Die versorging van bejaardes—Hoe om daaglikse druk die hoof te bied
AS DIE versorging van jou ouers met ’n mate van druk gepaardgaan, veral druk wat jy nie voorsien het nie, sal jy dalk geneig wees om skuldig te voel. Jy wonder miskien: ‘Skort daar iets met my verhouding met my ouers? Woon volwassenes in baie kulture nie hulle hele lewe lank gelukkig saam met hulle ouers nie?’
Wel, jou situasie is dalk anders. Dalk het jou ouers by jou ingetrek nadat hulle 20, 30, 40 jaar of meer nie by jou gewoon het nie. Dit beteken dat jy en jou ouers vir die grootste deel van julle lewe afsonderlike lewenstyle en gewoontes ontwikkel het. In die loop van etlike dekades het daardie lewenstyle en gewoontes dalk grootliks van mekaar begin verskil. Maar noudat jy jou ouers versorg, moet jy jou lewe in ooreenstemming bring met dié van die mense na wie jy omsien. Dit kan moeiliker wees as wat dit die geval sou wees as julle deurentyd saamgewoon het.
Sommige ouers is moontlik ook baie siek of het in ander opsigte meer gespesialiseerde versorging nodig. Hoewel dit prysenswaardig is dat jy moontlik in die nodige voorsien en dit op die oomblik nie nodig vind om jou ouers in ’n verpleeginrigting te laat opneem nie, is dit te begrype dat hierdie situasie daagliks op julle almal druk plaas. Die versorging van jou ouers is iets natuurliks. Om oud en siek te word, is nie natuurlik nie. Dit was nooit die Skepper se voorneme dat mense se krag en gesondheid afneem wanneer hulle ouer word nie. Moet dus nie dink dat daar iets met jou skort omdat die situasie, emosioneel en fisies, veeleisender is as wat jy verwag het nie.—Genesis 1:26-31; Psalm 90:10.
Die druk wat met die versorging van jou ouers gepaardgaan, beteken nie noodwendig dat jy en jou ouers ’n slegte verhouding het nie. Veral as jy ’n goeie verhouding met hulle gehad het voor hulle jou hulp nodig gehad het, is enige probleme wat julle ervaar waarskynlik die gevolg van die uitdagings wat die versorging van ouers kan bied. Hoe kan jy daaglikse druk met welslae die hoof bied?
Hoe om skuldgevoelens te verwerk
Selfs mense wat alles doen wat hulle vir hulle ouers kan en moet doen, voel soms skuldig omdat hulle nie meer doen nie. ’n Misplaaste skuldgevoel kan egter ’n probleem wees. Jy vind moontlik dat jy besluite neem wat jou minder skuldig laat voel, maar wat nie noodwendig in jou of jou ouers se belang is nie. Wat sal byvoorbeeld gebeur as ’n vrou, ten einde haar misplaaste skuldgevoel te verlig, só by die versorging van haar ouers betrokke raak dat sy haar eie man en kinders verwaarloos? Sy, haar man en haar kinders sal daaronder ly. Moet dus nie toelaat dat ’n misplaaste skuldgevoel jou lewe oorheers nie.
Voel jy soms skuldig omdat dit lyk asof jy nooit genoeg vir jou ouers kan doen nie? Miskien is jou ouers se behoeftes dan groter as dié waarin jy kan voorsien. Dalk is die situasie van só ’n aard dat ongeag wat jy doen daar altyd nog iets is wat gedoen kan word. As jy jou ouers versorg omdat jy hulle daardeur wil beloon vir alles wat hulle vir jou gedoen het terwyl jy onder hulle sorg grootgeword het, sal jy bowendien altyd skuldig voel, want jy kán hulle eenvoudig nie ten volle beloon nie.
Die boek You and Your Aging Parents wys daarop dat jy moet besluit hoeveel jy vir jou ouers gaan doen. Dit sê: “Jy sal jou baie emosionele uitputting spaar as jy [jou besluite] hoofsaaklik grond op wat jy kán doen en nie op wat jy graag wíl doen of selfs behoort te doen nie.”
Ja, stel op realistiese wyse vas wat jy van jouself kan verwag. Dit sal dalk help as jy die hulp inroep van ’n betroubare vriend wat weet waartoe jy in staat is, wat jou beperkinge ken en wat met jou gesin se situasie bekend is. Kan jy jou ouers by jou laat intrek? Het jy genoeg ruimte? Sal hulle daarvoor te vinde wees om by jou in te trek? Hoe dikwels en wanneer kan jy jou ouers besoek as hulle nie by jou woon nie? As jy doen wat jy kan, is dit nie nodig om skuldig te voel nie. As jy nogtans skuldig voel, moet jy besef dat dit misplaas is en nie toelaat dat dit jou besluite oorheers nie.
Deel die las
Die Bybelboek Prediker wys daarop hoe gevaarlik dit is om “alte goddeloos” of “alte regverdig” te wees en dat dit ‘jou te gronde kan rig’ as jy alte regverdig is (Prediker 7:16-18). Dit is wat kan gebeur as jy meer probeer doen as wat jy wil doen, kan doen en selfs behoort te doen.
As jy reeds ’n vol rooster gehad het voor jy jou ouers begin versorg het, moet jy ’n paar ander bedrywighede uitskakel of om hulp vra. Maar baie wat hulp nodig het, is huiwerig om te vra. Hulle is dalk te skaam of sê dat ander nie wíl help nie. Jy bewys egter nie jouself of dié om jou ’n guns as jy jou uitput nie. In haar boek oor die versorging van bejaardes noem die skryfster E. Jane Mall so ’n oordrewe pligsgevoel die “martelaarsindroom”. Sy gee die volgende raad: “Jy moet ’n prioriteitkalender hê, en drie van jou prioriteite moet tyd insluit met jou [huweliksmaat] asook tyd met jou kinders en vriende en tyd vir jouself.”
Ja, jy sal dalk die las moet deel. Waar kan jy dus om hulp aanklop? Familie, vriende, bure en professionele mense kan help. Maar jy moet om hulp vrá. En jy moet pertinent vra. Dit help nie altyd om te skimp nie. Jy sal dalk verbaas wees wie en hoeveel bereid sal wees om jou te help as jy dit duidelik stel dat jy hulp nodig het en spesifieke versoeke rig. Jy kan byvoorbeeld vra dat iemand jou help om die huis skoon te maak. As dit jou die nodige verligting sal gee, is dit nie nou die tyd om daarop aan te dring dat jy self die huis skoonmaak omdat ‘niemand anders dit reg sal doen nie’.
As jy broers of susters het, is hulle ook vir die versorging van hulle ouers verantwoordelik. Miskien het jy tot dusver ál die versorging, of die grootste deel daarvan, behartig omdat jy gedink het dat jou broers en susters dit nie kan of wil doen nie. Maar het jy hulle al pertinent om hulp gevra? Party mense sal positief reageer—as dit aan hulle duidelik gestel word dat hulp nodig is.
Party versorg ’n ouer heeltemal op hulle eie omdat hulle die ouer se goedkeuring probeer verkry of behou. Of dit laat hulle dalk goed voel as hulle die hele taak op hulle neem. Hulle kla miskien dat ander hulle nie met die versorging wil help nie, maar hulle gee dalk ook te kenne dat hulle dit so verkies. Dit is een manier waarop ’n mens alte regverdig kan wees. Maar waarom maak jy dit vir jou onnodig moeilik? As hulp beskikbaar is, moet jy daarom vra en daarvan gebruik maak.
’n Woordjie van waarskuwing: Moenie verwag dat jou broers en susters net soveel soos jy sal doen nie. Hoewel hulle dit soms sal kan doen, maak hulle eie omstandighede dit dikwels moeilik, indien nie onmoontlik nie. In baie gevalle is dit praktieser as een familielid die basiese sorg verleen, terwyl die ander familielede, veral broers en susters, finansieel bydra sowel as deur te bel, besoek af te lê of hulle ouers van tyd tot tyd huis toe of op naweekuitstappies te neem.
Om saam te woon
Om saam te woon, kan klein irritasies veroorsaak. Gewoontes wat jy maklik by ’n vriend sou verskoon, lyk dalk onverdraaglik by ’n intieme familielid.
Jou ouer sê dalk boonop iets soos: ‘Ek wens jy kon meer tyd saam met my deurbring, maar ek weet jy’s te besig daarvoor.’ Dalk gee jou ouer se woorde te kenne dat hy dink jy nie werklik genoeg vir hom omgee nie. Jy vererg jou moontlik oor so ’n uitlating. In plaas daarvan dat jy jou vererg, sal dit nie beter wees om aandag te skenk aan dit waaroor jou ouer eintlik bekommerd is nie, naamlik om meer tyd saam met jou deur te bring? Selfs al kan jy nie aan die versoek voldoen nie, sal dit beter vrugte afwerp as jy op ’n mooi manier verduidelik hoe sake staan as om ’n kwetsende antwoord te gee.—Spreuke 12:18.
As jy opreg daarna streef om die eienskappe aan te kweek wat in die Bybel aangemoedig word, sal dit jou help om vriendelik maar ferm te wees wanneer dit nodig is. Die Bybelboek Kolossense gee realisties toe dat ons soms “die een teen die ander ’n klag het”. Dit moedig ons aan om ‘mekaar te verdra en mekaar te vergewe’. Dit vermaan ons ook om ons met “innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid” te beklee (Kolossense 3:12-14). Sulke eienskappe sal beslis grootliks daartoe bydra om die irritasies te verminder wanneer ’n mens saamwoon.
Selfs as jy dan van tyd tot tyd ’n fout begaan, jou geduld verloor en iets sê wat jy wens jy nooit gesê het nie, moet jy “die son nie [laat] ondergaan oor julle toorn nie”. Vra gou om verskoning en laat die saak daar. Moenie toelaat dat dit meer skuldgevoelens veroorsaak nie.—Efesiërs 4:26, 27.
Behou jou privaatheid
As jy en jou ouers in dieselfde huis woon, vind jy dit dalk moeilik om privaatheid te hê. Tog het jy en jou ouers ’n sekere mate van privaatheid nodig. Jy kan die probleem met hulle bespreek en tot ’n verstandhouding kom dat sekere tye en plekke vir jou en jou onmiddellike gesin privaat is. Vir party families, maar nie vir almal nie, sal ’n geslote deur met ’n “moenie steur nie”-teken byvoorbeeld wedersyds verstaan kan word as ’n aanduiding dat dit ’n private plek of tyd vir die persoon daarbinne is.
As die kamer nie ’n deur het nie, kan ’n draagbare skerm of ’n afskorting aan dieselfde doel beantwoord. ’n Taktvolle herinnering kan gepas wees as daar onverwags op die nodige privaatheid inbreuk gemaak word. Wat belangrik is, is dat almal in die gesin mekaar se behoefte aan privaatheid moet respekteer.
’n Voorreg
Hoewel enige agteruitgang in jou ouers se gesondheid vir jou pynlik kan wees, moet jy in gedagte hou dat dit ons Skepper, Jehovah, se wil is dat ons ’n sekere mate van vreugde moet geniet selfs wanneer ons moeilike omstandighede ondervind. Hierdie taak kan jou ook help om nader aan Jehovah te kom terwyl jy biddend op hom steun. Een persoon wat haar ouers versorg het, het dit só uitgedruk: “Ek was altyd na aan Jehovah, maar die versorging van my ouers het my geleer om volkome op hom te vertrou. Dit was soos die verskil tussen ’n hooflynoproep en om die persoon daar by jou te hê. Jehovah was daar reg by my.”
Die versorging van ’n mens se ouers is ’n voorreg sowel as ’n plig. Kommunikeer met jou ouers sodat jy weet wat hulle behoeftes is. Voorsien in hulle behoeftes en behou jou vreugde terwyl jy dit doen.—Filippense 4:4-7; 1 Petrus 5:7.
[Venster op bladsy 7]
Maak die versorging van jou ouers iets aangenaams
1. Ouers wil gewoonlik kwaliteitkontak van hulle volwasse kinders af hê. Dit beteken dat jy ’n hegte verhouding met jou ouers moet opbou en belangrike aspekte van jouself aan hulle bekend moet maak. In ’n “ouer/volwasse kind”-verhouding kan dit moeilik wees. As een van die twee enigsins ’n veroordelende gesindheid het, sal dit so ’n verhouding skaad. So ’n gesindheid moet vermy word as julle ’n hegte verhouding wil geniet.
2. As een van jou ouers jou van ’n probleem of bekommernis vertel, moet jy met empatie luister. Antwoorde wat hulle gevoelens as gering afmaak, kan negatiewe gevoelens versterk, soos: ‘Ag, dis glad nie so erg nie’ of: ‘Ek weet, dieselfde dinge gebeur met my.’ Jy sal meer uitrig as jy jou ouer se onderliggende gevoelens probeer identifiseer en dit dan erken en onderskryf. (‘Dit klink of jy op die oomblik ’n moeilike tyd deurmaak, maar ons sal saamwerk om daardeur te kom.’)—Spreuke 20:5.
3. As jy die huweliksmaat is van die een wat die basiese sorg verleen, moet jy fisiese sowel as emosionele onderskraging bied. Kommunikeer met jou huweliksmaat; anders sal misverstande ontstaan. ’n Huweliksmaat se onderskraging maak ’n groot verskil. Een vrou het gesê die gebrek aan onderskraging van haar gesin was “moeiliker om die hoof te bied as die versorging van [haar] ma”. Aan die ander kant het sy die hulp van ’n vriendin wat haar af en toe uitgehelp het geweldig waardeer. Sy het gesê: “Dit het my ontroer wanneer sy haar hulp aangebied het. Ek het só lief vir haar geword en dit het my nader aan haar laat kom.”
[Venster op bladsy 10]
As jy versorging ontvang
Dalk is jý die een wat versorging ontvang. Wat kan jy doen om ’n gebalanseerde en vreedsame verhouding met jou kinders te behou?
Party ouers maak die fout om die beheer te probeer verkry deur te neul, indringerig te wees of ander skuldig te laat voel. Jy weet waarskynlik dat dit net minder beheer en meer spanning tot gevolg sal hê. Jy sal beter resultate verkry as jy jou volwasse kinders wys dat jy hulle, hulle privaatheid en hulle sienswyse respekteer, selfs wanneer jy nie saamstem nie. Dit het ook ’n goeie uitwerking as jy jou kinders gereeld prys. Een volwasse kind het gesê: “’n Kind wil graag sy ouers se goedkeuring geniet ongeag hoe oud hy is.”
In so ’n atmosfeer van liefde en respek moet jy met jou kinders oor jou behoeftes gesels. Skimpe en insinuasies doen dikwels meer kwaad as goed; wees dus reguit maar liefdevol. Selfs al stem jy en jou kinders nie saam oor iets nie, sal jou takt bydra tot ’n hegte en openhartige verhouding sonder enige misverstande.
[Prente op bladsy 8, 9]
Terwyl jy jou ouers versorg, moet jy ook tyd vir jou huweliksmaat, jou kinders en jouself inruim