Jehovah ons familie geseën het. Ons is op die oomblik altesaam 52 familielede wat Jehovah dien. Daar is agt wat reeds hulle hemelse beloning ontvang het of op die aardse opstanding wag, onder andere my eie, dierbare ouers wat vir ons so ’n wonderlike erfenis nagelaat het om Jehovah eerste in ons lewe te stel. In onlangse jare het ons baie aan daardie voorbeeld gedink. Erwin ly nou, nadat hy so ’n aktiewe en produktiewe lewe gelei het, aan ’n neuromuskulêre siekte wat hom kwaai beperk.

Ondanks sulke beproewinge sien ons met ware vreugde en vertroue na die toekoms uit. Nie een van ons was al ooit spyt oor ons besluit om Jehovah God uitsluitlik te aanbid nie.—Soos vertel deur Lillian Gobitas Klose.

[Voetnote]

a Oor die algemeen is Jehovah se Getuies bereid om vir ede en volksliedere respek te toon op maniere wat nie as deelname aan dade van godsdiensaanbidding beskou word nie.

b Sien die Ontwaak! van 22 November 1992, “Die Nazi’s kon ons nie keer nie!”

[Venster op bladsy 17]

Waarom salueer Jehovah se Getuies nie die vlag nie?

DAAR is ’n beginsel van aanbidding wat Jehovah se Getuies meer as ander godsdiensgroepe beklemtoon: uitsluitlikheid. Jesus het daardie beginsel in Lukas 4:8 gemeld: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Die Getuies vermy dus die aanbidding van enigiemand of enigiets in die heelal buiten Jehovah. Hulle beskou deelname aan die vlagsaluering van enige nasie as ’n daad van aanbidding wat met hulle uitsluitlike aanbidding van Jehovah sal inmeng en daarop inbreuk sal maak.

Die Israeliete sowel as die vroeë Christene is herhaaldelik gewaarsku om geen mensgemaakte voorwerp te aanbid nie. Hierdie gebruik is as afgodediens veroordeel (Exodus 20:4-6; Mattheüs 22:21; 1 Johannes 5:21). Kan die vlag werklik as ’n afgod beskou word? Min mense sal in alle erns sê dat dit bloot ’n doek is. Dit word algemeen as ’n heilige simbool en nog meer beskou. Die Katolieke geskiedskrywer Carlton Hayes het dit só gestel: “Die vlag is nasionalisme se vernaamste simbool van geloof en sentrale voorwerp van aanbidding.”

Dit beteken nie dat Jehovah se Getuies die vlag of dié wat dit salueer, minag nie. Hulle sal gewoonlik eerbiedig staan vir sulke seremonies mits daar nie van hulle verwag word om daaraan deel te neem nie. Hulle glo dat ’n mens waarlik vir die vlag respek toon deur die wette te gehoorsaam van die land wat daardeur verteenwoordig word.

Die meeste mense sal saamstem dat vlagsaluering nie noodwendig bewys dat ’n mens die vlag respekteer nie. Die waarheid hiervan word deur ’n geval in Kanada bewys. ’n Onderwyser en ’n hoof het ’n dogtertjie wat die vlag salueer, beveel om daarop te spoeg; sy het. Toe het hulle ’n Getuiedogtertjie in die klas beveel om dieselfde te doen, maar sy het volstrek geweier. Vir Jehovah se Getuies is dit ’n ernstige beginselsaak om die vlag te respekteer. Maar hulle aanbidding kom Jehovah alleen toe.

[Prent op bladsy 16]

Erwin en Lillian in Wenen, Oostenryk, 1954

[Prent op bladsy 17]

Lillian vandag

[Erkenning]

Dennis Marsico

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel