Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 9/22 bl. 15-19
  • “O Jehovah, laat my dogtertjie tog getrou bly!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “O Jehovah, laat my dogtertjie tog getrou bly!”
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vervolging op skool
  • Ondergrondse bedrywigheid
  • Verbeteringskool toe
  • Hartverskeurende herenigings
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Ons het nie Hitler se oorlog gesteun nie
    Ontwaak!—1994
  • Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 9/22 bl. 15-19

“O Jehovah, laat my dogtertjie tog getrou bly!”

EK IS in 1930 in die Elsas, Frankryk, in ’n kunssinnige gesin gebore. Saans het Pa in sy gemakstoel gesit en boeke oor aardrykskunde of sterrekunde gelees. My hondjie het by sy voete geslaap, en Paps het party interessante gedagtes waarvan hy gelees het vir Mams vertel terwyl sy vir haar gesin gebrei het. Hoe het ek daardie aande tog nie geniet nie!

Godsdiens het ’n groot rol in ons lewe gespeel. Ons was ywerige Katolieke, en mense wat ons op Sondagoggende sien kerk toe gaan het, het altyd gesê: “Dis nege-uur. Die Arnolds gaan kerk toe.” Ek het elke dag vóór skool kerk toe gegaan. Maar weens die priester se wangedrag het Mams my verbied om alleen kerk toe te gaan. Ek was destyds ses jaar oud.

Ná my ma net drie boekies van die Bibelforscher (Bybelstudente, wat nou as Jehovah se Getuies bekend staan) gelees het, het sy van huis tot huis begin preek. Dit het Paps omgekrap. Hy het dit ’n reël gemaak dat hulle nie voor my oor godsdiens sou praat nie. ‘Jy lees nie daardie goed nie!’ Maar my ma was so entoesiasties oor die waarheid dat sy besluit het om die Bybel saam met my te lees. Sy het ’n Katolieke vertaling van die Bybel gekry en dit elke oggend gelees, maar dit nie bespreek nie, om Paps te gehoorsaam.

Eendag het sy Psalm 115:4-8 gelees: “Hulle afgode is silwer en goud, ’n werk van mensehande. . . . Die wat hulle maak, sal net soos hulle word—elkeen wat op hulle vertrou.” Sy het dit met die tweede gebod verbind, wat sê: ‘Jy mag vir jou geen gesnede beeld maak nie’ (Exodus 20:4-6). Ek het dadelik opgestaan en die altaar wat ek in my kamer gehad het, vernietig.

Ek het skool toe gegaan en vir my Katolieke klasmaats vertel wat ons elke dag uit die Bybel gelees het. Dit het nogal ’n groot opskudding by die skool veroorsaak. Heel dikwels het kinders my op straat gevolg en my ’n “stink Jood!” genoem. Dit was in 1937. Hierdie situasie het my pa ondersoek laat instel na wat ek geleer het. Hy het die boek Creation aangeskaf wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Hy het dit gelees en self ’n Getuie geword!

Kort ná die Duitse leër Frankryk oor die Belgiese grens binnegeval het, het ons swastikas op vlae bo-op kerke begin sien, al het die Franse vlag steeds op die stadsaal gewapper. Die Franse het ons Koninkryksaal gesluit en die werk van Jehovah se Getuies verbied, en toe die Duitsers gekom het, het ons reeds ondergronds gewerk. Maar die pogings om die Getuies te onderdruk, is verskerp. Twee jaar later, op die ouderdom van 11, is ek gedoop.

’n Maand later, op 4 September 1941, teen twee-uur die middag, het die deurklokkie gelui. Ons het Paps van die werk af terugverwag. Ek het opgespring, die deur oopgemaak en in sy arms ingehardloop. ’n Man agter hom het geskreeu: “Heil Hitler!” Terug op my voete het ek besef dat die man wat ek omhels het ’n SS-soldaat was! Hulle het my na my kamer toe gestuur en my ma vier uur lank in kruisverhoor geneem. Toe hulle loop, het een van hulle geskreeu: “Jy sal jou man nie meer sien nie! Jy en jou kind sal dieselfde paadjie loop!”

Paps is daardie oggend gearresteer. Hy het sy maandelikse salaris in sy sak gehad. Die SS het die bankrekening gesluit en my ma ’n werkkaart geweier—’n nodige dokument om ’n werk te kan kry. Hulle beleid was nou: “Geen heenkome vir daardie gespuis nie!”

Vervolging op skool

Gedurende hierdie tyd het die druk by die voorbereidingskool wat ek bygewoon het, bly toeneem. Telkens wanneer die onderwyser die klaskamer binnegekom het, moes al 58 leerlinge met uitgestrekte arms staan en sê: “Heil Hitler.” Wanneer die priester godsdiensonderrig kom gee het, het hy ingekom en gesê: “Heil Hitler—geseënd is hy wat kom in die naam van die Here.” Die klas het dan geantwoord: “Heil Hitler—Amen!”

Ek het geweier om “Heil Hitler” te sê, en die skoolhoof het hiervan te hore gekom. ’n Waarskuwingsbrief is geskryf wat gesê het: “Daar is ’n leerling wat nie die skoolreëls gehoorsaam nie, en indien dit nie binne ’n week verander nie, sal hierdie leerling die skool moet verlaat.” Dit het onderaan gesê dat hierdie brief vir die meer as 20 klasse gelees moes word.

Die dag het aangebreek dat ek voor my klas moes gaan staan om my besluit bekend te maak. Die hoof het my nog vyf minute gegee om óf te salueer óf my skoolboeke te neem en te loop. Daardie vyf minute op die horlosie het soos ’n ewigheid gevoel. My bene het lam geword, my kop het swaar gevoel, my hart het gebons. Die swaar stilte in die klas is deur ’n heftige: “Heil Hitler” onderbreek, waarna die hele klas dit drie keer herhaal het. Ek het na die skoolbank gehardloop, my boeke gegryp en uitgehardloop.

Die volgende Maandag is ek toegelaat om na ’n ander skool te gaan. Die hoof het gesê ek kon daar skoolgaan op voorwaarde dat ek niemand sou vertel waarom ek uit die ander skool geskors is nie. My klasmaats was vyandig teenoor my en het my ’n dief, ’n kindermisdadiger, genoem en gesê dit is waarom ek weggestuur is. Ek kon nie die ware rede verduidelik nie.

Ek moes agter in die klas gaan sit. Die meisie langs my het besef dat ek nie salueer nie. Sy het gedink dat ek ’n lid van die Franse weerstandsbeweging is. Ek móés eenvoudig aan haar verduidelik waarom ek weier om heil aan Hitler toe te skryf: “Handelinge 4:12 (NAV) sê: ‘Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.’ Slegs Christus is ons Verlosser. Aangesien ‘heil’ verlossing deur iemand beteken, kan ek nie hierdie verlossing aan enige mens, Hitler inkluis, toeskryf nie.” Hierdie meisie en haar ma het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en self Getuies geword!

Ondergrondse bedrywigheid

Gedurende hierdie hele tydperk het ons die predikingswerk ondergronds voortgesit. Ons het die eerste Sondag van elke maand uitgegaan na ’n plek in die berge waar ons die Franse uitgawe van Die Wagtoring gekry het om in Duits te vertaal. Mams het vir my ’n spesiale kousgordel gemaak met ’n versteekte sakkie waarin ek Die Wagtoring kon sit. Eendag is ons deur twee soldate voorgekeer en na ’n bergplaas geneem waar ons deursoek is. Ek het so siek geword dat hulle my op die hooi moes laat lê, en daarom het hulle nie Die Wagtoring gekry nie. Dit het gelyk of Jehovah my altyd op die een of ander manier red.

Eendag is ek geroep om ’n “psigiater” te gaan spreek. Dit was in werklikheid twee SS-soldate. Daar was ook ander Getuie-kinders. Ek was die laaste een wat ingeroep is. Die twee “dokters” het agter ’n tafel gesit, ek het met ’n skerp lig wat in my gesig skyn, gesit en die kruisverhoor het begin. Een “dokter” het my vrae oor aardrykskunde of geskiedenis gevra, maar voor ek kon antwoord, het die ander een vrae oor die ondergrondse werk gevra. Hy het ook die name van die ander Getuies gevra. Ek was op die randjie van ’n ineenstorting toe ’n telefoonoproep hulle ondervraging skielik onderbreek het. Op wat ’n wonderlike wyse het Jehovah tog altyd hulp voorsien!

Toe my skoolhoof uitvind dat ek ons oortuiging aan een van my klasmaats verduidelik het, is ek gearresteer, in die hof verhoor en deur die regter na ’n “verbeteringskool” gestuur. Volgens die uitspraak ‘is sy grootgemaak volgens die Internasionale Bybelstudente-vereniging se leerstellings, wat deur die wet verbied word, en sy sal ’n verdorwe persoon en ’n gevaar vir ander word’. Dit was vir my, nou ’n 12-jarige, ’n aaklige ondervinding in daardie ontsagwekkende hofsaal! Maar weens die hulp van ’n simpatieke vriend wat in die administratiewe afdeling gewerk het, is my vonnis nie dadelik voltrek nie.

Ongeveer ’n maand later is ons klas gekies om twee weke lank na ’n Hitler-Jeugopleidingskamp te gaan. Ek het nooit met my ma daaroor gepraat nie. Ek wou nie hê dat sy enige verantwoordelikheid moes dra vir my besluit om nie te gaan nie. Voor die dag van ons vertrek aangebreek het, het die skoolhoof my gewaarsku: “As jy Maandag nie by die spoorwegstasie of in my kantoor is nie, gaan ek die polisie op jou sit!”

Maandagoggend het ek dus op pad skool toe verby die spoorwegstasie geloop. Al my klasmaats het my geroep om saam met hulle te gaan, maar ek was vasbeslote om na die hoof se kantoor toe te gaan. Ek het laat daar aangekom, en hy het dus aangeneem dat ek saam met die ander op die trein was. Hy was woedend toe hy my sien. Hy het my in sy klaskamer ingebring en die hele klas daar vier uur lank laat swaarkry. Hy het elke kind byvoorbeeld vorentoe geroep en, pleks van hulle aantekeningboek aan hulle te oorhandig, het hy hulle daarmee deur die gesig geklap. Hy het dan na my gewys en gesê: “Dis haar skuld!” Hy het die 45 kinders wat maar tien jaar oud was teen my probeer opsteek. Maar aan die einde van die klas het hulle my kom gelukwens omdat ek bly weier het om militêre liedjies te sing.

Later is ek aangesê om papier, blikke en bene te sorteer. Ek het geweier om dit te doen aangesien die blikke vir militêre doeleindes gebruik is. Ek is geslaan en bewusteloos laat lê. Later het my klasmaats my opgehelp.

Toe ek teruggaan skool toe was ek verbaas om al die klasse op die terrein om ’n vlagpaal te sien staan, ongeveer 800 kinders. Ek moes in die middel gaan staan. Daar is ’n lang beskrywing van vryheid en die gevolge vir verraaiers gegee, en dit is gevolg deur drie krete van Sieg heil! (oorwinning en verlossing). Die volkslied is gesing terwyl ek stokstyf gestaan en bewe het. Jehovah het my onderskraag; ek het my onkreukbaarheid gehandhaaf. Later, toe ek ons woonstel binnegaan, het my klere op die bed gelê en ’n brief wat gesê het: “Simone Arnold moet môreoggend by die spoorwegstasie aanmeld.”

Verbeteringskool toe

Die volgende oggend was ek en my ma by die spoorwegstasie. Twee vroue het my in bewaring geneem. Op die trein het my ma haar raad ten opsigte van my gedrag herhaal: “Wees altyd beleefd, goedhartig en vriendelik, selfs wanneer jy ongeregtigheid moet verduur. Moet nooit hardkoppig wees nie. Moet nooit teëpraat of parmantig wees nie. Onthou dat onkreukbaarheid niks met hardkoppigheid te doen het nie. Dit gaan die leerskool vir jou toekomstige lewe wees. Dit is Jehovah se wil dat ons beproewinge tot ons toekomstige voordeel moet verduur. Jy is goed daarop voorbereid. Jy weet hoe om naaldwerk te doen, te kook, wasgoed te was en tuin te maak. Jy is nou ’n jong dame.”

Daardie aand het ek en my ma in ’n wingerd buite ons hotel gekniel, ’n Koninkrykslied oor die opstandingshoop gesing en gebid. In ’n ferm stem het Mams namens my gesmeek: “O Jehovah, laat my dogtertjie tog getrou bly!” Mams het my vir die laaste keer in die bed gesit en my gesoen.

Toe ons die volgende dag by die verbeteringshuis aankom, het dinge vinnig gebeur, en ek het nie kans gehad om vir Mams totsiens te sê nie. ’n Meisie het my ’n bed met ’n semelmatras aangewys. My skoene is weggeneem, en ons moes tot die eerste November kaalvoet loop. Ek het swaar gesluk aan die eerste middagete. Ek is ses paar kouse gegee om te stop; anders kon ek geen kos kry nie. Vir die eerste keer het ek begin huil. Trane het daardie kouse natgemaak. Ek het feitlik die hele nag gehuil.

Die volgende oggend het ek om 5:30 opgestaan. My bed was bloedbevlek—my maandstonde het kort tevore begin. Ek het bewend na die eerste onderwyseres toe gegaan wat ek teëgekom het, juffrou Messinger. Sy het ’n meisie geroep wat my gewys het hoe om my laken in koue water te was. Die klipvloer was koud, en die pyne het hewiger geword. Ek het weer begin huil. Toe sê juffrou Messinger met ’n sarkastiese glimlag: “Sê vir jou Jehovah hy moet jou laken was!” Dit was net wat ek nodig gehad het om te hoor. Ek het my trane afgevee, en nooit weer kon hulle my laat trane stort nie.

Ons moes elke oggend om 5:30 opstaan om voor ontbyt—’n bord sop om 8:00 vm.—die huis skoon te maak. Daar is in die huis vir die 37 kinders, van 6 tot 14 jaar, skoolgehou. In die middae het ons die wasgoed gewas en die naald- en tuinwerk gedoen aangesien daar nie mans beskikbaar was om die swaar werk te doen nie. In die winter van 1944/45 moes ek en ’n ander meisie met behulp van ’n treksaag bome van tot 60 sentimeter in deursnee saag. Die kinders is belet om met mekaar te gesels en is nie toegelaat om alleen te wees nie, nie eers wanneer hulle toilet toe gegaan het nie. Ons het twee keer per jaar gebad en ons hare een keer per jaar gewas. As straf het ons sonder kos gegaan of ’n pak slae gekry.

Ek moes juffrou Messinger se kamer skoonmaak. Sy het daarop aangedring dat ek elke dag onder die bed inkruip om die spiraalvere skoon te maak. Ek het ’n Bybeltjie gehad wat ek in die huis ingesmokkel het en het daarin geslaag om dit tussen die spiraalvere in te druk. Daarna kon ek elke dag dele van die Bybel lees. Geen wonder ek is die stadigste kind genoem wat hulle ooit gehad het nie!

Die Protestantse meisies het Sondae na hulle kerk toe gegaan en die drie Katolieke meisies na hulle s’n, maar ek moes vir al 37 kinders kos kook. Ek was so klein dat ek op ’n bankie moes staan en die lepel met twee hande moes vashou om die sop te roer. Ek moes vir ons vier onderwysers vleis gaarmaak, koekbak en groente voorberei. Sondagmiddae moes ons servette borduur. Daar was geen speeltyd nie.

Etlike maande later het juffrou Messinger my met ooglopende genot die nuus meegedeel dat liewe Mams gearresteer is en in ’n konsentrasiekamp was.

In 1945 is die oorlog uiteindelik beïndig. Die konsentrasiekampe het in duie gestort en hulle slagoffers het landwyd uitgestroom en duisende het begin rondswerf op soek na enige oorblywende familielede wat dalk nog leef.

Hartverskeurende herenigings

My ma het ten minste geweet waar ek was, maar toe sy my kom haal het, het ek haar nie herken nie. Ná alles wat sy deurgemaak het, was dit geen wonder nie! Nadat Mams gearresteer is, is sy na dieselfde kamp as Paps gestuur, Schirmeck, maar sy was in die vrouekamp. Sy het geweier om soldate-uniforms te herstel en was toe maande lank in eensame opsluiting in ’n ondergrondse bunker. Daarna is sy saam met vroue geplaas wat sifilis gehad het sodat sy besmet kon word. Terwyl sy na Ravensbrück verskuif is, het sy weens ’n hoes baie swak geword. Op daardie tydstip het die Duitsers op die vlug geslaan, en was die gevangenes op pad na Ravensbrück skielik vry, en my ma was onder hulle. Sy het koers gevat na Konstanz, waar ek was, maar weens ’n lugaanval was haar gesig vol snye en bloed.

Toe ek voor haar gebring is, het sy so anders gelyk—sy was uitgeteer van die honger, siek, haar gesig gekneus en bebloed, en haar stem was skaars hoorbaar. Ek is geleer om voor besoekers te buig en hulle al my werk te wys—die borduurwerk, die naaldwerk—omdat sommige vroue die inrigting besoek het om ’n bediende te kry. En dit is hoe ek arme Mams behandel het! Dit was eers toe sy my na ’n regter geneem het om wetlike toestemming te verkry om my huis toe te neem dat ek besef het dat hierdie vrou my ma is! Skielik het die trane gevloei wat ek die afgelope 22 maande binne my opgekrop het.

Met ons vertrek was die woorde van die hoof, juffrou Lederle, soos genesende olie vir Mams. Sy het gesê: “Ek gee jou dogter aan jou terug met dieselfde gesindheid waarmee sy gekom het.” My onkreukbaarheid was ongeskonde. Ons het ons woonstel gekry en gevestig geraak. Al wat ons nog hartseer gemaak het, was dat Paps vermis is. Die Rooi Kruis het hom as dood aangegee.

In die middel van Mei 1945 was daar ’n klop aan die deur. Weer het ek gehardloop om dit oop te maak. ’n Vriendin, Maria Koehl, was by die deur en het gesê: “Simone, ek is nie alleen nie. Jou pa is hier onder op die trap.” Paps kon skaars die trap oploop, en hy was doof. Hy het reg by my verbygeloop en reguit na Mams toe gegaan! Die spontane 11-jarige dogtertjie wat hy eens geken het, het gedurende daardie lang maande ’n skaam, jong tiener geword. Hierdie nuwe meisie het hy nie eers herken nie.

Dit was duidelik dat hy groot ontberinge verduur het. Hy is eers na Schirmeck, ’n spesiale kamp, gestuur en toe na Dachau, waar hy tifus opgedoen het en as gevolg daarvan 14 dae lank bewusteloos was. Hy is later in mediese eksperimente gebruik. Van Dachau af is hy na Mauthausen gestuur, ’n uitwissingskamp wat erger as Dachau was, waar hy harde arbeid moes doen, geslaan is en deur polisiehonde aangeval is. Maar hy het dit oorleef en was uiteindelik weer hier by die huis.

Toe ek 17 was, het ek die voltydse diens as ’n bedienaar van Jehovah se Getuies betree en het toe na Gilead, die Wagtoringgenootskap se skool vir sendelinge, in die Verenigde State gegaan. By die Genootskap se wêreldhoofkwartier het ek Max Liebster ontmoet, ’n Duitse Jood wat in een van Hitler se konsentrasiekampe ’n Getuie geword het. Ons is in 1956 getroud, en met die hulp van ons God, Jehovah, het ons tot nou toe as spesiale pionierbedienaars hier in Frankryk in die voltydse diens gebly.

Hoe waar was die woorde tog wat Mams jare gelede in haar gebed namens my gesê het die aand toe sy my by die verbeteringskool moes agterlaat: “Ek smeek u, o Jehovah, laat my dogtertjie tog getrou bly!”

En tot vandag toe het Jehovah presies dit gedoen!—Soos vertel deur Simone Arnold Liebster.

[Prent op bladsy 18]

Simone Arnold Liebster en haar man, Max Liebster

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel