Ons veelsydige reuksin
BRING HERINNERINGE TERUG, VERBETER SMAAK
WAT is jou gunstelinggeur? Toe hierdie vraag aan verskeie mense gestel is, was hulle antwoorde fassinerend. Spek wat braai. Die soutgevulde lug van die oseaan af. Skoon wasgoed wat in die wind waai. Pas gesnyde hooi. Skerp speserye. ’n Babahondjie se asem. Toe hulle verder gevra is oor waarom dít hulle gunstelingreuk is, het almal ’n spesifieke, helder herinnering gehad wat hulle met die eerste bewuswording van die reuk onthou het. Dikwels was dit herinneringe uit hulle kinderjare.
’n Jong vrou onthou hoe sy soggens in haar bed gelê het en die aptytwekkende geur van braaiende spek by haar kamer ingedryf en haar na ontbyt saam met haar gesin gelok het.
Louise, 58, het gesê dat die reuk van seelug haar laat terugdink aan haar somers as kind aan die kus van Maine in die Verenigde State. “Die vryheid wat ons gehad het”, sê sy, “toe ons gehardloop en in die sand gespeel het, mossels uitgegrawe en hulle oor ’n oop vuur gekook het!”
Michele, 72, onthou die tye toe sy as kind haar ma gehelp het om die wasgoed van die lyn af te haal en hoe sy haar gesig in armsvol daarvan gedruk het terwyl sy dit in die huis ingedra en die vars, skoon reuk diep ingeasem het.
Die reuk van pas gesnyde hooi laat Jeremy terugdink aan sy dae as kind op ’n plaas in Iowa, 55 jaar gelede, toe hy op ’n wavrag pas gesnyde hooi gery het wat in die skuur geberg moes word omdat hy en sy pa kon ruik dat daar reën aan die kom was.
“Skerp speserye” was die antwoord van die 76-jarige Jessie, wat haar oë toegemaak en vertel het hoe haar gesin appelmoes (’n sterkgekruide soort konfyt wat in die Verenigde State gemaak word) in ’n ysterketel buite die huis gekook het. Dit was 70 jaar gelede, maar die herinnering was nog baie helder.
Carol onthou die troetelhondjie wat sy op haar skoot vasgehou het toe sy vyf was en onthou die reuk van dié babahondjie se asem. Ag ja, daardie reuk gee haar die gevoel dat sy in ’n gestreepte linnerokkie warm in die sonskyn op ’n ou voorstoep sit.
En wat van jou? Het ’n reuk jou al ooit behaag soos dit ander behaag het—deurdat dit herinneringe oproep en emosies wek? Het die dennegeur van berglug jou al verfris laat voel of die pikante prikkeling van ’n seebries jou verkwik? Of miskien het jou mond al gewater ná jy ’n verdwaalde geur uit ’n bakkery geruik het. Die neurowetenskaplike Gordon Shepherd het in National Geographic gesê: “Ons dink dat ons lewe deur ons gesigsvermoë oorheers word, maar hoe nader ’n mens aan aandete kom, hoe meer besef jy hoeveel jou ware lewensgenot met reuk verband hou.”
Reuk het ’n wonderlike uitwerking op ons smaaksin. Hoewel smaakbekers tussen die sout, die soet, die bitter en die suur onderskei, neem ons reuksin ander, subtieler smaakelemente waar. As appels en uie reukloos was, sou hulle dalk feitlik dieselfde gesmaak het. Of kyk byvoorbeeld hoeveel smaak ’n stuk sjokolade verloor wanneer jy dit eet terwyl jy jou neus toedruk.
Stel jou ’n smaaklike kossoort voor—kom ons veronderstel dis ’n pastei, warm uit die oond. Daardie aanloklike geure styg daaruit op omdat dit molekules vrystel en hulle op die lugstrome laat dryf. Dan verskyn jou neus op die toneel en snuif dit gretig in. Dit suig lug in en stuur daardie molekules deur die verbasende proses van ons reuksin.
Sien die venster op bladsye 24 en 25 vir ’n breedvoeriger bespreking van die reukproses. Die ingewikkeldheid en kompleksiteit van hierdie sintuig is waarlik ontsagwekkend.
Reuke en hulle uitwerking op jou
Parfumeurs, meesterkokke en wynmakers besef al eeue lank watter krag aromas het om die verstand te bekoor en die sinne te behaag. Vandag probeer geursielkundiges en biochemici om die krag van reuk op nuwe maniere aan te wend. Reukkenners het al met geure geëksperimenteer wat wissel van die dallelie tot appel en speserye en het reuke in skole, kantoorgeboue, verpleeginrigtings, en selfs ’n moltrein versprei, sodat hulle die uitwerking daarvan op die verstand en menslike gedrag kan bestudeer. Hulle sê dat sekere reuke gemoedstemmings kan beïnvloed deur mense vriendeliker te maak, hulle hulle werk doeltreffender te laat doen en selfs hulle verstande aan te wakker.
Volgens die tydskrif The Futurist staan mense in rye voor ’n modieuse gesondheidsklub in Tokio, Japan, vir ’n “geurdrankie” van 30 minute wat glo die druk van die stadslewe verlig. Japannese wetenskaplikes het ook die uitwerking van woudlug op mense bestudeer en doen aan die hand dat ’n mens deur ’n woud stap as genesing vir gespanne senuwees. Daar is bevind dat die terpeen (dennegeur) wat bome afskei nie net die liggaam nie, maar veral die verstand laat ontspan.
Nie alle reuke is gesond nie; hoegenaamd nie. Wat een mens vreugde verskaf, kan iemand anders moontlik ellendig laat voel. Sterk reuke, selfs dié van parfuums, is lank reeds daarvoor bekend dat dit asma vererger en by sommige mense allergiese reaksies veroorsaak. Dan is daar ook die slegte reuke waaroor almal saamstem—skadelike walms afkomstig uit industriële skoorsteenpype en die uitlaatpype van motorvoertuie, galsterige reuke van vullishope en rioolstortplekke en dampe van vlugtige chemikalieë wat in talle industriële werkplekke gebruik word.
Gevaarlike chemikalieë kom vanselfsprekend ook normaalweg in ons omgewing voor, maar is gewoonlik in so ’n mate verdun dat dit onskadelik is. Wanneer sulke chemikalieë egter hoogs gekonsentreerd is, kan te veel blootstelling daaraan veroorsaak dat selfs die herstelbare reuksenuweeselle verswak. Oplosmiddels soos dié wat in verwe gebruik word, sowel as baie ander industriële chemikalieë, is byvoorbeeld deur kenners as nadelig vir die reukstelsel bestempel. Daar is ook fisiese kwale wat die reuksin kan verswak of vernietig.
Waardeer jy die gawe?
Dit is ongetwyfeld die moeite werd om die reuksin waar moontlik teen sulke bedreigings te beskerm. Raak dus vertroud met die gevare van enige chemikalieë waarmee jy moet werk, en tref watter redelike voorsorg ook al nodig om jou sensitiewe reukstelsel te beskerm. (Vergelyk 2 Korinthiërs 7:1.) Maar jy moet daarenteen net so besorg wees oor dit waarvoor ander gevoelig is. ’n Hoë standaard van sindelikheid, ook wat ons huis en ons liggaam betref, kan veel hiertoe bydra. Party het ook verkies om ekstra versigtig te wees met die gebruik van parfuums—veral wanneer hulle beplan om lank in die geselskap van ander mense te wees, soos in ’n teater of ’n Byeenkomssaal.—Vergelyk Mattheüs 7:12.
Maar die reukstelsel is oor die algemeen ’n gawe wat min instandhouding verg. Dit vra min van ons wat versorging en beskerming betref, en tog verskaf dit ons ’n daaglikse oorvloed van lewensplesiertjies. Wanneer jy ’n geskenk ontvang wat jou genot verskaf, voel jy lus om die gewer te bedank? Vandag bedank miljoene mense die Skepper opreg vir die wonderlike manier waarop die menslike liggaam gemaak is. (Vergelyk Psalm 139:14.) Ons kan gewis hoop dat meer sulke dank- en lofbetuigings tot hom sal opgaan en dat dit, soos die offerandes van die eertydse Israeliete, ’n “lieflike geur” vir ons liefdevolle, vrygewige Skepper sal wees.—Numeri 15:3; Hebreërs 13:15.
[Venster/Diagram op bladsy 24, 25]
Hoe die reuksin werk
Eerstens, die reuk word waargeneem
REUKE gaan die neusgange binne wanneer jy inasem. Ook wanneer jy kos sluk, word molekules aan die agterkant van die mond op tot in die neusholte gedruk. Maar eers moet die gegeurde lug verby die “wagte” kom. Die neusgate is uitgevoer met die drielingsenuwees (1), wat ’n mens laat nies wanneer hulle skerp of irriterende chemikalieë voel. Hierdie senuwees verskaf ook genot deur op party skerp smake te reageer.
Hierna word geurmolekules opwaarts gedruk deur warrelings wat gevorm word wanneer lugstrominge om drie benerige, gekrulde uitsteeksels draai wat neusskulpe (2) genoem word. Die lugstroom, wat onderweg warm en vogtig geword het, dra die molekules na die reukslymvlies (3), die vernaamste reseptor. Hierdie stukkie weefsel wat so groot soos ’n duimnael is, is hoog in ’n smal kanaal in die neus geleë en beskik oor ongeveer tienmiljoen sensoriese neurone (4), waarvan die punt vol haaragtige uitsteeksels is wat as trilhare bekend staan en met ’n dun slymlagie bedek is. Die reukslymvlies is so gevoelig dat dit 1/460 000 000 milligram van sekere reukstowwe in ’n enkele skeppie lug kan opspoor.
Maar presies hoe reuke waargeneem word, is steeds ’n raaisel. Mense kan op stuk van sake tot 10-000 reuke onderskei. En daar is meer as 400 000 reukstowwe in ons omgewing, en chemici ontwikkel voortdurend nuwes. Hoe kan ons neus dus uit hierdie deurmekaarspul van reuke iets wys word? Meer as 20 verskillende teorieë probeer die raaisel uitlê.
Wetenskaplikes het eers onlangs vooruitgang gemaak en ’n gedeelte van hierdie raaisel begin oplos. In 1991 is bewyse gevind dat daar piepklein proteïene, reukreseptore, in die selmembrane van die trilhare ingevleg is. Blykbaar verbind sulke reseptore op verskillende maniere met verskillende soorte reukmolekules wat elke reuk dus ’n kenmerkende “vingerafdruk” gee.
Tweedens, die reuk word oorgedra
Om hierdie inligting aan die brein oor te dra, word gekodeerde elektrochemiese boodskappe al met die reukneurone (4) langs voortgedryf. Dr. Lewis Thomas, ’n essayis op wetenskaplike gebied, noem hierdie neurone die ‘Vyfde wonder van die hedendaagse wêreld’. Hulle is die enigste primêre senuweeselle wat elke paar weke hernieu word. En anders as met die sensoriese senuweeselle wat beskermd binne die oog en die oor skuil, is daar ook geen beskermende skeiding tussen die neurone en die omringende stimulante nie. Inteendeel, die reuksenuwees strek vanaf die brein self en kom in direkte aanraking met die buitewêreld. Die neus is dus die plek waar die brein en die omgewing ontmoet.
Hierdie neurone is almal na dieselfde bestemming onderweg: die twee reukbolle (5) aan die onderkant van die brein. Hierdie bolle is die hoofaflospunt na ander dele van die brein. Maar eers verwerk hulle die oorvloed van reukinligting, skakel alles behalwe die nodigste uit en stuur dit dan verder.
Derdens, die reuk word ontsyfer
Die reukbolle is op ingewikkelde wyse “gekoppel” aan die brein se limbusstelsel (6), ’n sierlik geluste stel strukture wat ’n sleutelrol speel om herinneringe te berg en emosionele reaksies te veroorsaak. Dit is waar “die koue wêreld van die werklikheid in ’n borrelende kookpot van menslike gevoelens omskep word”, volgens die boek The Human Body. Die limbusstelsel hou so nou verband met die reuksin dat daar lank na verwys is as die rinenkefalon, wat “neusbrein” beteken. Hierdie noue verband tussen die neus en die limbusstelsel kan verduidelik waarom ons met soveel emosie en heimwee op reuke reageer. Aha! Die braaiende spek! Die skoon wasgoed! Die pas gesnyde hooi! Die babahondjie se asem!
Na aanleiding van die reuk wat waargeneem word, kan die limbusstelsel die hipotalamus (7) aktiveer, wat op sy beurt die brein se hoofklier, die hipofise (8), kan aktiveer om verskillende hormone te produseer—daardie hormone wat byvoorbeeld die eetlus of seksuele werking beheer. Dit is dan geen wonder nie dat die reuk van kos ons skielik honger kan laat voel of dat ’n parfuum as ’n belangrike faktor in seksuele aantrekking beskou kan word.
Die limbusstelsel strek ook tot in die neokorteks (9), wat ’n taamlik intellektuele, analitiese deel in die brein is. Dit is waar nuus vanaf die neus vergelyk kan word met inligting wat van die ander sintuie af kom. Binne ’n oomblik kan jy gegewens, soos die reuk van rook, ’n knetterende geluid en ’n effense wasigheid wat in die lug hang, saamvoeg om tot ’n gevolgtrekking te kom—brand!
Die talamus (10) speel ook ’n rol, miskien as middelaar tussen daardie heeltemal verskillende dele, die “emosionele” limbusstelsel en die “intellektuele” neokorteks. Die olfaktoriese korteks (11) help om tussen eenderse reuke te onderskei. Verskillende breindele kan ook boodskappe na die versendingsplekke, die reukbolle, terugstuur. Waarom? Sodat die bolle dan die gewaarwording van reuke kan wysig, deur hulle in werklikheid te versag of selfs te verwerp.
Jy het dalk al opgelet dat kos nie so heerlik ruik wanneer jy versadig is nie. Of was jy al ooit blootgestel aan ’n deurdringende, onvermybare reuk wat oënskynlik met die verloop van tyd verflou? Die reukbolle, wat deur die brein ingelig word, veroorsaak hierdie veranderinge. Hulle kan bygestaan word deur die reseptorselle op die trilhare, wat glo maklik verswak. Dit is ’n nuttige kenmerk, veral in die teenwoordigheid van sterk, slegte reuke.
Dit is nogal ’n indrukwekkende stelsel, nie waar nie? En tog het ons net oppervlakkig daarna gekyk! Hele boeke is al oor hierdie ingewikkelde en komplekse sensoriese stelsel geskryf.
[Diagram]
(Sien publikasie)
[Venster op bladsy 26]
Reukdisfunksie
Miljoene mense ly aan reukdisfunksie. Die reuk van die lente of van smaaklike kos het min of geen uitwerking op hulle nie. Een vrou het haar skielike, algehele reukverlies soos volg beskryf: “Ons weet almal van blindheid en doofheid en ek sal beslis nooit my gebrek vir daardie dinge verruil nie. Tog aanvaar ons die ryk aroma van koffie en die soet smaak van lemoene as so vanselfsprekend dat dit amper voel of ons vergeet het hoe om asem te haal as ons hierdie sinne verloor.”—Die tydskrif Newsweek.
Reukversteurings kan selfs lewensgevaarlik wees. ’n Vrou genaamd Eva verduidelik: “Aangesien ek nie kan ruik nie, moet ek baie versigtig wees. Ek sidder as ek dink aan die naderende winter omdat ek al die vensters en deure van my woonstel moet toemaak. Sonder die vars lug kan ek maklik deur gasdampe oorval word as die waarskuwingsliggie op die gasstoof sou doodgaan.”
Wat veroorsaak reukdisfunksie? Hoewel daar tientalle oorsake is, is drie baie algemeen: kopbeserings, virusinfeksies van die boonste lugweë en sinusontstekings. As die senuweebane afgesny word, as die reukslymvlies ongevoelig word of as lug weens verstopping of ontsteking nie die reukslymvlies kan bereik nie, verdwyn die reuksin. Aangesien daar besef word dat sulke afwykings ’n groot probleem is, is kliniese navorsingsentrums vir die bestudering van smaak en reuk opgerig.
In ’n onderhoud het dr. Maxwell Mozell van die Staatsuniversiteit van New York se Gesondheid- en Wetenskapsentrum in Syracuse gesê: “Ons het al pasiënte hier gehad wat [bewus was van ’n slegte reuk wat net hulle kon ruik]. Hulle ruik vreeslike dinge. Een vrou het die heeltyd vis geruik. Stel jou voor dat jy elke minuut van elke dag vis of brandende rubber ruik.” Ná een vrou 11 jaar lank ’n onaangename reuk in haar neus gehad het en as gevolg daarvan aan depressie gely het, het sy onmiddellik verligting gevind nadat een van haar reukbolle chirurgies verwyder is.
[Prent op bladsy 23]
’n Babahondjie se asem
[Prent op bladsy 23]
Spek wat braai
[Prent op bladsy 23]
Pas gesnyde hooi