Die verouderingsproses—’n realistiese beskouing
DIE ware lewensverhaal van ’n bejaarde Midde-Oosterse man wat baie swaar gekry en talle rampe beleef het, sluit af met die versekering dat hy kort voor sy dood ‘oud was en ’n vol lewe gehad het’. Hy was ouer as 140 jaar.—Job 42:16, 17, NAV.
’n Ander man, ook in die Midde-Ooste, het die rype ouderdom van 175 jaar bereik. Die verslag sê van hom dat hy “’n grysaard [was] met ’n vol lewe agter die rug toe hy gesterf het”. Ja, mense kán, selfs op gevorderde leeftyd, ’n vol, of bevredigende, lewe lei.—Genesis 25:7, 8, NAV.
Op ’n ouderdom wat ons nou as baie oud beskou, het een van die voormelde mans ingewillig om ’n gerieflike stedelike huis te verlaat, en hy het met sy hele huishouding na ’n ander land verhuis. Tydens die eerste skof van daardie reis het hy meer as 970 kilometer afgelê, en dít sonder die hulp van moderne vervoergeriewe. Die ander man het baie ernstige gesondheidsprobleme ondervind. Albei mans het ’n gesin in hulle latere jare grootgemaak.
Een van daardie mans het gesien hoe ’n deel van die land waarin hy gewoon het deur die verenigde leërs van vier invallende konings oorval word. Hy moes ’n krygsmag van ongeveer 300 man op die been bring om hulle agterna te jaag en ’n dierbare familielid te red. Later het hy gesien hoe twee welvarende stede weens ’n daad van God vernietig word. Hierdie selfde man se pragtige vrou is twee keer deur magtige konings tydelik van hom af weggeneem.
Albei hierdie bejaarde mans—Job en Abraham—het met welslae rampspoedige gebeurtenisse deurleef, en tog het hulle ‘’n vol’ en bevredigende lewe gelei. Wat was hulle geheim?
Hedendaagse probleme van bejaardheid
Is die probleme waarmee ouer mense vandag te kampe het werklik baie anders as die probleme wat daardie eertydse manne ondervind het? Verloor party bejaardes nie hulle rykdom of selfs hulle lewensonderhoud nie?
Party verloor hulle huis en moet na ’n onbekende omgewing verhuis. Naasbestaandes, vriende en huweliksmaats sterf. Swak gesondheid is ’n groot probleem waarmee hulle te kampe het. Ongelukkig laat party kinders hulle ouers in die steek deur hulle nie meer by te staan nie en hulle self die mas te laat opkom.
Ons hoef nie nog sulke probleme te noem nie, want hulle is maar alte bekend. Maar ons kan verstandig na oplossings soek.
Gesindheid ten opsigte van veroudering
’n Mens moet dalk jou gesindheid verander; dit kan die oorsaak van jou ongelukkigheid wees. Party bejaardes dring byvoorbeeld daarop aan om alleen te woon al kan hulle glad nie vir hulleself sorg nie. Een bejaarde vrou wat ’n invalide was en op ’n groot erf gewoon het, het ’n teken op haar deur gehad met die woorde: “Bly buite!” Sy het gemeen dat mense net haar geld of eiendom wou hê; sy het niemand vertrou nie.
So iemand het nie ’n realistiese beskouing van die verouderingsproses nie. Wat ’n treurige situasie! Nie almal kan weliswaar vertrou word nie. Maar hoeveel verstandiger is dit tog om te aanvaar dat party mense vertrou kan word en om die vriendskap en bystand te aanvaar van diegene wat werklik probeer help!
Party bejaardes meen dat hulle reeds ’n vol lewe gelei het. Maar hulle leef nog, en hulle sal daarby baat vind om hulle verstand bedrywig te hou en hulle denkvermoë ten volle te gebruik. Dit is nie bo hulle vermoë om nuwe dinge te leer nie, en al neem dit hulle langer om iets te leer as toe hulle jonk was, kan dit verrykend wees.
Bejaardheid is uniek
’n Vakskool se instruksies oor geriatrie sê dat ouer mense moet voel dat hulle verstandelik en liggaamlik onafhanklik is. Hulle moet ook voel dat iemand hulle liefhet en dat hulle nodig is, dat hulle bruikbaar is en dinge vir hulleself kan doen. Die instruksies sê verder dat bejaardes moet voel hulle hoort êrens, soos in ’n familie en tussen vriende, en dat hulle by godsdienstige assosiasie sal baat vind.
Wat is derhalwe die beste gesindheid wat mense kan openbaar namate hulle ouer word? ’n Optimistiese siening kan baie help. Iemand wat bejaardheid klaarblyklik as ’n nuwe hoofstuk in die lewe beskou het, was die 90-jarige moeder van ’n voormalige Amerikaanse president. In haar memoires het sy geskryf: “Bejaardheid is nie iets om te vrees nie . . . Dit kan vol en bevredigend wees . . . Die kenmerke van ons latere lewe sal bepaal word deur die manier waarop ons ons lewe reeds gevorm het.” So ’n gesindheid maak die latere lewensjare sinvoller.
Gevolglik het die voormelde instruksies oor geriatrie gesê dat gelukkige bejaardes diegene is wat hulleself kon onderrig deur nuwe en bevredigende belangstellings te ontwikkel, uitdagende stokperdjies aan te pak en te beoefen, betekenisvolle ondervindinge en vriendskappe te geniet, waardering vir die lewe aan te kweek en binne die perke van hulle fisiese vermoëns te leef.
Wat van die onvermydelike lewensprobleme wat ’n mens moet verduur? Die boek On Growing Old sê: “Dit spreek vanself dat ’n mens beter in staat sal wees om probleme te verduur as jy hoër waardes en veral die krag wat met geloof gepaardgaan tot jou beskikking het . . . Veral bejaardes moet hulle godsdiensband probeer verstewig.”
Vir party mense is dit die belangrikste om alles uit die lewe te kry. Een grys 61-jarige het haar liefde vir kragtige motorfietse uitgeleef deur lid te wees van ’n motorfietsklub wat uitsluitlik vir mense bo 40 is. Die Ontwaak! beveel natuurlik nie aan dat bejaardes motorfietse moet hê nie!
Een bejaarde egpaar het ’n leuse: “Moenie ellendig voel oor jou ouderdom nie—en moenie gaan stilsit wanneer jy aftree nie.” Hulle het, getrou aan daardie leuse, in 1980 met fietse van Los Angeles na New York gery. Gedurende die vier jaar ná hulle aftrede in 1976 het die man, 69, en sy vrou, 64, met ’n fiets meer as 25 000 kilometer deur Kanada, die Verenigde State, Noorweë, België, Holland, Duitsland, Frankryk en Brittanje gery. Ook in hierdie verband beveel ons nie aan dat iemand sy lewe met sulke ideale vul nie, aangesien dit hom min of geen tyd sal laat om van die ware aanbidding van God te leer en daarby betrokke te wees nie. Maar hierdie voorbeeld toon dat party ouer mense ’n bedrywige lewe kan lei.
As jy jou met produktiewe bedrywighede besig hou en vir ander mense takies verrig, kan dit jou help om met waardigheid oud te word. ’n Groep afgetrede vakmanne, party ouer as 70, het hulle vaardighede behou deur pensioenarisse se huise in die groter Vancouver, Kanada, teen lae koste te herstel. Aangaande die uitwerking wat hierdie werk op die vakmanne gehad het, het een man gesê: “Dis goeie terapie. Dit hou hulle bedrywig.” Die koerantberig het gesê dat hulle “net afgetree is, nie afgeleef nie”. Hierdie mans is ook van mening dat TV-kykery vir die res van ’n mens se lewe net vir diegene is wat baie afgeleef is.
Die rol van waardering
Waardering vir die lewe moet ook in aanmerking geneem word. ’n Lewenslustige 87-jarige van Brits-Columbië, Kanada, het baie waardering getoon bloot omdat hy lewe. Sy slagspreuk om ’n realistiese beskouing van die verouderingsproses te hê, was: “Hou jou verstand bedrywig en bly jonk van hart. Lewe van dag tot dag.” Hy het nooit werklik vir bejaardheid vooruitbeplan nie, maar het eenvoudig in die buitelug besig gebly deur sy vrugtebome te versorg. Om hom by sy veranderde omstandighede aan te pas, het hy ’n lewendige belangstelling in ander mense behou en altyd op hoogte van die jongste nuus probeer bly.
Al verander ouer mense se posisie in die familie en in die samelewing, is daar geen rede om alle belangstelling in die lewe te verloor of in diep depressie te verval nie. As vriende en familielede bejaardes gedurende hierdie tyd onderskraag, kan dit ’n baie goeie uitwerking hê, want so kan hulle hulle ondervindinge en vreugdes aan ander oordra. ’n Bejaarde man wat alleen in sy huis in Brits-Columbië woon, het gesê: “As ouer mense deur hulle familie afgeskeep word, is hulle geneig om heeltyd in die verlede te leef, en dit is nie goed nie.” Hy waardeer sy wydverspreide familie en die feit dat hulle getrou met hom in aanraking bly. “Die telefoon”, het hy gesê, “is ’n wonderlike instrument vir ouer mense.”
Een man wat weens ernstige hartprobleme vroeg moes aftree, het gemeld hoe gevaarlik dit is om in die verlede te leef. Hy het ’n baie bedrywige lewe gehad, aangesien hy ’n suksesvolle sakeonderneming bestuur en as ’n aangestelde ouere man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies gedien het. Was hy spyt omdat hy sekere dinge nie meer kon doen nie? “Nee”, het hy gesê, “nie juis nie. Ek is tevrede dat ek my bes gedoen het. Ek het die grondslag gelê vir ander om op te bou.”
Hierdie man se verhouding met sy getroude dogters en hulle gesinne het met verloop van die jare, in sy woorde, ’n “hegter hegtheid” geword. Hy en sy vrou waardeer hulle geliefdes en het geleer om die gesinsbesluite van hulle volgroeide kinders by diegene te laat wat dit moet neem—naamlik daardie volwassenes. As hulle dit nie gedoen het nie, sou dit net tot wrywing en ongelukkigheid gelei het asook tot die algemene probleem met die skoonouers.
Hoeveel vreugde word grootouers tog nie ontneem as hulle rol nie waardeer word nie! Maar hoe bly is hulle tog wanneer hulle ’n kleinkind hoor sê, soos hierdie oupa ná ’n lang tyd in die hospitaal gehoor het: “Bompa! Waar was jy? Ons het na jou verlang!”
Omdat selfsug en ’n gebrek aan natuurlike liefde so algemeen in die hedendaagse wêreld is, kry nie alle siekes en bejaardes die morele en fisiese onderskraging wat so noodsaaklik is om probleme met kalmte die hoof te bied nie. Die opsiener van ’n waaksorgsentrum in Kanada het die situasie soos volg opgesom: “Baie van hierdie ouer mense verlaat ’n lieflike huis om hier te kom woon, waar hulle net ’n bed en ’n kas het. Wanneer hulle weggaan, via die begrafnisondernemer, bly net ’n klein houer oor wat al hulle wêreldse besittings bevat. Dit is ’n traumatiese ondervinding.” En tog is hierdie fasiliteite in sekere gevalle dalk die enigste uitweg vir families wat hulle bejaarde geliefdes versorg wil sien.
Verstandige toekomsverwagtinge
Volgens sommige voorspellers sal daar ’n tyd aanbreek wanneer ’n mediese voorskrif veroudering sal teëwerk, net soos ander gesondheidsprobleme vandag beheer word. Maar bied sulke onrealistiese voorspellings deur onvolmaakte mense ’n ware, bemoedigende hoop vir ’n persoon wie se lewensduur “sewentig jaar” of “tagtig jaar” nader?—Psalm 90:10.
Duisende ouer mense het ’n betroubare hoop in God se Woord, die Bybel, gevind. Hulle vertrou nou op die onfeilbare beloftes van “die Oue van dae”, Jehovah God (Daniël 7:9, 13). Een van daardie beloftes is dat ’n ouer persoon se ‘vlees fris sal word van jeugdige krag’ en hy ‘na die dae van sy jonkheid sal terugkeer’ (Job 33:25). Selfs diegene wat in die dood slaap, sal opgewek word tot daardie soort lewe in God se regverdige nuwe wêreld, wat binnekort die huidige, onbevredigende stelsel van dinge sal vervang (Handelinge 24:15; 2 Petrus 3:13). Dit was hierdie betroubare hoop wat Abraham en Job in staat gestel het om “’n vol lewe” te lei.
As ’n mens vandag volgens sulke hartverblydende waardes lewe, is dit asof jy voorsiening maak vir die toekoms. As ’n ouer persoon ook familie en vriende het wat hom onderskraag en hy aan gepaste bedrywighede deelneem, kan dit met hom goed gaan. Bowenal sal ’n hegte verhouding met die Een wat bevryding van veroudering en die dood beloof het dit vir jou moontlik maak om ’n realistiese beskouing van die verouderingsproses te hê. Diegene wat God se guns geniet, sal inderdaad “selfs in hulle ouderdom . . . nog toeneem in krag”.—Psalm 92:14, NAV.