Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/22 bl. 8-10
  • “Ons word nie iets ontsê nie!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ons word nie iets ontsê nie!”
  • Ontwaak!—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Kies om God te aanbid
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
  • “Waarom ek nie Kersfees vier nie”
    Ontwaak!—1994
  • Neem jou standpunt vir ware aanbidding in
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/22 bl. 8-10

“Ons word nie iets ontsê nie!”

Onderwysers en ander het al gesê dat die kinders van Jehovah se Getuies iets ontsê word omdat hulle nie aan die pret mag deelneem wanneer Kersfees, Paasfees en Allerheiligeaand by die skool gevier word nie. Hier volg ’n paar voorbeelde van die kommentare van kinders wat Jehovah se Getuies is en in briewe verduidelik het waarom húlle weier om enigsins aan hierdie feesdae deel te neem.

“HOEWEL ek aan my skoolmaats verduidelik het waarom ek nie hierdie dinge vier nie, het hulle steeds gevoel dat ek iets ontsê word. Maar dis nie waar nie! Jy sien, hulle moet altyd wag tot hulle Kersfees of die een of ander feesdag aanbreek om geskenke te kry, terwyl ek die hele jaar deur geskenke ontvang en partytjies bywoon. Ek weet dat nie net my gesin nie, maar ook die gemeente en Jehovah my liefhet, en dit is vir my meer spesiaal as enige feesdag.”—Becky, 13 jaar.

“Ek weet dat al die feesdae ’n slegte agtergrond het. Jesus is nie op Kersdag gebore nie. My gesin hoef niks te doen om vir sulke feesdae te vergoed nie. My gesin is altyd daar wanneer ek hulle nodig het. Dit beteken vir my meer as enige geskenk wat hulle my ooit kan gee.”—Josh, 15 jaar.

“Kersfees. Ek word nie iets ontsê nie, want dit is in elk geval nie werklik Christelik nie. Ek wil liewers weet dat my ouers vir my ’n geskenk gegee het en nie die een of ander geheimsinnige Sinterklaas-figuur nie. Paasfees. Met Paasfees is dit werklik moeilik omdat mense sal sê dis vir ‘Jesus en die opstanding’ of dis net ‘om eiers te soek’. Maar wat het eiers en Jesus in elk geval in gemeen? Selfs die naam Easter kom van ’n ou godin. Allerheiligeaand. Ek hou glad nie van die basiese idee van Allerheiligeaand nie. Spoke en hekse, SIES!”—Katie, 10 jaar.

“Ek het as jongmens nog nooit bitter gevoel omdat ek die viering van wêreldse feesdae mis nie. My ouers het nie vir my gesê ‘jy mag nie dit of dat doen omdat jy een van Jehovah se Getuies is nie’, maar hulle het my die Bybel en Jehovah se beskouing van hierdie feesdae geleer. Wat geskenke betref, in ons huis gee ons die hele jaar deur geskenke.”—Ryan, 17 jaar.

“Elke feesdag vier iets vals en vestig die aandag op valse dinge. Die meeste van die kinders wat ek ken, vier net feesdae ter wille van die lekkergoed of geskenke. Iets wat ek het wat beter is as feesdae is die wonderlike organisasie van Jehovah se Getuies. Jehovah God se Woord het ’n vreugdevolle boodskap wat ewigdurend is en nie net een dag, soos ’n feesdag, duur nie.”—Brooke, 14 jaar.

“Redes waarom ek nie feesdae mis nie: 1. Die Bybel sê dat hulle sleg is. 2. Ek gee nie daarvoor om nie. 3. My mamma en pappa gee vir my geskenke.”—Brandi, 6 jaar.

“Ek voel nie ek word iets ontsê nie. Dit pla my glad nie. Ek ontvang geskenke, en ons speel speletjies en hou partytjies. Ek ontvang baie dinge sonder om feesdae te vier. Ek wil altyd ’n Getuie bly en niks kan my besluit verander nie.”—Brianne, 9 jaar.

“Ek gaan nou standerd drie toe en ek is nie hartseer om te erken dat ek een van Jehovah se Getuies is nie. ’n Seuntjie het eenkeer vir my gesê dat ek seker sleg voel omdat ek geen geskenke met Kersfees ontvang nie, maar ek het gesê dat ek die hele jaar deur geskenke ontvang. Toe het hy gesê ek is gelukkig. Ek dink daar behoort nie een Getuie van Jehovah te wees wat spyt is omdat hy ’n Getuie van Jehovah is nie.”—Jeff, 10 jaar.

“Ek en my suster het ons ouers se huweliksherdenking ons eie gesinsviering gemaak. Ek het meer genot daaruit geput om geskenke, kaartjies en dinge te beplan en om my ouers te help om dinge te beplan waarmee hulle mekaar kan verras as wat ek geput het uit enige geskenk wat ek ontvang het. Dit is lekkerder om te gee as om te ontvang.”—Rachel, 16 jaar.

“Toe ek jonger was, het ek party feesdae moeilik gevind. Maar later het ek besef dat die feesdae hebsug, argumente en hartseer kan veroorsaak. Wanneer daar vasgestelde tye is om geskenke te gee, word jy nooit met ’n geskenk verras nie. Ek sal liewers enige tyd van die jaar spesiale geskenke ontvang. Om te vier of nie te vier nie, maak net ’n deeltjie uit van ’n veel groter besluit: of jy jou aan die diens van Jehovah wil wy of nie. Wanneer ek só daaraan dink, is dit duidelik wat die regte keuse is.”—Ben, 13 jaar.

“Toe ek klein was, het ek soms gevoel dat ek iets mis, maar ek het later gelag toe ek probeer uitwerk het hoe eiers, Jesus en die Paashaas bymekaar uitgekom het. Toe ek ouer was en my ouers aan my verduidelik het hoe al hierdie simbole ontstaan het, was dit vir my afskuwelik. Dit het my hartseer gemaak om te dink hoe Jehovah en Jesus moet voel omdat hulle met sulke heidense idees geassosieer word.”—Alexa, 18 jaar.

“’n Mens kan gedurende Kerstyd baie terneergedruk en uitgesluit voel by die skool. Toe het ek besef dat die viering van Kersfees nie jou probleme kan oplos nie, nie jou gesin na aan mekaar kan bring nie en jou nie gelukkig kan maak nie. Jy kan dit net doen as jy volgens die Bybel se standaarde lewe.”—Joe, 15 jaar.

“Ons vier eerder Grootspeelgoeddag as Kersfees of enige ander feesdag. Ons kry geld waarmee ons kan koop wat ons wil. Ek het een jaar ’n toespraak oor my godsdiens vir my klas gehou. Ek volg nie die wêreld se weg nie, maar het my eie weg bepaal om die vergaderinge by te woon, in die velddiens uit te gaan en gebed ’n deel van my lewe te maak. Ek word by die komende byeenkoms gedoop.”—George, 11 jaar.

“Ek hou baie daarvan om geskenke te kry, en ek ontvang dit die hele jaar deur. Ek mis nie veel wat partytjies betref nie. Ek maak Jehovah se hart bly wanneer ek my standpunt vir die waarheid inneem. Dit is so snaaks om te sien hoe party van my klasmaats wat nie Christene nie, maar Hindoes, Jode, ensovoorts is, Kersfees vier en geskenke ontvang, maar nie weet waaroor die feesdag gaan nie.”—Julia, 12 jaar.

“Ek was nie spyt wanneer ek nie aan feesdae by die skool kon deelneem nie. Die kinders doen baie, vreemde dinge, soos om op Allerheiligeaand kostuums aan te trek. Ek mis dit glad nie. Ek sê vir hulle hoe my ouers vir my die hele jaar deur dinge koop. Hulle vertel my van hulle kerk en hoe vervelig dit is, en ek vertel hulle van die vergaderinge wat ons partykeer in die park hou, en hulle raak soms jaloers. Maar ek is nie jaloers op hulle nie. Ter opsomming sê ek dat ’n mens net vriende moet wees met diegene wat jou opvatting respekteer, en moet nooit toelaat dat ’n leerling of ’n onderwyser jou dwing om iets te doen wat teen Jehovah se wil is nie.”—Justin, 12 jaar.

“Voel ek ek word iets ontsê? Nee, omdat ons ander partytjies het, en wanneer mense Kersfees vier, dink die kinders hoofsaaklik aan Sinterklaas, of tydens Paasfees dink hulle aan die Paashasie, maar ek weet dat dit van heidense godsdienste af kom. Ek hou van velddiens, omdat dit my help om my aandag op die waarheid te vestig.”—Sharon, 8 jaar.

“Ek kan eerlik sê dat ek nog nooit ongemaklik gevoel het omdat ek een van Jehovah se Getuies is nie. Ek en my gesin het baie pret. Wanneer daar ’n partytjie by die skool is, neem my ma my uit vir middagete. My ouers bring lekkernye skool toe om geen spesiale rede nie en dan weet al die kinders dat ons pret het. Ek is ná aan my ouers, en wanneer kinders vra waarom ek nie feesdae vier nie, sê ek vir hulle dat ek elke dag vier. Hoe kan enige Getuie uitgesluit voel?”—Megan, 13 jaar.

“Allerheiligeaand. Kinders wat soos duiwels en karakters uit prentverhale aantrek—waarvoor? Die kinders loop in die strate rond en gaan van huis tot huis om sakke vol lekkergoed te kry. Of hulle bestook die huise met eiers, versier bome met toiletpapier, en die ergste is dat die meeste ouers dit toelaat.”—Zachary, 10 jaar.

“Ek hoef nie vir ’n spesiale dag te wag om geskenke te ontvang nie. My ma en pa gee heeltyd vir my baie speelgoed. Allerheiligeaand is die aanbidding van afgestorwe geeste. Dis nie reg nie. Jehovah is die enigste God wat ons moet aanbid.”—Nicholas, 6 jaar.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel