Ons ouers het ons geleer om God lief te hê
SOOS VERTEL DEUR ELIZABETH TRACY
Gewapende mans, wat vroeër daardie dag ’n oproerige skare teen ons aangehits het, het my ma en pa uit die motor geruk. Ek en my suster, wat alleen op die agterste sitplek gelaat is, het gewonder of ons ons ouers ooit weer sou sien. Wat het tot hierdie angswekkende ondervinding in 1941 naby Selma, Alabama, VSA, gelei? En wat het die dinge wat ons ouers ons geleer het daarmee te doen gehad?
MY PA, Dewey Fountain, is deur ’n familielid grootgemaak op ’n plaas in Texas nadat sy ouers gesterf het toe hy nog ’n baba was. Later het hy in die olievelde gaan werk. In 1922, toe hy 23 was, het hy met Winnie, ’n mooi jong meisie van Texas, getrou en planne begin maak om hulle te vestig en ’n gesin groot te maak.
Hy het ’n huis tussen die plantasies in Oos-Texas naby die dorpie Garrison gebou. Daar het hy ’n verskeidenheid gewasse gekweek, wat katoen en mielies ingesluit het. Hy het ook met allerhande plaasdiere geboer. Mettertyd is ons kinders gebore—Dewey junior in Mei 1924, Edwena in Desember 1925 en ek in Junie 1929.
Ons leer Bybelwaarhede
My ma en pa het gedink hulle verstaan die Bybel, aangesien hulle aan die Kerk van Christus behoort het. Maar in 1932 het G. W. Cook die boeke Verlossing en Government, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, by my pa se broer Monroe Fountain gelaat. Monroe was so gretig om my ouers te vertel van wat hy geleer het dat hy dikwels soggens met ontbyt oorgekom het, ’n artikel uit Die Wagtoring gelees het en die tydskrif “per ongeluk” by ons vergeet het. My ma en pa het dit dan later gelees.
Een Sondagoggend het oom Monroe my pa na ’n buurman se huis genooi vir ’n Bybelstudie. Hy het hom verseker dat mnr. Cook al sy vrae uit die Bybel kon beantwoord. Toe my pa van die studie af terugkom, het hy opgewonde vir ons gesin gesê: “Al my vrae is beantwoord, en nog baie meer! Ek het gedink ek weet alles, maar toe mnr. Cook begin verduidelik het van die hel, die siel, God se voorneme met die aarde en hoe God se Koninkryk dit tot stand gaan bring, het ek begin voel dat ek eintlik niks omtrent die Bybel weet nie!”
Ons huis was amper soos ’n sosiale klub. Familielede en vriende het kom kuier, fudge en springmielie-tameletjies gemaak en saam gesing terwyl my ma die klavier gespeel het. Dít is later geleidelik deur gesprekke oor Bybelonderwerpe vervang. Hoewel ons as kinders nie alles kon verstaan wat bespreek is nie, was ons ouers se innige liefde vir God en vir die Bybel so duidelik dat elkeen van ons ’n soortgelyke liefde vir God en sy Woord opgebou het.
Ander gesinne het ook hulle huise beskikbaar gestel vir weeklikse Bybelbesprekings, wat gewoonlik gehandel het oor ’n onderwerp in die jongste Wagtoring. As die vergaderinge by gesinne in die naburige dorpe Appleby en Nacogdoches gehou is, het ons almal in ons Model A-Ford geklim en daarheen gery, reën of mooi weer.
Toepassing van wat hulle geleer het
My ouers het kort voor lank besef dat werke nodig was. Liefde vir God het vereis dat ’n mens ander vertel van wat jy leer (Handelinge 20:35). Maar hierdie stap om jou geloof in die openbaar bekend te maak, was ’n uitdaging, veral aangesien my ouers van nature skaam, nederige mense was. Maar hulle liefde vir God het hulle gemotiveer, en dit het hulle gehelp om ons te leer om ons volle vertroue in Jehovah te stel. My pa het dit so gestel: “Jehovah maak van plaasboere predikers!” In 1933 het my ma en pa hulle toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur waterdoop in ’n visdammetjie naby Henderson, Texas.
Vroeg in 1935 het my pa aan die Wagtoringgenootskap geskryf en ’n aantal vrae oor die Christelike hoop van ewige lewe gevra (Johannes 14:2; 2 Timoteus 2:11, 12; Openbaring 14:1, 3; 20:6). Hy het ’n antwoord regstreeks van Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Genootskap, ontvang. Broer Rutherford het nie my pa se vrae beantwoord nie, maar hom eerder genooi om die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, DC, in Mei by te woon.
‘Dis onmoontlik!’ het my pa gedink. ‘Ons het ’n plaas waarop 26 hektaar groente geplant is. Dit sal alles teen daardie tyd geoes en na die mark geneem moet word.’ Maar kort daarna het ’n vloed gekom en sy verskonings weggespoel—die oes, heinings en brûe. Ons het dus saam met ander Getuies op ’n gehuurde skoolbus geklim en 1 600 kilometer noordoos na die streekbyeenkoms gereis.
By die byeenkoms was my pa en ma baie bly om te luister na die ondubbelsinnige verduideliking van die identiteit van die “groot menigte” wat die “groot verdrukking” sal oorleef (Openbaring 7:9, 14, King James Version). Vir die res van hulle lewe is my ma en pa gemotiveer deur die hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde, en hulle het ons as kinders aangespoor om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry”, wat vir ons die ewige lewe op aarde beteken wat Jehovah aan ons bied (1 Timoteus 6:19; Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4). Al was ek maar net vyf jaar oud, het ek dit werklik geniet om saam met ons gesin by hierdie heuglike gebeurtenis te wees.
Nadat ons van die byeenkoms af teruggekeer het, het ons gesin weer gewasse geplant en later ons allerbeste oes gehad. Dit het sekerlik my ma en pa daarvan oortuig dat vaste geloof in Jehovah altyd beloon word. Hulle het aan ’n spesiale vorm van die predikingswerk begin deelneem waar hulle ingestem het om 52 uur per maand aan die bediening te wy. En toe, met die volgende planttyd, het hulle alles verkoop! My pa het ’n karavaan van 6 by 2,4 meter laat bou waarin ons vyf kon woon, en hy het ’n splinternuwe tweedeur-Ford-sedan gekoop waarmee hy dit kon sleep. Oom Monroe het dieselfde gedoen, en hy en sy gesin het ook in ’n karavaan begin woon.
Hulle leer ons die waarheid
My pa en ma het in Oktober 1936 aan die pionierdiens, soos die voltydse bediening genoem word, begin deelneem. As ’n gesin het ons vir mense getuig in die distrikte van oostelike Texas wat selde met die Koninkryksboodskap bereik is. Ons het byna ’n jaar lank van plek tot plek gegaan, maar ons het hierdie lewe oor die algemeen baie geniet. My ma en pa het ons deur woord en voorbeeld geleer om soos die vroeë Christene te wees wat van hulleself gegee het om Bybelwaarhede aan ander oor te dra.
Ons het veral ons ma bewonder vir die opofferings wat sy gemaak het deur haar huis op te gee. Maar daar was een ding waarvan sy nie afstand wou doen nie, en dit was haar naaimasjien. En dit was ’n goeie besluit. As naaldwerkster het sy altyd gesorg dat ons goed geklee is. By elke byeenkoms het ons mooi, nuwe klere aangehad.
Ek onthou nog goed hoe Herman G. Henschel saam met sy gesin na ons gebied gekom het met een van die Wagtoringgenootskap se klankmotors. Hulle het gewoonlik die motor in ’n digbewoonde gebied geparkeer, ’n kort opname van ’n lesing gespeel en mense dan by hulle huise besoek om verdere inligting te gee. Dewey junior het die geselskap van Herman se seun Milton geniet, wat toe in sy middeltienerjare was. Vandag is Milton die president van die Wagtoringgenootskap.
Gedurende die streekbyeenkoms in 1937 in Columbus, Ohio, is Edwena gedoop, en my ma en pa is die voorreg aangebied om as spesiale pioniers te dien. Destyds het daardie werk behels dat ’n mens ten minste 200 uur per maand aan die predikingswerk bestee. As ek nou terugkyk, besef ek hoeveel my ma se goeie voorbeeld my gehelp het om my man in sy Christelike toewysings te ondersteun.
Wanneer my pa ’n Bybelstudie met ’n gesin begin het, het hy ons as kinders saamgeneem om ’n positiewe voorbeeld vir hulle kinders te wees. Hy het ons dan gevra om die Bybeltekste na te slaan en te lees en om van die basiese vrae te beantwoord. As gevolg hiervan dien baie van daardie jong persone met wie ons gestudeer het Jehovah nog getrou tot vandag toe. En dit het inderdaad ook ’n stewige grondslag vir ons gelê om God altyd lief te hê.
Toe Dewey junior ouer geword het, het hy dit moeilik gevind om so ’n klein woonplekkie met sy twee jonger susters te deel. Hy het dus in 1940 besluit om uit te trek en saam met ’n ander Getuie pionierdiens te begin doen. Hy is later met Audrey Barron getroud. Audrey het sodoende ook baie dinge by ons ouers geleer, en sy het baie lief geword vir my ma en pa. Toe Dewey junior in 1944 in die tronk gesit is weens sy Christelike neutraliteit, het sy ’n ruk lank by ons kom bly in ons beknopte karavaan.
In 1941, by die groot streekbyeenkoms in St. Louis, Missouri, het broer Rutherford spesifiek met die kinders tussen 5 en 18 gepraat, wat in ’n spesiale gedeelte reg voor gesit het. Ek en Edwena het na sy kalm, helder stem geluister; hy was soos ’n liefdevolle vader wat sy eie kinders by die huis leer. Hy het ouers aangespoor: “Vandag het Christus Jesus sy verbondsvolk voor hom versamel, en hy sê op die kragtigste manier vir hulle om hulle kinders in die weg van regverdigheid op te lei.” Hy het bygevoeg: “Hou hulle by die huis en leer hulle die waarheid!” Gelukkig is dit wat ons ouers gedoen het!
By daardie byeenkoms het ons die nuwe boekie Jehovah’s Servants Defended ontvang waarin hofsake hersien is wat Jehovah se Getuies gewen het, insluitende dié wat in die Hooggeregshof van die Verenigde State beslis is. My pa het dit met ons as ’n gesin gestudeer. Min het ons geweet dat dit ons voorberei het op wat ’n paar weke later in Selma, Alabama, sou gebeur.
Teenstand in Selma
Die oggend van daardie angswekkende ondervinding het my pa afskrifte van ’n brief by die sheriff, die burgemeester en die polisiehoof in Selma afgelewer wat ons grondwetlike reg verduidelik het om ons bediening onder beskerming van die wet uit te voer. Hulle het nietemin besluit om ons uit die dorp uit te sit.
Laat daardie middag het vyf gewapende mans by ons karavaan aangekom en my, my ma en my suster aangehou. Hulle het daarna alles in die karavaan deursoek om iets ondermynends te vind. My pa was buite, en hulle het hom beveel om die karavaan aan die motor te haak, terwyl hulle die hele tyd deur hulle pistole op hom gerig gehou het. Ek was op daardie oomblik nie bang nie. Dit het so belaglik gelyk dat hierdie mans kon dink dat ons gevaarlik is dat ek en my suster begin giggel het. Maar my pa het ons net een kyk gegee en ons het gou-gou ernstig geword.
Toe ons gereed was om te vertrek, wou die mans hê dat ek en Edwena saam met hulle in hulle motor ry. My pa het botweg geweier. “Oor my dooie liggaam!” het hy uitgeroep. Ná hulle die saak bespreek het, is ons gesin toegelaat om saam te ry en die gewapende mans het ons in hulle motor gevolg. Omtrent 25 kilometer buite die dorp het hulle vir ons beduie om langs die hoofweg stil te hou, en hulle het my ma en pa eenkant toe geneem. Die mans het beurte geneem om hulle te probeer oortuig: “Laat staan daardie godsdiens. Gaan terug na julle plaas toe en maak julle dogters reg groot!” My pa het met hulle probeer redeneer, maar tevergeefs.
Uiteindelik het een man gesê: “Ry, en as julle ooit na die distrik Dallas terugkom, sal ons elkeen van julle doodmaak!”
Verlig en weer bymekaar, het ons ’n paar uur lank gery en toe stilgehou sodat ons kon oornag. Ons het ’n aantekening gemaak van hulle motor se nommerplaat. My pa het dit alles sonder versuim aan die Wagtoringgenootskap gerapporteer, en ’n paar maande later is die mans geïdentifiseer en in hegtenis geneem.
Na Gileadsendingskool
Edwena het ’n uitnodiging ontvang om die 7de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, in 1946 by te woon. Albert Schroeder, een van die instrukteurs, het vir sy voormalige pioniermaat Bill Elrod, wat destyds by Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gedien het, van haar goeie eienskappe vertel.a Edwena is aan Bill voorgestel, en hulle is omtrent ’n jaar ná haar Gileadopleiding getroud. Hulle was jare lank in die voltydse bediening, en dit sluit die vyf jaar in wat hulle saam by Bethel gedien het. Toe, eendag in 1959, het broer Schroeder die 34ste Gileadklas meegedeel dat sy dierbare vriend die vader van ’n tweeling geword het, ’n seuntjie en ’n dogtertjie.
Terwyl ek laat in 1947 saam met my ouers in Meridian, Mississippi, gedien het, het ons drie ’n uitnodiging ontvang om die 11de Gileadklas by te woon. Ons was verstom omdat ek volgens die vereistes te jonk was en my ma en pa te oud was. Maar ’n uitsondering is gemaak, en ons het daardie onverdiende voorreg gehad om gevorderde Bybelonderrigting te ontvang.
Sendingdiens saam met my ouers
Ons sendingtoewysing was Colombia, Suid-Amerika. Maar ons het eers in Desember 1949, meer as ’n jaar ná ons graduering, in Bogotá aangekom by ’n sendinghuis waarin drie ander reeds gewoon het. My pa het eers gedink dat dit makliker sou wees om vir die mense Engels te leer as vir hom om Spaans te leer praat! Ja, daar was beproewinge, maar hoe groot was die seëninge tog! Daar was minder as honderd Getuies in Colombia in 1949, maar nou is daar ver oor die 100 000!
Nadat ons vyf jaar in Bogotá gedien het, is my ma en pa na die stad Cali gestuur. Ek is intussen, in 1952, met Robert Tracy, ook ’n sendeling in Colombia, getroud.b Ons het tot 1982 in Colombia gebly, waarna ons na Mexiko gestuur is, en dit is waar ons nog steeds dien. In 1968 moes my ouers uiteindelik na die Verenigde State terugkeer om mediese behandeling te kry. Nadat hulle weer gesond was, het hulle voortgegaan om as spesiale pioniers naby Mobile, Alabama, te dien.
Ons versorg ons ouers
Met verloop van jare kon my ma en pa nie meer soveel doen nie, en hulle het meer hulp en aandag nodig gehad. Op hulle versoek is hulle aangewys om naby Edwena en Bill in Athens, Alabama, te dien. Later het ons broer, Dewey junior, gedink dat dit goed sal wees as die hele gesin nader aan mekaar in Suid-Carolina woon. Bill het dus met sy gesin, sowel as my ma en pa, na Greenwood getrek. Hierdie liefdevolle reëling het dit vir my en Robert moontlik gemaak om voort te gaan met ons sendingdiens in Colombia, in die wete dat daar goed vir my ouers gesorg word.
Toe, in 1985, het my pa ’n beroerteaanval gehad waarna hy nie kon praat nie en hy bedlêend was. Ons het almal saamgekom vir ’n familiekonferensie om te besluit hoe ons op die beste manier vir ons ouers kon sorg. Daar is besluit dat Audrey die basiese sorg vir my pa sou gee en dat ek en Robert kon help deur elke week ’n brief met bemoedigende ondervindinge te stuur en so dikwels moontlik te kom kuier.
Ek onthou my laaste besoek aan my pa nog baie goed. Hy kon gewoonlik nie woorde duidelik uitspreek nie, maar nadat ons vir hom gesê het dat ons op pad terug Mexiko toe was, het hy met groot inspanning en emosie een woord uitgekry: “Adios!” Dit het ons verseker dat hy ons besluit om met ons sendingtoewysing voort te gaan in sy hart gesteun het. Hy het in Julie 1987 gesterf, en my ma het nege maande later gesterf.
’n Brief wat ek ontvang het van my suster, wat nou ’n weduwee is, som die waardering wat elkeen van ons vir ons ouers voel goed op. “Ek waardeer werklik my ryk Christelike erfenis en dink nie vir ’n oomblik dat ek gelukkiger sou gewees het as ons ouers ons anders grootgemaak het nie. Hulle voorbeeld van sterk geloof, selfopoffering en volle vertroue op Jehovah het my gehelp om tye van neerslagtigheid in my lewe die hoof te bied.” Edwena het afgesluit deur te sê: “Ek dank Jehovah vir ouers wat deur woord en voorbeeld vir ons gewys het hoe gelukkig ons kan wees as ons ons lewe om die diens van ons liefdevolle God, Jehovah, bou.”
[Voetnote]
b Sien The Watchtower van 15 Maart 1960, bladsye 189-91.
[Prente op bladsy 22, 23]
Die Fountain-gesin: (links na regs) Dewey, Edwena, Winnie, Elizabeth, Dewey junior; regs: Elizabeth en Dewey junior sit op die modderskerm van die Henschels se klankmotor (1937); onder regs: Elizabeth doen plakkaatwerk op die ouderdom van 16