Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 4/1 bl. 4-7
  • Wat jy omtrent heksery moet weet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat jy omtrent heksery moet weet
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie woon in die geesteryk?
  • Is party vorme van die toorkuns goed?
  • Wat van bose geeste?
  • ’n Godsdiens gebaseer op waarheid
  • Die waarheid omtrent die toorkuns en heksery
    Die weg na die ewige lewe—Het jy dit gevind?
  • Wat sit agter heksery?
    Ontwaak!—1999
  • Wat weet jy omtrent heksery?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die toorkuns en heksery is verkeerd
    Jy kán God se vriend wees!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 4/1 bl. 4-7

Wat jy omtrent heksery moet weet

DIT is moeilik om hedendaagse heksery te definieer. Die rede hiervoor is dat diegene wat dit beoefen soveel van mekaar verskil. Hulle erken geen sentrale gesag of leerstelling of heilige boek wat hulle verenig in hulle opvattings nie. Hulle verskil ook ten opsigte van tradisies, organisasie, rituele en menings oor watter gode vereer moet word. Een skrywer sê: “Die okkulte wêreld bied die individu ’n ‘vrye mark’ van idees.” ’n Ander skrywer sê: “Die meeste aanhangers van die Nuwe Heidendom verskil oor byna alles.”

Vir baie skep die teenstrydighede nie ’n probleem nie. Een handboek vir voornemende hekse sê: “Wanneer jy met inligting te doen kry wat teenstrydig lyk, moet jy hierdie inligting ondersoek en besluit wat jy gaan volg. Volg jou intuïsie. Met ander woorde, jy kan besluit watter van die gepubliseerde rituele en ritueelhandboeke vir jou reg voel.”

Vir diegene wat in waarheid glo, is sulke teenstrydighede ’n probleem. Die waarheid is op feite gebaseer, op dit wat werklik bestaan. Iets is nie waar net omdat iemand voel of hoop of glo dat dit waar is nie. Dokters het lank gelede byvoorbeeld geglo dat hulle longontsteking kan genees deur ’n lewendige hoender middeldeur te sny en die stukke op die pasiënt se bors te sit. Baie pasiënte het ongetwyfeld opreg geglo dat hierdie behandeling hulle sou genees. Maar hulle geloof en verwagtinge was nie in ooreenstemming met die feite nie—hierdie behandeling genees nie longontsteking nie. Mense skep nie waarheid nie; hulle probeer dit verstaan.

Die Bybel sê dat dit die waarheid oor geestelike sake bevat. Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy in gebed vir sy Vader gesê: “U woord is waarheid” (Johannes 17:17). Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Timoteus 3:16). Baie wat heksery beoefen, stem nie hiermee saam nie. Hulle wend hulle eerder tot mites, antieke godsdienste en selfs wetenskapfiksie vir inspirasie en leiding. Maar is dit nie redelik om ten minste te ondersoek wat die Bybel sê nie? Dit word per slot van rekening byna regoor die wêreld as ’n heilige boek beskou. Dit is ook een van die oudste godsdiensgeskrifte wat behoue gebly het. Die Bybel is oor ’n tydperk van 1 600 jaar geskryf, en tog is dit deurgaans konsekwent wat leringe betref. Kom ons vergelyk die Bybel se leringe met party van die algemene opvattings van hedendaagse voorstanders van heksery.

Wie woon in die geesteryk?

’n Belangrike vraag in die soeke na geestelike insig is: Wie woon in die geesteryk? Hoewel die meeste hedendaagse hekse aanhangers van ’n natuurgeoriënteerde, politeïstiese geloof is, aanbid party ’n groot moedergodin, wat gesien word in die drievoudige rol van jong meisie, moeder en ou vrou, waardeur die belangrikste stadiums van die lewe verteenwoordig word. Haar minnaar is ’n god met horings. Ander hekse aanbid ’n god sowel as ’n godin. Een skrywer sê: “Die Godin en God word gesien as ’n openbaring van die vroulike en manlike natuurkragte. Elkeen [het] unieke eienskappe, en wanneer dit saamgevoeg word, lei dit tot die welgeordende skepping van lewe.” ’n Ander gesaghebbende skryf: “Een van die allerbelangrikste keuses in Heksery is watter godhede (Gode/Godinne) jy kies om mee saam te werk. . . . Heksery gee jou die vryheid om ’n Godheid in enige vorm van jou keuse te hê en dan daardie Godheid te aanbid.”

Die Bybel steun nie een van hierdie idees nie. Jesus Christus het sy hele bediening daaraan gewy om ander te leer van Jehovah, “die enigste ware God” (Johannes 17:3). Die Bybel sê: “Jehovah is groot en baie lofwaardig, en hy moet meer as alle ander gode gevrees word. Want al die gode van die volke is waardelose gode.”—1 Kronieke 16:25, 26, NW.

Wat van die Duiwel? Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer heksery as “kommunikasie met die duiwel”. Dit sou moeilik wees om vandag ’n heks te vind wat saamstem met hierdie definisie, want baie van hulle glo nie eens dat Satan die Duiwel bestaan nie. ’n Jong vrou, wat in The Irish Times beskryf word as ’n “vooraanstaande heks en leier van een van die vernaamste heksevergaderinge in Ierland”, redeneer só: “Geloof in die Duiwel impliseer aanvaarding van die Christelike geloof . . . [Die Duiwel] kan nie in ’n heelal woon waar daar geen God is nie.”

Die Bybel bevestig dat die Duiwel wel bestaan en toon dat hy die skuld vir baie van die lyding en probleme op aarde dra (Openbaring 12:12). Jesus het mense nie net geleer dat die Duiwel bestaan nie, maar ook getoon dat dit moontlik is om onwetend die wil van die Duiwel te doen. Eiegeregtige godsdiensleiers van die eerste eeu het byvoorbeeld beweer dat hulle in sekere sin seuns van God is, en hulle het geglo dat hulle die wil van God doen. Jesus, wat kon onderskei wat in hulle harte is, het geweet dat dit nie die geval was nie. Hy het reguit vir hulle gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen” (Johannes 8:44). Daarbenewens sê die Bybelboek Openbaring dat die Duiwel “die hele bewoonde aarde mislei”.—Openbaring 12:9.

Is party vorme van die toorkuns goed?

Die toorkuns is natuurlik nog altyd met die okkulte verbind.a Baie mense van die ou tyd het geglo dat die toorkuns wat deur hekse beoefen is, bedoel was om ander leed aan te doen, en baie mense glo dit vandag nog. Hekse het na bewering die mag om deur middel van die toorkuns intense pyn en selfs die dood te veroorsaak. Volgens oorlewering is hekse al vir ’n byna eindelose verskeidenheid onheile geblameer, insluitende siekte, die dood en mislukte oeste.

Hedendaagse hekse ontken sulke aantygings ten sterkste. Hoewel hulle erken dat daar af en toe ’n slegte heks is wat bose dinge doen, hou die meeste vol dat hulle hulle toorkuns gebruik om goed te doen, nie kwaad nie. Aanhangers van Wicca leer dat die gevolge van toorkuns drievoudig sal terugkeer na die persoon wat dit beoefen en hulle sê dat dít ’n groot afskrikmiddel teen die uitspreek van ’n vloek is. Voorbeelde van hierdie sogenaamde goeie toorkuns is towerspreuke om jouself te beskerm, om jou huis vry te maak van negatiewe kragte wat deur vorige huurders agtergelaat is, om iemand op jou verlief te maak, om genesing en gesondheid te bevorder, om te keer dat jy jou werk verloor en om geld te maak. Met sulke wonderlike kragte wat aan heksery toegeskryf word, is dit nie verbasend dat dit so gewild geword het nie.

Maar die Bybel tref geen onderskeid tussen toorkuns wat goed is en toorkuns wat boos is nie. In die Wet wat God aan Moses gegee het, het Hy sy standpunt heel duidelik gestel. Hy het gesê: “Julle mag geen toorkuns beoefen nie” (Levitikus 19:26, NW). Ons lees ook: “Daar mag niemand onder jou gevind word wat . . . die toorkuns beoefen of voortekens soek of ’n towenaar is nie, of wat ander met ’n towerspreuk bind of ’n geestemedium . . . raadpleeg nie.”—Deuteronomium 18:10, 11, NW.

Waarom het God dit gesê? Dit is nie omdat hy ons iets goeds wil ontsê nie. Jehovah het hierdie wette vir sy volk gegee omdat hy hulle liefgehad het en nie wou hê dat hulle slawe van vrees en bygelowigheid moes word nie. Hy nooi eerder sy knegte om hom te vra vir die dinge wat hulle nodig het. Hy is die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). Die apostel Johannes het sy medegelowiges verseker: “Wat ons ook al vra, ontvang ons van [God], omdat ons sy gebooie onderhou en die dinge doen wat in sy oë welbehaaglik is.”—1 Johannes 3:22.

Wat van bose geeste?

Baie hekse stem met die Bybel saam hieroor: Bose geeste bestaan wel. In een verhandeling waarsku ’n voorstander van heksery: “Die Geeste is daar buite: Hulle bestaan, in die onsigbare wêreld wat soortgelyk aan ons s’n is, lewende wesens. . . . Die terme ‘Duiwelskind’, ‘Bose Gees’ en ‘Demoon’ is redelik akkuraat. Hulle is baie sterk. . . . Die intelligentste soort . . . kan (as iemand so gaaf is om ’n deur vir hulle oop te maak) ons wêreld binnekom. . . . Hulle kan jou liggaam in besit neem . . . , en selfs ’n mate van beheer oor jou uitoefen. Ja, dit is presies soos die ou verhale van Demoonbesetenheid.”

In Bybeltye het mense wat van demone besete was op verskillende maniere gely. Party van hulle kon nie praat nie, party was blind, party het waansinnig opgetree en party het bomenslike krag gehad (Matteus 9:32; 12:22; 17:15, 18; Markus 5:2-5; Lukas 8:29; 9:42; 11:14; Handelinge 19:16). Die lyding is soms vererger wanneer ’n hele paar demone saam iemand se liggaam in besit geneem het (Lukas 8:2, 30). Daar is dus beslis goeie rede waarom Jehovah mense waarsku om weg te bly van heksery en ander okkulte gebruike.

’n Godsdiens gebaseer op waarheid

Baie word vandag tot heksery aangetrek omdat dit na ’n onskadelike, goeie natuurgodsdiens lyk. In sommige gemeenskappe word dit nou aanvaar. Mense is nie bang daarvoor nie. Dit word dikwels eerder as iets alledaags beskou. In ’n atmosfeer van godsdiensverdraagsaamheid wat baie mense selfs uiters vreemde opvattings laat aanneem, het heksery heelwat aansien verwerf.

Trouens, die wêreld van godsdienste het ’n mark geword waar dit mense vrystaan om een te kies wat hulle pas, baie soos ’n mens ’n paar skoene sou koop. In teenstelling hiermee het Jesus van net twee keuses gepraat. Hy het gesê: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). Dit staan ons natuurlik vry om te kies watter pad ons wil volg. Maar aangesien ons ewige lewe op die spel is, is hierdie keuse lewensbelangrik. Om geestelike verligting te vind, moet ons die weg van waarheid volg—die weg wat net in God se Woord, die Bybel, gevind word.

[Voetnoot]

a In Engels gebruik sommige die spelling magick om te onderskei tussen die okkulte soort en verhoogillusies. Sien die Ontwaak! van 8 September 1993, bladsy 26, “Hou die beoefening van toorkuns gevaar in?”

[Prent op bladsy 5]

Vandag beskou baie mense heksery as ’n onskadelike natuurgodsdiens

[Prent op bladsy 6]

Toorkuns is nog altyd met die okkulte verbind

[Prent op bladsy 6]

Doen mense wat heksery beoefen onwetend die wil van die Duiwel?

[Prente op bladsy 7]

Die Bybel openbaar die weg van waarheid

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel