Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 10/22 bl. 8-15
  • Ons het nie Hitler se oorlog gesteun nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons het nie Hitler se oorlog gesteun nie
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die antwoorde op my pa se vrae
  • Ywerige bediening
  • Hitler kom aan die bewind
  • Druk om toe te gee
  • My pa se voorbeeldige onkreukbaarheid
  • My toetse begin
  • Verhoor en opsluiting
  • Die harde kamplewe
  • Ek bly geestelik sterk
  • Geleenthede om te getuig
  • Die lewe word vir my beter
  • Die laaste dae van die oorlog
  • Terug by die huis
  • Die moed om te volhard
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • My haat het in liefde verander
    Ontwaak!—1995
  • Ons het ons onkreukbaarheid in Nazi-Duitsland gehandhaaf
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 10/22 bl. 8-15

Ons het nie Hitler se oorlog gesteun nie

SOOS VERTEL DEUR FRANZ WOHLFAHRT

MY PA, Gregor Wohlfahrt, het gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914 tot 1918) in die Oostenrykse leër gedien en teen Italië geveg. Altesaam honderdduisende Oostenrykers en Italianers is gedood. Die gruwels van daardie ondervinding het my pa se beskouing oor godsdiens en oorlog heeltemal verander.

My pa het gesien hoe Oostenrykse priesters die troepe seën en hy het uitgevind dat Italiaanse priesters aan die ander kant dieselfde gedoen het. Hy het dus gevra: “Waarom word Katolieke soldate aangespoor om ander Katolieke dood te maak? Moet Christene teen mekaar oorlog voer?” Die priesters het geen bevredigende antwoorde gehad nie.

Die antwoorde op my pa se vrae

Ná die oorlog is my pa getroud en het hy hom in die berge van Oostenryk naby die Italiaanse en Joego-Slawiese grens gevestig. Ek is in 1920 daar gebore; ek was die eerste van ses kinders. Toe ek ses was, het ons ’n paar kilometer oos verhuis na St. Martin naby die vakansiedorp Pörtschach.

Terwyl ons daar gewoon het, het bedienaars van Jehovah se Getuies (wat toe Bybelstudente genoem is) my ouers besoek. In 1929 het hulle die boekie Voorspoed seker by ons gelaat, wat baie van my pa se vrae beantwoord het. Dit het uit die Bybel getoon dat die wêreld beheer word deur ’n onsigbare heerser wat Duiwel en Satan genoem word (Johannes 12:31; 2 Korinthiërs 4:4; Openbaring 12:9). Sy invloed op die godsdiens, die politiek en die handel van hierdie wêreld was verantwoordelik vir die gruwels wat my pa in die Eerste Wêreldoorlog gesien het. Uiteindelik het my pa die antwoorde gevind waarna hy gesoek het.

Ywerige bediening

My pa het lektuur van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap bestel en dit onder sy familielede en daarna van huis tot huis begin versprei. Hans Stossier, ’n jong buurman van net 20, het spoedig saam met hom aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem. Kort daarna het vyf van ons familielede Getuies geword—my pa se broer Franz, sy vrou Anna, en later hulle seun Anton, my pa se suster Maria en haar man Hermann.

Dit het omtrent ’n opskudding in ons dorpie St. Martin veroorsaak. Op skool het ’n leerling vir ons Katolieke onderwyser gevra: “Vader Loigge, wie is die nuwe god Jehovah wat Wohlfahrt aanbid?”

“Nee, nee, kinders”, het die priester geantwoord. “Dit is nie ’n nuwe god nie. Jehovah is die Vader van Jesus Christus. As hulle die boodskap uit liefde vir daardie God verkondig, is dit baie goed.”

Ek onthou hoe my pa baie keer die huis soggens 1:00 met ’n klomp Bybellektuur en ’n toebroodjie verlaat het. Ses of sewe uur later het hy die verste punt van sy predikingsgebied, naby die Italiaanse grens, bereik. Ek het hom op korter uitstappies vergesel.

