Moenie toelaat dat eensaamheid jou lewe verwoes nie
EENSAAMHEID kan die lewe van oud en jonk verwoes. Die skryfster Judith Viorst sê in die tydskrif Redbook: “Eensaamheid druk swaar op die hart. . . . Eensaamheid laat ons leeg en wanhopig voel. Eensaamheid laat ons soos ’n moederlose kind voel, soos ’n verdwaalde lammetjie, so klein en verlore in so ’n groot en ongevoelige wêreld.”—September 1991.
Om ver van vriende af of in ’n vreemde omgewing te wees, egskeiding, die dood van ’n geliefde of kommunikasieprobleme—sulke dinge kan jou eensaam maak. Selfs wanneer hulle deur ander mense omring word, is party uiters eensaam.
Wat kan jy doen?
Moet jy bloot ’n hulpelose slagoffer wees as eensaamheid jou wel tref? Kan jy enigiets doen wat sal verhoed dat eensaamheid jou geleidelik vernietig of jou van jou wil om te lewe, beroof? Jy kan beslis. Heelwat nuttige raad is beskikbaar. En heelwat goeie raad word in God se geïnspireerde Woord, die Bybel, gegee. Sulke aanmoediging is dalk net wat jy nodig het om eensaamheid te bowe te kom.—Mattheüs 11:28, 29.
Jy kan dit bemoedigend vind om byvoorbeeld die verhaal oor Rut te lees, ’n jong vrou wat ongeveer 3 000 jaar gelede in die Midde-Ooste gelewe het. Haar omstandighede was van so ’n aard dat sy maklik in eensaamheid kon verval. Toe haar man gesterf het, het sy saam met haar skoonmoeder in die vreemde omgewing van Israel gaan woon (Rut 2:11). Hoewel sy sonder haar gesin en eertydse vriende was en ook ’n vreemdeling in ’n onbekende land was, is daar geen aanduiding in die Bybel dat sy toegelaat het dat eensaamheid haar oorweldig nie. Jy kan haar verhaal in die Bybelboek Rut lees.
Jy moet, soos Rut, ’n positiewe uitkyk behou. Die manier waarop jy sake en gebeurtenisse beskou, kan eensaamheid bevorder. Ann, wat haar vader vier jaar lank tydens ’n langdurige siekte versorg het, bevestig dit. Toe hy gesterf het, het sy baie eensaam geword. “Dit het gevoel asof ek in ’n vakuum was, totaal nutteloos—asof niemand my meer nodig gehad het nie”, sê sy. “Maar ek het die feit aanvaar dat my lewe nou verander het, en ek het besef dat ek my, ten einde my eensaamheid te beveg, by die omstandighede moes berus waarin ek nou verkeer het.” Soms kan jy nie jou omstandighede verander nie, maar jy kan heel waarskynlik jou gesindheid ten opsigte daarvan verander.
Om besig te bly met lonende bedrywighede is nie die enigste oplossing om eensaamheid te beveg nie, maar dit help wel. Irene, wat ’n weduwee geword het ná sy slegs ses maande getroud was, het gevind dat dit met haar die geval was. “Ek het gesien dat die eensaamheid my veral getref het wanneer ek die minste besig was”, sê sy, “en daarom het ek my daarop toegelê om met ander om te gaan en hulle te help om hulle probleme die hoof te bied.” Dit verskaf ’n mens vreugde om ander te help, en eensame Christene kan oorvloedig wees in die werk van die Here.—Handelinge 20:35; 1 Korinthiërs 15:58.
Laat vriende help
The New York Times Magazine sê dat eensame kinders deur “die wonde van vriendeloosheid” seergemaak is (28 April 1991). Talle eensame mense, oud en jonk, voel vriendeloos. Daarom is dit ’n ware voordeel om die opregte vriendskap te geniet wat die liefdevolle Christengemeente voorsien. Werk hard daaraan om jou vriendekring in die gemeente uit te brei en laat hulle jou help op watter maniere hulle ook al kan. Dit is een rede waarom vriende daar is—om ondersteuning te verleen in moeilike tye.—Spreuke 17:17; 18:24.
Maar wees bewus van die feit dat jy, weens jou emosionele pyn, dit dalk vir jou vriende moeilik maak om jou te help. Hoe? Die skrywer Jeffrey Young verduidelik: “Party eensame mense . . . stoot potensiële vriende af deur die gesprek te oorheers of deur dinge te sê wat aanstoot gee of ongepas is. Chronies eensame mense is geneig om hegte verhoudings op die een of ander manier te saboteer.”—U.S.News & World Report, 17 September 1984.
Soms vererger jy sake dalk deur jou van ander mense af te sonder. Peter, ’n man wat in die vyftig is, het dit gedoen. Ná sy vrou se dood het hy hom aan ander begin onttrek, hoewel hy in sy diepste wese hulle hulp wou hê. “Party dae”, sê hy, “wou ek net nie ander mense om my hê nie en mettertyd het ek my van mense afgesonder.” Dit kan gevaarlik wees. Hoewel tye van privaatheid voordelig is, is afsondering skadelik (Spreuke 18:1). Peter het dit besef. Hy sê: “Ek het dit uiteindelik te bowe gekom, my situasie aanvaar, en met die hulp van my vriende kon ek my lewe weer opbou.”
Moet egter nie net aanneem dat ander onder die een of ander verpligting staan om te help nie. Probeer om nie onredelike eise te begin stel nie. Aanvaar op ’n vreugdevolle manier enige vriendelikheid wat aan jou betoon word en spreek waardering daarvoor uit. Maar hou ook hierdie goeie raad in gedagte wat in Spreuke 25:17 gegee word: “Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie.” Frances, wat baie eensaam was toe haar man gesterf het nadat hulle 35 jaar lank getroud was, meen dat hierdie vermaning belangrik is. “Wees billik wat jou verwagtinge betref”, sê sy, “en moenie te veel van ander vereis nie. Moenie iemand se drumpel platloop op soek na hulp nie.”
Jehovah gee om
Selfs wanneer mensevriende jou soms in die steek laat, kan jy steeds Jehovah God as jou Vriend hê. Jy kan seker wees dat hy wel vir jou omgee. Hou jou vertroue in hom sterk en soek voortdurend skuiling onder sy beskermende sorg (Psalm 27:10; 91:1, 2; Spreuke 3:5, 6). Die Moabitiese vrou Rut het dit gedoen en is ryklik geseën. Trouens, sy het selfs een van Jesus Christus se voorouers geword!—Rut 2:12; 4:17; Mattheüs 1:5, 16.
Bid voortdurend tot Jehovah (Psalm 34:5; 62:8, 9). Margaret het gevind dat gebed ’n bron van groot krag is ten einde eensaamheid die hoof te bied. Sy het saam met haar man aan die voltydse bediening deelgeneem totdat hy op ’n jong leeftyd oorlede is. “Ek het dit altyd nuttig gevind om hardop te bid en Jehovah alles te vertel, al my vrese en bekommernisse”, sê sy. “Dit het my gehelp om sake nugter te beskou wanneer die eensaamheid my getref het. En dit het my vertroue gegee om te sien hoe Jehovah daardie gebede verhoor.” Sy vind grootliks daarby baat deur die apostel Petrus se raad te volg: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:6, 7; Psalm 55:23.
’n Goeie verhouding met Jehovah sal jou help om iets te behou wat eensame mense dikwels verloor—’n gevoel van eiewaarde. Toe haar man aan kanker dood is, het die joernalis Jeannette Kupfermann geskryf dat sy haar “selfvertroue verloor het en waardeloos gevoel het”. Sy het gesê: “Dis hierdie gevoel van waardeloosheid wat daartoe lei dat soveel weduwees aan depressie ly wat hulle byna tot selfmoord dryf.”
Onthou dat Jehovah jou baie waardeer. Hy dink nie dat jy waardeloos is nie (Johannes 3:16). God sal jou ondersteun soos hy sy volk Israel in vervloë tye ondersteun het. Hy het vir hulle gesê: ‘Ek het jou nie verwerp nie. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.’—Jesaja 41:9, 10.
Moenie God blameer nie
Jy moet veral nie God vir jou eensaamheid blameer nie. Jehovah is nie daarvoor verantwoordelik nie. Sy voorneme was nog altyd dat jy, en die hele mensdom, goeie, bevredigende kameraadskap moet geniet. Toe God Adam geskep het, het hy gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas” (Genesis 2:18). En dit is wat God gedoen het toe hy Eva, die eerste vrou, geskep het. As dit nie vir Satan se opstand was nie, sou mans, vrouens en die gesinne wat hulle voortgebring het nooit eensaamheid ondervind het nie.
Die feit dat Jehovah goddeloosheid tydelik toelaat, het eensaamheid natuurlik laat toeneem en ook ander lyding tot gevolg gehad. Maar onthou altyd dat dit net tydelik is. Dit is klaarblyklik makliker om die beproewinge wat eensaamheid meebring die hoof te bied as jy die dinge in gedagte hou wat God vir jou in sy nuwe wêreld gaan doen. Intussen sal hy jou ondersteun en bemoedig.—Psalm 18:3; Filippense 4:6, 7.
Hierdie wete kan jou versterk. Toe Frances (wat vroeër gemeld is) ’n weduwee geword het, het sy, veral snags, baie vertroosting uit die woorde van Psalm 4:9 geput: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.” Peins oor gedagtes soos dié wat in die Psalms aangetref word. Dink na oor hoe God vir jou sorg, soos Psalm 23:1-3 toon.
Hoe kan die eensames gehelp word?
’n Belangrike manier waarop die eensames gehelp kan word, is deur liefde aan hulle te betoon. Die Bybel moedig God se volk herhaaldelik aan om liefde aan mekaar te betoon, veral wanneer hulle beproewinge verduur. “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde”, het die apostel Paulus geskryf (Romeine 12:10). Trouens, God se geïnspireerde Woord sê: “Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Korinthiërs 13:8). Hoe kan jy liefde betoon aan diegene wat eensaam is?
Pleks van eensame mense te verstoot of te ignoreer, kan besorgde persone hartlik teenoor hulle wees deur hulle geduldig by te staan wanneer nodig. Hulle kan soos die man Job wees wat gesê het: “Ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie . . . en die hart van die weduwee het ek laat jubel” (Job 29:12, 13). Aangestelde ouere manne in die Christengemeente en medelydende vriende kan op dieselfde bedagsame manier te werk gaan deur in die behoefte aan begrip, hartlikheid en bemoediging te voorsien. Hulle kan empatie toon en soms voorsien in die behoefte daaraan om vertroulik te gesels.—1 Petrus 3:8.
Dit is dikwels die klein dingetjies wat vriende vir eensames doen wat van die uiterste belang is. Wanneer ’n medegelowige byvoorbeeld ’n geliefde aan die dood afstaan, sal liefdevolle blyke van opregte vriendskap baie nuttig wees. Moenie klein blykies van vriendelikheid, soos ’n uitnodiging na ’n maaltyd, ’n simpatieke oor of bemoedigende geselskap, onderskat nie. Dit help mense baie in hulle pogings om eensaamheid te beveg.—Hebreërs 13:16.
Ons almal sal waarskynlik van tyd tot tyd eensaam wees. Nogtans hoef eensaamheid nie ’n teistering te word nie. Vul jou lewe met betekenisvolle en opbouende bedrywighede. Laat vriende toe om te help wanneer hulle kan. Stel jou vertroue in Jehovah God. Hou die bemoedigende belofte wat in Psalm 34:20 opgeteken is altyd in gedagte: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.” Wend jou tot Jehovah om hulp en moenie toelaat dat eensaamheid jou lewe verwoes nie.
[Venster op bladsy 24]
’N PAAR MANIERE OM EENSAAMHEID TE BEVEG
▪ Bly na aan Jehovah
▪ Soek vertroosting deur die Bybel te lees
▪ Behou ’n positiewe Christelike uitkyk
▪ Bly besig met betekenisvolle bedrywighede
▪ Brei jou vriendekring uit
▪ Maak dit vir vriende maklik om te help
▪ Moenie jou afsonder nie, maar kweek spontane liefde aan
▪ Wees daarvan oortuig dat Jehovah vir jou omgee
[Venster op bladsy 24]
HOE JY DIE EENSAMES KAN HELP
▪ Toon begrip, wees hartlik en bied vertroosting
▪ Voorsien in die behoefte daaraan om vertroulik te gesels
▪ Volhard daarin om die klein dingetjies te doen wat help
[Prent op bladsy 23]
Ondanks Rut se moeilike omstandighede is daar geen aanduiding dat sy toegelaat het dat eensaamheid haar lewe verwoes nie