Dwelms, spiritisme en die Bybel
Paulus het die eerste-eeuse Christene teen die “beoefening van spiritisme” gewaarsku (Galasiërs 5:20, NW). Die Griekse woord far·ma·kiʹa, wat Paulus hier gebruik het, beteken letterlik “die gebruik van dwelms”. “Aangesien hekse en towenaars dwelms gebruik het”, verduidelik The Interpreter’s Bible, “is die woord mettertyd as heksery, betowering, duiwelskunste en towerkuns vertaal.”
Dit is dus nie verbasend dat dwelms ’n rol in hedendaagse spiritisme speel nie. Na bewering is alkohol en dwelms byvoorbeeld gebruik om nuwe lede by sataniese kultusse in te lyf. Daar is al ook gesê dat dwelms moontlik gebruik word om ’n slagoffer inskikliker te maak om take tydens die sataniese seremonies te verrig. Wat ook al die geval, Petrus het gesê dat die Duiwel ‘rondloop soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind’ (1 Petrus 5:8). Die Griekse woord ka·ta·piʹno, wat as “verslind” vertaal is, se figuurlike betekenis is “verteer”, of “oorweldig”. Dit is presies wat dwelms en spiritisme doen. Dit moet vir Christene as ’n kragtige aansporing dien om enige vorm van dwelmmisbruik te vermy.—Vergelyk 2 Korinthiërs 4:4.