Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 1/22 bl. 21-24
  • Ek het die uitdagings van die lewe in Suid-Asië die hoof gebied

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het die uitdagings van die lewe in Suid-Asië die hoof gebied
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle het geweier om sonder bloed te opereer
  • Uitdagende besluite om te neem
  • ’n Nuwe metgesel, ’n nuwe toets van onkreukbaarheid
  • ’n Uitdagende gebied
  • Die einde van goddeloosheid is naby
  • ’n opvoeding wat lewenslank voortgeduur het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Koninkrykswaarheid bloei in Sri Lanka
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Toewyding van takfasiliteite in Sri Lanka
    2015 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Dankbaar dat ek die regte loopbaan gekies het
    Lewensverhale van Jehovah se Getuies
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 1/22 bl. 21-24

Ek het die uitdagings van die lewe in Suid-Asië die hoof gebied

NAMATE ek my bewussyn stadig herwin het, was daar ’n eienaardige lam gevoel in my been. Ek het my kop gedraai. My geliefde Henry se lewe het hom stadig maar seker verlaat. Tog was dit nie die tyd om wanhopig te raak nie. Ek moes veg—veg om my onkreukbaarheid te handhaaf teenoor die God wat ons soveel gegee het.

Dit was 17 Mei 1982. My man was ’n reisende opsiener vir die Tamil-sprekende gemeentes van Jehovah se Getuies in Sri Lanka. Ons het ’n gemeente bedien wat ver van Colombo, die grootste stad, geleë was. Ons het albei, soos soveel ander in hierdie land, saam op een fiets gery en moes net ’n kort entjie ry om ’n mede-Getuie te besoek. En toe het ’n vragmotor, soos ’n kobra, oënskynlik uit die niet verskyn en teen ons gebots.

Aangesien die dokters moed opgegee het om Henry te red, het hulle hulle op my toegespits. Hoewel ek swak was, was my hart gevul met die dringende behoefte om hulle te vertel van my vasbeslotenheid om Jehovah se wet aangaande die onthouding van bloed te eerbiedig (Handelinge 15:28, 29). Ek moes hulle daarvan vertel. Ek het die bietjie krag wat ek gehad het, bymekaargeskraap en gesê: “Gee my asseblief ’n stukkie papier.” Ek het my oortuiging moeisaam neergeskryf en die papier onderteken. En toe het die stryd begin.

Ek het eerstehulp ontvang. Dit was maar te ooglopend dat ek baie ernstig beseer was. My hele wese was gevul met die vasbeslotenheid om soos ’n ware Christen op te tree—dít was nog nie die tyd om te treur nie.

Hulle het geweier om sonder bloed te opereer

Die stryd ten opsigte van ’n bloedoortapping het nege dae geduur—my stryd om in ooreenstemming met my gewete te leef deur bloed te weier en die dokters se stryd om my te oortuig dat ek dit moet aanvaar. Hoewel hulle bekwaam genoeg was, het hulle eenvoudig geweier om sonder bloed te opereer. Die wond was ernstig en het hulle onmiddellike aandag vereis.

Maar dit was nie vir my nodig om die stryd alleen te voer nie. Jehovah was elke oomblik by my. En die broederskap van Jehovah se volk het liefdevolle besorgdheid getoon. Colombo was 400 kilometer daarvandaan geleë. Dr. Perrin Jajasekera, wat een van Jehovah se Getuies is, het gereël dat sy vleeslike broer, wat ’n chirurg daar is, my in Colombo se Algemene Hospitaal laat opneem.

Daardie reis van byna 24 uur agter in ’n vervoerwa en oor hobbelrige paaie het soos die langste reis van my lewe gevoel. Tog was my hart met dankbaarheid gevul teenoor Jehovah vanweë sy liefdevolle sorg, net soos dit nog altyd was sedert ek die waarheid in my geboorteland, Indië, leer ken het. Nou was daar egter nie een van my eie mense aan my sy nie. Maar waarom het ek in die eerste plek na Sri Lanka toe gekom?

Ek was die kind van Rooms-Katolieke ouers in die staat Kerala, Indië. Ons het Malabaars gepraat. Engels was ’n skoolvak. Hoe bly is ek tog dat ek die geleentheid gebruik het om dit goed te leer praat! In daardie deel van Indië is daar ’n groot klomp mense wat sê dat hulle Christene is. Volgens oorlewering het die apostel Thomas die Christelike godsdiens in die eerste eeu na Kerala gebring. In elk geval, toe die Rooms-Katolieke Portugese koloniseerders onder leiding van Vasco da Gama meer as 1400 jaar later in Kerala aangekom het, was hulle verbaas om soveel te vind wat reeds in Christus geglo het.

Uitdagende besluite om te neem

Toe my gesin die verligtende waarhede van die Bybel met die hulp van Jehovah se Getuies begin leer het, was dit my natuurlike begeerte om diegene in my gemeenskap wat sê dat hulle Christene is van hierdie waarhede te vertel. Daarom het ek kort ná my toewyding en doop ’n pionier, ’n voltydse bedienaar, geword. Dit het beteken dat ek die fantastiese aanbod om ’n onderwyseres in my tuisstaat te wees van die hand moes wys. Dit is die doelwit van talle jong Indiërs om die oënskynlike sekuriteit te geniet wat so ’n pensioengewende werk bied, maar my doel in die lewe het verander. Ek wou ware sekuriteit hê, en dit kon net onder Jehovah se beskermende hand gevind word.

Twee jaar later het ek voor ’n nuwe uitdaging te staan gekom. Sou ek bereid wees om na ’n ander deel van Indië te verhuis sodat ek kon help waar meer predikers nodig was? Dit het die uitdaging ingehou om ’n nuwe taal, Tamil, te leer en mense te help wat ’n baie verskillende godsdiensagtergrond, hierdie keer Hindoe, het. Ja, die geleentheid om my waardering teenoor Jehovah te betoon, het al die veranderinge die moeite werd gemaak. Dit was waarlik ’n vreugde om vir daardie hartlike, vriendelike mense met ’n Hindoe-agtergrond te getuig. Hulle het geredelik aanvaar dat ons die einde van Kali Joega (die Goddelose Tyd) nader en dat iets veel beters op hande is vir diegene wat nou regverdig optree. Maar dit was ’n groot uitdaging om hulle te help om die verskil te sien tussen die ware Christelike godsdiens en wat hulle van die Weste geleer en ondervind het. Hoe dikwels het ek tog nie my Bybel by Mattheüs 7:21-23 oopgeslaan nie: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” Mohandas Gandhi het dit goed uitgedruk: ‘Ek het Christus lief, maar ek verafsku Christene omdat hulle nie lewe soos Christus gelewe het nie.’

Baie Hindoes vind, net soos ek gevind het, dat daar baie waarheid in daardie stelling steek. En nou sien hulle ook dat baie van hulle mede-Hindoes nie veel anders optree as diegene van die Weste wat skynheilig beweer dat hulle Christene is nie. Maar Jehovah se Getuies verskil grootliks hiervan. Duisende Hindoes begin dit besef.

’n Nuwe metgesel, ’n nuwe toets van onkreukbaarheid

Twee en ’n half jaar het verbygegaan. Die “Ewige Goeie Nuus”-Byeenkoms van Jehovah se Getuies is gedurende 1963 in alle wêrelddele gehou. Een van die byeenkomsplekke was Nieu-Delhi, in die noorde van die land. Wat ’n onvergeetlike byeenkoms! En daar het ek Henry Abraham ontmoet. Ons was albei op soek na iemand met wie ons ons lewe van toegewydheid aan Jehovah kon deel. Vyf maande later is ons getroud.

Hy het opleiding aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die staat New York ontvang en is toe na sy geboorteland, Sri Lanka, teruggestuur aangesien daar baie hulp nodig was. Ek het gehoop hy sou na Indië wou verhuis, waar daar volgens my selfs meer predikers nodig was. Maar dit het nie gebeur nie. Sy hulp was nodig waar hy was. Hierdie pragtige eiland Sri Lanka het dus my tuiste geword. Gelukkig word Tamil en Engels hier baie gebruik. Dit was dus nie vir my nodig om—op daardie tydstip—’n ander taal te leer nie. Ons het saam 18 gelukkige jare in Jehovah se diens geniet voor ’n tragedie ons in die vorm van die voortsnellende vragmotor getref het.

Maar nou het ek my in Colombo bevind, en my stryd om te leef sonder om my onkreukbaarheid prys te gee deur ’n bloedoortapping te aanvaar, het voortgeduur. Nou was my lewe in gevaar, nie weens my standpunt ten opsigte van bloed nie, maar weens die vertraging wat my behandeling betref.

’n Plastiese chirurg met ’n Boeddhistiese agtergrond en ’n ortopediese chirurg met ’n Hindoe-agtergrond het saamgespan om my te help. My bloedtelling (hemoglobien) het nou tot ongeveer vier gedaal.

Hoe kon hulle met so min bloed my been by die heup afsit? My vasbeslotenheid was ooglopend, maar sou hierdie twee chirurge bereid wees om my die hulp te gee wat my voorheen ontsê is? Hulle moed om hierdie geweldige uitdaging te aanvaar sonder om my te probeer dwing om teen my gewete op te tree, was uitsonderlik. Ek het my been verloor, maar my lewe is gered, en ek het nie my onkreukbaarheid teenoor Jehovah prysgegee nie.

Sonder die man vir wie ek so lief was, het ’n hele nuwe hoofstuk in my lewe begin. Eers met krukke en toe met ’n prostese (wat later, deur die goedheid van baie broers en susters, met ’n veel beter kunsbeen vervang is) kon ek my bediening voortsit. Die hartseer het mettertyd vir groter bedrywighede plek gemaak.

Moes ek na Indië terugkeer en onder ongelowige familielede gaan woon? Die wonderlike Bybelse voorbeeld van ’n ander weduwee met die naam Rut was kristalhelder. Ek wou ook daar wees waar ek Jehovah tot die beste van my vermoë, wat nou ietwat kleiner is, kon dien. Sri Lanka is steeds my tuiste.—Rut 1:16, 17.

’n Uitdagende gebied

Hierdie afgelope 11 jaar het vinnig verbygegaan. Daar was ‘volop om in die werk van die Here te doen’ (1 Korinthiërs 15:58, NW). Ek bly besig in die veldbediening in Colombo. Hier is mense van baie uiteenlopende godsdiensagtergronde—Hindoes, Moslems, Boeddhiste, naamchristene en ander. Daar is altyd uitdagings.

Elke maand bestee ’n paar van ons ’n naweek daaraan om een van die dorpe in die suide te besoek waar daar nog nie groepe Getuies van Jehovah is nie. Die meeste sê hulle is Boeddhiste, en hulle praat Singalees. Dit het vir my baie belangrik geword om te leer hoe ek hierdie mense kan help.

Die belangstelling wat Boeddhiste, net soos die Hindoes in Indië en in die hele Sri Lanka, in die Bybel gehad het, het afgeneem weens die gedrag van sogenaamde Christene van die Weste. Tog is hulle basiese Boeddhistiese beginsels, die beroemde Agtvoudige Pad van regte denke en regte gedrag (regte geloof, bedoeling, spraak, optrede, lewenswyse, strewe, denke, meditasie), maar net onvolmaakte mensewysheid in vergelyking met die Goddelike beginsels wat in die Bybel aangetref word en waarvan die meeste eeue voor Siddhãrtha Gautama geskryf is.

Toe Siddhãrtha Gautama met die Kalamas gepraat het, soos aangehaal in die Kalama Soetta, het hy gesê: “Moenie glo wat herhaaldelik deur hoorsê oorgedra word nie; ook nie deur tradisie nie.” Hoe vreemd tog dat ek die voorreg het om baie opregte Boeddhiste daaraan te herinner dat indien daardie raad vandag toegepas word niemand die mite van evolusie sou kon glo of die bestaan van ’n Skepper sou kon ontken nie.

Die einde van goddeloosheid is naby

Jehovah se Getuies leer baie goeie dinge uit die Bybel om vir hierdie mense te vertel—oor die kalpa vinasja, die einde van goddeloosheid, wat so naby is. Die Bybel se 1900-jarige profesie hieroor word in 2 Timotheüs 3:1-5, 13 aangetref. Ons het ook die voorreg om vir hulle te wys dat die plek waar ons kan leer hoe om in hierdie tye behoue te bly nie die godsdienste van die Weste of die Ooste is nie, maar, soos verse 16 en 17 van daardie selfde hoofstuk toon, Jehovah se geïnspireerde Woord, die Bybel, is.

Boeddhiste soek na verligting. Lank voordat Siddhãrtha Gautama sy eie soektog begin het, is die ware oorsaak van lyding baie duidelik in die Bybel uiteengesit (Genesis 3:1-19). ’n Opstand teen regverdige wette heel aan die begin van die mensegeskiedenis het treurige gevolge gehad—siekte en die dood, wat onvermydelik tot alle mensesondaars deurgedring het. Kwellende vrae ontstaan in die gedagtes van baie—soos in Habakuk 1:3: “Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin.” Net die medelydende Skepper kan die antwoorde voorsien en ’n plan ontwerp om dit wat verlore is permanent te herstel. Wêreldwyd is daar miljoene wat selfs nou by die praktiese wysheid van God se Woord baat vind. En Singalees, die hooftaal van hierdie land, het dus nou vir my ’n ander uitdaging geword, want in daardie taal kan ek diegene help wat opreg na die verligting soek wat ek 37 jaar gelede gevind het.

Daar is nog ’n ander uitdaging. Aangesien daar ’n nuwe takkantoor en ’n vertaalsentrum vir Sri Lanka gebou word, moet meer mense opgelei word. Ek leer stadigaan die nuwe taal van rekenaars ken aangesien ek in ons takkantoor se Rekeninge-afdeling help.

My 33 jaar van voltydse diens aan Jehovah voel soos ’n oomblik aangesien ek die hoop het om hom vir ewig te dien. Baie het gedurende hierdie jare by ons in Jehovah se diens aangesluit, onder andere die bekwame chirurg wat gereël het dat ek in Colombo in die hospitaal opgeneem word en die nodige operasie ontvang. Hy is ook nou ’n toegewyde Getuie van Jehovah.

Jehovah en sy gesin knegte op die aarde het my so goed ondersteun. Ek het al gevoel hoe sy beskermende arms my onderskraag, en ek weet dat sy lojale liefde hom nie van Henry sal laat vergeet nie. Dit is net Jehovah wat my geliefde uit die stof kan laat opstaan, om my die geleentheid te gee om hom weer te sien, om Henry te vertel van al die opwindende uitdagings wat ons geslag ervaar het en hoe Jehovah ons gehelp het om hulle die hoof te bied.—Soos vertel deur Annama Abraham.

[Prent op bladsy 21]

Annama Abraham en haar man, Henry

[Prent op bladsy 23]

Annama getuig vir die teeplukkers op ’n teeplantasie in Sri Lanka

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel