Die Bybelse beskouing
Watter soort egskeiding haat God?
“DAAR was baie probleme wat met my egskeiding gepaardgegaan het”, het een Christenvrou geskryf wie se man ontrou was. “Die aanpassingstydperk is nie maklik nie. Ek moes nie net verstandelik aanpas nie, maar ook finansieel en geestelik. Ek het gewonder of Jehovah my besluit sou seën, aangesien ek geweet het die Skrif sê hy haat egskeiding. Ek het my gedurig daaroor bekommer.”
Wanneer ’n huwelik beëindig word, is dit nie die einde van die komplikasies nie. Skielik ontstaan ’n hele klomp nuwe probleme. Die gevoelens—depressie, eensaamheid en ’n skuldgevoel—wat onverwags opduik. Die hofsake oor kindertoesig waarmee jy te kampe het. ’n Seun of dogter wat huil omdat hulle hulle Mammie of Pappie wil hê. Die finansiële probleme wat druk op jou uitoefen. Die begeerte na die intimiteit wat slegs vir die huwelik bedoel is wat jy moet probeer onderdruk.
Dan is daar God se beskouing om oor na te dink. Die Bybel sê dat God ‘egskeiding haat’ (Maleagi 2:16). Beteken hierdie woorde dat God alle egskeidings haat? Moet ’n Christen derhalwe skuldig voel omdat hy ’n egskeiding wil hê as ’n huweliksmaat ontrou was? Kom ons kyk vir die antwoorde hierop na die omstandighede in Maleagi se dag wat God beweeg het om te sê dat hy egskeiding haat.
“Julle moet nie verraderlik handel nie”
Maleagi het ná die jaar 443 v.G.J. geprofeteer, bykans ’n eeu nadat die Joodse ballinge uit Babilon teruggekeer het. Betreurenswaardige toestande het in Juda, en veral onder die priesters, ontstaan (Maleagi 2:7-9). Leuens, egbreuk, bedrog en onderdrukking het algemeen onder die Israeliete voorgekom (Maleagi 3:5). Hierdie toestande het soveel skeptisisme uitgelok dat sommige tot dié slotsom gekom het: “Dit is tevergeefs om God te dien.”—Maleagi 3:14.
Die agteruitgang wat daar in Maleagi se dag op die gebied van godsdiens en sedes plaasgevind het, is ook weerspieël deur die feit dat hulle die huweliksreëling nie meer eerbiedig het nie. Baie Israelitiese mans het van die vrou van hulle jeug geskei omdat hulle moontlik met ’n jonger heidense vrou wou trou. Die altaar van Jehovah was vol van die trane van verworpe vroue wat na die heiligdom gekom het om voor God te ween en te sug.—Maleagi 2:13-15.
Hoe het Jehovah God oor sulke egskeidings gevoel? Hy het deur Maleagi gewaarsku: “‘En julle moet julle bewaar met betrekking tot julle gees, en jeens die vrou van jou jeug mag niemand verraderlik handel nie. Want hy het egskeiding gehaat’, het Jehovah die God van Israel gesê . . . ‘En julle moet julle bewaar met betrekking tot julle gees, en julle moet nie verraderlik handel nie’” (Maleagi 2:15, 16, NW). Volgens die Theological Wordbook of the Old Testament het die Hebreeuse woord wat as ‘verraderlik handel’, weergegee word die betekenis van “bedrieglik handel, troueloos (handel)”. In Psalm 59:5 (NAV) word ’n deelwoordvorm van hierdie werkwoord as “verraaiers” weergegee.
Teen so ’n agtergrond kan ons die woorde in Maleagi 2:16 (NW) beter verstaan: “Hy het egskeiding gehaat.” Jehovah haat die soort egskeiding waar een huweliksmaat om nietige redes geskei word sodat daar met ’n ander getrou kan word. ’n Man wat byvoorbeeld owerspel pleeg en dan teen sy onskuldige maat se wense van haar skei of druk op haar uitoefen om van hom te skei sodat hy met iemand anders kan trou, sal beslis verraderlik met sy vrou handel. Om so bedrieglik en troueloos teenoor ’n onskuldige huweliksmaat op te tree, is ’n haatlike sonde in God se oë. ’n Man wat die beste jare van ’n vrou se lewe neem en dan van haar skei om miskien met ’n jonger vrou te trou, is beslis ’n verraaier.a
Wat dan van ’n onskuldige huweliksmaat wat verkies om van ’n eggenoot te skei wat owerspel gepleeg het? Haat God ook sulke egskeidings?
God se eie voorbeeld
Kan God werklik verstaan hoe dit voel as jy moet besluit of jy van ’n owerspelige huweliksmaat moet skei of nie? Vanweë Jehovah se verbond met die eertydse nasie Israel was hy, simbolies gesproke, met hulle getroud (Jesaja 54:1, 5, 6; 62:1-6; Jeremia 31:31, 32). As eggenoot was Jehovah die heeltyd getrou en het hy nooit sy liefde aan ander nasies gegee nie (Psalm 147:19, 20; Amos 3:1, 2). Maar wat van Israel? Watter soort vrou was die nasie Israel?
Die nasie in sy geheel was herhaaldelik ontrou aan die verbond en het uiteindelik die toestand bereik wat in die gebed in Daniël 9:5, 6 beskryf word: “Ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie.” In Jehovah se oë was sulke ontrouheid dieselfde as ’n vrou wat owerspel gepleeg het.—Jeremia 3:1.
Wat het Jehovah ná eeue van geduld en lankmoedigheid gedoen? Jehovah het deur ferm geregtelike optrede in werklikheid van die nasie geskei toe hy eers die noordelike stamme en daarna die suidelike stamme uit hulle land in ballingskap gewerp het (Jeremia 3:8; Daniël 9:11, 12). Hoe kon Jehovah God dit dan, in die lig van sy eie voorbeeld, haat as ’n onskuldige huweliksmaat verkies om van ’n eggenoot te skei wat aan die huweliksgelofte ontrou was?
Die huweliksreëling is iets heiligs in God se oë, en diegene wat in die huwelik tree, moet die gelofte wat hulle afgelê het nie lig opneem nie (Hebreërs 13:4). Maar as jou huweliksmaat aan die gelofte ontrou is deur “hoerery” te pleeg, gee God aan die onskuldige een die reg om te besluit of hy sy huweliksmaat wil vergewe of ’n egskeiding wil hê (Mattheüs 19:9). Dit is ’n moeilike besluit en een wat die onskuldige huweliksmaat self moet neem. Indien die onskuldige een besluit om die huwelik te beëindig, hoef hy of sy nie skuldig te voel oor die egskeiding nie. Onthou dat Jehovah nie alle egskeidings haat nie, maar wel dié soort waar daar om onskriftuurlike redes van die een huweliksmaat geskei word sodat daar met ’n ander getrou kan word.b
[Voetnote]
a In die Skrif praat Jehovah God deurentyd van homself as iemand wat sondige gesindhede en gedrag haat (Deuteronomium 16:22; Spreuke 6:16-19; 8:13; Jesaja 1:14; 61:8). Die egskeiding waarna Maleagi 2:16 verwys, moet in die lig hiervan ook dui op ’n soort wat in God se oë ’n sonde is.
b Om van ’n owerspelige huweliksmaat te skei, is ’n persoonlike besluit. Sien asseblief Die Wagtoring van 15 Augustus 1993, bladsy 5, en 15 Mei 1988, bladsye 4 tot 7, vir ’n bespreking van die verskeie faktore wat die onskuldige huweliksmaat kan opweeg in die besluit of ’n skriftuurlike egskeiding die antwoord is.
[Foto-erkenning op bladsy 20]
Historic Costume in Pictures/ Dover Publications, Inc., New York