Ons beskou die wêreld
Skrikwekkende toename in tuberkulose
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê dat tuberkulose oor die hele wêreld pandemiese afmetings aangeneem het en waarsku dat meer as 30 miljoen mense in die volgende tien jaar aan hierdie siekte sal sterf tensy iets gedoen word om te keer dat dit verder versprei. Hoewel TB voorkombaar en behandelbaar is, het die aantal gevalle in die laaste jare skerp toegeneem. Nou kry agtmiljoen mense hierdie siekte elke jaar. Volgens die WGO is die herlewing van die siekte deels die gevolg van openbare belange wat verwaarloos word en beheerprogramme wat swak bestuur word. Nog ’n faktor in die toename is die sterk skakel tussen TB en besmetting met HIV (die virus wat tot vigs lei). Iemand wat met HIV besmet is se kanse is 25 keer groter om potensieel noodlottige TB op te doen. Meer as 95 persent van die sterfgevalle weens TB vind in die ontwikkelende wêreld plaas.
Dele van die Bybel in meer as 2000 tale
Die Verenigde Bybelgenootskappe (VBG) het bekend gemaak dat dele van die Bybel gedurende 1992 in nog 31 tale vertaal is; die hoeveelheid tale waarin ten minste een boek van die Bybel nou beskikbaar is, is al 2009. Hierdie syfer sal binnekort verder styg omdat die VBG besig is om dele van die Bybel in 419 bykomende tale te vertaal. Volledige Bybels is nou in 329 tale beskikbaar en die “Nuwe Testament” in 770 ander tale. “Skattings van hoeveel tale daar in die wêreld is”, skryf Ecumenical Press Service, “wissel van 5000 tot 6500.” Interessant genoeg is die hoeveelheid Bybels wat tot 1993 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., in hulle geheel of gedeeltelik gedruk is meer as 83 miljoen.
Nuttige ou rubberbande
In Brasilië moet 17 miljoen motorbande jaarliks vervang word. Maar die tydskrif Superinteressante berig dat sulke ou bande goed gebruik kan word, naamlik deur die rubber te hersiklusseer en dit met asfalt te meng wat dan gebruik word om padoppervlaktes te vernuwe. Hoewel die hersiklussering van rubberbande nie ’n nuwe idee is nie, is die gebruik van bande in asfalt wel. Daar word gehoop dat hierdie prosedure “die enorme berge vullis wat op die planeet ophoop aansienlik sal verminder”.
Vigs in suidelike Afrika
Die verspreiding van vigs in die suidelikste dele van Afrika duur onverpoos voort. Gedurende 1992 was daar in Suid-Afrika daagliks meer as 50 mense positief vir vigs getoets. Aangesien dit nie diegene insluit wat in die land se digbevolkte onafhanklike state woon nie, is die daaglikse aantal potensiële vigs-slagoffers veel hoër. The Star van Johannesburg berig dat “die snelle verspreiding van vigs deur suidelike Afrika alom as een van die dringendste uitdagings van die komende dekade beskou word”.
Hondsdolheid keer terug
Hondsdolheid, wat eens in Natal uitgewis is, is nou aan die toeneem. In Natal en naburige Mosambiek het baie mense die platteland verlaat, na stedelike gebiede gemigreer en hulle troeteldiere saamgebring. Inentingsprogramme kon nie al hierdie uitgewekenes bereik nie. In 1992 is meer as 300 gevalle van hondsdolheid in die gebied aangemeld. Die meeste van die 29 sterftes wat hieruit voortgespruit het, was onder kinders. Paul Kloeck, streeksdirekteur van veeartsenydienste, sê mismoedig: “Dit is uiters moeilik om die baie mense te bereik wat in informele nedersettings woon.” Hy sê: “Politieke geweld, kulturele besware en ’n vrees vir samekomste dwarsboom ons programme.”
Boeddhisme met jazz
Dit was ’n eienaardige kombinasie: duisend Boeddhistepriesters van oral in Japan het saam met top jazz-musici in Tokio se yslike Nippon Boedokan vergader om ’n konsert van sjomio en jazz aan te bied. Sjomio is in werklikheid die geïmproviseerde sing of singpraat van soetras, volgens Indiese styl, wat heeltemal anders as Westerse musiek is. Selfs met hulle uiteenlopende soorte musiek het die jazz-musici geen moeite gehad om hulle musiek met die soetras te harmonieer nie. “Ek dink dat daar op die een of ander manier ’n noue verband tussen improvisering en geestelike ontwaking in godsdiens bestaan”, het ’n gewilde jazz-pianis volgens The Daily Yomiuri gesê. Hy het bygevoeg: “Soms voel ek asof dit nie ek is wat die klavier speel nie, maar dat ’n vreemde mag uit ’n ander wêreld dit doen.”
Vrees vir misdaad in Duitsland
Twee uit elke 3 Duitsers beskou ekstremistegroepe as ’n gevaar vir demokrasie in daardie land. Ruim die helfte van die bevolking wil graag sien dat die Staat fermer teen gewelddadige betogers optree. Bykans 50 persent stem saam dat die polisie meer dikwels van knuppels en traanrook gebruik moet maak. Wat die stryd teen georganiseerde misdaad betref, het nagenoeg 60 persent die gebruik van afluistertoestelle goedgekeur om na gesprekke in woonhuise te luister. Dit was die uitslag van ’n meningspeiling op bykans 3000 mense wat die Emnid-instituut laat in 1992 gedoen het en waaroor daar in die Frankfurter Allgemeine Zeitung berig is.
Liefdesverhale met ’n verskil
Liefdesverhale wat oor ’n “romanse” tussen mans handel, het gedurende die laaste twee jaar in Japan gewild geword. Die ywerigste lesers is vroue, veral dié in hulle tienderjare en vroeë twintigerjare. Asahi Evening News sê dat hierdie tendens in liefdesverhale die land se homoseksuele ontstel. Dit het ’n homoseksuele skrywer, Masaki Sato, aangehaal wat gesê het: “In seksuele beskrywings van die tienerliefdesverhale word mans as voorwerpe van vroue se nuuskierigheid uitgebeeld.” Hy het verder gekla: “Vroue maak beswaar teen hoe mans vroue in pornografiese liefdesverhale uitbeeld. Nou is (homoseksuele) in ’n soortgelyke situasie.”
Vermiste kinders
In Italië verdwyn daar jaarliks honderde kinders spoorloos. Baie verlaat die huis soggens om skool toe te gaan en kom nooit weer terug nie. In 1992 alleen het 734 minderjariges verdwyn, 245 meer as die vorige jaar. Volgens ’n verslag deur die Italiaanse Departement van Binnelandse Sake is ’n totaal van 3063 nuwe sake geopen. Meer meisies as seuns verdwyn.
Wat maak jou gelukkig?
Dit maak mense klaarblyklik nie gelukkiger as hulle meer geld het nie. Die tydskrif Psychology Today sê: “Sodra ’n mens bo die broodlyn leef, het inkomsteverhogings verbasend min uitwerking op persoonlike geluk.” Daar word gesê dat die volgende faktore belangrik vir geluk is: ’n optimistiese, dog realistiese, lewensbeskouing; om vriendelik te wees en vriende te maak; om te voel dat jy in beheer van jou lewe is, wat die “doeltreffende gebruik van jou tyd” insluit, en om “bedrywig in jou godsdienslewe” te wees.
Nooit te laat om op te hou nie
Hoe gouer jy ophou rook, hoe kleiner is jou kans om aan longkanker te sterf. Volgens The Lancet het ’n onlangse studie van 900 000 Amerikaners die volgende feite aan die lig gebring. Onder nie-rokers was die aantal mense wat voor die ouderdom van 75 aan longkanker gesterf het minder as 50 per 100 000. Vir mans wat in hulle dertigerjare opgehou rook het, het die sterftesyfer tot omtrent 100 per 100 000 gestyg. Vir diegene wat in hulle sestigerjare opgehou het, het sterftes tot 550 per 100 000 toegeneem. Onder rokers wat glad nie opgehou het nie, was die aantal sterftes weens longkanker 1250 per 100 000. Die sterftesyfers onder vroue weens longkanker was laer, maar het ’n soortgelyke patroon getoon.
Foute in die laboratorium
Honderdduisende mense sterf elke jaar of word ernstig siek vanweë foute wat in mediese laboratoriums gemaak word, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie. Laboratoriums speel ’n belangrike rol om bloed en menslike weefsel te toets sodat siekte opgespoor en bevestig kan word. Verkeerde toetsuitslae kan tot ’n verkeerde diagnose en behandeling lei. In April het meer as 90 kenners van oor die hele wêreld in Genève, Switserland, byeengekom om die probleem te bespreek.
“Reusestede”
“Teen die einde van die eeu sal daar 21 ‘reusestede’ met bevolkings van 10 miljoen of meer wees”, sê die tydskrif Time. “Hiervan sal 18 in ontwikkelende lande wees, waaronder sommige van die armste lande ter wêreld is.” Dertien lande is reeds op die lys van stede met tienmiljoen of meer mense in hulle metropolitaanse gebiede. Tokio is boaan, met bykans 26 miljoen inwoners, gevolg deur Sao Paulo, New York-stad, Mexikostad, Sjanghai, Bombaai, Los Angeles, Buenos Aires, Seoel, Beijing, Rio de Janeiro, Kalkutta en Djakarta. Sommige stede in Afrika groei jaarliks teen 10 persent—die vinnigste tempo van verstedeliking wat al ooit aangeteken is—sê die Wêreldbank. Groter bevolkings beteken dikwels toenemende besoedeling en die gevaar van siektes.
Titanic-eise
Eienaars is drie maande gegee om enige van die 1800 voorwerpe op te eis wat uit die Titanic teruggevind is, sewe jaar ná die vergane skip in die ysige waters van Newfoundland opgespoor is. Aangesien die skip in 1912 op haar nooiensvaart gesink het, sal die meeste eisers waarskynlik erfgename van die 687 mense wees wat die tragedie oorleef het of van die 1513 wat omgekom het. Die versameling sluit horlosies en verskeie soorte juweliersware, munte, leergoedere en haarkappersitems in. Maar dit sal moeilik wees om eienaarskap te bewys aangesien min items name op het. Enigeen wat ’n item wil terugneem en bewys van eienaarskap kan voorlê, sal in elk geval tot die ekspedisie se koste van R16,2 miljoen moet bydra, volgens die voorwerp se markwaarde. Voorwerpe wat nie opgeëis word nie, sal die eiendom van die konsortium word wat die projek gefinansier het. Dit is interessant dat geeneen van die gebruiksitems wat gevind is van plastiek gemaak is nie.