Ondanks sy openbare bediening het my pa nie sy eie gesin se geestelike behoeftes verwaarloos nie. Toe ek omtrent tien was, het hy ’n gereelde weeklikse Bybelstudie met ons ses begin en die boek Die harp van God gebruik. By ander tye was ons huis vol belangstellende bure en familielede. Daar was spoedig ’n gemeente van 26 Koninkryksverkondigers in ons dorpie.

Hitler kom aan die bewind

Hitler het in 1933 in Duitsland aan die bewind gekom, en die vervolging van Jehovah se Getuies het weldra daar toegeneem. In 1937 het my pa ’n byeenkoms in Praag, Tsjeggo-Slowakye, bygewoon. Byeenkomsgangers is gewaarsku dat beproewinge voorlê; dus het my pa ons almal by sy terugkeer aangespoor om ons op vervolging voor te berei.

Intussen het ek my op die ouderdom van 16 laat inboek om ’n huisverwerleerling te word. Ek het by ’n baasverwer gewoon en ’n ambagskool bygewoon. ’n Bejaarde priester wat uit Duitsland gevlug het om van die Nazi-bewind weg te kom, het in die skool godsdiensonderrig gegee. Wanneer leerlinge hom met “Heil Hitler!” gegroet het, het hy sy misnoeë te kenne gegee en gevra: “Wat is verkeerd met ons geloof?”

Ek het die geleentheid benut en gevra waarom die Katolieke titels soos “U Eminensie” en “Heilige Vader” gebruik, aangesien Jesus gesê het dat al sy volgelinge broers is (Mattheüs 23:8-10). Die priester het erken dat dit verkeerd is om dit te doen en dat hy self in onguns was omdat hy geweier het om voor die biskop te buig en sy hand te soen. Toe het ek gevra: “Hoe is dit moontlik om mede-Katolieke met die Kerk se seën dood te maak?”

“Dít is die grootste skande!” het die priester uitgeroep. “Dit moet nooit weer gebeur nie. Ons is Christene en die Kerk moet nie by oorlog betrokke raak nie.”

Op 12 Maart 1938 het Hitler Oostenryk sonder weerstand binnegetrek en dit spoedig ’n deel van Duitsland gemaak. Die kerke het hulle gou aan sy kant geskaar. Trouens, minder as ’n week later het al ses Oostenrykse biskoppe, met inbegrip van kardinaal Theodore Innitzer, ’n vurige “plegtige verklaring” onderteken waarin hulle gesê het dat dit in die komende verkiesings “vir ons as biskoppe ’n vereiste en ’n landsplig as Duitsers is om vir die Duitse Ryk te stem”. (Sien bladsy 9.) Daar was ’n groot onthaal in Wenen waar kardinaal Innitzer een van die eerstes was wat Hitler met die Nazi-saluut gegroet het. Die kardinaal het alle Oostenrykse kerke gebied om die swastikavlag te laat wapper, hulle klokke te lui en vir die Nazi-diktator te bid.

Die politieke stemming in Oostenryk het skynbaar oornag verander. Stormsoldate in hulle bruin uniforms met swastika-moubande het soos paddastoele opgeskiet. Die priester wat vroeër gesê het dat die Kerk nie by oorlog betrokke moet raak nie, was een van die min priesters wat geweier het om “Heil Hitler!” te sê. Die volgende week het ’n nuwe priester hom vervang. Die eerste ding wat hy gedoen het toe hy die klas binnekom, was om sy hakke te klap, sy arm in ’n saluut te lig en te sê: “Heil Hitler!”

Druk om toe te gee

Almal is aan die druk van die Nazi’s blootgestel. Wanneer ek mense gegroet het deur “Guten Tag” (Goeiedag) in plaas van “Heil Hitler” te sê, het hulle kwaad geword. Ek is sowat 12 keer by die Gestapo aangekla. ’n Klomp stormsoldate het eenkeer die baasverwer by wie ek gewoon het, gedreig deur te sê dat ek na ’n konsentrasiekamp gestuur sou word as ek nie salueer en by die Hitlerjeug aansluit nie. Die verwer, ’n Nazi-ondersteuner, het hulle gevra om geduldig met my te wees, aangesien hy daarvan seker was dat ek mettertyd sou verander. Hy het verduidelik dat hy my nie wou verloor nie omdat ek ’n goeie werker was.

Met die Nazi-oorname was daar groot optogte wat tot laat in die nag voortgeduur het, en mense het slagspreuke op fanatiese wyse geskreeu. Die radio’s het daagliks geblêr met toesprake deur Hitler, Goebbels en ander. Die Katolieke Kerk se onderworpenheid aan Hitler het toegeneem namate die priesters gereeld vir Hitler gebid en hom geseën het.

My pa het my herinner aan die belangrikheid daarvan om ’n ferm standpunt in te neem en my lewe aan Jehovah toe te wy en om gedoop te word. Hy het ook met my gepraat oor Maria Stossier, ons buurman Hans se jonger suster, wat ’n standpunt vir Bybelwaarheid ingeneem het. Ek en Maria het besluit om te trou, en my pa het my aangespoor om op geestelike gebied ’n aanmoediging vir haar te wees. Ek en Maria is in Augustus 1939 deur haar broer Hans gedoop.

My pa se voorbeeldige onkreukbaarheid

My pa is die volgende dag vir militêre diens opgeroep. Hoewel sy swak gesondheid, weens die ontberinge wat hy gedurende die Eerste Wêreldoorlog gely het, hom in elk geval nie sou toegelaat het om diens te doen nie, het my pa vir die ondervraers gesê dat hy as ’n Christen nooit weer by oorlog betrokke sou raak soos toe hy ’n Katoliek was nie. Hy is weens hierdie opmerking vir verdere ondersoek aangehou.

’n Week later, toe Duitsland Pole binnegeval het, wat die Tweede Wêreldoorlog ontketen het, is hy na Wenen geneem. Terwyl hy daar gevange gehou is, het die burgemeester van ons streek geskryf en beweer dat my pa daarvoor verantwoordelik was dat ander Getuies geweier het om Hitler te steun en dat my pa dus tereggestel moes word. As gevolg daarvan is my pa na Berlyn gestuur en kort daarna gevonnis om onthoof te word. Hy is dag en nag in kettings aangehou in die Moabit-tronk.

Ek het intussen namens die gesin vir my pa geskryf en vir hom vertel dat ons vasbeslote is om sy getroue voorbeeld te volg. My pa was oor die algemeen nie ’n emosionele man nie, maar ons kon sien hoe hy gevoel het toe sy laaste brief aan ons met trane bevlek was. Hy was só bly dat ons sy standpunt verstaan het. Hy het aanmoedigende woorde geskryf en ons elkeen by name genoem en ons aangespoor om getrou te bly. Sy hoop op die opstanding was sterk.

Benewens my pa was daar ongeveer 24 Getuies in die Moabit-tronk opgesluit. Hooggeplaaste amptenare van Hitler het hulle probeer oorreed om hulle geloof prys te gee, maar sonder welslae. In Desember 1939 is 25 Getuies tereggestel. Toe my ma van my pa se teregstelling verneem, het sy gesê hoe dankbaar sy teenoor Jehovah is dat Hy my pa die krag gegee het om tot die dood toe getrou te bly.

My toetse begin

’n Paar weke later is ek vir werkdiens opgeroep, maar ek het spoedig uitgevind dat die vernaamste werksaamheid militêre opleiding was. Ek het verduidelik dat ek nie in die leër sou dien nie, maar dat ek ander werk sou doen. Toe ek egter weier om Nazi-oorlogsliedere te sing, het die offisiere woedend geword.

Die volgende oggend het ek in burgerklere verskyn in plaas van in die militêre uniform wat ek ontvang het. Die verantwoordelike offisier het gesê dat hy nie anders kan as om my in die kerker op te sluit nie. Daar het ek van brood en water geleef. Ek is later meegedeel dat daar ’n vlagsalueringsplegtigheid sou wees, en ek is gewaarsku dat weiering om daaraan deel te neem daartoe sou lei dat ek geskiet word.

Daar was 300 rekrute sowel as militêre offisiere op die opleidingsterrein. Ek is beveel om verby die offisiere en die swastikavlag te loop en die Hitler-saluut te gee. Met die geestelike krag wat ek uit die Bybelverslag oor die drie Hebreërs geput het, het ek net “Guten Tag” (Goeiedag) gesê toe ek verbygeloop het (Daniël 3:1-30). Ek is beveel om weer verby te stap. Dié keer het ek niks gesê nie, net geglimlag.

Toe vier offisiere my na die kerker terugneem, het hulle vir my gesê dat hulle gebewe het omdat hulle verwag het dat ek geskiet sou word. “Hoe is dit moontlik”, het hulle gevra, “dat jy geglimlag het en ons so senuweeagtig was?” Hulle het gesê hulle wens dat hulle my moed gehad het.

’n Paar dae later het dr. Almendinger, ’n hooggeplaaste offisier van Hitler se hoofkwartier in Berlyn, in die kamp aangekom. Ek is ontbied om voor hom te verskyn. Hy het verduidelik dat die wette baie strenger geword het. “Jy het nie die geringste idee wat op jou wag nie”, het hy gesê.

“O ja, ek het”, het ek geantwoord. “My pa is net ’n paar weke gelede om dieselfde rede onthoof.” Hy was verstom en het niks verder gesê nie.

Later het ’n ander hooggeplaaste offisier uit Berlyn daar aangekom, en verdere pogings is aangewend om my van mening te laat verander. Nadat hy gehoor het waarom ek nie God se wette sal verbreek nie, het hy my hand geneem en, met trane wat oor sy gesig gestroom het, gesê: “Ek wil jou lewe red!” Al die offisiere wat toegekyk het, was diep ontroer. Ek is toe na die kerker teruggeneem waar ek altesaam 33 dae deurgebring het.

Verhoor en opsluiting

In April 1940 is ek na ’n tronk in Fürstenfeld verskuif. ’n Paar dae later het my verloofde, Maria, en my broer Gregor my besoek. Gregor was net een en ’n half jaar jonger as ek, en hy het op skool ’n ferm standpunt vir Bybelwaarheid ingeneem. Ek onthou hoe hy ons jonger broers aangespoor het om op vervolging voorbereid te wees en gesê het dat daar slegs een weg is, en dit is om Jehovah te dien! Die kosbare uur waarin ons mekaar aangemoedig het, was die laaste keer dat ek hom lewend gesien het. Ek is later, in Graz, tot vyf jaar dwangarbeid gevonnis.

In die herfs van 1940 is ek op ’n trein na ’n werkkamp in Tsjeggo-Slowakye gesit, maar ek is in Wenen gehou en daar in die gevangenis gesit. Die toestande was haglik. Ek het nie net honger gely nie, maar is snags deur groot goggas gebyt wat my vel laat bloei en brand het. Ek is teruggeneem na die gevangenis in Graz om redes wat op daardie stadium vir my duister was.

Daar was belangstelling in my geval omdat Jehovah se Getuies deur die Gestapo beskryf is as fanatiese martelaars wat die doodsvonnis wou hê om ’n hemelse beloning te ontvang. Ek

het gevolglik twee dae lank ’n goeie geleentheid gehad om voor ’n professor en agt studente van die Universiteit van Graz te praat en te verduidelik dat slegs 144 000 mense hemel toe geneem sal word om saam met Christus te regeer (Openbaring 14:1-3). Ek het gesê dat dit my hoop is om die ewige lewe in paradystoestande op die aarde te geniet.—Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

Ná twee dae van ondervraging het die professor gesê: “Ek het tot die slotsom gekom dat jy vierkant op die aarde is. Dit is nie jou begeerte om te sterf en hemel toe te gaan nie.” Hy het sy spyt uitgespreek oor die vervolging van Jehovah se Getuies en my voorspoed toegewens.

Vroeg in 1941 het ek my op ’n trein op pad na die Rollwald-werkkamp in Duitsland bevind.

Die harde kamplewe

Rollwald was tussen die stede Frankfort en Darmstadt geleë en het ongeveer 5000 gevangenes gehad. Elke dag het om 5:00 vm. met rollesing begin, wat sowat twee uur geduur het, aangesien offisiere hulle tyd geneem het om hulle gevangenelys by te werk. Ons moes doodstil staan, en baie gevangenes is erg geslaan omdat hulle nie absoluut stil gestaan het nie.

Ontbyt het bestaan uit brood wat gemaak is van meel, saagsels en aartappels wat dikwels vrot was. Daarna het ons in die moeras gaan werk en slote gegrawe om die grond vir landboudoeleindes droog te lê. Nadat ons heeldag sonder ordentlike skoene in die moeras gewerk het, het ons voete soos sponse geswel. My voete het eenkeer iets opgedoen wat na gangreen gelyk het, en ek het gevrees dat hulle afgesit sou moes word.

Smiddags het ons waar ons gewerk het ’n proefbrousel van sogenaamde sop ontvang. Rape of kool is vir smaak bygesit, en soms is die gemaalde karkasse van siek diere daarvoor gebruik. Ons monde en kele het gebrand, en baie van ons het groot swere gekry. Saans het ons nog “sop” gekry. Baie gevangenes het hulle tande verloor, maar ek het gehoor dat dit belangrik is om jou tande besig te hou. Ek het aan ’n stukkie dennehout of aan haselaartakkies gekou en het nooit my tande verloor nie.

Ek bly geestelik sterk

In ’n poging om my my geloof te laat prysgee, het die wagte my afgesonder sodat ek nie kontak met ander Getuies sou hê nie. Aangesien ek geen Bybellektuur gehad het nie, het ek aan tekste gedink wat ek gememoriseer het, soos Spreuke 3:5, 6, wat ons aanspoor om ‘met ons hele hart op Jehovah te vertrou’, en 1 Korinthiërs 10:13, wat beloof dat Jehovah nie sal ‘toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie’. Deur aan sulke tekste te dink en in gebed op Jehovah te steun, is ek versterk.

Ek kon soms ’n Getuie sien wat van ’n ander kamp geskuif word. As ons nie die geleentheid gehad het om te praat nie, het ons mekaar aangemoedig om vas te staan deur ’n knik van die kop of ’n gebalde vuis in die lug. Ek het af en toe briewe van Maria en my ma ontvang. In een van die briewe het ek van my dierbare broer Gregor se dood verneem, en in ’n ander brief, teen die einde van die oorlog, van die teregstelling van Hans Stossier, Maria se broer.

Later is ’n gevangene na ons kamp oorgeplaas wat Gregor geken het toe hulle saam in die Moabit-tronk in Berlyn was. Ek het by hom die besonderhede gehoor van wat gebeur het. Gregor is gevonnis om onder die guillotine te sterf, maar in ’n poging om hom sy onkreukbaarheid te laat prysgee, is die gebruiklike wagtydperk voor die teregstelling tot vier maande verleng. Gedurende daardie tyd is allerhande vorme van druk uitgeoefen om hom te laat swig—sy hande en voete is met swaar kettings geboei, en hy het selde kos gekry. Nogtans het hy nooit gewankel nie. Hy was getrou tot die einde toe—14 Maart 1942. Hoewel die nuus my hartseer gemaak het, het dit my versterk om aan Jehovah getrou te bly, wat ook al gebeur.

Met verloop van tyd het ek ook verneem dat my jonger broers Kristian en Willibald en my jonger susters Ida en Anni na ’n klooster in Landau, Duitsland, geneem is wat as ’n verbeteringshuis gebruik is. Die seuns is vreeslik geslaan omdat hulle geweier het om “Heil Hitler” te sê.

Geleenthede om te getuig

Die meeste mense in die barakke waarin ek was, was politieke gevangenes en misdadigers. Ek het dikwels saans vir hulle getuig. Een van hulle was ’n Katolieke priester van Kapfenberg met die naam Johann List. Hy is gevange geneem omdat hy vir sy gemeente dinge vertel het wat hy op ’n Britse uitsaaistasie gehoor het.

Johann het dit baie swaar gehad omdat hy nie aan swaar fisiese werk gewoond was nie. Hy was ’n aangename man, en ek het hom gehelp om sy werkkwota te bereik sodat hy nie in die moeilikheid sou kom nie. Hy het gesê dat hy hom geskaam het dat hy in die tronk is weens politieke redes en nie weens getrouheid aan Christelike beginsels nie. “Jy ly werklik as ’n Christen”, het hy gesê. Toe hy ongeveer ’n jaar later vrygelaat is, het hy beloof om my ma en my verloofde te besoek, en hy het sy belofte nagekom.

Die lewe word vir my beter

Laat in 1943 het ons ’n nuwe kampbevelvoerder gekry met die naam Karl Stumpf, ’n lang witkopman wat toestande in ons kamp begin verbeter het. Sy villa moes geverf word en toe hy uitvind dat ek ’n verwer van ambag was, het ek die werk gekry. Dit was die eerste keer dat ek van die werk in die moeras weggeneem is.

Die bevelvoerder se vrou het dit moeilik gevind om te verstaan waarom ek gevange gehou word, al het haar man verduidelik dat ek weens my geloof as een van Jehovah se Getuies daar is. Sy het haar oor my ontferm omdat ek so maer was en het vir my kos gegee. Sy het vir my meer werk gereël sodat ek fisies sterker kon word.

Toe gevangenes van die kamp teen die einde van 1943 opgeroep is om in die voorste linie te gaan veg, het my goeie verhouding met bevelvoerder Stumpf my gered. Ek het aan hom verduidelik dat ek eerder sou sterf as om bloedskuldig te word deur aan oorlog deel te neem. Hoewel my neutraliteit hom in ’n moeilike posisie geplaas het, was hy in staat om my naam af te hou van die lys van diegene wat opgeroep word.

Die laaste dae van die oorlog

Gedurende Januarie en Februarie van 1945 het laagvlieënde Amerikaanse vliegtuie ons bemoedig deur biljette uit te strooi wat gesê het dat die oorlog na aan sy einde is. Bevelvoerder Stumpf, wat my lewe gered het, het my van burgerklere voorsien en sy villa as skuilplek aangebied. Toe ek die kamp verlaat, het ek oorweldigende chaos gesien. Byvoorbeeld, kinders in oorlogsuniform, met trane wat oor hulle gesig stroom, het vir die Amerikaners gevlug. Ek het uit vrees dat ek SS-offisiere sou raakloop wat sou wonder waarom ek nie ’n geweer dra nie, besluit om na die kamp terug te keer.

Ons kamp is spoedig heeltemal deur Amerikaanse troepe omsingel. Op 24 Maart 1945 het die kamp oorgegee deur wit vlae te hys. Hoe verbaas was ek tog om te verneem dat daar ander Getuies in ander dele van die kamp was wat ook danksy bevelvoerder Stumpf nie tereggestel is nie! Wat ’n blye ontmoeting het ons tog gehad! Toe bevelvoerder Stumpf gevange geneem is, het baie van ons die Amerikaanse offisiere genader en persoonlik en per brief ten behoewe van hom getuienis afgelê. As gevolg daarvan is hy drie dae later vrygelaat.

Tot my verbasing was ek die eerste van die sowat 5000 gevangenes wat vrygelaat is. Ná vyf jaar gevangenskap het ek gevoel asof ek droom. Ek het Jehovah met trane van vreugde in gebed gedank dat hy my lewend bewaar het. Duitsland het eers op 7 Mei 1945, ongeveer ses weke later, oorgegee.

Nadat ek vrygelaat is, het ek onmiddellik met ander Getuies in die gebied in verbinding getree. ’n Bybelstudiegroep is georganiseer, en gedurende die daaropvolgende weke het ek baie ure daaraan bestee om vir die mense in die gebied rondom die kamp te getuig. Ek het terselfdertyd werk as ’n verwer gekry.

Terug by die huis

In Julie was ek in staat om ’n motorfiets te koop, en toe het my lang tog huis toe begin. Die reis het etlike dae geduur, aangesien baie van die brûe langs die hoofweg opgeblaas is. Toe ek uiteindelik by die huis in St. Martin aankom, het ek met die pad opgery en Maria sien koring oes. Toe sy my uiteindelik herken, het sy aangehardloop gekom. Jy kan jou die gelukkige hereniging voorstel. My ma het haar sens neergegooi en ook aangehardloop gekom. Nou, 49 jaar later, is my ma 96 jaar oud en blind. Haar verstand is nog helder, en sy is steeds ’n getroue Getuie van Jehovah.

Ek en Maria is in Oktober 1945 getroud, en in die jare sedertdien het ons dit geniet om Jehovah saam te dien. Ons is geseën met drie dogters, ’n seun en ses kleinkinders, en hulle almal dien Jehovah met ywer. Oor die jare het ek die bevrediging gesmaak om baie mense te help om hulle standpunt vir Bybelwaarheid in te neem.

Die moed om te volhard

Ek is al baie keer gevra hoe ek as ’n blote jongeling in staat was om geen vrees vir die dood te hê nie. Wees verseker—Jehovah God voorsien die krag om te volhard as ’n mens vasbeslote is om lojaal te bly. ’n Mens leer baie gou om ten volle op hom te vertrou deur gebed. En die wete dat ander, onder meer my eie pa en broer, tot die dood toe getrou volhard het, het my gehelp om ook lojaal te bly.

Dit was nie net in Europa dat Jehovah se volk nie in oorlog kant gekies het nie. Ek onthou dat een van Hitler se hooggeplaaste amptenare gedurende die Neurenberg-verhoor in 1946 oor die vervolging van Jehovah se Getuies in konsentrasiekampe ondervra is. Hy het ’n koerantuitknipsel uit sy sak gehaal wat berig het dat duisende van Jehovah se Getuies in die Verenigde State in Amerikaanse gevangenisse was weens hulle neutraliteit gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Waarlik, ware Christene volg moedig die voorbeeld van Jesus Christus na, wat onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf het totdat hy sy laaste asem uitgeblaas het. Ek dink vandag nog dikwels aan die 14 lede van ons gemeentetjie in St. Martin tydens die dertiger- en veertigerjare wat, uit liefde vir God en hulle medemens, geweier het om Hitler se oorlog te steun en om daardie rede om die lewe gebring is. Wat ’n wonderlike hereniging sal dit tog wees wanneer hulle opgewek word om vir ewig die lewe in God se nuwe wêreld te geniet!

[Prent op bladsy 8]

My pa

[Prente op bladsy 8, 9]

Onder en links: Kardinaal Innitzer stem vir die Duitse Ryk

Regs: Die “Plegtige verklaring” waarin ses biskoppe verklaar dat dit hulle ‘landsplig is om vir die Duitse Ryk te stem’

[Erkenning]

UPI/Bettmann

[Prent op bladsy 10]

In 1939 het ek en Maria verloof geraak

[Prent op bladsy 13]

Ons gesin. Van links na regs: Gregor (onthoof), Anni, Franz, Willibald, Ida, Gregor (pa, onthoof), Barbara (ma) en Kristian

[Prent op bladsy 15]

Ek en Maria vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel