Dwelms—Wie gebruik dit?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA
“ALMAL gebruik dwelms.” Hierdie veralgemening word moontlik gebruik om naïewe persone oor te haal om met dwelms te eksperimenteer. Maar afhangende van hoe ons “dwelms” definieer, bevat hierdie woorde ’n element van waarheid.
Die woord “dwelm” word gedefinieer as: “Enige chemiese middel, hetsy natuurlik of sinteties verkry, wat gebruik kan word om ’n mens se gewaarwording, gemoedstemming of ander geestestoestande te verander.” Dit is ’n nuttige, breë beskrywing van die middels wat psigoaktiewe dwelms genoem word, hoewel dit nie baie geneesmiddels dek wat vir fisiese kwale gebruik word nie.
Volgens hierdie definisie is alkohol ’n dwelm. Die gevaar lê in die onmatige gebruik daarvan, wat klaarblyklik aan die toeneem is. ’n Opname by kolleges en universiteite in ’n Westerse land het getoon dat “strawwe drinkery die ernstigste dwelmprobleem op kollegekampusse is”. Volgens die opname is 44 persent van die studente strawwe drinkers.a
Tabak is, soos alkohol, wettig beskikbaar, hoewel dit ’n sterk gifstof, nikotien, bevat. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is rokery elke jaar vir die dood van viermiljoen mense verantwoordelik. Nietemin is tabakbase welgestelde, gesiene lede van die gemeenskap. Sigaretrokery is ook uiters verslawend, miskien selfs meer as die gebruik van baie van die onwettige dwelms.
In onlangse jare het baie lande tabakadvertensies beperk en ander maatreëls ingestel. Tog beskou baie mense rokery nog steeds as aanvaarbare sosiale gedrag. Die rolprentbedryf hou aan om rokery te verheerlik. Die Universiteit van Kalifornië in San Francisco se opname van die grootste lokettreffers tussen die jare 1991 en 1996 het getoon dat 80 persent van die mans in die hoofrolle gerook het.
Wat van “veilige” geneesmiddels?
Geneesmiddels het beslis al baie mense gehelp, maar dit kan misbruik word. Dokters skryf geneesmiddels soms te maklik voor, of pasiënte plaas druk op hulle om middels voor te skryf wat onnodig is. Een geneesheer het gesê: “Dokters neem nie altyd die tyd om saam met die pasiënt te sit en die oorsaak van sy simptome vas te stel nie. Dit is makliker om te sê: ‘Neem hierdie pil.’ Maar die werklike probleem word nie behandel nie.”
Selfs voorskrifvrye middels, soos aspirien en parasetamol (Tylenol, Panadol), kan tot ernstige gesondheidsprobleme lei as dit misbruik word. Wêreldwyd sterf meer as 2 000 mense elke jaar weens die misbruik van parasetamol.
Volgens ons definisie van vroeër is die kafeïen in tee en koffie ook ’n dwelm, hoewel ons selde so daaraan dink wanneer ons ons geliefkoosde ontbytdrankie drink. En dit sal belaglik wees om sosiaal-aanvaarbare drankies soos tee of koffie in dieselfde lig te beskou as harde dwelms soos heroïen. Dit sou wees soos om ’n huiskatjie met ’n kwaai leeu te vergelyk. Maar volgens party gesondheidsdeskundiges kan dit skadelik wees as jy gereeld meer as vyf koppies koffie of nege koppies tee per dag drink. Wat meer is, as jy skielik ’n hoë inname drasties verminder, kan jy onttrekkingsimptome ondervind soos dié van een teedrinker wat opgegooi en kwaai hoofpyne gekry het en sensitief vir lig geword het.
Wat van die onwettige gebruik van opkikkers?
’n Meer omstrede kwessie is die gebruik van opkikkers in sport. Dit is in 1998 in die Tour de France toegelig toe nege fietsryers van die topspan gediskwalifiseer is weens die gebruik van opkikkers. Atlete het al verskillende maniere probeer om die opkikkertoetse te fnuik. Die tydskrif Time sê dat party selfs so ver gegaan het om “‘urine-oorplantings’ te kry, wat beteken dat iemand anders se ‘skoon’ urine met ’n kateter in hulle blaas oorgetap word, ’n prosedure wat dikwels pynlik is”.
Dan het ons nog nie eers die groot verskeidenheid dwelms bespreek wat vir “ontspanning” gebruik word nie. Dit sluit in dagga, ecstasy (metileendioksimetamfetamien, of MDMA), LSD (lisergiensuurdiëtielamied), stimulante (soos kokaïen en amfetamiene), depressante (soos kalmeermiddels) en heroïen. Moenie vergeet van die verskillende inasemingsmiddels, soos gom en petrol, wat gewild is onder jongmense nie. Hierdie inasemingsmiddels is natuurlik nie verbode middels nie en is oral beskikbaar.
Die algemene voorstelling van ’n uitgeteerde dwelmslaaf in ’n vuil kamer met ’n spuitnaald in sy arm kan misleidend wees. Baie mense wat dwelms gebruik, funksioneer nog betreklik normaal in die daaglikse lewe, hoewel hulle verslawing beslis die gehalte van hulle lewe in meerdere of mindere mate beïnvloed. Nietemin moet ons nie die donker kant van die dwelmwêreld geringag nie. Een skrywer beskryf hoe party kokaïengebruikers hulle “tientalle kere in ’n enkele sessie met dwelms inspuit, wat hulle liggaam vol prikmerke, bloed en kneuswonde laat”.
Ná ’n skynbare afname in die laat 1980’s is dwelmgebruik weer besig om wêreldwyd toe te neem. Die tydskrif Newsweek het gesê: “Owerhede word oorweldig deur ’n styging in dwelmsmokkelary, ’n toename in die gebruik van byna elke soort dwelm en ’n gebrek aan fondse—en inligting—wat nodig is om dit te beveg.” Volgens staatstatistiek, het die koerant The Star van Johannesburg gesê, “is een uit vier Suid-Afrikaners aan alkohol of dwelms verslaaf”.
Die VN se Navorsingsinstituut vir Maatskaplike Ontwikkeling het daarop gewys dat “dwelmvervaardigers en -handelaars . . . hulle op ’n wêreldskaal georganiseer het en ’n aansienlike deel van hulle dwelmwinste in finansiële sentrums belê wat vertroulikheid en aantreklike beleggingsopbrengste bied. . . . Dwelmhandelaars kan nou onwettige winste skoonmaak deur geld elektronies oor die wêreld rond te skuif sonder dat lande veel beheer daaroor kan uitoefen.”
Baie Amerikaners hanteer kokaïen blykbaar daagliks, al is hulle onbewus daarvan. ’n Artikel in die tydskrif Discover het verduidelik dat die meeste Amerikaanse banknote oorblyfsels van die dwelm bevat.
Feit is dat die misbruik van geneesmiddels sowel as dwelms vandag vir baie aanvaarbaar geword het en as deel van die alledaagse lewe beskou word. In die lig van die welbekende gevare van dwelms, asook tabak en alkohol, is die natuurlike vraag: Waarom misbruik mense dit? Terwyl ons hierdie vraag oordink, is dit ’n goeie tyd om oor ons beskouing van dwelms na te dink.
[Voetnoot]
a Strawwe drinkery is beskryf as ‘die inname van vyf of meer drankies na mekaar vir mans, en vier of meer vir vroue’.
[Prent op bladsy 3]
Strawwe drinkery is ’n ernstige probleem op baie kollegekampusse
[Prent op bladsy 5]
Baie beskou sigarette en “ontspanningsdwelms” as onskadelik