Eensaamheid—die verborge foltering
KAN jy hulle in ’n skare uitken? Wys dit op hulle gesig? Sal hulle glimlag dit bedek wanneer hulle jou groet? Kan jy dit aan hulle manier van loop, hulle liggaamshouding, sien? Sien jy die bejaarde man wat alleen op die parkbankie sit of die jong vrou wat op haar eie die kunsmuseum besoek—word hulle deur eensaamheid gefolter? Kyk na die drie geslagte soos verteenwoordig deur die ma, dogter en kleindogter wat in die winkelsentrum rondloop. Hulle lýk gelukkig, maar is dit werklik die geval? Dink aan jou werkmaats. Jy ken hulle dalk as gelukkige mense met ’n gesin wat vir hulle omgee en met ’n inkomste waarmee hulle maklik kan uitkom. Maar kan een van hulle waarlik sê: “Ek is eensaam”? En hoe groot is die kanse dat daardie gelukkige, lewendige tiener eensaam is? Die antwoorde op hierdie vrae sal jou dalk verbaas.
“Eensaam” word deur Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary gedefinieer as “die gevolg van ’n gevoel van swaarmoedigheid of verlatenheid”. Dit is ’n gevoel dat jy iets kortkom, dat jy binne-in leeg is, en dit kan nie altyd aan ’n mens se uiterlike gesien word nie. Een navorser sê: “In ons gemeenskap is eensaamheid iets wat ons geheim hou—soms selfs vir onsself. Daar kleef ’n stigma aan eensaamheid. Dit word algemeen aanvaar dat dit jou eie skuld is as jy eensaam is. Andersins sou jy mos baie vriende gehad het, of hoe?” Partykeer kan dit die geval wees, veral as ons meer van ander verwag of vereis as wat redelik is.
Eensame vrouens
Kenners stem blykbaar saam dat vrouens—veral getroude vrouens—van alle ouderdomme meer van die lewe verwag as mans. Dit is te begrype dat weduwees, geskeide vrouens en ouer, ongetroude vrouens partykeer eensaam is. Maar wat van vrouens wat skynbaar gelukkig getroud is en ’n gesin het? Beskou byvoorbeeld hierdie klagte van ’n 40-jarige onderwyseres: “Ek het geen tyd vir vriende nie; Ek mis dit vreeslik. Maar ek voel ongemaklik om dit selfs te sê. Hoe kan ek oor eensaamheid kla . . . ? Ek het tog ’n wonderlike huwelik, fantastiese kinders, ’n pragtige huis, ’n werk waarvoor ek lief is. Ek is trots op wat ek vermag het. Maar iets skort.”
Hoewel ’n vrou moontlik haar man waarlik liefhet, aan hom toegewy is, en hy ook so voel, bevredig sulke liefde nie noodwendig al hulle behoeftes aan kameraadskap nie. Die onderwyseres wat hierbo aangehaal is, verduidelik: “Hoewel my man my beste vriend is, bevredig dit nie my behoefte aan goeie vriendinne nie. Mans hoor dalk, maar vrouens luister. My man wil nie weet onder hoeveel druk ek verkeer nie. Hy wil inspring en die probleem oplos. Maar my vriendinne sal my daaroor laat praat. En partykeer wil ek net praat.”
Wanneer ’n vrou ’n geliefde deur die dood of ’n egskeiding verloor, kan haar emosies geweldig versteur word. Eensaamheid tree in. Die treurende weduwee of geskeidene moet nie net die ondersteuning van haar gesin en vriende soek nie, maar sy moet ook op haar eie krag staatmaak om by die nuwe werklikheid aan te pas. Hoewel haar verlies altyd ’n deel van haar lewe sal wees, moet sy besef dat dit nie ’n struikelblok moet word wat haar laat moed opgee nie. Kenners het gevind dat diegene met ’n sterker persoonlikheid hulle eensaamheid dikwels vinniger as ander te bowe kom.
Daar is ’n meningsverskil oor wie van die twee die meeste ly—die wewenaars en weduwees of die geskeidenes. Die tydskrif 50 Plus het berig: “Wanneer ons geskeidenes na ons steungroepe vir wewenaars en weduwees nooi, stry die twee groepe altyd op die ou end oor wie die meeste ly. Die wewenaar en weduwee sê: ‘Hoor hier, gelukkig lewe jou eggenoot nog’, terwyl die geskeidene sal sê: ‘Hoor hier, jy is nie soos ek as mens verwerp nie. Jy het nie die gevoel van mislukking nie.’”
Eensame mans
Wat eensaamheid betref, mans kan nie spog en sê dat hulle die sterkere van die twee geslagte is nie. “Mans hanteer dinge meer op ’n fisiese as ’n emosionele wyse”, het Anne Studner gesê, programspesialis vir die Afdeling vir wewenaars en weduwees van AARP (Amerikaanse Vereniging van Afgetredenes). “Vrouens sal die verhaal 10 biljoen keer vertel, maar ’n man sal probeer om sy vrou te vervang pleks van sy smart te verwerk.” Manlike raadgewers bring moontlik etlike ure saam met treurende mans deur voordat hulle stadigaan hulle emosionele gevoelens begin bespreek.
Kenners het gevind dat mans, in teenstelling met vrouens, die geselskap van ’n vrou pleks van ’n man opsoek om in hulle vertroue te neem. Dr. Ladd Wheeler, ’n kenner op die gebied van eensaamheid aan die Universiteit van Rochester, sê dat mans mekaar nie genoeg in hulle vertroue neem om ’n emosionele band te smee nie. “Die behoefte om aan oorweldigende emosionele afsondering ná die verlies van ’n eggenote te ontvlug, en die gevolglike uitreiking na ’n vriendin, kan ook help verduidelik waarom mans oor die algemeen ná hulle vrou oorlede is of ná ’n egskeiding baie gouer as vrouens hertrou.”—Die tydskrif 50 Plus.
Eensame jongmense
Daar is talle redes waarom kinders en jong volwassenes eensaam raak—en dit is dikwels soortgelyk aan die redes wat ouer mense eensaam maak. Die volgende dinge kan grootliks tot eensaamheid bydra—verhuising na ’n nuwe gebied en vriende wat agtergelaat word; klasmaats in ’n nuwe skool wat nie van jou hou nie; godsdiens- en etniese agtergrond; ’n egskeiding in die gesin; die gevoel dat jou ouers jou nie liefhet nie; verwerping deur lede van die ander geslag.
Klein kindertjies het iemand nodig om saam met hulle te speel. Hulle het emosionele steun en begrip nodig. Hulle het liefde en erkenning van hulle eiewaarde nodig. Hulle moet weet dat ander lojaal en betroubaar sal wees. Wanneer hulle weet dat iemand hulle liefhet, voel hulle veilig en leer hulle ook om liefde teenoor ander te betoon. Hierdie maatskaplike steun kan uit verskillende bronne kom—die gesin, vriende en selfs troeteldiere.
Manlike sowel as vroulike leerlinge, van graad een tot hulle op universiteit is, ondervind dikwels dieselfde mate van eensaamheid, wat dikwels veroorsaak word deur die feit dat hulle portuurs hulle nie aanvaar nie. “Ek voel sleg, want ek is eensaam en ek praat nie”, het een hoërskoolmeisie gesê. “Ek luister net na die onderwyser, doen my huiswerk en dis al. Wanneer daar tyd oor is, sit ek net daar en teken of iets. Almal gesels met mekaar, maar niemand praat met my nie. . . . Ek weet ek kan nie vir ewig wegkruip nie. Maar dit is al wat ek nou kan doen.”
Die skuld kan egter nie altyd met reg op ander se afsydigheid of snobisme geplaas word nie. Iemand het dalk gedrags- of sosiale probleme, soos om vreeslik skaam, buierig en te impulsief te wees en moeilik met sy of haar portuurs oor die weg te kom. ’n Liggaamsgebrek kan ook ’n verwoestende rol speel om jongmense van alle ouderdomme te laat vereensaam, behalwe as diegene sterk en sosiaal is.
Jy moet jouself help
Gesondheidsopvoeder Dolores Delcoma aan Cal State Fullerton het ’n sleutelwaarheid geidentifiseer toe sy oor ’n mens se poging om eensaamheid te bowe te kom, gepraat het: “Die inspanning moet van binne kom. Hy moet uiteindelik sy probleem erken omdat hy, hoeveel mense ook al help, die enigste mens is wat hom uit sy dop kan laat kruip.”
Diegene wat die aanpassing vir hulleself bemoeilik, word deur dr. Warren Jones geïdentifiseer as mense met ’n persoonlikheid wat tot eensaamheid geneig is: “Hierdie mense doen onwetend dinge wat keer dat hulle ná aan ander voel. Party weet nie hoe om te luister nie, en hulle neem die gesprek oor. Hulle is geneig om kritieser oor ander en hulleself te wees; hulle vra minder vrae en ruïneer dikwels ’n vriendskap deur lelike of onaangename dinge te sê.”
Buiten sulke mense, wat basies ’n gebrek aan eiewaarde het, is daar ander wat nie die sosiale vaardighede het om met ander oor die weg te kom nie. Die terapeut Evelyn Moschetta sê aangaande sulke mense: “Eensame mense voel nie baie goed oor hulleself nie. Omdat hulle verwerping verwag, probeer hulle nie eers kommunikeer nie.”
Maar in teenstelling met die heersende mening het navorsers gevind dat bejaarde vrouens en mans minder eensaam as jonger mense is. Hulle is nie seker waarom nie. Hulle het ook gevind dat wanneer bejaardes eensaam is dit eerder aan te min vriende as te min familielede te wyte is. “Nie dat familieverhoudinge vir bejaardes onbelangrik is nie. Hulle wend hulle tot familielede vir bystand. Maar hulle kan baie familielede hê om hulle te help en steeds vreeslik eensaam voel as hulle nie vriende het nie.”
Die behoefte aan goeie vriende
Goeie vriende kan vir mense van alle ouderdomme in ’n behoefte voorsien waarin familielede en bloedverwante nie kan nie. Mense het ’n vriend, ’n goeie vriend, nodig wat hulle moontlik in hulle vertroue kan neem of aan wie hulle dinge oor hulleself kan openbaar sonder om bang te wees dat hulle seergemaak sal word. Sonder so ’n vriend kan hulle eensaamheid vererger. Dit is van so ’n vriend wat die Amerikaanse essayis Ralph Waldo Emerson geskryf het: ‘’n Vriend is iemand voor wie ek hardop kan dink.’ So iemand is ’n vertroueling aan wie jy alles oor jouself kan openbaar sonder die vrees van verraad of die bekommernis dat jou geheime teen jou gebruik sal word of dat ander daardeur vir jou sal lag. Party wat jy gedink het lojale vriende is, was moontlik nie altyd jou vertroue werd nie, maar daar is “’n vriend” wat ‘’n ander se geheim nie openbaar nie’, wat “sterker aanhang as ’n broer”.—Spreuke 18:24; 25:9.
Daar is mense wat daarvan hou om te maak asof hulle taai is en asof hulle niemand nodig het nie. Hulle sê hulle is onafhanklik en selfonderhoudend. Maar dikwels versamel hulle in groepe van sogenaamde taaies. Kinders het klubs, bou klubhuise, stig bendes; ouer kinders het motorfietsbendes; misdadigers het boesemvriende wat hulle nie sal verklik nie; diegene met ’n drankprobleem sluit by Alkoholiste Anoniem aan; diegene wat aan vetsug ly, sluit by Weight Watchers aan. Mense is sosiale wesens; hulle groepeer vir ondersteuning. Selfs wanneer hulle probleme het, wil hulle omgaan met diegene wat soortgelyke probleme het. En hulle almal haat eensaamheid. Wat kan omtrent eensaamheid gedoen word?
[Lokteks op bladsy 5]
“Eensame mense voel nie baie goed oor hulleself nie”