Hoe om droefheid te verwerk
“Al sy [Jakob se] seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.”—GENESIS 37:35, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
DIE aartsvader Jakob was diep bedroef oor die dood van sy seun. Hy het gedink dat hy tot die dag van sy dood sou treur. Soos Jakob, voel jy miskien dat die pyn wat met die dood van ’n geliefde gepaardgaan, so intens is dat dit nooit sal verdwyn nie. Dui sulke intense droefheid noodwendig op ’n gebrek aan geloof in God? Beslis nie!
Die Bybel beeld Jakob uit as ’n man van geloof. Net soos sy grootvader Abraham en sy vader, Isak, word Jakob geprys vir sy uitsonderlike geloof (Hebreërs 11:8, 9, 13). By een geleentheid het hy selfs die hele nag met ’n engel geworstel om ’n seën van God te verkry! (Genesis 32:24-30). Jakob was klaarblyklik ’n baie geestelike man. Wat kan ons dan uit Jakob se droefheid leer? Intense gevoelens van droefheid en smart oor die dood van ’n geliefde is nie onverenigbaar met sterk geloof in God nie. Droefheid is die normale en natuurlike reaksie op die dood van ’n geliefde.
Wat is droefheid?
Droefheid kan ons op verskillende maniere raak, maar vir baie is die oorheersende gevoel intense emosionele pyn. Kyk na die ondervinding van Leonardo, wat 14 jaar oud was toe sy pa skielik weens hartlongprobleme gesterf het. Leonardo sal die dag toe sy tannie hom die nuus vertel het, nooit vergeet nie. Eers het hy geweier om te glo dat dit waar is. Hy het sy pa se liggaam by die begrafnis gesien, maar dit het alles so onwerklik gevoel. Leonardo kon omtrent ses maande lank nie huil nie. Hy het dikwels gevind dat hy vir sy pa wag om van die werk af huis toe te kom. Dit het ongeveer ’n jaar geneem voordat sy pa se dood heeltemal tot hom deurgedring het. Tóé het hy vreeslik alleen gevoel. Doodgewone dinge—soos om na ’n leë huis terug te kom—het hom daaraan herinner dat sy pa nie meer daar is nie. Gedurende sulke tye het hy dikwels in trane uitgebars. Hoe het hy sy pa tog gemis!
Leonardo se ondervinding toon duidelik dat droefheid intens kan wees. Die goeie nuus is dat dit moontlik is om daaroor te kom. Maar dit kan ’n hele ruk neem. ’n Ernstige fisiese wond neem tyd om te genees; dieselfde geld vir die dood van ’n geliefde. Dit kan maande, ’n paar jaar of selfs langer neem om die droefheid te bowe te kom. Maar die skerp pyn wat jy aan die begin ervaar, sal mettertyd afneem, en die lewe sal geleidelik minder somber en sinloos lyk.
Intussen speel droefheid na bewering ’n noodsaaklike rol by die genesingsproses en die aanpassing by die nuwe situasie. Daar is ’n leemte waar daar eens ’n lewende mens was. Ons moet leer om sonder daardie persoon te lewe. Droefheid kan ’n noodsaaklike emosionele uitlaatklep wees. Almal treur natuurlik nie op presies dieselfde manier nie. Maar een ding is blykbaar waar: Dit kan jou verstandelik, emosioneel en fisies skaad as jy jou droefheid onderdruk. Hoe kan jy dan op gesonde maniere aan jou droefheid uiting gee? Die Bybel bevat praktiese raad.a
Hoe om droefheid te verwerk
Talle bedroefdes het gevind dat dit verligting kan bring om te praat. Let byvoorbeeld op die woorde van die Bybelkarakter Job, wat sy tien kinders verloor en ander tragedies deurgemaak het. Hy het gesê: “My siel het beslis ’n weersin in my lewe. Ek sal uiting gee aan my besorgdheid oor myself. Ek sal in die bitterheid van my siel praat!” (Job 1:2, 18, 19; 10:1). Let daarop dat Job moes “uiting gee” aan sy besorgdheid. Hoe sou hy dit doen? “Ek sal . . . praat”, het hy verduidelik.
Paulo, wat sy ma verloor het, sê: “Een van die dinge wat my help, is om oor my ma te praat.” Om met ’n goeie vriend oor jou gevoelens te praat, kan dus ’n mate van verligting bring (Spreuke 17:17). Nadat Yone haar ma verloor het, het sy haar Christenbroers gevra om haar meer dikwels te besoek. “Om te praat, het gehelp om die pyn te verlig”, sê sy. Jy sal dalk ook vind dat dit vir jou makliker sal wees om jou gevoelens te verwerk as jy dit in woorde omsit en met ’n simpatieke luisteraar daaroor praat.
Om te skryf, kan ook verligting bring. Vir party wat dit moeilik vind om oor hulle gevoelens te praat, sal dit dalk makliker wees om dit op skrif uit te druk. Ná die dood van Saul en Jonatan het die getroue man Dawid ’n lied van groot droefheid geskryf waarin hy sy smart uitgestort het. Hierdie emosionele klaaglied het uiteindelik deel van die Bybelboek Tweede Samuel geword.—2 Samuel 1:17-27.
Om te huil, kan ook as ’n emosionele uitlaatklep dien. “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd”, sê die Bybel, selfs “’n tyd om te huil” (Prediker 3:1, 4). Die dood van ’n geliefde is beslis “’n tyd om te huil”. Trane van droefheid is niks om oor skaam te wees nie. Die Bybel bevat baie voorbeelde van getroue manne en vroue wat openlik aan hulle droefheid uiting gegee het deur te huil (Genesis 23:2; 2 Samuel 1:11, 12). Jesus Christus “het trane gestort” toe hy naby die graf gekom het van sy geliefde vriend Lasarus, wat kort tevore gesterf het.—Johannes 11:33, 35.
Dit verg geduld om droefheid te verwerk, want jy voel miskien asof jy op ’n emosionele wipplank is. Onthou dat jy nie skaam hoef te wees oor jou trane nie. Talle getroue persone het gevind dat trane van droefheid ’n normale en noodsaaklike deel van die genesingsproses is.
Kom nader aan God
Die Bybel sê vir ons: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Een van die vernaamste maniere om nader aan God te kom, is deur gebed. Moenie die waarde daarvan onderskat nie! Die Bybel maak hierdie vertroostende belofte: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy” (Psalm 34:18). Dit verseker ons ook: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). Dink ’n bietjie hieraan: Soos ons vroeër gesien het, vind baie dat dit help om met ’n goeie vriend oor hulle gevoelens te praat. Sal dit dan nie nog meer help om jou gevoelens uit te stort teenoor die God wat belowe dat hy ons harte sal vertroos nie?—2 Tessalonisense 2:16, 17.
Paulo, wat vroeër genoem is, het gesê: “Wanneer ek die pyn eenvoudig nie meer kon verdra nie en gevoel het dat ek nie meer kon voortgaan nie, het ek op my knieë gegaan en tot God gebid. Ek het hom gesmeek om my te help.” Paulo is oortuig dat sy gebede ’n verskil gemaak het. Jy sal moontlik ook vind dat “die God van alle vertroosting” jou in antwoord op jou voortdurende gebede die moed en die krag sal gee om voort te gaan.—2 Korintiërs 1:3, 4; Romeine 12:12.
Die opstandingshoop
Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy” (Johannes 11:25). Die Bybel leer dat die dooies weer sal lewe.b Terwyl Jesus op aarde was, het hy getoon dat hy die dooies kan opwek. By een geleentheid het hy ’n 12-jarige meisie opgewek. Hoe het haar ouers gereageer? Hulle was “buite hulleself van groot ekstase” (Markus 5:42). Onder sy Koninkryksheerskappy sal die hemelse Koning Jesus Christus tallose mense opwek tot lewe hier op aarde—maar onder vreedsame en regverdige toestande (Handelinge 24:15; 2 Petrus 3:13). Stel jou net die groot ekstase voor wanneer afgestorwenes weer lewend word en met hulle geliefdes herenig word!
Claudete wat haar seun in ’n vliegtuigongeluk verloor het, het ’n foto van haar seun, Renato, op die yskas gesit. Sy kyk dikwels na die foto en sê vir haarself: ‘Ons sal mekaar weer in die opstanding sien.’ Leonardo stel hom voor hoe sy pa in God se beloofde nuwe wêreld weer lewend sal word. Ja, vir hulle en tallose ander wat dierbares verloor het, is die opstandingshoop ’n ware bron van vertroosting. Dit kan ook vir jou wees!
[Voetnote]
a Vir ’n bespreking van hoe om kinders te help om die dood van ’n geliefde te verwerk, sien die artikel “Help jou kind om droefheid te verwerk” op bladsye 18 tot 20 van hierdie tydskrif.
b Vir ’n breedvoeriger bespreking van die Bybel se opstandingshoop, sien hoofstuk 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 7]
“Die God van alle vertroosting”
“Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, geloof word.”—2 Korintiërs 1:3.
Hierdie Bybelvers toon dat God sy getroue knegte kan help om enige probleem of uitdaging waarvoor hulle te staan kom, te verduur. Een manier waarop Jehovah hierdie vertroosting kan voorsien, is deur middel van ’n vriend of ’n geliefde met dieselfde godsdiensoortuigings.
Leonardo, wat sy pa verloor het, onthou ’n ondervinding wat hom versterk en vertroos het. Hy het net by die huis aangekom, en toe hy onthou dat niemand daar is nie, het hy onbedaarlik begin huil. Hy is na ’n nabygeleë park toe en het op ’n bankie gaan sit, waar hy verder gehuil het. In trane het hy God gesmeek om hom te help. Skielik het ’n bakkie daar naby gestop, en Leonardo het gesien dat die bestuurder een van sy Christenbroers is. Die broer was besig om aflewerings te doen en het by die verkeerde straat afgedraai. Sy teenwoordigheid was genoeg om Leonardo te vertroos.
By een geleentheid het ’n wewenaar alleen en baie terneergedruk gevoel. Hy kon nie ophou huil nie, want alles het so donker gelyk. Hy het God om hulp gesmeek. Terwyl hy nog besig was om te bid, het die telefoon gelui. Dit was sy kleindogter. Hy sê: “Ons kort gesprek was genoeg om my weer moed te gee. Ek kon nie anders as om te voel dat haar oproep die antwoord op ’n gebed om hulp was nie.”
[Venster op bladsy 9]
Vertroos ander
“[God vertroos] ons in al ons verdrukking . . . , sodat ons dié wat in enige soort verdrukking is, kan vertroos deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word.”—2 Korintiërs 1:4.
Talle ware Christene het al persoonlik ondervind wat hierdie woorde beteken. Omdat hulle self vertroosting ontvang het om die dood van ’n geliefde te verwerk, vind hulle dat hulle ander kan aanmoedig en vertroos.
Beskou die voorbeeld van Claudete, wat ander gereeld besoek om hulle van haar Bybelse oortuigings te vertel. Voordat sy haar seun verloor het, het sy ’n vrou besoek wie se seun aan leukemie gesterf het. Die vrou het die besoeke geniet, maar sy het gevoel dat Claudete nooit werklik haar pyn sal kan verstaan nie. Maar kort ná die dood van Claudete se seun het die vrou haar besoek en vir haar gesê dat sy kom kyk het of Claudete nog aan haar geloof vashou noudat haar seun dood is. Die vrou was beïndruk deur Claudete se sterk geloof en studeer die Bybel nou gereeld saam met Claudete en put groot vertroosting uit God se Woord.
Nadat Leonardo sy pa verloor het, het hy besluit om gebaretaal te leer sodat hy die Bybel se vertroostende boodskap aan dowe mense kan oordra. Hy het gevind dat sy pogings om dowe mense te help, hom grootliks tot voordeel gestrek het. Hy sê: “Een van die dinge wat my gehelp het om my droefheid te verwerk, is my begeerte om die dowes te help om van God te leer. Ek het baie tyd en energie daaraan gewy om hulle te help. My hartseer het in vreugde verander toe ek sien dat my eerste Bybelstudent gedoop word! Vir die eerste keer sedert my pa se dood was ek werklik gelukkig.”—Handelinge 20:35.
[Prent op bladsy 5]
Om oor jou gevoelens te praat, kan ’n mate van verligting bring
[Prent op bladsy 6]
Om oor die opstandingshoop te lees, kan ’n ware bron van vertroosting wees
[Prent op bladsy 6]
Om te skryf, kan help om aan droefheid uiting te gee
[Prent op bladsy 8, 9]
Jesus het ’n opstanding belowe vir dié wat geloof in hom beoefen