Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 12/22 bl. 4-9
  • Oorwinning en tragedie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Oorwinning en tragedie
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Uiteindelik, ’n geneesmiddel!
  • ’n Dodelike terugkeer
  • Waarom die dodelike terugkeer?
  • HIV en TB—dubbele moeilikheid
  • TB wat teen verskeie geneesmiddels bestand is
  • Voorkoming en genesing
  • ’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose
    Ontwaak!—1999
  • ’n Dodelike bondgenootskap
    Ontwaak!—1998
  • ’n Dodetal wat met dié van oorlog meeding
    Ontwaak!—1997
  • Tering neem weer toe!
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 12/22 bl. 4-9

Oorwinning en tragedie

“Die verhaal van tuberkulose gedurende die afgelope 30 jaar was ’n verhaal van oorwinning en tragedie—die oorwinning van die wetenskaplikes wat die middel voorsien het om die siekte te beheer en uiteindelik uit te roei en die tragedie omdat hulle ontdekkings nie algemeen benut is nie.”—J. R. Bignall, 1982.

TUBERKULOSE (TB) maak mense al lank dood. Dit het die Inkas van Peru geteister lank voordat Europeërs Suid-Amerika toe gevaar het. Egiptenare is daardeur getref in die dae toe farao’s in glorie geheers het. Geskrifte uit die ou tyd toon dat groot sowel as klein in antieke Babilon, Griekeland en China aan TB gely het.

Van die 18de eeu af tot die vroeë 20ste eeu was TB die vernaamste doodsoorsaak in die Westerse wêreld. Uiteindelik, in 1882, het die Duitse dokter Robert Koch amptelik aangekondig dat hy die basil ontdek het wat vir die siekte verantwoordelik is. Dertien jaar later het Wilhelm Röntgen x-strale ontdek, wat dit moontlik gemaak het om die longe van lewende mense vir tekens van tuberkuloseletsels te ondersoek. Toe, in 1921, het Franse wetenskaplikes ’n entstof teen TB gemaak. BCG (Basil Calmette-Guérin), wat na die wetenskaplikes vernoem is wat dit ontdek het, is die enigste beskikbare entstof teen die siekte. TB het nietemin ’n verskriklike tol bly eis.

Uiteindelik, ’n geneesmiddel!

Geneeshere het TB-pasiënte na sanatoriums gestuur. Hierdie hospitale was dikwels in die berge geleë, waar pasiënte kon rus en vars lug kon inasem. Toe, in 1944, het dokters in die Verenigde State streptomisien ontdek, die eerste antibiotikum wat TB doeltreffend teëwerk. Die ontwikkeling van ander TB-teenmiddels het gou gevolg. Uiteindelik kon TB-pasiënte genees word, selfs in hulle eie huise.

Namate besmettingsyfers vinnig gedaal het, het die toekoms rooskleurig gelyk. Sanatoriums het toegemaak, en fondse vir TB-navorsing het opgeraak. Voorkomingsprogramme is laat vaar, en wetenskaplikes en dokters het nuwe mediese uitdagings gesoek.

Hoewel TB nog sy tol in die ontwikkelende wêreld geëis het, sou dinge ongetwyfeld verbeter. TB was iets van die verlede. Dit is wat mense gedink het, maar hulle was verkeerd.

’n Dodelike terugkeer

In die middeltagtigerjare het TB op ’n afgryslike en dodelike manier teruggekeer. Toe, in April 1993, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) TB as “’n wêreldnoodtoestand” verklaar en bygevoeg dat “die siekte binne die volgende dekade meer as 30 miljoen lewens sal eis tensy daar onmiddellik opgetree word om die verspreiding daarvan te keer”. Dit was die eerste verklaring van sy soort in die WGO se geskiedenis.

Sedertdien het geen ‘onmiddellike optrede’ die verspreiding van die siekte gestuit nie. Trouens, die situasie het vererger. Onlangs het die WGO berig dat meer mense gedurende 1995 aan TB dood is as in enige ander jaar in die geskiedenis. Die WGO het ook gewaarsku dat tot 500 miljoen mense gedurende die volgende 50 jaar TB kan opdoen. Al hoe meer mense sal slagoffers word van ’n soort TB wat dikwels ongeneeslik en teen verskeie geneesmiddels bestand is.

Waarom die dodelike terugkeer?

Een rede is dat TB-beheerprogramme gedurende die afgelope 20 jaar in baie wêrelddele agteruitgegaan of verdwyn het. Dit het daartoe gelei dat diegene met die siekte nie gou genoeg gediagnoseer en behandel is nie. Dit het weer meer sterfgevalle en die verspreiding van die siekte tot gevolg gehad.

Nog ’n rede vir die herverskyning van TB is die groeiende aantal arm, ondervoede mense wat in oorbevolkte stede woon, veral in die megastede van die ontwikkelende wêreld. Terwyl TB nie tot arm bevolkings beperk is nie—enigiemand kan TB kry—maak onhigiëniese en beknopte lewensomstandighede dit makliker vir infeksie om onder mense te versprei. Dit maak die kanse ook groter dat mense se immuunstelsel te swak sal wees om siekte te weerstaan.

HIV en TB—dubbele moeilikheid

’n Groot probleem is dat TB ’n dodelike vennootskap met HIV, die vigs-virus, aangegaan het. Van die geraamde eenmiljoen mense wat gedurende 1995 aan vigs-verwante oorsake gesterf het, het omtrent een derde aan TB gesterf. Dit is omdat HIV die liggaam se vermoë verswak om TB te weerstaan.

In die meeste mense vorder TB-infeksie nooit tot die punt waar dit siekte veroorsaak nie. Waarom nie? Omdat die TB-basille gevange gehou word in selle wat makrofage genoem word. Daar word hulle deur die persoon se immuunstelsel toegesluit, veral deur die T-limfosiete, of T-selle.

Die TB-basille is soos kobras in mandjies met deksels wat deeglik toemaak. Die mandjies is die makrofage, en die deksels is die T-selle. Wanneer die vigs-virus egter op die toneel verskyn, skop dit die deksels van die mandjies af. Wanneer dit gebeur, ontsnap die basille en kan hulle enige deel van die liggaam vryelik aanval.

Vigs-pasiënte staan derhalwe ’n baie groter kans om aktiewe TB te ontwikkel as mense wat ’n gesonde immuunstelsel het. “Mense wat HIV het, is ongelooflik vatbaar”, het ’n TB-spesialis in Skotland gesê. “Twee HIV-pasiënte by ’n kliniek in Londen het die siekte opgedoen nadat hulle in ’n gang gesit het toe ’n TB-pasiënt op ’n roltafel by hulle verbygestoot is.”

Vigs het dus gehelp om die TB-epidemie aan te blaas. Volgens een skatting sal die vigs-epidemie 1,4 miljoen gevalle van TB teen die jaar 2000 tot gevolg hê wat andersins nie sou voorgekom het nie. ’n Belangrike faktor in die toename van TB is nie net dat vigs-slagoffers hoogs vatbaar is vir die siekte nie, maar ook dat hulle TB aan ander mense kan oordra, waaronder diegene wat nie vigs het nie.

TB wat teen verskeie geneesmiddels bestand is

’n Laaste faktor wat die stryd teen TB moeiliker maak, is die verskyning van TB-soorte wat teen geneesmiddels bestand is. Hierdie supersoorte dreig om die siekte weer ongeneesbaar te maak, soos dit in die era voor antibiotika was.

Dit is ironies dat swak beheerde toediening van TB-teenmiddels die hoofoorsaak is van TB wat teen verskeie geneesmiddels bestand is. Doeltreffende behandeling van TB strek oor ten minste ses maande en vereis dat pasiënte vier geneesmiddels op gereelde grondslag neem. Die pasiënt sal dalk tot ’n dosyn pille per dag moet sluk. As pasiënte die geneesmiddels nie gereeld neem nie of die behandeling nie voltooi nie, ontwikkel daar soorte TB wat moeilik of onmoontlik is om dood te maak. Party soorte is bestand teen tot sewe van die gewone TB-geneesmiddels.

Die behandeling van pasiënte met TB wat teen verskeie geneesmiddels bestand is, is nie net moeilik nie, dit is ook duur. Die koste kan byna 100 keer meer wees as die koste om ander TB-pasiënte te behandel. Byvoorbeeld, in die Verenigde State kan die mediese onkoste vir die behandeling van ’n enkele geval meer as R1100 000 beloop!

Die WGO raam dat ongeveer 100 miljoen mense regoor die wêreld dalk besmet is met TB-soorte wat teen geneesmiddels bestand is, en party van hierdie soorte kan nie deur enige bekende TB-teenmiddels genees word nie. Hierdie dodelike soorte is net so aansteeklik soos die gewone soorte.

Voorkoming en genesing

Wat word gedoen om hierdie wêreldnoodtoestand teë te werk? Die beste manier om die siekte te beheer, is om aansteeklike gevalle in ’n vroeë stadium op te spoor en te genees. Dit help nie net diegene wat reeds siek is nie, maar keer ook dat die siekte na ander versprei.

Wanneer TB nie behandel word nie, maak dit meer as die helfte wat daaraan ly dood. Maar wanneer dit behoorlik behandel word, is TB in byna elke geval geneesbaar as dit nie veroorsaak word deur ’n soort TB wat teen ’n verskeidenheid geneesmiddels bestand is nie.

Soos ons gesien het, vereis doeltreffende behandeling dat die pasiënte die hele kursus geneesmiddels voltooi. Dikwels doen hulle dit nie. Waarom nie? Wel, hoes, koors en ander simptome verdwyn gewoonlik ’n paar weke nadat die behandeling begin. Baie pasiënte maak dus die gevolgtrekking dat hulle genees is en hou op om die medisyne te neem.

Om hierdie probleem teë te werk, bevorder die WGO ’n program wat DOTS genoem word en wat staan vir “kortkursusbehandeling onder direkte toesig”. Soos die naam aandui, hou gesondheidswerkers pasiënte dop om seker te maak dat hulle elke dosis medisyne drink, ten minste vir die eerste twee maande van die behandeling. En tog is dit nie altyd maklik om dit te doen nie, want baie van dié wat aan TB ly, is behoeftige lede van die samelewing. Aangesien hulle lewe dikwels vol moeilikheid en probleme is—party is selfs haweloos—kan dit ’n oorweldigende uitdaging wees om gereeld toe te sien dat hulle hulle medisyne neem.

Is daar dus enige vooruitsig dat hierdie plaag wat die mensdom teister finaal uitgeroei gaan word?

[Venster op bladsy 5]

TB-feiteblad

Beskrywing: TB is ’n siekte wat gewoonlik die longe aantas en verwoes, maar dit kan ook na ander dele van die liggaam versprei, veral die brein, die niere en die bene.

Simptome: TB van die longe kan hoesery, gewigs- en eetlusverlies, hewige swetery in die nag, swakheid, kortasemheid en borspyne veroorsaak.

Hoe dit gediagnoseer word: ’n Tuberkulienveltoets kan toon of iemand met die basil in aanraking was. ’n X-straalfoto van die bors kan letsels aan die longe toon, wat kan aandui dat daar ’n aktiewe TB-infeksie is. ’n Laboratoriumondersoek van die pasiënt se sputum is die betroubaarste manier om TB-basille op te spoor.

Wie moet getoets word: Diegene wat TB-simptome het of wat noue, herhaaldelike blootstelling aan ’n TB-pasiënt gehad het—veral in vertrekke met swak ventilasie.

Inenting: Daar is net een entstof—wat as BCG bekend staan. Dit voorkom ernstige TB in kinders, maar help nie veel vir adolessente en volwassenes nie. Die entstof sal ongeveer 15 jaar lank beskerming bied. BCG beskerm net diegene wat nie besmet is nie; dit is van geen nut vir diegene wat reeds besmet is nie.

[Venster op bladsy 6]

TB en die mode

Hoe vreemd dit ook al mag klink, TB is gedurende die 19de eeu geromantiseer, aangesien mense geglo het dat die simptome van die siekte tot sensitiewe, kunssinnige geaardhede bygedra het.

Die Franse toneel- en romanskrywer Alexandre Dumas het in sy Mémoires oor die vroeë 1820’s geskryf: “Dit was in die mode om aan borskwale te ly; almal het aan tering gely, veral digters; dit was goeie styl om voor die ouderdom van dertig te sterf.”

Die Engelse digter lord Byron het na bewering gesê: “Ek wil graag aan tering sterf . . . omdat die dames almal sal sê: ‘Kyk na daardie arme Byron, hoe interessant lyk hy tog terwyl hy doodgaan!’”

Die Amerikaanse skrywer Henry David Thoreau, wat blykbaar aan TB dood is, het geskryf: “’n Vervalle toestand en siekte is dikwels pragtig, soos . . . die koorsagtige gloed van tering.”

’n Artikel in The Journal of the American Medical Association het kommentaar gelewer oor hierdie beheptheid met TB en gesê: “Hierdie paradoksale geneentheid vir die siekte het modevoorkeure deurtrek; vroue het gestreef na ’n bleek, brose voorkoms, het verwitte grimering gebruik en dun moeselienrokke verkies—baie soos die effek wat hedendaagse modelle met ’n anorektiese voorkoms probeer verkry.”

[Venster op bladsy 7]

Is dit maklik om TB te kry?

“Daar kan nêrens vir die tuberkulosebakterieë weggekruip word nie”, waarsku dr. Arata Kochi, direkteur van die WGO se Wêreldwye TB-program. “Enigiemand kan TB kry deur eenvoudig ’n TB-kiem in te asem wat in die lug in gehoes of genies is. Hierdie kieme kan ure, selfs jare, lank in die lug bly hang. Ons almal verkeer in gevaar.”

Voordat iemand aan TB siek word, moet twee dinge egter gebeur. Eerstens moet hy of sy met TB-bakterieë besmet word. Tweedens moet die infeksie tot siekte vorder.

Hoewel dit moontlik is om besmet te raak deur kortliks in aanraking te kom met ’n persoon wat die siekte in ’n hoogs aansteeklike graad het, is dit baie waarskynliker dat TB deur herhaalde aanraking versprei sal word, soos wanneer gesinslede in beknopte omstandighede saamwoon.

Die basille wat ingeasem word deur iemand wat besmet raak, vermenigvuldig in die bors. In 9 uit 10 mense keer die immuunstelsel egter die verspreiding van die infeksie, en die besmette persoon word nie siek nie. Maar partykeer kan die sluimerende basille geaktiveer word as die immuunstelsel erg verswak raak deur HIV, suikersiekte, kankerbehandeling met chemoterapie of ander oorsake.

[Foto-erkenning op bladsy 4]

New Jersey Medical School—National Tuberculosis Center

[Prent op bladsy 7]

TB-basille wat deur die vigs-virus vrygelaat word, is soos kobras wat uit mandjies vrygelaat word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel