Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ct hfst. 4 bl. 49-72
  • Hoe uniek is jy tog!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe uniek is jy tog!
  • Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jou wonderlike brein
  • Gebruik dit of verloor dit
  • Jou frontale lob
  • Kommunikasievermoëns sonder gelyke
  • ’n Geheue en nog meer!
  • Kuns en skoonheid
  • Sedelike waardes
  • Jy kan oor die toekoms dink en daarvoor beplan
  • Aangetrokke tot ’n Skepper
  • Die mens—’n wonder
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Jou brein—Hoe werk dit?
    Ontwaak!—1999
  • Jou brein—’n ingewikkelde wonder
    Ontwaak!—1999
  • Jou brein—Hoe kan jy dit ten beste benut?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
ct hfst. 4 bl. 49-72

Hoofstuk Vier

Hoe uniek is jy tog!

KYK jy soggens voor jy met jou takies begin vlugtig in die spieël om te sien hoe jy lyk? Jy het moontlik nie dan tyd vir bepeinsing nie. Maar staan nou ’n oomblik stil om jou te verwonder oor wat by so ’n eenvoudige blik betrokke is.

Jou oë stel jou in staat om jou in volle kleur te sien, hoewel kleurvisie nie noodsaaklik is vir lewe nie. Die posisie van jou ore bied jou stereofoniese gehoor; jy kan dus die bron van klanke bepaal, soos die stem van ’n geliefde. Ons neem dit miskien as vanselfsprekend aan, maar ’n boek vir klankingenieurs sê: “Wanneer die menslike gehoorstelsel egter van naderby beskou word, is dit moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat die ingewikkelde funksies en samestelling daarvan ’n aanduiding van ’n weldadige hand in die ontwerp daarvan is nie.”

Jou neus getuig ook van wonderlike ontwerp. Jy kan daardeur asemhaal, wat jou aan die lewe hou. En dit het miljoene sintuigreseptors wat jou in staat stel om sowat 10 000 reuknuanses te onderskei. Wanneer jy ’n ete geniet, tree ’n ander sintuig in werking. Duisende smaakknoppies dra smake aan jou oor. Ander reseptors op jou tong help jou om te voel of jou tande skoon is.

Ja, jy het vyf sintuie—gesig, gehoor, reuk, smaak en gevoel. Party diere het weliswaar skerper nagtelike gesigsvermoë, ’n sensitiewer reuksin of fyner gehoor, maar die mens se balans van hierdie sintuie laat hom inderdaad in baie opsigte uitblink.

Maar kom ons kyk waarom ons by hierdie vermoëns en vaardighede baat kan vind. Hulle is almal afhanklik van die orgaan van 1,4 kilogram in ons kop—ons brein. Diere het ’n funksionerende brein. Maar die mensebrein is weergaloos en maak ons onteenseglik uniek. Hoe so? En hoe hou hierdie uniekheid verband met ons verlange om ’n sinvolle, ewigdurende lewe te hê?

Jou wonderlike brein

Die mensebrein word al jare lank met ’n rekenaar vergelyk, maar onlangse ontdekkings toon dat die vergelyking ver te kort skiet. “Hoe begin ’n mens die werking verstaan van ’n orgaan met sowat 50 miljard neurone met duisendbiljoen sinapse (verbindings) en met ’n algemene reaksietempo van moontlik 10 duisendbiljoen keer per sekonde?” het dr. Richard M. Restak gevra. Sy antwoord? “Die werkverrigting van selfs die gevorderdste neuralenetwerk-rekenaars . . . het omtrent ’n tienduisendste van die verstandelike vermoë van ’n huisvlieg.” Dink dan hoe ver ’n rekenaar te kort skiet in vergelyking met ’n mensebrein, wat so buitengewoon voortreflik is.

Watter mensgemaakte rekenaar kan homself herstel, sy program herskryf of met verloop van jare verbeter? Wanneer ’n rekenaarstelsel gewysig moet word, moet ’n programmeerder nuwe gekodeerde opdragte skryf en invoer. Ons brein doen sulke werk vanself, wanneer ons jonk is sowel as wanneer ons oud is. Dit sou nie ’n oordrywing wees om te sê dat die gevorderdste rekenaars baie primitief in vergelyking met die brein is nie. Wetenskaplikes het dit al “die ingewikkeldste struktuur waarvan ons weet” en “die kompleksste voorwerp in die heelal” genoem. Kyk na ’n paar ontdekkings wat baie tot die gevolgtrekking laat kom het dat die mensebrein die produk van ’n liefdevolle Skepper is.

Gebruik dit of verloor dit

Nuttige uitvindsels soos motors en straalvliegtuie word in wese beperk deur die vaste meganismes en elektriese stelsels wat mense ontwerp en installeer. Ons brein daarenteen is op sy allerminste ’n uiters aanpasbare biologiese meganisme of stelsel. Dit kan voortdurend verander na gelang van die wyse waarop dit gebruik—of misbruik—word. Twee hooffaktore is blykbaar verantwoordelik vir die manier waarop ons brein dwarsdeur ons lewe ontwikkel—dít wat ons deur ons sintuie daar laat ingaan en dít waaroor ons by voorkeur dink.

Hoewel oorerflikheidsfaktore ’n rol in verstandelike vermoë kan speel, toon moderne navorsing dat ons brein se vermoë nie tydens bevrugting deur ons gene bepaal word nie. “Niemand het vermoed dat die brein so aanpasbaar is as wat die wetenskap nou weet dit is nie”, skryf Pulitzerpryswenner en skrywer Ronald Kotulak. Nadat hy ’n onderhoud met meer as 300 navorsers gevoer het, het hy tot die gevolgtrekking gekom: “Die brein is nie ’n statiese orgaan nie; dit is ’n immer veranderende massa selverbindings wat in groot mate deur ondervinding geraak word.”—Inside the Brain.

Maar ons brein word nie net deur ons ondervindinge gevorm nie. Dit word ook deur ons denke geraak. Wetenskaplikes vind dat die brein van mense wat verstandelik bedrywig bly tot 40 persent meer verbindings (sinapse) tussen senuweeselle (neurone) het as die brein van diegene wat verstandelik lui is. Neurowetenskaplikes maak die gevolgtrekking: Jy moet dit gebruik, anders verloor jy dit. Maar wat van die bejaardes? Daar is blykbaar ’n mate van breinselverlies namate ’n mens ouer word, en geheueverlies kan op gevorderde leeftyd voorkom. Maar die verskil is baie minder as wat voorheen gemeen is. ’n Verslag oor die mensebrein in National Geographic het gesê: “Ouer mense . . . behou deur geesteswerksaamheid die vermoë om nuwe verbindings voort te bring en om oues te bewaar.”

Onlangse bevindings oor ons brein se aanpasbaarheid strook met raad wat in die Bybel gevind word. Daardie boek van wysheid spoor lesers aan om ‘verander te word deur hulle verstand te hervorm’ of om ‘nuut gemaak te word deur juiste kennis’ wat in die verstand ingeneem word (Romeine 12:2; Kolossense 3:10). Jehovah se Getuies sien dit gebeur wanneer mense die Bybel bestudeer en die raad daarvan toepas. Derduisende—uit die hele spektrum van sosiale en opvoedkundige agtergronde—het dit gedoen. Hulle behou hulle individualiteit, maar hulle het gelukkiger en meer gebalanseerd geword deur te openbaar wat ’n eerste-eeuse skrywer “gesonde verstand” genoem het (Handelinge 26:24, 25). Sulke verbeteringe vind hoofsaaklik plaas omdat ’n mens ’n deel van die serebrale korteks wat voor in die kop geleë is goed gebruik.

Jou frontale lob

Die meeste neurone in die buitenste laag van die brein, die serebrale korteks, is nie regstreeks met spiere en sintuigorgane verbind nie. Beskou byvoorbeeld die miljarde neurone wat die frontale lob uitmaak. (Sien tekening, bladsy 56.) Breinaftastings toon dat die frontale lob bedrywig raak wanneer jy aan ’n woord dink of herinneringe oproep. Die voorste gedeelte van die brein speel ’n spesiale rol daarin om jou die persoon te maak wat jy is.

“Die prefrontale korteks . . . is veral betrokke by die uitbouing van gedagtes en by intelligensie, beweegredes en persoonlikheid. Dit verbind ondervindinge wat nodig is vir die voortbrenging van abstrakte idees, menings, deursettingsvermoë, beplanning, besorgdheid oor ander en die gewete. . . . Dit is die uitbouing van hierdie gebied wat mense van ander diere onderskei” (Marieb se Human Anatomy and Physiology). Ons sien beslis bewys van hierdie onderskeid in wat mense bereik het op gebiede soos die wiskunde, die filosofie en die reg, waarby veral die gebruik van die prefrontale korteks betrokke is.

Waarom het die mens ’n groot, aanpasbare prefrontale korteks, wat tot die hoër verstandelike funksies bydra, terwyl hierdie gebied in diere primitief is of glad nie bestaan nie? Die teenstelling is so groot dat bioloë wat beweer dat ons geëvolueer het van die “raaiselagtige ontploffing in breingrootte” praat. Biologieprofessor Richard F. Thompson het gelet op die buitengewone uitbreiding van ons serebrale korteks en erken: “Ons verstaan tot nog toe nie baie duidelik waarom dit gebeur het nie.” Kan die rede wees dat die mens met hierdie ongeëwenaarde breinvermoë geskep is?

Kommunikasievermoëns sonder gelyke

Ander dele van die brein dra ook tot ons uniekheid by. Agter ons prefrontale korteks is ’n strook wat dwarsoor die kop loop—die motoriese korteks. Dit bevat miljarde neurone wat met ons spiere verbind is. Ook dit het kenmerke wat daartoe bydra dat ons baie anders as ape of ander diere is. Die primêre motoriese korteks gee ons “(1) ’n uitsonderlike vermoë om die hand, die vingers en die duim te gebruik om takies te verrig wat groot behendigheid verg en (2) die gebruik van die mond, lippe, tong en gelaatspiere om te praat”.—Guyton se Textbook of Medical Physiology.

Kyk kortliks hoe die motoriese korteks jou spraakvermoë raak. Meer as die helfte daarvan beheer die kommunikasieorgane. Dit help om die onvergelyklike kommunikasievermoëns van die mens te verklaar. Hoewel ons hande ’n rol in kommunikasie speel (deur skrif, gewone gebare of gebaretaal), speel die mond gewoonlik die vernaamste rol. Die mens se spraak—van ’n baba se eerste woord tot die stem van ’n bejaarde—is ongetwyfeld ’n wonder. Nagenoeg 100 spiere in die tong, lippe, kakebeen, keel en bors werk saam om ontelbare klanke voort te bring. Let op hierdie teenstelling: Een breinsel kan 2 000 vesels van ’n atleet se kuitspier beheer, maar breinselle vir die stemkas sal moontlik net 2 of 3 spiervesels beheer. Dui dit nie daarop dat ons brein spesiaal vir kommunikasie toegerus is nie?

Elke kort sinsnede wat jy uiter, vereis ’n spesifieke patroon van spierbewegings. Die betekenis van ’n enkele woord kan verander na gelang van die graad van beweging en presiese tydberekening van talle verskillende spiere. “Teen ’n gemaklike tempo”, verduidelik spraakdeskundige dr. William H. Perkins, “uiter ons omtrent 14 klanke per sekonde. Dit is twee keer vinniger as wat ons ons tong, lippe, kakebeen of enige ander deel van ons spraakmeganisme kan beheer wanneer ons hulle afsonderlik beweeg. Maar as hulle almal vir spraak gekombineer word, werk hulle soos die vingers van geoefende tiksters en konsertpianiste. Hulle bewegings oorvleuel in ’n simfonie van voortreflike tydberekening.”

Die inligting wat nodig is om die eenvoudige vraag te vra: “Hoe gaan dit vandag met jou?” word geberg in ’n deel van jou brein se frontale lob wat die Broca-gebied genoem word, wat party as jou spraaksentrum beskou. Nobelpryswenner en neurowetenskaplike sir John Eccles het geskryf: “Geen gebied wat met die . . . spraakgebied van Broca ooreenkom, is in ape gevind nie.” Al sou ’n soortgelyke gebied in diere gevind word, is dit ’n feit dat wetenskaplikes ape niks meer as ’n paar eenvoudige spraakklanke kan laat voortbring nie. Maar jy kan ingewikkelde taal voortbring. Jy doen dit deur woorde volgens die grammatika van jou taal saam te voeg. Die Broca-gebied help jou om dit te doen, wanneer jy praat sowel as wanneer jy skryf.

Jy kan natuurlik nie die wonder van spraak gebruik as jy nie ten minste een taal ken en die betekenis van die woorde verstaan nie. ’n Ander spesiale deel van jou brein, bekend as die Wernicke-gebied, is hierby betrokke. Hier onderskei miljarde neurone die betekenis van gesproke of geskrewe woorde. Die Wernicke-gebied help jou om woorde te verstaan en om te begryp wat jy hoor of lees; sodoende kan jy inligting inneem en intelligent reageer.

Jou vlot spraak behels nog meer. Ter toeligting: ’n Mondelinge “Hallo” kan ’n magdom van betekenisse oordra. Jou stemtoon weerspieël of jy gelukkig, opgewonde, verveeld, haastig, vies, hartseer of bang is, en dit kan selfs grade van hierdie emosionele toestande openbaar. ’n Ander gebied van jou brein voorsien inligting vir die emosionele aspek van spraak. Verskillende dele van jou brein is dus daarby betrokke wanneer jy kommunikeer.

Sjimpansees is al in ’n beperkte mate gebaretaal geleer, maar hulle gebruik daarvan is hoofsaaklik beperk tot eenvoudige versoeke om voedsel of ander basiese dinge. Dr. David Premack, wat met sjimpansees gewerk het om hulle eenvoudige niemondelinge kommunikasie te leer, het tot die gevolgtrekking gekom: “Mensetaal is ’n verleentheid vir die evolusieteorie, want dit is oneindig kragtiger as wat ’n mens kan verklaar.”

Ons wonder dalk: ‘Waarom het die mens hierdie wonderlike vermoë om gedagtes en gevoelens oor te dra, om vrae te stel en om te antwoord?’ The Encyclopedia of Language and Linguistics sê dat “[mense]spraak iets besonders is” en erken dat “die soeke na voorlopers in dierekommunikasie nie juis help om die ontsaglike gaping te oorbrug wat taal en spraak van niemenslike gedrag skei nie”. Professor Ludwig Koehler het die verskil opgesom: “Mensespraak is ’n verborgenheid; dit is ’n Goddelike gawe, ’n wonderwerk.”

Wat ’n verskil is daar tog nie tussen ’n aap se gebruik van gebare en die komplekse taalvermoë van kinders nie! Sir John Eccles het verwys na iets wat die meeste van ons ook al opgemerk het, ’n vermoë “wat geopenbaar word selfs deur 3-jarige kinders met hulle stortvloed van vrae in hulle begeerte om hulle wêreld te verstaan”. Hy het bygevoeg: “Ape daarenteen stel nie vrae nie.” Ja, net die mens formuleer vrae, onder meer vrae oor die sin van die lewe.

’n Geheue en nog meer!

Wanneer jy in ’n spieël kyk, dink jy dalk aan hoe jy gelyk het toe jy jonger was en vergelyk dit selfs met hoe jy miskien oor ’n paar jaar sal lyk of hoe jy sal lyk nadat jy grimering aangesit het. Hierdie gedagtes kan feitlik onbewus opkom, en tog vind iets baie besonders plaas, iets wat geen dier kan ervaar nie.

In teenstelling met diere, wat hoofsaaklik ooreenkomstig onmiddellike behoeftes lewe en reageer, kan die mens oor die verlede nadink en vir die toekoms beplan. ’n Sleutel hiertoe is die brein se feitlik onbeperkte vermoë om te onthou. Diere het wel ’n mate van geheue, en daarom kan hulle hulle pad huis toe vind of onthou waar kos te vinde is. Die mensegeheue is baie groter. Een wetenskaplike het geskat dat ons brein inligting kan bevat wat “sowat twintigmiljoen boeke sal vul, soveel as wat daar in die wêreld se grootste biblioteke is”. Party neurowetenskaplikes skat dat ’n mens gedurende ’n gemiddelde lewensduur slegs 1/100 van 1 persent (0,0001) van jou potensiële breinvermoë gebruik. Jy kan tereg vra: ‘Waarom het ons ’n brein met so ’n groot vermoë dat ons in ’n normale lewensduur skaars ’n fraksie daarvan gebruik?’

Ons brein is ook nie net ’n ontsaglike bergplek vir inligting, soos ’n superrekenaar nie. Biologieprofessors Robert Ornstein en Richard F. Thompson het geskryf: “Die vermoë van die menseverstand om te leer—om inligting te berg en te herroep—is die merkwaardigste verskynsel in die biologiese heelal. Alles wat ons ’n mens maak—taal, denke, kennis, kultuur—is die gevolg van hierdie buitengewone vermoë.”

Daarbenewens het jy ’n bewuste verstand. Dit klink miskien na ’n eenvoudige verklaring, maar dit som iets op wat jou onteenseglik uitsonderlik maak. Die verstand is al beskryf as “die onbegrypbare entiteit waar intelligensie, besluitvorming, gewaarwording, bewustheid en selfbewussyn gesetel is”. Soos spruitjies, strome en riviere in ’n see inloop, so vloei herinneringe, gedagtes, beelde, klanke en gevoelens voortdurend in ons verstand in of daardeur. Bewustheid, sê een definisie, is “die gewaarwording van wat deur jou eie verstand gaan”.

Moderne navorsers het groot vooruitgang gemaak in hulle begrip van die fisiese samestelling van die brein en party van die elektrochemiese prosesse wat daarin plaasvind. Hulle kan ook die baanwerk en werking van ’n gevorderde rekenaar verklaar. Daar is egter ’n groot verskil tussen die brein en ’n rekenaar. Met jou brein is jy daarvan bewus dat jy bestaan, maar ’n rekenaar is beslis nie bewus van sy bestaan nie. Waarom die verskil?

Om die waarheid te sê, hoe en waarom bewustheid weens fisiese prosesse in ons brein ontstaan, is ’n raaisel. “Ek kan nie sien hoe enige wetenskap dit kan verklaar nie”, het ’n neurobioloog gesê. En professor James Trefil het opgemerk: “Wat dit presies beteken vir ’n mens om in ’n toestand van bewustheid te wees, . . . is die enigste belangrike vraag in die wetenskap wat ons nie eens weet hoe om te vra nie.” Een rede is dat wetenskaplikes die brein gebruik om die brein te probeer verstaan. En die blote bestudering van die fisiologie van die brein is moontlik nie genoeg nie. Bewustheid is “een van die diepste raaisels van die mensebestaan”, het dr. David Chalmers gesê, “maar kennis van die brein alleen sal [wetenskaplikes] moontlik nie help om dit te deurgrond nie”.

Elkeen van ons het nietemin hierdie bewustheid. Ons lewendige herinneringe van gebeure in die verlede is byvoorbeeld nie net opgegaarde feite, soos brokkies inligting in ’n rekenaar nie. Ons kan oor ons ondervindinge nadink, lesse daaruit leer en dit gebruik om ons toekoms te rig. Ons kan aan etlike toekomstige scenario’s dink en die moontlike gevolge van elkeen oorweeg. Ons het die vermoë om te ontleed, te skep, te waardeer en lief te hê. Ons kan aangename gesprekke oor die verlede, hede en toekoms voer. Ons het etiese waardes met betrekking tot gedrag en kan dit gebruik om besluite te neem wat ons dalk of dalk nie onmiddellik tot voordeel sal strek nie. Pragtige kunswerke en goeie sedes trek ons aan. In ons verstand kan ons ons idees vorm en verfyn en ons voorstel hoe ander mense sal reageer as ons dit sou uitvoer.

Sulke faktore skep ’n bewustheid wat mense van ander lewensvorme op die aarde onderskei. ’n Hond, ’n kat of ’n voël kyk in ’n spieël en reageer asof hy nog een van sy soort sien. Maar wanneer jy in ’n spieël kyk, is jy bewus van jouself as ’n mens met die vermoëns wat pas gemeld is. Jy kan nadink oor netelige vrae soos: ‘Waarom lewe party skilpaaie 150 jaar en party bome meer as 1 000 jaar, maar as ’n intelligente mens 100 bereik, kom hy in die nuus?’ Dr. Richard Restak sê: “Die mensebrein, en slegs die mensebrein, het die vermoë om agteruit te staan, sy eie werking te beskou en só in ’n mate bo die grense van gewone ervaring uit te styg. Ja, ons vermoë om ons eie plan van optrede te herskryf en ons in die wêreld opnuut in oënskou te neem, onderskei ons van alle ander wesens in die wêreld.”

Die mens se bewustheid slaan party dronk. Hoewel die boek Life Ascending ’n bloot biologiese verklaring voorstaan, erken dit: “Wanneer ons vra hoe ’n proses [evolusie] wat soos ’n kansspel is, met verskriklike gevolge vir die verloorders, eienskappe soos liefde vir skoonheid, waarheidliewendheid, medelye, vryheid en bowenal die ruimheid van die mensegees kon voortgebring het, is ons verbysterd. Hoe meer ons oor ons geestelike vermoëns dink, hoe groter word ons verwondering.” Dit is baie waar. Ons kan dus ons beskouing van die mens se uniekheid verruim deur middel van ’n paar blyke van ons bewustheid wat toelig waarom baie mense daarvan oortuig is dat daar ’n intelligente Ontwerper, ’n Skepper, moet wees wat vir ons omgee.

Kuns en skoonheid

“Waarom wy mense hulle so geesdriftig aan kuns?” het professor Michael Leyton in Symmetry, Causality, Mind gevra. Soos hy getoon het, sal party miskien sê dat geesteswerksaamheid soos wiskunde duidelike voordele vir die mens inhou, maar waarom kuns? Leyton het sy punt toegelig deur te sê dat mense ver reis om kunsuitstallings en konserte by te woon. Watter innerlike gevoel is hierby betrokke? Mense in alle wêrelddele hang insgelyks mooi prente of skilderye teen die mure van hulle huis of kantoor. Of dink aan musiek. Die meeste mense hou daarvan om tuis of in hulle motor na die een of ander soort musiek te luister. Waarom? Dit is beslis nie omdat musiek vroeër tot die oorlewing van die geskikste bygedra het nie. Leyton sê: “Kuns is moontlik die onverklaarbaarste verskynsel van die mensespesie.”

Maar ons almal weet dat die genieting van kuns en skoonheid deel uitmaak van wat ons “mens” laat voel. ’n Dier sit miskien op ’n koppie en kyk na ’n kleurvolle hemelruim, maar word hy deur sulke skoonheid aangetrek? Ons sien ’n bergstroompie wat in die sonlig skitter, kyk na die verbysterende verskeidenheid in ’n tropiese reënwoud, aanskou ’n strand wat deur palmbome omsoom word of bewonder die sterre waarmee die swart, fluweelagtige naghemel besaai is. Dit vervul ons dikwels met ontsag, nie waar nie? Sulke skoonheid laat ons hart warmer klop en beur ons op. Waarom?

Waarom het ons ’n ingebore drang na dinge wat in werklikheid wesenlik min tot ons oorlewing bydra? Waar kom ons skoonheidswaardes vandaan? As ons nie ’n Maker oorweeg wat hierdie waardes tydens die mens se skepping ingeplant het nie, is daar geen bevredigende antwoorde op hierdie vrae nie. Dit geld ook vir die prag van goeie sedes.

Sedelike waardes

Talle mense besef dat goeie dade die hoogste vorm van skoonheid is. Getrouheid aan beginsels ondanks vervolging, onselfsugtige optrede om ander se lyding te verlig en die vergewing van iemand wat ons seergemaak het, is dade wat spreek tot die sedelikheidsgevoel van denkende mense regoor die wêreld. Dit is die soort skoonheid wat in die ou Bybelspreuk gemeld word: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van sy kant om die oortreding oor te sien.” Of soos ’n ander spreuk sê: “Wat begeerlik is in die aardse mens, is sy liefderyke goedhartigheid.”—Spreuke 19:11, 22, NW.

Ons almal weet dat party mense, en selfs groepe, verhewe sedes ignoreer of vertrap, maar die meeste doen dit nie. Wat is die bron van die sedelike waardes wat op feitlik alle gebiede en in alle tydperke gevind word? Het reg en verkeerd, as daar geen Bron van sedelikheid, geen Skepper, is nie, dan sommer by die mensegemeenskap ontstaan? Beskou ’n voorbeeld: Die meeste mense en groepe beskou moord as verkeerd. Maar ’n mens kan vra: ‘Verkeerd in vergelyking met wat?’ Dit is duidelik dat ’n sedelikheidsgevoel die mensegemeenskap in die algemeen ten grondslag lê en in die wette van baie lande opgeneem is. Wat is die bron van hierdie sedelikheidstandaard? Kan dit nie ’n intelligente Skepper wees wat sedelike waardes het en wat ’n gewete, of etiese gevoel, in die mens gesit het nie?—VergelykRomeine 2:14, 15.

Jy kan oor die toekoms dink en daarvoor beplan

Nog ’n faset van mensebewustheid is ons vermoë om oor die toekoms te dink. Toe professor Richard Dawkins gevra is of mense eienskappe het wat hulle van diere onderskei, het hy erken dat die mens inderdaad unieke hoedanighede het. Nadat Dawkins melding gemaak het van “die vermoë om vooruit te beplan deur bewuste, verbeeldingryke versiendheid te gebruik”, het hy bygevoeg: “Die korttermynvoordeel was nog altyd al wat in evolusie belangrik was; die langtermynvoordeel was nog nooit belangrik nie. Dit was nog nooit vir iets moontlik om te evolueer ten spyte daarvan dat dit op die kort termyn vir die persoon nadelig sou wees nie. Vir die heel eerste keer is dit vir ten minste party mense moontlik om te sê: ‘Vergeet daarvan dat jy ’n korttermynwins kan maak deur hierdie woud af te kap; wat van die langtermynvoordeel?’ Wel, ek dink dít is werklik nuut en uniek.”

Ander navorsers bevestig dat die mens se vermoë om bewuste langtermynbeplanning te doen ongeëwenaard is. Neurofisioloog William H. Calvin sê: “Benewens hormoongeprikkelde voorbereidsels vir die winter en paring, lewer diere verbasend min bewys daarvan dat hulle meer as ’n paar minute vooruit beplan.” Diere berg miskien voedsel voor ’n koue seisoen, maar hulle ontleed en beplan dinge nie. Die mens daarenteen dink oor die toekoms, selfs die verre toekoms. Party wetenskaplikes dink oor wat dalk miljarde jare van nou af met die heelal sal gebeur. Het jy al ooit gewonder waarom die mens—so anders as diere—oor die toekoms kan dink en planne kan maak?

Die Bybel (NW) sê van die mens: “Selfs onbepaalde tyd het [die Skepper] in hulle hart gesit.” Die Revised Standard Version vertaal dit: “Hy het die ewigheid in die mens se verstand gesit” (Prediker 3:11). Ons gebruik hierdie kenmerkende vermoë elke dag, selfs in iets so alledaags soos om in ’n spieël te kyk en te dink hoe ons oor 10 of 20 jaar sal lyk. En ons bevestig watPrediker 3:11 sê wanneer ons selfs net vir ’n oomblik dink aan ’n begrip soos die oneindigheid van tyd en ruimte. Die blote feit dat ons hierdie vermoë het, strook met die kommentaar dat ’n Skepper “die ewigheid in die mens se verstand” gesit het.

Aangetrokke tot ’n Skepper

Maar baie mense word nie ten volle deur die genieting van skoonheid, goeie dade teenoor hulle medemens en gedagtes aan die toekoms bevredig nie. “Vreemd genoeg”, sê professor C. Stephen Evans, “selfs gedurende ons gelukkigste en kosbaarste oomblikke van liefde voel ons dikwels dat iets ontbreek. Ons vind dat ons iets meer verlang maar nie weet wat nie.” Ja, bewuste mense—in teenstelling met die diere waarmee ons hierdie planeet deel—het nóg ’n behoefte.

“Godsdiens is diep gewortel in die mensenatuur en word op elke ekonomiese en opvoedkundige vlak ervaar.” Dít het die navorsing opgesom wat professor Alister Hardy in The Spiritual Nature of Man voorgelê het. Dit bevestig wat talle ander studies bewys het—die mens is bewus van God. Individue is dalk ateïste, maar nie hele nasies nie. Die boek Is God the Only Reality? sê: “Die godsdienstige soeke na die sin [van die lewe] . . . is die gemeenskaplike ervaring in elke kultuur en elke eeu sedert die mensdom sy verskyning gemaak het.”

Waar kom hierdie skynbaar ingebore bewustheid van God vandaan? As die mens bloot ’n toevallige groepering van nukleïensuur- en proteïenmolekules was, waarom sou hierdie molekules dan liefde vir kuns en skoonheid ontwikkel, godsdienstig word en oor die ewigheid dink?

Sir John Eccles het tot die gevolgtrekking gekom dat ’n evolusionêre verklaring van die mens se bestaan “in ’n uiters belangrike opsig te kort skiet. Dit kan nie elkeen van ons se bestaan as ’n unieke, selfbewuste wese verklaar nie.” Hoe meer ons van die werking van ons brein en verstand leer, hoe makliker is dit om te sien waarom miljoene mense tot die gevolgtrekking gekom het dat die mens se bewuste bestaan bewys dat daar ’n Skepper is wat vir ons omgee.

In die volgende hoofstuk sal ons sien waarom mense in alle kringe gevind het dat hierdie redelike gevolgtrekking die grondslag lê om bevredigende antwoorde te vind op die uiters belangrike vrae: Waarom is ons hier, en waar gaan ons heen?

[Venster op bladsy 51]

Skaakkampioen versus rekenaar

Toe die gevorderde rekenaar Deep Blue die skaakwêreldkampioen geklop het, het die vraag ontstaan: “Moet ons nie noodgedwonge tot die gevolgtrekking kom dat Deep Blue ’n verstand het nie?”

Professor David Gelernter van Yale-universiteit het geantwoord: “Nee. Deep Blue is net ’n masjien. Dit het net so min ’n verstand as wat ’n blompot ’n verstand het. . . . Wat dit eintlik beteken, is dat mense kampioenmasjienbouers is.”

Professor Gelernter het op hierdie groot verskil gewys: “Die brein is ’n masjien wat in staat is om ’n ‘ek’ te skep. Die verstand het ’n verbeeldingsvermoë, en rekenaars het nie.”

Hy het tot die gevolgtrekking gekom: “Die gaping tussen mens en [rekenaar] is blywend en sal nooit oorbrug word nie. Masjiene sal voortgaan om die lewe makliker, gesonder, interessanter en verwarrender te maak. En mense sal voortgaan om in wese oor dieselfde dinge besorg te wees as waaroor hulle nog altyd besorg was: oor hulleself, oor mekaar en, baie van hulle, oor God. In hierdie aangeleenthede het masjiene nog nooit ’n verskil gemaak nie. En hulle sal ook nooit nie.”

[Venster op bladsy 53]

Superrekenaar gelyk aan ’n slak

“Vandag se rekenaars kom nie eens naby ’n 4-jarige mens wat hulle vermoë betref om te sien, te praat, te beweeg of gesonde verstand te gebruik nie. Een rede is natuurlik blote rekenvermoë. Daar is al geraam dat selfs die kragtigste superrekenaar se vermoë om inligting te verwerk gelyk is aan die senustelsel van ’n slak—’n klein fraksie van die vermoë waaroor die superrekenaar in [ons] skedel beskik.”—Steven Pinker, direkteur van die Sentrum vir Kognitiewe Neurowetenskap by Massachusetts se Instituut vir Tegnologie.

[Venster op bladsy 54]

“Die mensebrein bestaan feitlik uitsluitlik uit die [serebrale] korteks. Die brein van ’n sjimpansee het byvoorbeeld ook ’n korteks, maar dit is baie kleiner. Die korteks laat ons dink, onthou, fantaseer. Ons is in wese menslike wesens as gevolg van ons korteks.”—Edoardo Boncinelli, direkteur van navorsing in molekulêre biologie, Milaan, Italië.

[Venster op bladsy 55]

Van deeltjiefisika tot jou brein

Professor Paul Davies het hom uitgelaat oor die brein se vermoë om die abstrakte gebied van die wiskunde te begryp. “Die wiskunde is nie iets wat jy sommer in jou agterplaas aantref nie. Dit word deur die menseverstand voortgebring. Maar as ons vra waar die wiskunde die doeltreffendste toegepas word, is dit op gebiede soos deeltjiefisika en astrofisika, gebiede van grondwetenskappe wat baie, baie ver van alledaagse aangeleenthede verwyderd is.” Waarop dui dit? “Vir my wys dit dat bewustheid en ons vermoë om wiskunde te doen nie blote toeval, ’n onbenullige besonderheid, ’n onbelangrike neweproduk van evolusie, is nie.”—Are We Alone?

[Venster/Prent op bladsy 56, 57]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Frontale lob

Prefrontale korteks

Broca-gebied

Wernicke-gebied

Motoriese korteks

● Die serebrale korteks is die buitenste laag van die brein wat ten nouste met intelligensie verband hou. ’n Mens se serebrale korteks sou, indien dit plat neergesit word, vier bladsye tikpapier bedek; ’n sjimpansee s’n sou net een bladsy bedek en ’n rot s’n sou ’n posseël bedek.—Scientific American.

[Venster op bladsy 58]

Elke volk het een

Deur die hele geskiedenis heen het enige twee volke wat mekaar teëgekom het albei gevind dat die ander ’n taal praat. The Language Instinct sê: “Geen stom stam is nog ooit gevind nie, en daar is geen verslag dat ’n gebied as ’n ‘bakermat’ van taal gedien het waarvandaan dit na groepe versprei het wat voorheen taalloos was nie. . . . Die universaliteit van saamgestelde taal is ’n ontdekking wat taalwetenskaplikes met ontsag vervul en is die eerste rede om te vermoed dat taal . . . die produk van ’n spesiale mense-instink is.”

[Venster op bladsy 59]

Taal en intelligensie

Waarom oortref die mens se intelligensie verreweg dié van diere, soos ape? ’n Sleutel is ons gebruik van sinsbou—die samevoeging van klanke om woorde te vorm en die gebruik van woorde om sinne te maak. Teoretiese neurofisikus dr. William H. Calvin verduidelik:

“Wilde sjimpansees gebruik omtrent drie dosyn verskillende klanke om omtrent drie dosyn verskillende betekenisse oor te dra. Hulle herhaal dalk ’n klank om die betekenis daarvan te beklemtoon, maar hulle voeg nie drie klanke saam om ’n nuwe woord by hulle woordeskat te voeg nie.

“Ons as mense gebruik ook omtrent drie dosyn klanke, wat foneme genoem word. Tog beteken net hulle kombinasies iets: ons voeg niksseggende klanke saam om betekenisvolle woorde te vorm.” Dr. Calvin het gesê dat die sprong van die diere se “een klank/een betekenis” tot ons unieke mensevermoë om sinsbou te gebruik “nog deur niemand verklaar is nie”.

[Venster op bladsy 60]

Jy kan meer doen as om net te krabbel

“Kan slegs die mens, Homo sapiens, deur taal kommunikeer? Dit is duidelik dat die antwoord sal afhang van wat met ‘taal’ bedoel word—want al die hoër diere kommunikeer beslis deur middel van ’n groot verskeidenheid tekens, soos gebare, reuke, fluite, roepe en sang, en selfs die gedans van die bye. Maar dit lyk nie of ander diere benewens die mens ’n saamgestelde grammatiese taal het nie. En iets wat moontlik baie betekenisvol is, is dat diere nie prente teken wat iets voorstel nie. Hulle krabbel hoogstens net.”—Professors R. S. en D. H. Fouts.

[Venster op bladsy 61]

“As ons die menseverstand beskou, vind ons ook verbasend ingewikkelde strukture”, sê professor A. Noam Chomsky. “Taal is ’n voorbeeld, maar nie die enigste nie. Dink aan die vermoë om van abstrakte begrippe van die getalstelsel gebruik te maak, [wat blykbaar] uniek aan die mens [is].”

[Venster op bladsy 62]

“Begaaf” met die vermoë om vrae te vra

Fisikus Lawrence Krauss het oor die toekoms van ons heelal geskryf: “Ons het die vrymoedigheid om vrae te vra oor dinge wat ons moontlik nooit self sal sien nie omdat ons vrae kan vra. Ons kinders, of hulle kinders, sal dit eendag beantwoord. Ons is begaaf met verbeelding.”

[Venster op bladsy 69]

As die heelal en die feit dat ons daarin lewe toevallig is, kan ons lewe geen blywende sin hê nie. Maar as ons lewe in die heelal die gevolg van ontwerp is, moet dit bevredigend en sinvol wees.

[Venster op bladsy 72]

’n Uitvloeisel van hulle ontwyking van sabeltandtiere?

John Polkinghorne, van die Universiteit van Cambridge, Engeland, het gesê:

“Teoretiese fisikus Paul Dirac het iets ontdek wat die kwantumveldteorie genoem word, wat die grondslag vorm van ons begrip van die fisiese wêreld. Ek kan nie glo dat Dirac se vermoë om hierdie teorie te ontdek, of Einstein se vermoë om die algemene relatiwiteitsteorie te ontdek, ’n uitvloeisel is van ons voorouers se ontwyking van sabeltandtiere nie. Daar is iets baie diepliggender, baie raaiselagtiger aan die gang. . . . 

“Wanneer ons na die logiese orde en ooglopende prag van die fisiese wêreld kyk, soos deur die fisiese wetenskap geopenbaar, sien ons ’n wêreld deurtrek van tekens van verstand. Vir ’n godsdiensgelowige is dit die verstand van die Skepper wat só onderskei word.”—Commonweal.

[Prent op bladsy 63]

Slegs mense formuleer vrae. Party is vrae oor die sin van die lewe

[Prent op bladsy 64]

In teenstelling met die diere het mense ’n bewustheid van hulleself en van die toekoms

[Prent op bladsy 70]

Die mens is uniek daarin dat hy skoonheid waardeer, oor die toekoms dink en tot ’n Skepper aangetrokke is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel