Moerasse van die wêreld—Ekologiese skatte word aangeval
DIE Indiane het hom die Vader van die Waters genoem. Aardrykskundiges noem hom die Mississippi. Wat jy hom ook al noem, hy het wraak geneem op diegene wat hom styf vasgedruk het in ’n korset van dyke en oewerwalle en hom van sy moerasse beroof het. Die geswolle rivier het ná weke se swaar reëns deur die nagenoeg 75 miljoen sandsakke gebars wat daarteen opgestapel was en deur 800 van die 1400 oewerwalle gebreek wat dit tevergeefs probeer keer het. Die vloedwaters het huise, paaie, brûe en dele van treinspore weggespoel en baie dorpe oorstroom. “Dit was waarskynlik die ergste vloed wat ooit oor die Verenigde State gespoel het”, het The New York Times van 10 Augustus 1993 berig.
Die Times het ’n gedeelte van die skade soos volg opgesom: “Tydens die twee maande wat die groot Middewestelike vloed van 1993 geduur het, het dit uiterste verwoesting gesaai. Dit het 50 lewens geneem, bykans 70 000 mense dakloos gelaat, ’n gebied oorstroom wat twee maal die grootte van New Jersey is, ’n beraamde $12 miljard [R40 miljard] se skade aan landbougewasse en eiendom aangerig en opnuut aanleiding gegee tot ’n debat oor die nasie se vloedbeheerstelsel en sy beleidsrigtings.”
As die natuurlike vloedbeheerstelsel van moerasse langs die oewers van die Mississippi ongeskonde gebly het, sou dit 50 lewens en $12 miljard (R40 miljard) gespaar het. Wanneer sal mense leer dat dit beter is om met die natuur saam te werk as om dit te probeer onderwerp? Moerasse wat aan ’n rivier grens, dien as vloedvlaktes wat die oormaat water van riviere wat ná langdurige, swaar reëns oorvol is, opvang en opgaar.
Maar die feit dat die aarde se meer as 8500-000 vierkante kilometer moerasse—wat tans wêreldwyd op ’n vernietigende wyse aangeval word—vloede op ’n natuurlike wyse beheer, is maar net een van die talle wonderlike dienste wat moerasse lewer.
Moerasse, plekke waar lewe floreer
Moerasse bestaan hoofsaaklik uit water, van die uitgestrekte soutmoerasse van die kus tot die klein, binnelandse varswatermoerasse en -vleie tot die waterpoele van die prêries in die Verenigde State en Kanada. Moerasse is gebiede waar die grond die hele jaar deur of slegs ten tye van ’n vloed met water oordek is. ’n Ander soort is kus- of getymoerasse. Aangesien die meeste moerasse gekenmerk word deur welige plantegroei—grasse, rietgrasse, waterbiesies, bome en struike—onderhou hulle oor die hele wêreld ’n verskeidenheid van plant-, vis-, voël- en dierelewe.
’n Aantal strand- en watervoëls maak moerasse hulle tuiste. Meer as honderd spesies is gedurende hulle lentemigrasie van hierdie vlak oases afhanklik. Baie moerasse is broeigebiede vir ’n ontsaglike bevolking ganse en eende—mallardeende, groenvlerktalings en groot tafeleende. Hierdie gebiede voorsien ook kos en skuiling aan diere soos die alligator, bewer, bisamrot, nerts en Amerikaanse eland. Ander diere, waaronder bere, herte en wasbere, maak van moerasse gebruik. Die meeste van die vis wat Amerika se kommersiële visbedryf van driemiljard dollar (tienmiljard rand) onderhou, broei hier uit en bereik ook hier volwassenheid. Daar is na raming 200 soorte vis en groot hoeveelhede skulpvis wat vir hulle hele lewensiklus of ’n gedeelte daarvan van moerasse afhanklik is.
Moerasse is nie net ’n uitsonderlike hawe vir die natuurlewe nie, maar het ook talle ekologiese deugde. Hulle dien as natuurlike filters vir die verwydering van afval- en besoedelstowwe uit riviere en strome en vir die suiwering van ondergrondse waterhoudende klip. Hulle versamel water gedurende reën- en vloedseisoene en stel dit later stadig in strome, riviere en waterhoudende klip vry. Getymoerasse beskerm kuslyne teen erosie deur die branders.
Dit is juis vanweë die aard van hulle dikwels welige plantegroei dat moerasse betekenisvolle, noodsaaklike funksies verrig. Tydens die proses van fotosintese absorbeer alle groen plante byvoorbeeld koolstofdioksied uit die lug en vervang hulle dit met suurstof. Dit is noodsaaklik om lewe te onderhou. Maar moerasplante is uniek omdat hulle veral in hierdie proses doeltreffend is.
Baie lande besef al eeue lank van watter onskatbare waarde dit is om moerasse vir voedselproduksie te gebruik. China en Indië is byvoorbeeld wêreldleiers op die gebied van rysproduksie, met ander lande in Asië wat nie ver agter is nie. Rys word in moerasse verbou wat padievelde genoem word en is een van die wêreld se belangrikste voedselgewasse. Ongeveer die helfte van die wêreld se bevolking eet rys as hulle vernaamste voedselsoort. Die Verenigde State en Kanada het mettertyd die belangrikheid van moerasse vir hulle produksie van rys en rooibosbessies begin besef.
Wilde diere geniet ook die oorvloed voedsel wat in moerasse gevind word. Daar is nie net ’n oorvloed van sade en insekte vir die voëls nie, maar die visse en skaaldiere wat in die moerasse uitbroei en tot volwassenheid groei, leef ook van die sade en insekte. Eende, ganse en ander watervoëls eet op hulle beurt hierdie diertjies wat onder die water leef en in oorvloed in hierdie oases van die lewe rondswem. Die huidige ekologie balanseer sake in sekere mate uit deurdat die viervoetige diere wat op soek na iets te ete in die moerasse indwaal ’n verskeidenheid voëls het om van te kies. In die moerasse is daar iets vir almal. Hulle is waarlik plekke waar lewe floreer.
Die wedloop om moerasse te vernietig
In die Verenigde State het die man wat die eerste president geword het die sluise vir die massavernietiging van moerasse geopen toe hy in 1763 ’n maatskappy gestig het om 16 000 hektaar van die Dismal-moeras—’n wilde moerasland en ’n toevlugsoord vir wilde diere—op die grens van Virginië en Noord-Carolina droog te lê. Sedertdien is Amerika se moerasse as ’n ergernis beskou, ’n hindernis in die pad van ontwikkeling, ’n bron van siektes en kwale, ’n vyandige omgewing wat tot elke prys oorwin en vernietig moet word. Boere is aangemoedig om moerasse droog te lê en as landerye te gebruik en as hulle dit gedoen het, is hulle daarvoor vergoed. Hoofweë is gebou waar daar eens moerasse was wat van eksotiese lewe gewemel het. Baie moerasse het terreine vir stedelike ontwikkeling en inkopiesentrums geword of is, vanweë die feit dat hulle vlak holtes vorm, gerieflikerwyse as rommelstortplekke gebruik.
Gedurende die laaste paar dekades van hierdie eeu het die Verenigde State sy moerasse teen ’n tempo van 200 000 hektaar per jaar vernietig. Vandag is daar nog net sowat 40 miljoen hektaar oor. Neem byvoorbeeld Noord-Amerika se waterpoelstreek. Duisende prêrie-moerasse wat in ’n boog van 800 000 vierkante kilometer van Alberta, Kanada, tot by Iowa in die Verenigde State strek, was die broeigebied vir miljoene der miljoene eende. Hulle het die lug glo soos digte wolke verduister wanneer hulle gevlieg het. Vandag het hulle getalle onrusbarend afgeneem.
Die langtermynprobleem is egter die volgende: Wanneer die moerasse vernietig is, is daar ook nie meer weivelde nie. Sonder genoeg kos lê eende minder eiers, en dit het ook ’n merkbare uitwerking op die broeisyfer van die eiers wat wel gelê word. Namate hulle habitats vernietig word, stroom al hoe meer eende na die paar oorblywende habitats en word hulle sodoende ’n makliker prooi vir jakkalse, prêriewolwe, muishonde, wasbere en ander diere.
In die Verenigde State het 50 persent van die waterpoelstreek se moerasse verdwyn. Kanada is minder as 10 persent agter die Verenigde State, maar die vernietigende aanvalle neem steeds toe. Gedeeltes van Noord-Dakota in die Verenigde State was volgens die tydskrif Sports Illustrated 90 persent droog. Baie boere is onkundig oor hierdie moerasse se ekologiese waarde en beskou hulle as onproduktief en as ’n ergernis wat net in die pad van hulle plaastoerusting is.
Maar vandag laat besorgde mense en natuurlewe-organisasies hulle stem duidelik hoor in ’n poging om die natuurlewe se moerashabitat te red. “Die waterpoele is absoluut noodsaaklik”, het een besorgde amptenaar gesê. “As ons graag wil hê dat daar op die langtermyn hoop vir eende moet wees, moet ons die moerasse bewaar.” “Watervoëls is ’n aanduiding van die ekologiese gesondheid van die kontinent”, het ’n amptenaar van die bewaringsorganisasie Ducks Unlimited gesê. Die tydskrif U.S.News & World Report laat ook sy stem hoor: “[Die eende se] dalende getalle weerspieël die aanvalle wat daar uit talle verskillende oorde op die omgewing gedoen word: Suurreën, plaagdoders, maar bowenal die vernietiging van miljoene [hektaar] moerasse wat van onskatbare waarde is.”
“Negentig persent van Kalifornië se soutmoerasse aan die kus is al vernietig”, het die tydskrif California berig, “en daar verdwyn elke jaar nog [7000 hektaar]. Die Tule-hert kom nog slegs op ’n paar plekke voor. Die ganse en eende keer jaarliks in kleiner getalle terug na hulle oorwinteringsplekke wat voortdurend kleiner word. Baie moerasspesies is na aan uitwissing.” Hierdie diere wat vir oorlewing van die wêreld se moerasse afhanklik is, roep stilswyend om hulp.
Die waterkrisis
Iets vreesliks het gebeur terwyl die mens die aarde se moerasse vernietig het. Hy het sy kosbaarste en belangrikste hulpbron aangetas—water. Water is onontbeerlik vir elke lewende wese. Baie van die wêreld se wetenskaplikes het ’n tyd voorspel wanneer suiwer water die aarde se skaarsste hulpbron sal wees. “Ons moet óf daarin slaag om die vermorsing van water te beperk óf ons sal teen die jaar 2000 van dors omkom”, het die VN se Wêreldkonferensie oor water in 1977 verklaar.
Met dié onheilspellende waarskuwings oor die potensiële tekort aan hierdie waardevolle hulpbron behoort konvensionele wysheid ons te laat besef dat ons eerbiedig met die aarde se water te werk moet gaan. Maar weens die mens se wedloop om moerasse te vernietig, het hy hierdie baie noodsaaklike hulpbron in ernstige gevaar gestel. Moerasse help met die suiwering van oppervlakwater—riviere en strome. Sommige waterhoudende kliplae word nie meer met suiwer water aangevul nie, maar is nou met afval en besoedelende stowwe besmet, alles tot die mens se nadeel. Water wat eens in ’n menigte moerasse aangetref is, is gedreineer, en dit dra tot die tekort by.
Sal verantwoordelike mense die wanhopige hulpkrete van lewensvorme hoor wat van moerasse afhanklik is? Sal daar opgetree word om sulke lewensvorme te red voor dit te laat is? Of sal mense doof bly vir hierdie krete, met ore wat slegs die gekerm van die gulsiges hoor?
’n Wêreldwye aanval
Tydens die aanvang van ’n wêreldwye veldtog om moerasse te red, wat deur die Verenigde Nasies bevorder is, het die gevaar waarin Brasilië se Pantanal-ekosisteem verkeer onder die soeklig gekom. Dit is een van die wêreld se grootste moerasse. Die tydskrif BioScience het gesê: “Die Pantanal, met sy buitengewone verskeidenheid en oorvloed van natuurlewe, is ’n bedreigde streek. Ontbossing; die uitbreiding van landboubedrywighede; onwettige jag en visvangs asook die besoedeling van water met onkruiddoders, plaagdoders en neweprodukte van die vervaardiging van alkoholbrandstof het veroorsaak dat die natuurlike omgewing al hoe meer agteruitgaan, en dit het een van Brasilië se belangrikste ekosisteme in gevaar gestel.”
The New York Times het daarop gewys dat die moerasse langs die Mediterreense kus bedreig word. “Gedurende die afgelope drie dekades het al hoe meer moerasse verlore geraak aangesien die Mediterreense kuste gesogter as ooit geword het en groot ente kuslyn in die naam van sonaanbidding, gerief en winste met beton bedek is. Studies van die Verenigde Nasies meld groot verliese in Italië, Egipte, Turkye en Griekeland.”
Die moerasse van Spanje se ongelooflike Doñana- Nasionale Park van 50 000 hektaar word in die lente ’n uitspanplek vir voëls wanneer honderdduisende voëls wat van Afrika na Europa onderweg is by die park se moerasse en woude aandoen om nes te maak, te broei en te eet. Maar die menigte hotelle, gholfbane en landerye om die park suig soveel van die water op dat die park se voortbestaan bedreig word. Gedurende die afgelope 15 jaar het sulke projekte reeds soveel water uitgepomp dat die watertafel tussen twee en nege meter gedaal het en verskeie strandmere opgedroog het. “Enige verdere ontwikkeling hier”, sê die park se navorsingsdirekteur, “sal die doodsteek vir Doñana wees.”
State of the World 1992 berig: “Wortelboommoerasse, een van die mees bedreigde en waardevolste moerassoorte, het in Asië, Latyns-Amerika en Wes-Afrika swaar verliese gelei. In Ecuador is bykans die helfte van hierdie beskermende moeraswoude byvoorbeeld afgekap, grotendeels om vir garnaaldammetjies plek te maak, en daar word beplan om net soveel van die oorblywende gebiede so te omskep. Indië, Pakistan en Thailand het almal ten minste ’n driekwart van hulle wortelboommoerasse verloor. Dit lyk of Indonesië vasbeslote is om dieselfde te doen: in Kalimantan, die grootste provinsie, gaan 95 persent van alle wortelboommoerasse vir die vervaardiging van papierpap skoongekap word.”
Die waarde van wortelboommoerasse word in Thailand se Bangkok Post van 25 Augustus 1992 beklemtoon: “Wortelboomwoude bestaan uit uiteenlopende boomspesies wat in hoogliggende getysones langs vlak, beskutte, tropiese kuste floreer. Die bome het in die ongunstige omgewing van brak water en veranderende getye [gefloreer]. Hulle spesiaal aanpasbare lugwortels en soutfiltrerende penwortels het ryk en komplekse ekosisteme tot stand gebring. Benewens die feit dat hulle uitgestrekte dele van die kuslyn teen erosie beskerm, is hulle onontbeerlik vir kusvissery, nywerhede wat houtprodukte lewer en vir die natuurlewe.
“In die wortelboomwoude is daar ’n oorvloed van lewe. Daar tref ’n mens strandvoëls aan, krapvreterape, viskatte en modderspringervisse wat by laagwater van die een watergat na die ander oor die moerasmodder gly.”
Wat sal die uiteinde wees?
Dit is ’n wêreldwye krisis. Die tydskrif International Wildlife sê: “Die vleie, moerasse, moerasagtige rivierarms, wortelboommoerasse, soutmoerasse, waterpoele van die prêries en panne wat eens meer as 6 persent van die aarde se droë grondgebied beslaan het, verkeer in groot gevaar. Soveel daarvan is al vir landboudoeleindes drooggelê, deur besoedeling vernietig of deur ontwikkelaars opgevul dat ongeveer die helfte van die planeet se moerasoppervlaktes verdwyn het.”
Sal mense met die aarde vrede maak? Tot dusver is die tekens nie bemoedigend nie. Tog voer sommige mense ’n moedige stryd en sê dat hulle sukses sal behaal. Jehovah, die aarde se Skepper, sê dat hulle gaan misluk. Hy beloof om tussenbeide te tree en die aanval op sy wonderlike aardse skepping te beëindig. Hy sal ‘die verderwers van die aarde verderf’ en in hulle plek mense op die aarde laat oorbly wat ‘dit sal oppas’. Vir sulke waarderende mense sal hy dit as geskenk gee: “Julle is gesëend deur [Jehovah] wat hemel en aarde gemaak het. Die hemele is hemele vir [Jehovah], maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”—Openbaring 11:18; Genesis 2:15, NAV; Psalm 115:15, 16.
[Prent op bladsy 15]
Moerasse in Switserland
[Prente op bladsy 16, 17]
Heel links en bo: Moerasse in die Verenigde State
[Erkenning]
H. Armstrong Roberts
Links: Wortelboommoerasse in Thailand
[Erkenning]
By courtesy of the National Research Council of Thailand
Inwoners van moerasse: die krokodil, brulpadda, naaldekoker en luikskilpad wat ’n gat grawe om haar eiers in te lê