Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 1/8 bl. 16-18
  • ’n Koninkryk wat op sand, olie en godsdiens gebou is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Koninkryk wat op sand, olie en godsdiens gebou is
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Saoedi-Arabië—die oue en die nuwe
  • Mekka, die Kaäba en die Koran
  • Moderne lewe in Saoedi-Arabië
  • Elke muntstuk het twee kante
  • “Wee, wee jou, o groot stad”
    Ontwaak!—1994
  • Die Islām—Die weg na God deur onderwerping
    Die mensdom se soeke na God
  • Wat sal jy vir ’n Moslem sê?
    Ons Koninkryksbediening—1999
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 1/8 bl. 16-18

’n Koninkryk wat op sand, olie en godsdiens gebou is

WATTER land is so groot soos Wes-Europa, het ’n bevolking van slegs 12 miljoen en bestaan omtrent net uit woestyn? Watter koninkryk is in 1932 opgerig, het in 1938 groot hoeveelhede olie ontdek en die wêreld se derde grootste produsent van ru-olie geword? Watter koninkryk gebruik die Koran as sy grondwet en is die plek waar twee van die Islam se heiligste stede en moskees geleë is?

Die antwoord op al hierdie vrae is die Saoedi-Arabiese Koninkryk waar koning Fahd Bin Abdul Aziz die heerser is. Met ’n oppervlakte van 2 240 000 vierkante kilometer beslaan dit byna die hele Arabiese skiereiland, met die Rooi See in die weste, die Arabiese See in die suide en die Arabiese Golf in die ooste.

Hoe het ek in hierdie Arabiese land begin belangstel? Ek het in die koerant ’n uitnodiging gesien na ’n tentoonstelling in New York-stad wat deur die regering van Saoedi-Arabië geborg is. Ek was nuuskierig om meer oor hierdie vreemde kultuur en lewenswyse uit te vind. En aangesien ek waarskynlik nooit na Saoedi-Arabië sal gaan nie, kon ek Saoedi-Arabië net sowel na my toe laat kom, nie waar nie?

Saoedi-Arabië—die oue en die nuwe

Toe ek in die tentoonstellingsterrein instap, het ek dadelik besef dat alles daarop gemik was om ’n goeie indruk by die publiek te laat oor hierdie Arabiese land. Saoediese universiteitstudente wat in die VSA studeer, het orals as goed ingeligte gidse opgetree. Hulle was almal geklee in die kenmerkende thobe, ’n lang, wit kledingstuk wat soos ’n mantel lyk en tot op die voete hang. Elkeen het ook ’n rooi en wit geruite ghutra, of kopdoek, gedra wat deur ’n dubbele, ronde, swart koord in posisie gehou is. Hulle het almal goeie Engels gepraat en het enige vraag wat ek of iemand anders gevra het, beleef beantwoord.

Nadat ek deur ’n halfdonker gang geloop het, waar foto’s van die Saoediese koninklike gesin uitgestal is en velerlei skyfies oor aspekte van Saoedi-Arabië gewys is, het ek na die terrein gegaan waar tradisionele Arabiese en Bedoeïenelewe uitgebeeld is. ’n Swart Bedoeïenetent met al die uitrusting van hulle nomadiese lewe is ten toon gestel. Weens die vooruitgang van die moderne tegnologie is die Bedoeïenelewenstyl met sy legendariese gasvryheid teenoor vreemdelinge egter aan die uitsterf.

Die volgende sektor van die toer was ’n herinnering aan die godsdiensmag wat die lewe in Saoedi-Arabië stuur en beheer—die Islam.a

Mekka, die Kaäba en die Koran

Die Islam se heilige boek, die Koran, “word as die grondwet van [Saoedi-Arabië] beskou en verskaf etiese waardes en riglyne”, sê ’n amptelike brosjure. ’n Pamflet sê: “Die Koninkryk stel sy maatskaplike, politieke en ekonomiese beleidsrigtinge op aan die hand van die Islamitiese leer.” Hoewel verskeie handgeskrewe afskrifte van die Koran uitgestal is, was die pelgrimstad Mekka (Arabies, Makka) met sy reusemoskee en die Kaäba in die middel die hooftema van hierdie sektor. Dit is deur lewensgetroue modelle uitgebeeld.

Die Kaäba, ’n kolossale kubusvormige gebou van klip wat met ’n swaar swart kleed bedek is, word deur ’n Islamitiese publikasie omskrywe as “die plek van aanbidding wat God Abraham en Ismael meer as vierduisend jaar gelede beveel het om te bou”.b Die Islam (wat in die sewende eeu G.J. deur die profeet Muḥammad begin is) maak dus daarop aanspraak dat dit ’n verbintenis het met Abraham, die aartsvaderlike voorloper van Judaïsme en die Christelike godsdiens. Dit is derhalwe een van die drie vername monoteïstiese godsdiensstelsels.

In werklikheid is die Kaäba in die middel van die enorme plein geleë wat deel van die groot moskee van Mekka uitmaak. Met die jaarlikse pelgrimstog (ḥadj) stroom meer as ’n miljoen Moslems daarheen om te bid en sewe keer om die Kaäba te loop. Elke gesonde Moslem beskou dit as sy plig om hierdie tog ten minste een keer in ’n leeftyd te onderneem. Die tentoonstelling het ook ’n model van die kolossale moskee van Medina (Arabies, Madina), waar Muḥammad begrawe is, ingesluit.

Die swaar, swierige deure van die Kaäba wat ten toon gestel is, was besonder interessant. Gewoonlik kan net Moslems dit sien, aangesien hulle alleen in die moskee van Mekka toegelaat word. Dit was moeilik om te glo dat dit die oorspronklike deure was totdat ’n gids verduidelik het dat dié deure van 1942 tot 1982 gebruik is en toe deur nuwes vervang is. Hulle word van goud en silwer gemaak en word versier met goue plate waarop verse uit die Koran in Arabies gegraveer is. Teen ’n muur daar naby was ’n kiswa, of swaar, swart gordyn, wat gebruik is om die Kaäba te bedek, waarop nog aanhalings uit die Koran in goud geborduur is.

Moderne lewe in Saoedi-Arabië

Verder op die toer was daar uitbeeldings van tipiese straattonele, met handwerksmanne wat matte vleg en ander wat huishoudelike gereedskap uit yster smee. Ander ambagsmanne was besig om tipies Arabiese sandale uit leer te vervaardig. Nog een het eenvoudige voëlkoutjies uit hout gemaak. En ’n ander een was besig om op ’n pottebakkerswiel wat met die voet beheer word voorwerpe uit pottebakkersklei te vorm.

Uiteindelik het ek by die afdeling gekom wat die aandag gevestig het op die prestasies van die hedendaagse Saoedi-Arabië. Dit was duidelik dat die ontdekking van olie die Saoediese ekonomie en die lewenstandaard van die nasie verander het. ARAMCO (Arabian American Oil Company) het in 1938 groot hoeveelhede olieafsettings ontdek. Monsters van die swart vloeistof in bottels is ten toon gestel. ’n Maatskappybrosjure sê: “Aramco het nou meer as 43 000 werknemers, omtrent 550 boorgate in produksie, 20 500 kilometer se olielyne en pypleidings en meer as 60 gas-olie-skeiaanlegte.”

Met so ’n stewige ekonomiese fondasie is dit geen wonder nie dat inligtingsbrosjures kan sê dat Saoedi-Arabië sowat 15 000 skole en opvoedkundige sentrums onderhou wat meer as 2,5 miljoen studente bedien. Onderwys is gratis vir almal tot op universiteitsvlak. En daar is sewe universiteite.

Natuurlik is olie nie alles in Saoedi-Arabië nie. Groot besproeiingsprojekte is voltooi, en die landbou het so gebloei dat die land vis, pluimvee, koring, dadels, groente en suiwel- en ander plaasprodukte uitvoer.

Elke muntstuk het twee kante

Aan die einde van my drie uur lange besoek aan “Saoedi-Arabië” was ek baie beïndruk deur die prestasies van ’n betreklik klein nasie. Ek het gedink hoe anders dinge kon wees as elke nasie op soortgelyke wyse geseën was met petroleumhulpbronne of ander waardevolle hulpbronne wat wêreldwyd in aanvraag is.

Hoewel die besoek baie leersaam was, kon ek nie anders as om die leemtes op godsdiensgebied op te merk nie. Ek het niks geleer oor die werklike Kaäba-steen, ’n swart meteoriet wat vereer word deur Moslems wat Mekka besoek nie. Voor die stigting van die Islam “is [die steen] as ’n fetisj vereer”, sê Philip K. Hitti in sy History of the Arabs. Die tradisie lui dat Ismael die swart steen van die engel Gabriël ontvang het terwyl hy besig was om die Kaäba te herbou.

Nog ’n leemte in die tentoonstelling was dat ek geen verwysing na die twee vername afdelings van die Islam, die Sunni en die Sjia, kon vind nie. Hierdie skeuring kan teruggevoer word tot by Muḥammad se opvolgers en is gebaseer op ’n verskil in vertolking oor wie sy regmatige geestelike erfgename is—volg die afstamming in Muḥammad se bloedlyn soos die Sjiïtiese Moslems beweer of is dit gebaseer op ’n gekose amp soos die meeste Sunni beweer? Die Saoediërs behoort aan die streng Wahhabiese sekte van die Hanbaliese skool, die strengste van die vier van Sunni-Moslems.

Arabiese vroue was merkbaar afwesig van die tentoonstelling. Ek het aangeneem dat hierdie weglating toe te skrywe is aan die streng Saoediese vertolking van Islamitiese wette oor die rol van vroue in die openbare lewe.

Toe ek die tentoonstelling verlaat, is ek kragtig herinner aan die gesegde dat elke muntstuk twee kante het. Buite in die straat het Arabiese protesteerders pamflette uitgegee wat aantygings gemaak het oor dade van wreedheid en onregverdigheid in Saoedi-Arabië en wat die gebrek aan demokratiese ontwikkeling in daardie land veroordeel het (daar is geen sekulêre grondwet of parlement nie). Dit het my laat besef dat sand, olie en godsdiens vir party mense nie noodwendig alles is nie. Maar ek het ten minste ’n duideliker perspektief van die lewe in Saoedi-Arabië en die uitwerking van die Islam op sy mense gekry.—Bygedra.

[Voetnote]

a Vir ’n breedvoerige bespreking van die Islam, sien die boek Die mensdom se soeke na God, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., 1990, hoofstuk 12: “Die Islam—Die weg na God deur onderwerping.”

b Die Bybel meld glad nie hierdie gebeurtenis of dat Abraham in eertydse Mekka was nie.—Genesis 12:8–13:18.

[Kaart/Prent op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Mekka

IRAN

IRAK

SAOEDI-ARABIË

SOEDAN

Rooi See

Arabiese See

[Prente op bladsy 17]

(Van links) Deure van die Kaäba, Arabiese ambagsman en Arabiese sierskrif

[Erkenning]

David Patterson

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel