Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 8/8 bl. 3-4
  • Wat het van sedelikheid geword?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat het van sedelikheid geword?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer ‘diefstal nie diefstal is nie’
  • Geslagsedes gaan agteruit
  • Wat is eties?
  • Die sedelike verval is wydverspreid
    Ontwaak!—1992
  • Gaan waardes agteruit?
    Ontwaak!—2003
  • Hoe goed ken jy die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Sedelikheid—Waar kan jy dit vind?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 8/8 bl. 3-4

Wat het van sedelikheid geword?

REGERINGSAMPTENARE. Politieke kandidate. Godsdiensleiers. Ons verwag dat sulke manne van formaat voorbeelde van goeie gedrag moet wees. Maar in onlangse tye het manne uit hierdie geledere die hoofrol in ’n reeks skokkende skandale gespeel. Hulle wangedrag het alle denkbare verdorwenhede ingesluit—van owerspel en skaamtelose leuens tot slinkse handelstransaksies en verduistering.

Die boek The Death of Ethics in America sê: “Terwyl die nasie behep was met die dodelike siekte . . . verworwe immuniteitsgebreksindroom, het ’n ander soort vigs [verworwe integriteitsgebreksindroom] blykbaar ’n epidemie geword. Tog het dit nie tot soortgelyke dringende oproepe om ’n geneesmiddel aanleiding gegee nie.” (Ons kursiveer.) Die tydskrif Time sê dat die Verenigde State “hom in ’n sedelike moeras bevind”.

Die sedelike moeras is glad nie tot die Verenigde State beperk nie. China, Duitsland, Frankryk, Griekeland, Indië, Indonesië, Israel en Japan is onlangs ook geskok deur skandale waarby vooraanstaande manne betrokke was. En dit moet ’n mens nie verbaas dat die gemeenskapsleiers se onetiese optrede bloot dié van die gewone publiek weerspieël nie. Thailand se eerste minister het korrupsie in sy land ’n “kanker” genoem. Hy het bygevoeg dat die gemeenskap as ’n geheel aan ’n siekte ly wat die gevolg van selfsug en verdraaide maatskaplike waardes is.

Mense wonder tereg: ‘Wat sit agter hierdie wêreldwye agteruitgang in sedes? Nog belangriker, waarop stuur dit alles af?’

Wanneer ‘diefstal nie diefstal is nie’

In Columbus, Ohio, VSA, het ’n pantserwa se agterste deur oopgevlieg, en twee sakke geld het uitgeval. Terwyl nagenoeg tweemiljoen dollar in die wind gefladder en op die hoofweg gaan lê het, het tientalle motoriste uit hulle motors gespring en hulle sakke en beursies vol note gestop. Party motoriste het ander per burgerbandradio geroep om ook te kom steel.

Amptelike pleidooie en ’n beloning van 10 persent wat aangebied is vir enige geld wat teruggegee word, is feitlik geïgnoreer. Die meeste mense het besluit “optelgoed is hougoed”. Baie min van die geld is uiteindelik teruggekry. Een man het selfs die diefstal geregverdig deur te sê die geld was “’n gawe van God”. Maar hierdie geval is nie uniek nie. Verbygangers het soortgelyke gierigheid geopenbaar toe daar in San Francisco, Kalifornië, en in Toronto, Kanada, geld uit pantserwaens geval het.

Dit is ontstellend dat mense wat gewoonlik eerlik en opreg is hulle so maklik tot diefstal verlaag. Op sy allerminste toon dit hoe verdraaid die gewilde beskouings van sedelikheid is. Thomas Pogge, ’n assistentprofessor in filosofie aan die Universiteit Columbia in New York, sê dat hoewel die meeste mense dit as onsedelik beskou om by ’n persoon te steel, hulle diefstal by ’n instelling om die een of ander rede as baie minder afkeurenswaardig beskou.

Geslagsedes gaan agteruit

’n Verdraaide beskouing van sedes word ook op seksuele gebied gesien. ’n Onlangse opname het getoon dat mense buitengewoon verdraagsaam is teenoor politieke kandidate wat owerspel pleeg. Een skrywer sê dat hierdie kiesers moontlik huiwer om owerspel te veroordeel omdat ‘hulle self owerspel pleeg’.

Trouens, onlangse statistiek toon dat 31 persent van alle getroude mense in die Verenigde State al ’n buite-egtelike verhouding gehad het of nou een het. Die meeste Amerikaners, 62 persent, “dink daar is sedelik niks verkeerd” daarmee nie. Beskouings oor voorhuwelikse geslagsomgang is net so permissief. ’n Opname in 1969 het getoon dat 68 persent van die Amerikaanse publiek destyds voorhuwelikse geslagsomgang afgekeur het. Vandag keur slegs 36 persent dit af. In die sestigerjare was ongeveer die helfte van die vroue wat ondervra is op hulle troudag maagde. Vandag is dit net 20 persent.

Wat is eties?

Die agteruitgang in sedes word ook in die sakesektor gesien. Twee dekades gelede het slegs 39 persent van die eerstejaarstudente wat ondervra is, gedink “finansiële sukses is belangrik of noodsaaklik”. Teen 1989 het die syfer feitlik verdubbel. Om geld te maak, oorheers klaarblyklik die denke van baie jongmense—met ontstellende sedelike gevolge.

Toe 1093 hoërskoolseniors ondervra is, het 59 persent gesê hulle sal bereid wees om ’n onwettige transaksie ter waarde van 30 miljoen rand aan te gaan—selfs op gevaar van ’n opgeskorte vonnis van ses maande! Daarbenewens het 67 persent gesê hulle sal fiktiewe poste op ’n bedryfskosterekening sit; 66 persent het gesê hulle sal leuens vertel om ’n bedryfsdoelwit te bereik. Tog volg jongmense bloot die voorbeeld wat mense ouer as hulle ten opsigte van sedes stel. Toe 671 sakebestuurders oor hulle beskouing van die bedryfsetiek uitgevra is, het byna ’n kwart van hulle gesê dat die etiek hulle strewe na ’n suksesvolle loopbaan kan belemmer. Meer as die helfte het erken dat hulle die reëls uitlê soos dit hulle pas om vooruit te kom.

Party universiteite bied kursusse in die etiek aan om hierdie verontrustende tendens te probeer keer. Maar baie is skepties oor die doeltreffendheid van sulke pogings. “Ek kan eenvoudig nie sien hoe etiekklasse gaan help nie”, het een vooraanstaande Kanadese sakeman gesê. “Studente met goeie waardes sal nie juis iets nuuts leer nie, en die studente wat in die eerste plek oneerlik is, gebruik moontlik net die insig wat hulle verkry om ’n ander manier te vind waarop hulle die onsedelike dade kan benader wat hulle in elk geval gaan pleeg.”

Baie ondernemings het eweneens ’n amptelike gedragskode vasgestel. Maar deskundiges sê dat sulke kodes bloot oëverblindery is en selde veel aandag kry—behalwe kort ná ’n nadelige skandaal. Dit is ironies dat ondernemings met ’n geskrewe gedragskode volgens ’n onlangse opname meer dikwels van onetiese optrede beskuldig is as firmas daarsonder!

Ja, dit is duidelik dat sedes op alle gebiede agteruitgaan, en niemand weet blykbaar waarop dit afstuur nie. Een sakebestuurder sê: “Die bakens wat vir ons gesê het wat reg en verkeerd is, is weg. Hulle is gaandeweg afgebreek.” Waarom het hierdie sedelike bakens verdwyn? Waardeur word hulle vervang? Hierdie vrae sal in die volgende artikels ondersoek word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel