Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 9/8 bl. 26-27
  • Hou die beoefening van toorkuns gevaar in?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou die beoefening van toorkuns gevaar in?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toorkuns se invloed deur die geskiedenis heen
  • Drie soorte toorkuns
  • Hou dit vir Christene gevaar in?
  • Die waarheid omtrent die toorkuns en heksery
    Die weg na die ewige lewe—Het jy dit gevind?
  • Die toorkuns en heksery is verkeerd
    Jy kán God se vriend wees!
  • Wat jy omtrent heksery moet weet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die soeke na die onbekende deur middel van die toorkuns en spiritisme
    Die mensdom se soeke na God
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 9/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Hou die beoefening van toorkuns gevaar in?

‘’NMAGIESE atmosfeer hang swaar in die lug. Skielik verbreek ’n roffel tromslae die stilte. Alle oë is stip gevestig op twee mans in uniform wat gewere dra. Hulle lig hulle vuurwapens op tot skouerhoogte en lê aan op ’n Chinese towenaar in oordadige drag. Hy hou ’n porseleinbord voor sy bors. Die gewere vlam bulderend. Die towenaar sak net daar op die vloer neer terwyl hy kwaai bloei. Die illusie van die bord wat die koeëls keer, verander in ’n tragedie.’ ’n Fout in die meganisme van een van die gewere het veroorsaak dat die koeël afgevuur word en die towenaar se bors binnedring. So vertel die boek Henry Gordon’s World of Magic.

Wat ’n vermorsing van die gawe van die lewe—bloot ter wille van die opwinding, sensasie en vermaak wat met daardie soort toorkuns gepaardgaan. Is dit hoe jy reageer? Of meen jy dat dit net ’n deel is van die gevaar wat met so ’n optrede gepaardgaan? Wat jou antwoord ook al is, toe hierdie illusie misluk het, was dit doodsgevaarlik. Dit laat ons vra: Is daar ’n subtieler gevaar aan die beoefening van toorkuns verbonde? Kom ons kyk na die oorsprong van hierdie ou kuns vir ’n antwoord hierop.

Toorkuns se invloed deur die geskiedenis heen

Van die vroegste tye af word die mens al deur die misterie van die toorkuns bekoor en gemanipuleer. Die Engelse woord “magic” is afkomstig van die naam “magi” wat ’n ou Persiese priesterlike kaste was wat in kultiese bedrywighede gespesialiseer het. Die toorkuns is wesenlik gesproke ’n poging om die natuurkragte of bonatuurlike kragte te beheer of te dwing om die mens se wense te vervul. Egipte van die 18de eeu v.G.J. het van towenaars gebruik gemaak. Toorkuns het ook ’n vername rol in die godsdiens van die ou Chaldeërs van Babilonië van die agtste eeu v.G.J. gespeel (Genesis 41:8, 24; Jesaja 47:12-14; Daniël 2:27; 4:7). Hierdie invloed het onder die ou Grieke en Romeine en deur die Middeleeue heen tot in ons 20ste eeu voortgeduur.

Die verskillende soorte toorkuns kan op verskeie maniere geklassifiseer word. Robert A. Stebbins het toorkuns in sy boek The Magician in drie kategorieë ingedeel.

Drie soorte toorkuns

Mistieke toorkuns is “’n weergawe van die okkulte”. Dit beweer dat “gebeure of prosesse wat logiese kennis of wetenskaplike kennis weerspreek” “waar of gegrond is”. Robert Stebbins verduidelik verder dat “mistieke toorkuns die dienares is van duiwelskunste, . . . heksery, alchemie en, onder sekere omstandighede, godsdiens”.

Met eksploiterende toorkuns “manipuleer of misbruik beoefenaars daarvan die toeskouers se waarneming van die werklikheid tot hulle eie verheerliking”. Hulle weet dat hulle die publiek om die bos lei, maar volgens Robert Stebbins “moedig hulle waarnemers van die toorkuns aan om anders te glo—om te glo dat hulle, die towenaars, bonatuurlike magte of spesiale kontak het met wesens wat wel sulke magte het”.

Die doel van vermaaklikheidstoorkuns is om mense se verwondering te wek deur van boeiende misleiding gebruik te maak. Dit word in vyf basiese en oorvleuelende metodes verdeel: “Verhoogkuns, toertjies voor ’n klein gehoor, kultoertjies, illusionisme, die lees van gedagtes en telepatie”.

Hou dit vir Christene gevaar in?

Kom ons kyk eerstens na mistieke toorkuns. Mistieke toorkuns word op baie maniere beoefen. Daar is byvoorbeeld Sataniste wat “swart” sowel as “wit” toorkuns beoefen. “Swart” toorkuns sluit betowering, spesiale vloeke en die gebruik van die bose oog om ’n mens se vyande kwaad aan te doen in. “Wit” toorkuns is daarenteen veronderstel om goeie resultate te hê deur towerspreuke te verbreek en vloeke kragteloos te maak. Tog is albei ’n weergawe van die okkulte of die mistieke. Soms word mistieke toorkuns selfs gebruik om ’n goeie oes te probeer verkry of ’n atletiekwedstryd te wen. Aangaande hierdie soort spiritistiese toorkuns sê die Bybel nietemin onomwonde: “Julle mag nie waarsêery en towery beoefen nie.”—Levitikus 19:26, NAV; Deuteronomium 18:9-14; Handelinge 19:18, 19.

Waarin lê die gevaar van eksploiterende toorkuns verskuil? Handlesers, waarsêers en geloofsgenesers, om maar ’n paar te noem, gebruik eksploiterende toorkuns om hulle eie belange te bevorder. Maar lei hulle nie ’n lewe van valsheid weens hulle beroep nie? God se Woord sê: “Julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie.”—Levitikus 19:11.

The Encyclopedia Americana sê: “In sommige gevalle kan geeste deur dade van toorkuns uitgedaag word.” Sal ons met die demoongeeste moeilikheid soek deur ons selfs indirek met sulke bedrywighede op te hou? As hulle die geleentheid gegee word, kan en sal die demone van ons misbruik maak. Hulle soek na ‘geskikte tye’ en is meedoënloos in hulle pogings.—Lukas 4:13, NW; Jakobus 1:14.

Die meester in die kuns van misleiding en die skepping van illusies is niemand anders as Satan die Duiwel nie. Hy beoefen hierdie kuns al sedert sy eerste optrede voor ’n mens in die tuin van Eden (Genesis 3:1-19). Watter Christen sou soos hy wou wees? Christene word in plaas daarvan aangespoor om ‘navolgers van God te wees’ en om ‘hulle aan God te onderwerp en die Duiwel te weerstaan’.—Efesiërs 5:1; Jakobus 4:7.

Maar die meeste mense vereenselwig die woord “toorkuns” met vermaak. Iemand skep dalk illusies met sy hande (kultoertjies) omdat hy weet dat die hand vinniger as die oog is. Daar is dalk geen Bybelse beswaar hierteen nie. Maar sê nou die toertjies skep die indruk dat okkulte magte betrokke is? Sou ’n Christen ooit die indruk wou gee dat hy oor die een of ander bonatuurlike, onverklaarbare mag beskik? Of sal ’n Christen nie liewer van sulke vermaak afstand wil doen sodat hy ander nie laat struikel as hulle deur die “tower”-opvoering die verkeerde indruk kry nie? (1 Korinthiërs 10:29, 31-33). Daarbenewens bestaan die potensiële gevaar dat ’n mens in die versoeking kan kom om verder, tot in die diepere toorkunste, betrokke te raak.

Wanneer dit dus duidelik is dat toorkuns met spiritisme verband hou, sal dit verstandig wees as ware Christene dit nie beoefen nie. Verder sal ’n Christen in alle aspekte van sy lewe—of dit nou in sy werk, ontspanning of vermaak is—“sorg dat [sy] gewete skoon bly”, ’n gewete wat geen misdryf teen God of die mens toelaat nie.—1 Petrus 3:16, NAV; Handelinge 24:16.

[Foto-erkenning op bladsy 26]

The Bettmann Archive

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel