Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 8/8 bl. 11-13
  • Is die “Nuwe Testament” anti-Semities?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die “Nuwe Testament” anti-Semities?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie was aanspreeklik vir Jesus se dood?
  • Gemeenskapsaanspreeklikheid
  • Waarom anti-Semitisme in die Christendom?
  • Die Christelike godsdiens—Was Jesus die weg na God?
    Die mensdom se soeke na God
  • Kan die breuk geheel word?
    Ontwaak!—1991
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • ’n Nuwe era vir Jode en Christene?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 8/8 bl. 11-13

Die Bybelse beskouing

Is die “Nuwe Testament” anti-Semities?

’N AMERIKAANSE evangelis het eenkeer gesê: “Die institusionele kerk het gedurende ’n groot deel van sy geskiedenis gesondig en moet in die Oordeel van baie dinge rekenskap gee, veral van die anti-Semitisme wat teenoor die Joodse volk beoefen is.”

Waarom het anti-Semitisme so ’n lang en aaklige geskiedenis wat selfs tot in die 20ste eeu voortduur? Party blameer die Christelike Griekse Geskrifte, die sogenaamde Nuwe Testament. Krister Stendahl, die dekaan van die Harvardse Teologiese Skool, het byvoorbeeld gesê: “Dat . . . gedeeltes in die Nuwe Testament as ‘Goddelike’ toestemming vir haat teenoor die Jode gedien het, is welbekend en ’n algemeen aanvaarde feit.” Maar is dit werklik die geval, al word dit moontlik algemeen aanvaar?

Wie was aanspreeklik vir Jesus se dood?

Een gedeelte wat dikwels as bewys van “Nieu-Testamentiese” anti-Semitisme aangehaal word, is Mattheüs 27:15-25. Daar sê dit ’n Joodse skare het daarop aangedring dat die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, Jesus aan ’n paal moet laat nael, en hulle het selfs uitgeroep: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” Leer die “Nuwe Testament” hier dat alle eerste-eeuse Jode vir Jesus se dood aanspreeklik was en dat Jode altyd as Christusmoordenaars bekend moet staan?

In die eerste plek, hoe het die meeste Jode gedurende Jesus se bediening teenoor hom opgetree? Die “Nuwe Testament” toon dat Jesus baie gewild was by die Joodse skares, veral in Galilea waar hy die meeste van sy predikingswerk gedoen het (Johannes 7:31; 8:30; 10:42; 11:45). Slegs vyf dae voor sy gevangeneming en teregstelling het ’n Joodse skare hom as die Messias begroet toe hy Jerusalem binnegegaan het.—Mattheüs 21:6-11.

Wie wou dan hê dat Jesus doodgemaak moet word? Die “Nuwe Testament” sê dat Jesus by die owerpriesters en baie van die Fariseërs en Sadduseërs ongewild was omdat hy hulle geveinsdheid blootgelê het (Mattheüs 21:33-46; 23:1-36).a Hoëpriester Kajafas was een van Jesus se vernaamste teenstanders. Hy het ongetwyfeld persoonlik ’n geldelike verlies gely toe Jesus die geldwisselaars uit die tempel gejaag het (Markus 11:15-18). Kajafas was boonop bang dat Jesus se gewildheid by die Joodse skares eindelik daartoe sou lei dat Rome ingryp en hy sy gesag verloor (Johannes 11:45-53). Die owerpriesters en ander godsdiensleiers het dus planne beraam om Jesus te laat doodmaak en het hom vir teregstelling aan ’n Romeinse hof oorgelewer (Mattheüs 27:1, 2; Markus 15:1; Lukas 22:66–23:1). Hoe ironies is dit tog dat Jesus se gewildheid by die Joodse skares tot sy dood gelei het!

Hoe kon ’n Joodse skare, met die oog op Jesus se gewildheid, daarop aandring dat hy doodgemaak word? Aangesien die meeste van Jesus se volgelinge Galileërs was, was die skare wat hom dood wou hê moontlik hoofsaaklik Judeërs. Die Galileërs was geneig om van nature hartlik, nederig en opreg te wees, terwyl die Judeërs geneig was om hoogmoedig, ryk en hooggeleerd te wees, veral in Jerusalem. Dit is betekenisvol dat Mattheüs sê “die owerpriesters en die ouderlinge” het die skare aangehits (Mattheüs 27:20). Watter leuen kon hulle die skare vertel het om hulle so op te sweep? Was dit die leuen wat hulle vroeër by Jesus se verhoor vertel het en wat tydens Jesus se teregstelling herhaal is, naamlik dat Jesus gesê het hy gaan die tempel vernietig?—Markus 14:57, 58; 15:29.b

Gemeenskapsaanspreeklikheid

Waarom het die apostel Petrus vir ’n groot skare Jode wat sowat 50 dae later vir die Fees van die Weke in Jerusalem was, gesê: “Julle [het Jesus] deur die hand van wettelose mense aan ’n folterpaal vasgespyker”, as hierdie Joodse skare nie die hele Joodse volk was nie? (Handelinge 2:22, 23, NW). Petrus het beslis geweet dat die meeste van hulle min te doen gehad het met die gebeure wat tot Jesus se teregstelling gelei het. Wat het Petrus dus bedoel?

Volgens die Skrif het ’n moord waarvoor daar nie versoening gedoen is nie, meegebring dat nie net die moordenaar skuldig was nie, maar ook die gemeenskap wat hom nie voor die gereg gebring het nie (Deuteronomium 21:1-9). Die hele stam van Benjamin is byvoorbeeld eenkeer as bloedskuldig veroordeel omdat hulle nie ’n groep moordenaars onder hulle gestraf het nie. Hoewel die meeste stamlede nie direk by die moord betrokke was nie, het hulle hierdie misdaad vergoelik deur dit te duld en was hulle sodoende in ’n mate daarvoor aanspreeklik (Rigters 20:8-48). Trouens, daar is ’n gesegde wat lui: “Wie swyg, stem toe.”

Die eerste-eeuse Joodse nasie het eweneens toegestem tot die misdaad van hulle bloedskuldige leiers. Omdat hulle die moorddadige optrede van die owerpriesters en Fariseërs geduld het, was die hele nasie aanspreeklik. Dit is ongetwyfeld waarom Petrus gesê het sy Joodse gehoor moet berou toon.c

Wat was die gevolge van hierdie verwerping van Jesus as die Messias? Jesus het vir die stad Jerusalem gesê: “Julle huis [die tempel] word vir julle woes gelaat!” (Mattheüs 23:37, 38). Ja, God het sy beskerming weggeneem, en later het die Romeinse leërs Jerusalem met sy tempel vernietig. Net soos ’n man se gesin geraak sal word as hy al sy besittings deurbring, het die feit dat hulle Goddelike beskerming verloor het nie net diegene wat Jesus wou dood hê nie, maar ook hulle gesinne geraak. In hierdie opsig hét Jesus se bloed op hulle en hulle kinders gekom.—Mattheüs 27:25.

Maar niks in die “Nuwe Testament” sê dat toekomstige geslagte van Jode in die besonder die skuld vir Jesus se dood sou dra nie. Inteendeel, weens sy liefde vir hulle voorvader Abraham het God die Jode spesiaal begunstig en hulle die eerste geleentheid gebied om Christene te word (Handelinge 3:25, 26; 13:46; Romeine 1:16; 11:28). Toe nie-Jode later ook hierdie geleentheid gekry het, het God nie meer op grond van nasionale afkoms met enige persoon gehandel nie. Petrus het gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Handelinge 10:34, 35). Die apostel Paulus het later geskryf: “Daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie” (Romeine 10:12). Jode het toe dieselfde posisie voor God gehad as nie-Jode, en dit is vandag nog die geval.—Vergelyk Esegiël 18:20.

Waarom anti-Semitisme in die Christendom?

Dit is dus duidelik dat die “Nuwe Testament” nie anti-Semities is nie. Inteendeel, die “Nuwe Testament” bevat die leringe van ’n man wat as ’n Jood geleef en gesterf het en wat sy Joodse volgelinge geleer het om die ideale van die Mosaïese Wet te respekteer (Mattheüs 5:17-19). Maar waarom het anti-Semitisme in die Christendom voortgeduur as dit nie die “Nuwe Testament” se skuld is nie?

Die Christelike geloof self dra nie die skuld nie. Net soos die valse Christene in Judas se dag ‘die genade van onse God in ongebondenheid verander’ het, het voorgewende Christene deur die hele geskiedenis heen Christus se naam deur die modder van dweepsug en vooroordeel gesleep (Judas 4). Die anti-Semitisme in die Christendom is dus te wyte aan die selfsugtige vooroordele van mense wat net in naam Christene is.

Interessant genoeg, Jesus self het voorspel dat party sou sê hulle het allerhande wonderwerke in sy naam verrig, maar hulle sou eintlik “die ongeregtigheid werk”—beslis nie sy vriende nie! (Mattheüs 7:21-23). Baie van hierdie mense het die “Nuwe Testament” probeer gebruik om hulle haat en vooroordele te regverdig, maar verstandige mense besef wat agter daardie valse skyn steek.

Valse Christene sal aan God moet rekenskap gee van hulle anti-Semitisme. Maar soos die bestaan van vals banknote nie die bestaan van egte geld weerlê nie, weerlê die bestaan van naamchristene geensins die feit dat daar inderdaad ware Christene is nie, mense wat bekend is vir hulle liefde, nie vir hulle vooroordele nie. Jy kan gerus sulke mense by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in jou omgewing leer ken.

[Voetnote]

a Die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Joseph ben Matthias (Flavius Josephus) skryf dat Israel se hoëpriesters teen hierdie tyd tot een keer per jaar deur verteenwoordigers van Rome aangestel en afgesit is. Onder hierdie omstandighede het die hoëpriesterskap ontaard in ’n amp wat om geld gedraai en die gemeenskap se grootste skurke gelok het. The Babylonian Talmud dokumenteer die sedelike gruwels van party van hierdie hoëpriesters (Pesaḥim 57a). Die Talmoed meld eweneens die Fariseërs se neiging tot geveinsdheid (Soṭah 22b).

b Jesus het in werklikheid vir sy teenstanders gesê: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig” (Johannes 2:19-22). Maar soos Johannes toon, het Jesus nie van die tempel in Jerusalem nie, maar van “die tempel van sy liggaam” gepraat. Jesus het dus sy verwagte dood en opstanding met die sloping en herbouing van ’n gebou vergelyk.—Vergelyk Mattheüs 16:21.

c Soortgelyke aanspreeklikheid is ook al in hedendaagse tye opgeteken. Nie alle burgers van Nazi-Duitsland was regstreeks by die gruweldade betrokke nie. Tog het Duitsland ’n gemeenskapsaanspreeklikheid erken en vrywillig besluit om slagoffers van die Nazi-vervolging te vergoed.

[Lokteks op bladsy 13]

Anti-Semitisme in die Christendom word deur mense beoefen wat net in naam Christene is

[Prent op bladsy 11]

Nóg Jesus nóg sy dissipels het anti-Semitisme voorgestaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel