Vind bejaardes by oefening baat?
“Kan oefening die verouderingsproses vertraag?” Dit was bykans vyf jaar gelede ’n opskrif in The New York Times. Die artikel het gesê: “Mediese wetenskaplikes aan die Tufts-universiteit [in Boston] het gevind dat mense tot in die 90 sterker kan word en selfs hulle spiere kan vergroot as hulle ’n strawwe oefenprogram met gewigte volg.”
Die bewyse dat bejaardes inderdaad by oefening kan baat vind, het bly toeneem. Die Harvard Health Letter vir Februarie 1991 het die volgende oor ’n studie gesê wat in 1990 uitgevoer is: “Nege [inwoners van verpleeginrigtings] tussen die ouderdomme van 87 en 96 het twee maande van intensiewe weerstandsoefeninge met die gebruik van gewigte voltooi.” Die Mayo Clinic Nutrition Letter het aangaande hierdie studie gesê: “Deelnemers het die sterkte van hulle beenspiere bykans verdubbel en hulle bobeenspiere met 9 persent vergroot, en toetse het getoon dat hulle beweeglikheid verbeter het.”
Die navorsers het berig: “Die gunstige reaksie op oefeninge wat spierkrag verbeter in ons proefpersone is merkwaardig in die lig van hulle baie hoë ouderdom, uiters onbedrywige gewoontes, verskeie chroniese siektes en funksionele gebreke en voedingstekorte.” Die waarde van oefening is keer op keer bewys.
Neem die voorbeeld van 90-jarige Jack Siebert, wat in 1979 ’n beroerte gehad het wat sy regterkant verlam het sodat hy nie sonder die hulp van ’n loopraam kon loop nie. Meer as tien jaar lank het hy feitlik elke oggend in die bed gelê en sy gesonde linkerbeen omhoog gehou terwyl hy omtrent 20 minute lank fietstrapbewegings daarmee uitgevoer het. Soms het hy die verlamde regterbeen op die linkerbeen laat rus (soos in die foto) en met die twee bene saam sirkelbewegings gemaak. Hierdie gereelde oefening het nie alleen sy beenspiere versterk sodat hy steeds met ’n loopraam kan loop nie, maar dit het hom gehelp om sy hart-bloedvatestelsel gesond te hou en het sy verstand helder gehou.
Onthou dus, dit is nooit te laat om te begin oefen nie. Jy sal weliswaar dalk nooit die Bostonse marathon—’n wedloop van 42 kilometer—binne vyf uur en vyf minute kan hardloop soos die 82-jarige John Kelley in 1990 gedoen het nie. Dit is ook onwaarskynlik dat jy die afstand binne sewe uur en nege minute sal kan aflê soos die 84-jarige oumagrootjie Mavis Lindgren in 1991 gedoen het. Circulation, ’n tydskrif van die Amerikaanse Hartvereniging, het nietemin verlede jaar gesê: “Dit is belangrik dat ons ’n gewoonte daarvan maak om na maniere te soek waarop ons aktief kan wees.”
Die tydskrif het verduidelik: “Selfs ligte bedrywighede wat daagliks gedoen word, kan langtermyn gesondheidsvoordele inhou en die gevaar van kardiovaskulêre siekte verminder. Sulke bedrywighede is om onder andere vir die plesier te stap, tuin te maak, takies om die huis te verrig, huiswerk te doen, te dans en voorgeskrewe tuisoefeninge te doen.”
[Prent op bladsy 23]
’n Bejaarde, gestremde persoon kan by oefening baat vind, soos hierdie 90-jarige slagoffer van beroerte gevind het