Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 8/22 bl. 20-22
  • Nierstene—Hoe ’n ou kwaal behandel word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Nierstene—Hoe ’n ou kwaal behandel word
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorkomssyfer en oorsake
  • Nuwe behandelings
  • ’n Tegniek waarin minimale chirurgie nodig is
  • Nie-chirurgiese behandeling
  • Voorkoming
  • Jou niere—’n lewensonderhoudende filter
    Ontwaak!—1997
  • ‘Dis net tydelik!’—My lewe met niersiekte
    Ontwaak!—1996
  • Ek het God se beskouing van bloed aanvaar
    Ontwaak!—2003
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 8/22 bl. 20-22

Nierstene—Hoe ’n ou kwaal behandel word

JY HET waarskynlik al van iemand gehoor wat las van nierstene het. In die Verenigde State word ongeveer 300 000 mense met nierstene jaarliks in hospitale opgeneem. Die pyn kan verskriklik wees en kan met geboortepyne vergelyk word.

Party dink dat nierstene ’n betreklik nuwe gesondheidsprobleem is wat moontlik iets met die hedendaagse eetgewoontes of lewenstyl te doen het. Maar in werklikheid het mense al eeue lank las van stene in die urinekanaal. Dit is al selfs in Egiptiese mummies aangetref wat duisende jare oud is.

Die stene ontstaan wanneer minerale in die urine verklomp en groei pleks van te verdun en deur die liggaam uitgeskei te word. Dit neem verskillende vorms aan en bestaan uit baie stowwe. Clinical Symposia sê: “In die Verenigde State bestaan ongeveer 75% van alle [nier]stene hoofsaaklik uit kalsiumoksalaat, en ’n verdere 5% bestaan uit suiwer kalsiumfosfaat.”

Voorkomssyfer en oorsake

Volgens een verslag sal ongeveer 10 persent mans en 5 persent vroue in Noord-Amerika in hulle leeftyd ’n niersteen kry. En nierstene kom dikwels meermale voor. Een uit elke vyf mense wat ’n niersteen het, sal binne vyf jaar weer een kry.

Waarom party mense nierstene kry en ander nie, is al baie jare lank vir dokters ’n raaisel. Stene kan weens baie redes ontstaan. Dit sluit afwykings van die liggaam se metabolisme in sowel as infeksie, oorgeërfde siektes, chroniese ontwatering en eetgewoontes.

Ongeveer 80 persent nierstene word tydens urinering vanself uitgeskei. Om pasiënte te help om die nierstene uit te skei, word hulle aangemoedig om groot hoeveelhede water te drink. Hoewel sulke stene betreklik klein en dikwels skaars sigbaar is, kan die pyn intens wees. As die urinekanaal verstop of as ’n steen te groot is om uitgeskei te word (dit kan so groot soos ’n gholfbal raak), is mediese behandeling ter wille van die pasiënt se gesondheid nodig.

Nuwe behandelings

Tot ongeveer 1980 was ’n groot operasie nodig om nierstene te verwyder wat nie vanself uitgeskei kon word nie. Om die steen te bereik wat in die nier of urinekanaal vasgesit het, is ’n pynlike insnyding van ongeveer 30 sentimeter lank in die sy gemaak. Die operasie is gewoonlik gevolg deur ’n hersteltydperk van twee weke in ’n hospitaal en ongeveer twee maande tuis. Maar “danksy onlangse tegnologiese vooruitgang”, sê die mediese handboek Conn’s Current Therapy (1989), “is verwydering deur ’n groot operasie selde nodig”.

Moeilike stene kan nou verwyder word deur middel van ’n tegniek wat net minimale chirurgie vereis. Nog ’n tegniek wat vandag gebruikliker is, wat ekstrakorporeale skokgolf-litotripsie (ESWL) genoem word, vereis geen chirurgie nie. Conn’s Current Therapy maak melding van hierdie nuwe mediese uitvindsels en sê dat ’n groot operasie “vandag waarskynlik net gedoen word in 1 persent van alle gevalle waar [nierstene] verwyder word”.

’n Tegniek waarin minimale chirurgie nodig is

’n Tegniek waarin net minimale chirurgie nodig is, word soms perkutane ultrasoniese litotripsie genoem. “Perkutane” beteken “deur die vel”, en “litotripsie” beteken “vergruising”. Die enigste chirurgie wat nodig is, is ’n een sentimeter lange insnyding in die sy. ’n Instrument soortgelyk aan ’n sistoskoop wat ’n nierskoop genoem word, word in hierdie opening gesteek. Die binnekant van die nier asook die steen wat die ongemak veroorsaak, kan deur die nierskoop gesien word.

As die steen te groot is om deur die nierskoop getrek te word, word ’n ultrasoniese sonde deur ’n kanaal in die nierskoop tot binne-in die nier gesteek. Om die steen of stene dan in stukkies te breek, word die hol sonde aan ’n ultraklank-opwektoestel gekoppel wat die sonde ongeveer 23 000 tot 25 000 keer per sekonde laat vibreer. Die ultrasoniese golwe laat die sonde soos ’n klopboor werk en vergruis al die stene behalwe die hardstes waarmee dit in aanraking kom.

Die sonde suig aaneen en suig letterlik die binneste van die nier skoon sodat dit van die klein stukkies steen ontslae kan raak. Die vergruisings- en suigproses duur voort totdat ’n noukeurige ondersoek toon dat die sonde alle steenoorskot verwyder het.

Soms is daar egter steeds stukkies steen wat nie verwyder kan word nie. In so ’n geval kan die dokter ’n dun pypie met ’n piepklein tangetjie daaraan deur die nierskoop insteek. Die dokter kan dan die tangetjie oopmaak, die steen gryp en dit uittrek.

Namate perkutane chirurgie ontwikkel is, is baie metodes op die proef gestel. Urologic Clinics of North America het ’n paar jaar gelede gesê: “Dit lyk asof daar elke maand nuwe perkutane steenverwyderingsmetodes in die nuwe uitgawes van die mediese tydskrifte verskyn.” Die kans dat die metode sal slaag, het die tydskrif gesê, “hang van die steen se grootte en posisie af”. Maar die belangrikste faktor, het die tydskrif verduidelik, is “die vaardigheid en ondervinding van die een wat die operasie verrig”.

Hoewel genoeg krag opgewek word om die stene te vergruis, is die metode betreklik veilig. “Bloeding was nog nooit ’n groot probleem nie”, sê Clinical Symposia. Een verslag sê egter dat ernstige bloeding wel by ongeveer 4 persent van die pasiënte voorgekom het.

Die voordele van hierdie metode sluit onder andere minimale ongerief en ’n korter hersteltydperk in. In die meeste gevalle bring pasiënte net vyf of ses dae in die hospitaal deur, en party pasiënte gaan ná net drie dae huis toe. Hierdie voordeel is veral belangrik vir loontrekkers, wat dalk dadelik sal kan terugkeer werk toe sodra hulle ontslaan word.

Nie-chirurgiese behandeling

’n Merkwaardige nuwe behandeling is in 1980 in München, Duitsland, bekend gestel en word ekstrakorporeale skokgolf-litotripsie genoem. Dit gebruik hoë-energie skokgolwe om die stene in stukkies te breek sonder dat enige insnydings gedoen word.

Die pasiënt word in ’n vlekvrye staaltenk laat sak wat halfvol warm water is. Hy word versigtig in posisie geplaas sodat die niersteen wat behandel word reg voor die skokgolwe is wat deur ’n onderwater-vonkontlading opgewek word. Die golwe gaan maklik deur die sagte menseweefsel en bereik die steen sonder dat hulle enigsins energie verloor. Hulle val die steen aan totdat dit verbrokkel. Die meeste pasiënte skei die vergruisde steen dan maklik uit.

Teen 1990 is ESWL in ongeveer 80 persent van alle steenverwyderings gebruik. Die Australian Family Physician het verlede jaar berig dat daar sedert die bekendstelling van hierdie tegniek “wêreldwyd meer as 3 miljoen pasiënte met meer as 1 100 masjiene behandel is waartydens verskeie skokgolfopwekkers gebruik is om nierstene te verbrokkel”.

Hoewel ESWL ’n mate van besering in die niergedeelte veroorsaak, verduidelik die Australian Family Physician: “Dit beskadig selde aangrensende organe soos die milt, lewer, pankreas en ingewande. Die korttermyngevolge weens besering word maklik verduur met minimale skade vir die pasiënte, en die meeste pasiënte kla net van geringe [spier- en skeletpyn] in die buikwand en ’n bietjie [bloed in die urine] 24 tot 48 uur ná die behandeling.” Selfs kinders is al met welslae behandel. Hierdie Australiese tydskrif het tot die slotsom gekom: “Noudat ESWL al 10 jaar op die proef gestel is, lyk dit na ’n baie veilige behandeling.”

Die behandeling is inderdaad so doeltreffend dat verlede jaar se Conn’s Current Therapy verduidelik het: “Danksy (ESWL) kan simptomatiese stene so maklik en met so min ongemak verwyder word dat pasiënte en geneeshere minder streng in die mediese beheer van urinêre steensiekte geword het.”

Tog is nierstene ’n pynlike kwaal wat jy beslis nie wil hê nie. Wat kan jy doen om dit te voorkom?

Voorkoming

Aangesien nierstene dikwels weer voorkom, sal dit verstandig wees om op die waarskuwing ag te slaan en baie water te drink as jy al een gehad het. Daar word aanbeveel dat ’n mens meer as twee liter urine per dag moet uitskei, en dit beteken dat jy baie water moet drink!

Dit is boonop verstandig om jou eetgewoontes te verander. Dokters stel voor dat jy jou inname van rooi vleis, sout en kossoorte wat baie oksalaat bevat, beperk omdat dit vermoedelik daartoe bydra dat stene vorm. Hierdie kossoorte sluit neute, sjokolade, swartpeper en groen blaargroente, soos spinasie, in. Vroeër het dokters ook aanbeveel dat kalsiuminname verminder word, maar onlangse navorsing toon eerder dat ’n toename van dieetkundige kalsium geneig is om die risiko te verminder dat stene vorm.

Maar as jy, ten spyte van die feit dat jy alle voorsorg getref het, weer ’n niersteen het, sal dit dalk effens gerusstellend wees om te weet dat daar verbeterde metodes is om hulle te behandel.

[Prent op bladsy 21]

Nie-chirurgiese behandeling van nierstene waartydens ’n masjien gebruik word wat ’n litotriet genoem word

[Erkenning]

S.I.U./Science Source/PR

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Leonardo On The Human Body/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel