Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 9/8 bl. 10-12
  • Godsdienskrisis in Nederland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godsdienskrisis in Nederland
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die uittrede van priesters
  • “Ystydperk” vir die kerk
  • Waarom hulle die kerk verlaat
  • Sal die Christelike godsdiens tot niet gaan?
  • Die kerk—veranderinge en verwarring
    Ontwaak!—1993
Ontwaak!—1993
g93 9/8 bl. 10-12

Godsdienskrisis in Nederland

Deur Ontwaak!-medewerker in Nederland

“SAL die laaste priester asseblief die ligte afskakel?” Hierdie droë grappie word in kloosters in Nederland vertel. Dit voorspel ’n tyd wanneer die laaste monnik of priester by die laaste funksionerende klooster in daardie land sal uitstap en dit leeg sal laat. En hy word gevra om seker te maak dat hy nie die ligte in dié verlate gebou aanlos nie! Kan so iets werklik gebeur? Bestaan die gevaar dat die geestelikes in Nederland, sowel as hulle kuddes, sal verdwyn?

Die uittrede van priesters

In die Katolieke Kerk neem die aantal geestelikes elke jaar af. Van 1968 tot 1978 het die aantal sekulêre priesters met 27,2 persent afgeneem, en hierdie tendens duur sedertdien voort. Waarom? Een van die redes wat gegee is, is die verpligte selibaat. In 1970 het die Nasionale Pastorale Konsilie beslis dat “die verpligte selibaat as ’n vereiste waarop ’n mens jou pligte as ’n geestelike kan uitvoer, opgehef moet word”. Nederlandse biskoppe het gemeen dat die getroues selfs voordeel daaruit sal trek as hulle deur getroude priesters bedien kan word. Pous Paulus VI het die idee egter heftig verwerp. Dit is ongetwyfeld een rede waarom meer as 2000 priesters teen die begin van 1980 uitgetree het en die aantal wat ingetree het, afgeneem het.

Die eertydse kardinaal Alfrink het tydens ’n bespreking van die afname in priesters in Nederland die geval gemeld van ’n pouslike gesant wat na ’n kweekskool voor die kardinaal se huis gekyk en hardop gewonder het waarom die biskoppe sulke pragtige geboue sluit. Die kardinaal het geantwoord: “Jy verstaan ongetwyfeld nie. Die biskoppe het geen kweekskole gesluit nie; hulle het net die deure toegemaak nadat die studente weg is.”

Dit is nie net die geestelikes nie, maar ook hulle kuddes wat die kerk in Nederland verlaat. En dit is nie ’n nuwe verskynsel nie. In 1879 het ’n sensus getoon dat minder as 1 persent van die bevolking sekulêr was, dit wil sê nie lidmate van ’n kerk nie. Teen 1920 het byna 8 persent van die bevolking gesê dat hulle nie aan ’n godsdiens behoort nie. In 1930 het die syfer tot 14,4 persent gestyg. Teen 1982 was dit ’n onrusbarende 42 persent, en ’n onlangser opname het getoon dat meer as 51 persent van alle Nederlanders nie aan enige kerk behoort nie.

“Ystydperk” vir die kerk

Selfs ernstiger as die afname in kerklidmaatskap is die afname in die kerkbywoning van diegene wat aan ’n kerk behoort. In 1988 het die koerant De Telegraaf dié hoofopskrif gehad: “Die Kerk betree ’n ystydperk.” Die koerant het gesê: “Niemand is meer geskok wanneer ’n kerk afgebreek word nie. Die afname in kerkbywoning is skrikwekkend. Dit is nie net in Katolisisme die geval nie, maar ook in die Gereformeerde en die Calvinistiese kerke. As hierdie sekularisasie voortduur, sal daar binne ’n paar geslagte niemand wees wat kerk toe gaan nie.”

Die koerant het verder gesê dat die afname in Rooms-Katolisisme die ergste is. Dit het gemeld dat ongeveer 60 persent van alle Nederlandse Katolieke in 1965 die mis nog bygewoon het. In 1975 was hierdie syfer 28 persent. In onlangse jare het dit tot minder as 16 persent gedaal.

Die afname in kerkbywoning het ’n uitwerking gehad op kerkgeboue, wat gesluit moet word wanneer die kwynende gemeentes nie meer die hoë instandhoudings- en bedryfskoste kan bekostig nie. Talle kerkgeboue is gevolglik afgebreek of vir ander doeleindes verkoop. Min mense is vandag geskok wanneer hulle ’n kerkgebou binnegaan en vind dat dit gebruik word as ’n museum, fietswinkel, sportsaal, konsertsaal, blommewinkel, restaurant of as wooneenhede.

Daarom is dit nie verbasend dat kerkowerhede pessimisties oor die toekoms is nie. Ná pous Johannes Paulus II se besoek aan Nederland het ’n biskop gesê: “Die pous het ’n lyk besoek, of ten minste ’n pasiënt wat dodelik siek is, maar wat dink dat hy nog lewe.”

Waarom hulle die kerk verlaat

Die afname in kerklidmaatskap is deur nuwe faktore bespoedig. Dit is onder andere die verminderde respek vir gesag. Mense wil nie meer dinge aanvaar net omdat iemand in ’n gesagsposisie vir hulle sê hulle moet nie. Die klem wat op individuele vryheid geplaas word, gaan hiermee gepaard. Mense wil vandag self besluit wat hulle sal glo en hoe hulle sal optree.

Nog twee bydraende faktore is glo die invloed van die media en die hedendaagse tendens om instellings te wantrou. Daar is ook die mening dat gevestigde instellings ’n mens van jou vryheid en individualiteit beroof. En selfs wanneer mense steeds godsdienstig is, kan omstandighede hulle beweeg om hulle kerk te verlaat. Tradisievaste kerklidmate voel byvoorbeeld ongemaklik in ’n kerk met ’n predikant of priester wat ten gunste van verandering is. En kerkgangers met moderne idees voel ongemaklik in konserwatiewe gemeentes.

Wat die Protestante betref, die Calvinistiese Kerk is lank reeds daarvoor bekend dat hy ouderwetse sedelikheid handhaaf. Daarom was talle geskok toe die Nederlandse Calvinistiese Sinode plaaslike kerke in 1979 aangespoor het om homoseksuele toe te laat om Nagmaal te gebruik en die bediening te betree. In 1988 het die internasionale Calvinistiese Ekumeniese Sinode die Calviniste in Nederland gevra om dit te heroorweeg, maar die sinode het laat weet dat die beslissing onherroeplik is. In 1989 het die sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk ook gestem om enige dissiplinêre maatreëls teen homoseksuele teen te staan. Stel jou die gevoelens van “ouderwetse” Protestante voor toe ’n Calvinistiese leraar, ’n homoseksueel, in die kerk gesê het dat “homoseksualiteit ’n gawe van God is; God hou ook van pienk”!

Sal die Christelike godsdiens tot niet gaan?

Is dit in die lig van die voorafgaande en baie ander faktore verbasend dat daar ’n groot uittog uit die kerke in Nederland en die in baie ander lande is? Trouens, nadenkende mense het selfs tot die slotsom gekom dat die ware Christelike godsdiens miskien nêrens te vinde is nie. Sal die Christelike godsdiens uiteindelik uitsterf?

Die Bybel het voorspel dat die steun van die Christendom, sowel as van ander godsdienste, in ons dag sal opdroog (Openbaring 16:12; 17:15). Maar dit het ook voorspel dat party mense valse godsdiens nie net weens ontevredenheid of ontnugtering sou verlaat nie, maar om ’n positiewe rede. Die Bybel vermaan profeties: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê . . . nie” (Openbaring 18:4). Die “haar” waarvan daar gepraat word, is die simboliese godsdienshoer, ‘Babilon die Grote’, wat al die godsdienste van die wêreld insluit, onder andere dié van die hedendaagse Christendom. “My volk” is opregte waarheidsoekers wat Babilon die Grote verlaat omdat hulle God wil dien op die manier wat Jesus mense geleer het. Die Christendom het so ver van die ware Christelike godsdiens afgedwaal dat opregte mense uit haar moet uitgaan om God op ’n aanneemlike wyse te kan dien.

Die ware Christelike godsdiens is lewend en floreer in Nederland en ook wêreldwyd. Jehovah se Getuies leef, ten spyte van hulle onvolmaakthede, volgens Christus se leer en gebruike. Daar word nie van jou verwag om daardie stelling eenvoudig te aanvaar nie. Ondersoek gerus die Getuies se opvattings aan die hand van die Bybel, en bewys dit aan jouself. Leer uit God se Woord van die Christelike godsdiens van Jesus se apostels, in teenstelling met wat die Christendom se kerke al eeue lank leer en beoefen. Soos die apostel Paulus verduidelik het, sal dit vir jou voordele meebring in “die teenwoordige en die toekomende lewe”.—1 Timotheüs 4:8.

[Prente op bladsy 10, 11]

Baie kerke in Europa word nou vir sekulêre doeleindes gebruik. Bladsy 10: ’n motorhawe in Nederland. Bladsy 11: ’n sentrum vir bejaardes, ’n werkswinkel, ’n seunsklub en ’n verlate kerk in Penygraig, Wallis

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel