Die kerk—veranderinge en verwarring
“Baie gelowiges is ontsteld oor die veranderinge wat aan hulle opgedwing is.” —L’Histoire, Julie/Augustus 1987.
“Laat een skakel ontbreek . . . en die kerk word heeltemal onverstaanbaar. . . . Plaas die hostie [‘die heilige offerbrood’ wat tydens die mis gebruik word] in die hand pleks van op die lippe en jy ‘vernietig die geloof van talle Franssprekendes’.”—Voyage à l’intérieur de l’Église Catholique.
“Deur die liturgie te hernieu en die plaaslike taal aan te neem, het die kerk blykbaar die meeste kerkgangers verloor [wat] geheg was aan sekere tradisies wat as onveranderbaar beskou is. . . . Die pligsbesef was skielik iets van die verlede, en geloof is geskud.” —Nord Eclair, 24-25 April 1983.
DIE voorgaande aanhalings toon duidelik watter verwarring daar by talle Katolieke bestaan. ’n Vraag bly opkom: “Ons ouers en grootouers het die mis bygewoon wat in Latyn gelees is en het op ’n bepaalde manier gebid. Hoe kan hierdie gebruik oornag ongeldig word?”
Die kerk se nuwe beskouing van ander godsdienste is ook ’n bron van probleme. Die Franse dagblad Le Monde verduidelik: “Baie gelowiges voel hulle is bedrieg. Daar is te veel keer vir hulle gesê dat hulle godsdiens die enigste ware godsdiens, of ten minste die beste, is.” Baie Katolieke is weliswaar ten gunste van besprekings met hulle “afgeskeie broers”, hetsy Ortodoks of Protestants. Maar talle wat voorheen geleer is dat daar ‘buite die kerk geen redding is nie’, begryp nie hierdie veranderde gesindheid nie. Hierdie nuwe gesindheid van die kerk is grootliks verantwoordelik vir die kloof tussen die Vatikaan en die tradisionaliste, wie se geestelike leier, die oorlede aartsbiskop Marcel Lefebvre, in 1988 deur pous Johannes Paulus II geëkskommuniseer is.
Gesag word verwerp
Die Katolieke toon dikwels hulle verbystering deur die kerk se gesag te bevraagteken. Selfs al word pous Johannes Paulus II se standpunt ten gunste van wêreldwye geregtigheid op prys gestel, weier baie Katolieke om die sedelike voorskrifte te volg wat hy in sy openbare toesprake voorstaan. Gevolglik gebruik baie Katolieke egpare voorbehoedmiddels wat deur die kerk veroordeel word. Ander maak van aborsie gebruik.
Die kerk se gesag word deur mense op alle vlakke bevraagteken. Die feit dat die pous en ander kerkvorste ’n bepaalde standpunt oor ’n saak ingeneem het, het nie die lekedom, die priesters en selfs die biskoppe daarvan weerhou om ’n teenstrydige standpunt in te neem nie. Die boek La Réception de Vatican II verduidelik: “Uit hierdie oogpunt het die situasie wat die konsilie geskep het nou in die kerklewe oorgeloop. Die Rooms-Katolieke Kerk is nou die setel van blywende, vuurwarm woordewisselings. Daar word selfs oor die pous se aanbevelings gedebatteer en baie dikwels kritiek gelewer. Die aantal Rooms-Katolieke wat sê dat hulle sekere pontifikale verklarings nie kan aanvaar nie—ten dele of as geheel—neem toe.”
Party Katolieke het die veranderinge uit getrouheid aan die kerk aanvaar en beoefen steeds die kerk se gebruike. Ander is ontsteld oor die situasie en is tevrede om kerklidmate te wees wat nie met al die idees van die kerk saamstem nie. Volgens teenswoordige statistiek is daar ook ’n groot derde groep verklaarde Katolieke wat die kerk nie meer ondersteun nie.
Godsdiensverwarring is nie net tot die Katolieke Kerk in Frankryk beperk nie. Daar het ook in Nederland krisisse vir Katolieke én Protestante ontstaan, soos ons volgende artikel sal verduidelik.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Burgeroorlog in die Anglikaanse Kerk?
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
’N ONWAARSKYNLIKE gebeurtenis? Nie volgens The Sunday Times van Londen nie. “Die Anglikaanse Kerk skeur in twee”, het dit verkondig. “Verdeelde kerk op pad na burgeroorlog.” Wat het Engeland se staatskerk in so ’n toestand laat verval? Die voorgestelde ordening van vroue.
In ’n geskiedkundige beslissing verlede November het die sinode van die Anglikaanse Kerk met ’n meerderheid van twee derdes gestem om vroue as priesters te orden. Sowat 3500 geestelikes, ’n derde van die kerk se geestelikes, is glo teen die besluit gekant, en party het reeds die kerk uit ontsteltenis verlaat. Ander wil, onder leiding van die eertydse biskop van Londen, hulle Anglikaanse identiteit behou terwyl hulle “gemeenskap met die Stoel van Petrus”, in Rome, nastreef.
Die Aartsbiskop van Kantelberg het die voortou geneem in die kampanje ten gunste van die verandering. “Die ordening van vroue as priesters”, het hy gesê, “verander nie een woord in die geloofsbelydenisse, die Skrif of die geloof van ons Kerk nie.” Hy het bygevoeg: “Dit kan selfs die geloofwaardigheid van die kerk versterk in die oë van die res van die wêreld. Hy pas in werklikheid die dinge toe wat hy oor gelykheid verkondig.”
Maar nie almal stem saam nie. ’n Leek het die sinode se besluit “geloofsverloëning” genoem en die kerk onmiddellik verlaat om ’n Rooms-Katoliek te word toe die beslissing bekend geword het. “Die besluit om vroue te orden was ’n skok. Daar is geestelike verwarring. Die meeste mense weet nie wat om te doen nie”, het een Londense geestelike gekla. Hoewel die Vatikaan oorlopers intussen versigtig verwelkom, beskou hulle die beslissing as “’n nuwe en groot struikelblok in die hele versoeningsproses”.
Na raming wag 1400 vroue om georden te word, maar die Britse Parlement moet die reëling nog goedkeur, waarna dit die Koningin se Koninklike Bekragtiging moet ontvang. Dit alles kan twee jaar duur. Dit sal interessant wees om te sien in watter toestand die Anglikaanse Kerk dan sal wees.
[Foto-erkenning op bladsy 7]
Camerique/H. Armstrong Roberts