Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/8 bl. 22-25
  • “Wee, wee jou, o groot stad”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Wee, wee jou, o groot stad”
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Oorgang na onsterflikheid?
  • Hoe ewig is die “Ewige Stad”?
  • Islam se heiligste plek
  • Besitting van dubbele vrede?
  • ‘Julle stede sal puinhope word’
  • ’n Koninkryk wat op sand, olie en godsdiens gebou is
    Ontwaak!—1991
  • Wat sal jy vir ’n Moslem sê?
    Ons Koninkryksbediening—1999
  • Die mensdom se soeke na God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Jerusalem—“die stad van die groot Koning”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/8 bl. 22-25

“Wee, wee jou, o groot stad”

VAN al die stede in die wêreld wat beweer dat hulle vernaam is, wil dit voorkom asof geeneen meer geregtig daarop sou wees as dié wat op godsdienstige wyse as heilig beskou word nie. Maar die woorde “wee, wee jou” dui aan dat die godsdiensstad wat in Openbaring 18:10 “groot” genoem word klaarblyklik nie Goddelike goedkeuring geniet nie, soos ons later sal sien.

’n Oorgang na onsterflikheid?

In Indië word heilige Hindoestede tīrthas genoem, wat “oorgange” of “driwwe” beteken. Baie van hulle, soos Banaras (wat ook Benares, Kasi of Varanasi genoem word), is op rivieroewers geleë. Hulle word egter nie as letterlike oorgange beskou nie, maar eerder as geestelike driwwe wat mense kwansuis toelaat om die waters van die lewe veilig oor te steek na ’n beter lewe aan die ander kant.

’n Ensiklopedie sê: “Vārānasi is een van die oudste stede ter wêreld wat die hele tyd bewoon is . . . , die eerste Ariese nedersetting in die Midde-Gangesvallei.” Dit was reeds in die tweede millennium v.G.J. ’n godsdienssentrum. Hoewel dit ’n Hindoestad is, kom dit ook in die annale van Boeddhisme en Islam voor. Gedurende die sesde eeu v.G.J., terwyl Banaras die hoofstad van die Koninkryk van Kasi was, het Boeddha sy eerste preek hier naby gelewer. Islam het in 1194 op die toneel verskyn toe Moslems die beheer van die stad oorgeneem het.

Banaras, wat in Noord-Indië aan die Gangesrivier geleë is, is een van die land se sewe allerheiligste Hindoestede. Binne sy grense is ’n simboliese plek aan elke Hindoegod en aan elkeen van die ander groot tīrthas toegewys. Daarom noem The Encyclopedia of Religion die stad “’n mikrokosmos van Indië se heilige geografie”. Dit voeg by: “Die intensiteit van die krag wat van die simboliese versameling gode, tīrthas en wysgere in hierdie een plek kom, het daartoe gelei dat Banaras die bekendste plek in Indië is waarheen pelgrimsreise onderneem word.”

Die Hindoes beskou Banaras as ’n baie gunstige plek om in te sterf. Die gewilde uitdrukking Kāśyām maranam muktih beteken “Die dood in Kasi is bevryding”. Volgens oorlewering word enigeen wat daar sterf deur Siwa self onderrig, wat daarop neerkom dat ’n mens “oor die stroom van samsāra na die ‘verre oewer’ van onsterflikheid” geneem word.a

Die Ganges kronkel soos alle riviere verby welvarende stede en absorbeer rioolafval en chemikalieë in die verbygaan. Intussen gooi vroom Hindoes daagliks, in gehoorsaamheid aan hulle godsdienstradisie, nagenoeg 10 000 lyke in die rivier. Terselfdertyd klim pelgrims, sonder om hulle aan die onmiskenbare gevaar van siektes te steur, met die trappies langs die rivieroewers af om volgens godsdienstradisie in die rivier te was. Is dit werklik die weg na onsterflikheid?

Hoe ewig is die “Ewige Stad”?

’n Ander rivier, wat moontlik vroeër Albula genoem is en na die witheid van sy waters verwys, vloei deur ’n godsdiensstad in Europa, die “Ewige Stad” van die sewe heuwels. Die rivier, wat lankal reeds sy witheid verloor het, staan nou as die Tiber bekend. En die stad het sy sewe heuwels lankal ontgroei. Volgens The New Encyclopædia Britannica word “die erfenis van die verlede wat in Rome voortleef” nietemin “deur geen ander stad in die Weste oortref nie”.

Tientalle monumente en historiese geboue getuig van hierdie erfenis. Die feit dat hulle hoegenaamd behoue gebly het, is verbasend as ’n mens die talle kere in ag neem wat die stad verower en geplunder is—aan die begin van die vierde eeu v.G.J. deur die Galliërs en in die Gewone Jaartelling deur die Wes-Gote in 410, die Vandale in 455, die Normandiërs in 1084, keiserlike huurtroepe in 1527, Napoleon se leër in 1798 en die Duitsers sowel as die Geallieerdes gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Hoewel die oorspronklike ommuurde stad Rome slegs 4 persent van die totale oppervlakte van die hedendaagse stad uitmaak, is dít die Rome wat miljoene toeriste kom besigtig, want dit is waar die meeste monumente aangetref word. ’n Ander toeriste-aantreklikheid, ten minste vroeg in 1993, was die uitstalling “Sixtus V en Rome”. Sixtus wat van 1585 af tot 1590 die pous was, het só ’n blywende stempel op Rome afgedruk dat hy al “die vader van hedendaagse dorpsbeplanning” genoem is. The European het verduidelik waarom hy Rome herskep het en gesê: “Eerstens was dit om ’n soliede argitektoniese grondslag vir die bevestiging van die Vatikaanse mag teen die Protestantse bedreiging te voorsien. . . . Tweedens was dit om die stad Rome, in baie opsigte steeds ’n provinsiale markdorp, die waardige setel van die Nuwe Jerusalem te maak.”

Die Vatikaanstad, ’n baie klein ingeslote grondgebied van Rome, beweer dat hy hierdie “setel van die Nuwe Jerusalem” is. In 1929 het die Fascistiese Italiaanse regering die Lateraanse Verdrag onderteken en sodoende die soewereiniteit van die Vatikaanstad erken. Sedertdien het die pous hierdie stad met absolute uitvoerende, wetgewende en regterlike mag geregeer. Die Vatikaan het sy eie pos- en telefoonstelsel sowel as sy eie leër, onder andere die Switserse Wagte in uniform, wat vir die pous se beskerming verantwoordelik is. Maar toeriste wil veral die St. Pieterskerk sien, wat eeue lank die grootste kerk in die Christendom was. Hy het hierdie uitsonderlike kenmerk in 1989 verloor met die voltooiing van die basilika in Yamoussoukro, Côte d’Ivoire.

The New Encyclopædia Britannica sê “om ’n burger van Rome te wees, was 1000 jaar lank soos om die sleutels van die wêreld te hê, om in veiligheid, trots en relatiewe gemak te leef”. Maar nie meer nie! Politieke korrupsie in Rome en godsdiensstagnasie in die Vatikaanstad bewys dat die sogenaamde glorie van gister nie juis ewigdurend is nie.

Islam se heiligste plek

Ongeveer ’n miljard Moslems regoor die wêreld beskou die stad Mekka as “die plek waar goddelike, engel-, profetiese en vreugdevolle mensebedrywigheid sedert die oorspronklike oomblik van die skepping plaasvind”.b Volgens Islam is dít waar die skepping begin het, waar Abraham die eerste plek van aanbidding gebou het en waarheen hy sy byvrou Hagar en hul seun, Ismael, geneem het.

Meer onlangs, moontlik ongeveer 570 G.J., was Mekka, Saoedi-Arabië, die plek waar die profeet Muhammed gebore is. Sy opvattings het aanvanklik nie veel gunstige reaksie uitgelok nie. Mekka was ’n oasis op die karavaanhandelsroete tussen Indië en Europa, en sy invloedryke handelaars het gevrees dat Muhammed se godsdienshervormings ’n nadelige uitwerking op die ekonomie sou hê. Toe hy nie in Mekka erkenning gekry het nie, het die profeet na Jathrib gegaan, wat van toe af as Al-Madīnah (Medina) bekend gestaan het, ’n stad meer as 300 kilometer na die noordooste. Maar in 630 G.J. het hy na Mekka teruggekeer, dit verower en dit die geestelike sentrum van Islam gemaak.

Vandag is Mekka ’n ryk en kosmopolitiese stad, selfs al mag net Moslems daar woon. Gedurende Dhuʼl-Hijja, die heilige maand van pelgrimstogte, besoek miljoene dit om hulle godsdiensplig van hadj na te kom. Terwyl die pelgrims in Mekka is, besoek hulle die Heilige Moskee, waar hulle sewe maal om ’n klein heiligdom loop wat naby die middel van die moskee se daklose binnehof geleë is.

Hierdie heiligdom is die Kaäba, ’n kubusvormige struktuur wat gewoonlik met ’n groot gordyn van swart brokaat bedek is en die heilige Swart Klip bevat. Hierdie klip, wat volgens Moslems aan Adam gegee is vir die vergifnis van sondes toe hy uit Eden verdryf is, was toe kwansuis wit. Volgens Moslemtradisie het die oorspronklike Kaäba in Noag se vloed vergaan, maar die Swart Klip is bewaar en is later deur die engel Gabriël aan Abraham gegee, waarna Abraham die Kaäba herbou het en die Swart Klip tot sy regte plek herstel het. Dit is in die rigting van die Kaäba—wat volgens Islam die heiligste plek op aarde is—waarheen Moslems hulle vyf keer per dag in gebed keer.

Vier-en-twintig poorte lei na die binnehof van die Heilige Moskee, maar die tradisionele ingang vir pelgrims is die Poort van Vrede, wat in die noordelike hoek geleë is. Dit is nogtans nie altyd vreedsaam gedurende die hadj nie. In 1987 het Islamitiese andersdenkendes die beheer van die moskee probeer oorneem. Die orde is gou herstel, maar nie voor meer as 400 Moslems gesterf en ongeveer 650 beseer is nie. So ’n duidelike gebrek aan vrede by die heiligste van alle Islamitiese heiligdomme is betreurenswaardig, maar Moslems put vertroosting uit die Islamitiese leer, waarvolgens enigeen wat sterf terwyl hy op die hadj is onmiddellike toegang tot die hemel verkry.

Besitting van dubbele vrede?

Jerusalem, wat deur Jode en naamchristene as die Heilige Stad en deur Moslems as die derde heiligste plek op aarde (naas Mekka en Medina) beskou word, beteken “Besitting van dubbele vrede”. Van 1070 v.G.J. af was dit die hoofstad van eertydse Israel, hoewel dit voor daardie tyd bykans 900 jaar lank as Salem bestaan het (Genesis 14:18). As die administratiewe sentrum van die nasie was dit strategies geleë, knus tussen die heuwels op ’n hoogte van ongeveer 750 meter bo seevlak, wat dit op daardie tydstip een van die hoogliggendste hoofstede ter wêreld gemaak het.

Gedurende die vierde eeu v.G.J. het Jerusalem onder Griekse beheer gekom. Teen die tweede eeu v.G.J. is dit al hoe meer deur ’n groter wordende Romeinse mag beïnvloed. Jerusalem het gedurende die bewind van Herodes die Grote gefloreer. ’n Gedeelte van die voorhofmuur van die tempel wat hy gebou het, staan blykbaar steeds, en dit staan nou as die Westelike Muur (Klaagmuur) bekend. Aangesien die Jode van die Romeinse juk probeer ontslae raak het, het Romeinse leërs Jerusalem in April 70 G.J. aangeval. Minder as vyf maande later het die stad en sy tempel in puin gelê.

Volgens een skatting is Jerusalem al 37 keer verower. In baie gevalle het dit tot sy gedeeltelike of algehele vernietiging gelei. Maar ’n nuwe Jerusalem het altyd uit die oue verrys. Omstreeks 130 G.J. het keiser Hadrianus dus beveel dat ’n nuwe stad gebou word, een wat Aelia Capitolina genoem is. Geen Jood is bykans twee eeue lank toegelaat om dit binne te gaan nie. Toe, in die eerste helfte van die sewende eeu G.J., het die Moslems die stad verower en later die Rotskoepel op of naby die vroeëre tempelterrein gebou.

Die hedendaagse staat Israel is in 1948 gestig, en in 1949 is Jerusalem tussen Israel en Jordanië verdeel. Maar in 1967, gedurende die Sesdaagse Oorlog, het die Israeli’s sy oostelike helfte verower. Sedertdien het hulle die stad gemoderniseer terwyl hulle die historiese aspek daarvan probeer behou het. Teen 1993 was sy bevolking meer as ’n halfmiljoen.

Met drie van die wêreld se vernaamste godsdienste wat Jerusalem almal as heilig beskou, loop godsdiensspanning soms hoog. “Van al die konflikte tussen Jode en Arabiere, is dié oor Jerusalem die ingewikkeldste en die hardnekkigste”, sê die Time. Op die oomblik is daar min bewys van die belofte van dubbele vrede wat Jerusalem se naam inhou.

‘Julle stede sal puinhope word’

Die stad wat in Openbaring 18:10 genoem word, simboliseer al die godsdienste wat God mishaag. “Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!” Dit is duidelik dat godsdiens wat teen Jehovah God gekant is tot ondergang gedoem is. Ondanks hulle tempels, seremonies en godsdienstoebehore sal die hedendaagse “groot” godsdiensstede geen blywende beskerming op God se dag van oordeel bied nie.

[Voetnote]

a Vir Hindoes beteken “samsara” die verhuising van ’n ewige, onverganklike siel.

b Islam: Beliefs and Teachings, wat deur The Muslim Educational Trust uitgegee is, beweer dat “die jongste Moslembevolkingsyfer oor die hele wêreld dalk byna 1100 miljoen is”.

[Prent op bladsy 24]

Die heilige moskee van Mekka en die Kaäba

[Erkenning]

Camerapix

[Prent op bladsy 25]

Die Joodse Klaagmuur van Jerusalem en die Moslemse Rotskoepel (links)

[Erkenning]

Garo Nalbandian

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel