Die Byblese beskouing
Hulp in jou tyd van droefheid
“VERDRIET MAAK VAN ONS ALMAL WEER KINDERS—DIT VERNIETIG ALLE VERSKILLE IN INTELLEK. DIE VERSTANDIGSTE WEET NIKS NIE.”
—RALPH WALDO EMERSON, ’N 19DE-EEUSE AMERIKAANSE DIGTER EN SKRYWER VAN KORT VERHANDELINGE.
DIE angel van die dood veroorsaak nie net smart nie, maar laat ook die meeste oorlewendes—man, vrou, vader, moeder, seun, dogter of vriend—met ’n doodse gevoel agter. Die verstandige vra vrae, maar kry geen bemoedigende antwoorde nie en die sterk persoon huil omdat sy hart swaar is weens droefheid, maar hy kry geen vertroosting nie. Lesers van die Bybel word dalk herinner aan die uitroepe van Dawid toe trouelose Absalom tereggestel is: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!” (2 Samuel 18:33). Dit was nie die uitroepe van ’n koning oor ’n verraaier nie; dit was die uitroepe van ’n vader wat oor die dood van sy seun gehuil het. Jy het moontlik ook ’n soortgelyke gevoel gehad toe jy iemand aan die dood afgestaan het.
Gedurende die tyd van diepe droefheid kan kwellende vrae deur jou gedagtes maal. ‘Waarom het dit gebeur? Het God geweet dit gaan gebeur? As hy wel geweet het, waarom het hy nie verhoed dat dit gebeur het nie?’ Selfs al het ’n persoon ’n goeie kennis van die Bybel en al weet hy dat die dooies opgewek gaan word, kan kwelvrae hom noop om ernstig oor skriftuurlike gedagtes te peins sodat hy vertroos en bemoedig kan word.
Onjuiste antwoorde bied slegs valse vertroosting en nie ware bevrediging nie. Wanneer daar vir mense gesê word dat “God hulle geliefde nodig gehad het”, veroorsaak dit dikwels dat hulle God in ’n gees van bitterheid die rug toekeer. Die waarheid, soos dit in die Bybel vervat is, beantwoord vrae oor droefheid en bring ’n mens nader aan Jehovah God eerder as om jou van hom af weg te stoot. Ons word in 2 Korinthiërs 1:3, 4 verseker dat hy die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting is.
Die balans tussen God se kennis en krag
Jehovah, die Almagtige, dra kennis van alles wat in sy ontsaglike skepping gebeur. Psalm 11:4 verseker ons: “Die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders.” In Hebreërs 4:13 het die apostel Paulus geskryf: “Daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie.” God dra nie net kennis van alles nie, maar hy gee ook om! Jesus het gesê: “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader [“se medewete”, NW] nie . . . julle is meer werd as baie mossies.”—Mattheüs 10:29, 31.
Kon God die ontydige dood van ’n geliefde en die daaropvolgende droefheid voorkom het? Ja, hy kon. “By God is alle dinge moontlik”, het Jesus gesê (Markus 10:27). Lank gelede het Jehovah na die gebed van die sterwende Hiskia geluister en hom gesond gemaak en jare by sy lewe gevoeg (Jesaja 38:2-5). Daar is geen twyfel oor Jehovah se vermoë om alles te doen wat hy wil nie, maar ons moet ’n beter begrip van sy wil verkry. Ons het al almal gelees van mense wat ernstig beseer of siek was en tog bly lewe het. Het Jehovah ten behoewe van hierdie mense ingetree?
Party mense het buitengewone herstelvermoëns en ’n sterk wilskrag om te lewe. Dit verklaar moontlik hulle skynbaar wonderdadige herstel. Of die een of ander nuwe behandeling was dalk geslaagd. Om dié rede moet ons nie sonder meer tot die gevolgtrekking kom dat Jehovah ingetree het nie.—Filippense 4:13, NW.
God se Woord verduidelik waarom mense sterf
In Romeine 5:12 verduidelik die apostel Paulus heel eenvoudig dat ons voorvader Adam teen sy Skepper in opstand gekom het en met reg die doodstraf gekry het. Aangesien ons nakomelinge van Adam is, is ons sondaars en kan ons te eniger tyd sterf. Daar is niks wat ons daarvan verseker dat ons sal bly lewe nie. Wyse koning Salomo van die ou tyd maak dit duidelik dat tyd en lotgeval enigiemand te eniger tyd kan tref, hetsy dit ’n noodlottige ongeluk of ’n skielike terminale siekte is. Of iemand word met ’n oorgeërfde gebrek gebore wat sy lewe verkort. Salomo verduidelik ook dat daar by God ’n tyd vir elke saak is. God het ’n tyd bepaal om, nie net een of ’n paar mense nie, maar die hele gelowige mensdom gedurende die heerskappy van Christus Jesus te genees.—Prediker 3:1; 9:11; 1 Korinthiërs 15:25, 26.
Die volgende gedagte stem ’n mens tot nugtere denke: Christene word nie vrygestel van die rampspoede wat die mensdom teister nie en is dus onderhewig aan die ondervindinge wat algemeen onder die mensdom voorkom. “Die beproewinge wat julle moes verduur, is niks meer as wat mense normaalweg verduur nie.”—1 Korinthiërs 10:13, The Jerusalem Bible.
Die weg tot herstel
Die dood is ’n tyd wanneer trane met die grootste opregtheid vermeng word in smeekbede tot Jehovah, die Hoorder van gebed. Jy moet nou, meer as ooit tevore, nader aan God kom. Jy moet nou, soos nooit tevore nie, jou hart uitstort in smeekbedes om insig en krag sodat jy jou by jou nuwe omstandighede kan aanpas. Die Bybel spoor ons aan om juis dit te doen. Petrus sê: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). Hoe vertroostend is die woorde van God in Jesaja 57:15 tog nie: “So sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees.” Die verbryselde persoon steun op die Vader; hy het nou ’n intiemer verhouding met God as ooit tevore. Jakobus skryf: “Hoe nader jy aan God beweeg, hoe nader sal hy aan jou kom” (Jakobus 4:8, JB). Jakobus verseker ons dat God gewillig is om ons die nodige wysheid en krag te gee sodat ons kan herstel.
Daarbenewens sal jy vind dat jy medelydender en simpatieker met betrekking tot ander se beproewinge en teëspoed word. Jy sal ander mense se gevoelens beter verstaan en weet hoe om woorde van vertroosting en hoop uit te spreek. Jy kan dalk ’n bedroefde persoon deur sý verdriet help. Ja, jy sal meer empatie met ander in hulle benoudheid hê.—Filippense 2:1.
Wanneer jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het, kan jy vir ’n tydjie, of miskien ’n geruime tyd, smart of pyn ervaar. Tog kan dit uiteindelik ’n duideliker begrip lewer van die hoop wat ons het, die hoop om God sonder enige pynlike ondervindinge te dien. Ons kan selfs ons Christelike persoonlikheid hierdeur versterk.—1 Petrus 1:6, 7.
Ten spyte van die pyn van droefheid moet jy dus nooit moed verloor nie! Neem jou voor om aan te hou om God getrou en lojaal te dien, tot sy heerlikheid en eer en tot jou ewige redding.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
The Day Before Parting by Jozef Israels: Gift of Alice N. Lincoln, Courtesy, Museum of Fine Arts, Boston