Plastiekgeld—Moet jý dit gebruik?
’N KALIFORNIESE man, wat party as “Mnr. Kredietkaart” ken, het altesaam 1265 geldige kredietkaarte bymekaargemaak. Hierdie man verteenwoordig nou wel nie die gemiddelde kredietkaarthouer nie. Maar daar word algemeen erken dat die kredietkaart ’n goed gevestigde deel van die hedendaagse Westerse samelewing geword het.
American Demographics sê dat byna drie kwart van alle Amerikaanse huisgesinne in 1986 een kredietkaart of meer besit het. In die Verenigde State alleen is daar meer as 25 000 verskillende kredietkaarte beskikbaar. Oliemaatskappye, winkels en lugrederye reik hulle eie kaarte uit. In 1991 het Amerikaners 232 miljoen geldige MasterCard- en Visakaarte, wat die twee gewildste kaarte is, besit.
Die sogenaamde plastiekgeldbedryf brei ook in Europa uit en veroorsaak groot wedywering tussen opponerende banke en kredietmaatskappye wat die klandisie van ywerige verbruikers wil hê. Daar is wêreldwyd altesaam ver oor ’n miljard geldige kredietkaarte! Waarom hierdie oorvloed van plastiekgeld? Wie trek die meeste voordeel uit die gebruik daarvan? Wat is party van die gevare en probleme waarvoor kredietkaarthouers te staan kom? ☞
Wie trek voordeel daaruit?
Banke en kredietkaartmaatskappye maak aansienlike winste, nie net uit die gelde wat gehef word nie—waaronder jaarlikse ledegelde, gelde weens laat betalings of gelde weens oortrokke kaarte—maar ook uit die hoë rente wat hulle eis op die geld wat aan hulle verskuldig is. Maar hulle kan natuurlik nie uit finansieringskoste voordeel trek tensy kredietkaarthouers groot skulde aangaan nie. In die Verenigde State alleen spandeer miljoene vrywilliglik soveel dat hulle gedurig skuld het. Ongeveer 75 persent van Amerikaanse kredietkaarthouers het uitstaande bedrae op hulle rekeninge, waarop hulle elke maand buitensporige rente moet betaal. Die gemiddelde Amerikaanse kredietkaarthouer skuld meer as $2000 (R6000) op sy maandelikse rekening.
In sy boek The Credit Jungle sê Al Griffin dat die “15 tot 20 persent van kaarthouers wat hulle rekeninge ten volle vereffen sodra hulle dit ontvang nie ’n duit vir die bank se diens betaal nie”. Hy voeg by dat “die ander 80 tot 85 persent van kaarthouers ’n kredietkaartplan die bank se winsgewendste diens maak. ’n Gemiddelde grootte bankkaartonderneming van $10 [R30] miljoen kan $1,8 [R5,4] miljoen wins per jaar maak.” In 1990 het die Amerikaanse bank met die grootste aandeel in die kredietkaartbedryf ’n wins van byna $1 (R3) miljard gemaak uit sy verbruikersondernemings, hoofsaaklik uit sy filiale kredietkaartmaatskappy.
Pasop vir die gevare
Hierdie klein stukkies plastiek het ’n negatiewe sy. Het jy byvoorbeeld al ooit ’n telefoonoproep van ’n onbekende maatskappy ontvang wat jou inlig dat jy so pas ’n prys gewen het? Baie het al. Om jou geskenk te ontvang, moet jy net ’n paar basiese vrae beantwoord. Maar dan vra die persoon jou kredietkaartnommer. Waarom? Omdat jy in werklikheid glad nie ’n geskenk gewen het nie. Só ’n persoon wil net jou kredietkaartnommer hê sodat hy posbestellings of telefoonaankope op jou rekening kan doen.
Daar is verskeie soorte kredietkaartbedrog, wat elke jaar honderdmiljoene rande beloop. En selfs al raak hierdie probleem jou nie direk nie, betaal jy moontlik, indien jy ’n kredietkaart besit, vir sulke bedrog deur groter finansieringsgelde en rentekoerse.a
Die werklike gevaar wat kredietkaarte inhou, is die swaarkry en lyding wat dit meebring wanneer jy diep in die skuld beland. The Credit Jungle sê “tallose mense wat die versoeking kan weerstaan om luukse artikels en dienste te koop omdat hulle dit nie kan bekostig wanneer hulle kontant moet betaal nie, het geen weerstand teen dié versoeking wanneer hulle ’n kredietkaart in hulle hand het nie. Baie gesinne eet ’n paar weke lank brood nadat hulle vir die kreefetes betaal het wat op die vorige maand se kredietkaartrekening geplaas is.”
Maar meer as net jou eetgewoontes kan daaronder ly as ’n groot deel van jou inkomste op skuld uitgegee moet word. Die boek Credit—The Cutting Edge berig dat “Amerikaners elke maand gemiddeld ongeveer 75% van hulle inkomste gebruik om lenings, skuld en kredietkaarte af te betaal”.
Ongelukkig is ’n kredietkaart vir te veel verbruikers nie ’n sleutel tot ’n ekonomiese paradys nie, maar iets waardeur hulle in langtermynskuld en angs gedompel word. Amerikaanse verbruikers het byvoorbeeld in onlangse jare al hoe meer kredietkaartskuld aangegaan, wat meer agterstallige en onbetaalde kredietkaartrekeninge en bankrotskappe tot gevolg het. In 1990 het Amerikaanse verbruikers altesaam $3,2 (R9,5) biljoen op kredietkaarte, motorlenings en verbande geskuld! Die gemiddelde huisgesin het jaarliks ongeveer $35 000 (R105 000) geskuld en ongeveer $3500 (R10 500) rente betaal.
Dit is daarom nie verbasend dat die aantal persoonlike bankrotskappe drasties toegeneem het nie. In 1990 het ’n rekordgetal van 720 000 Amerikaners aansoek gedoen om bankrot verklaar te word, wat byna 17 persent meer as in 1989 is. In 1991 het hierdie getal tot 800 000 gestyg, en in 1992 was die nuwe rekordgetal 971 517 persoonlike bankrotskappe.
Party wat dit moeilik vind om hulle gebruik van kredietkaarte te beheer, het besluit om daarvan ontslae te raak. Daarenteen slaag baie daarin om verstandig gebruik te maak van kredietkaarte sonder om hulle lewe onnodig te bemoeilik.
[Voetnoot]
a Vir meer inligting oor hoe jy kredietkaartbedrog kan voorkom, sien asseblief die artikel “Kredietkaarte—’n ‘Plastiekstrik’?” in die Ontwaak! van 8 Desember 1986.