Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/8 bl. 30-31
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Romeinse skat in Brittanje gevind
  • Indië se dodelike aardbewing
  • Geletterdheidprobleme in Kanada en die Verenigde State
  • Die openbare beeld van geestelikes versleg
  • Indië se natuurlewe word bedreig
  • Wêreldgesondheidsverslag
  • Minder rookverwante sterftes in die Verenigde State
  • Wanhopigheid en die hart
  • Geen einde in sig nie
  • Peste in die 20ste eeu
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Die wêreldwye gesondheidsituasie—’n groeiende gaping
    Ontwaak!—1995
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/8 bl. 30-31

Ons beskou die wêreld

Romeinse skat in Brittanje gevind

’n Skat wat bestaan uit 14 780 goue, silwer- en bronsmunte, ’n goue ketting wat 90 sentimeter lank is sowel as 15 goue armbande en ongeveer 100 silwerlepels is op ’n plaas in Suffolk, Engeland, opgegrawe. Die skat is deur ’n afgetrede tuinier ontdek wat ’n metaalverklikker gebruik het om na ’n verlore hamer te soek. Een deskundige het beraam dat die vonds ten minste 15 miljoen dollar (R50 miljoen) werd is. ’n Jurie het beslis dat die skat die eiendom van die staat is, wat beteken dat die 70-jarige Eric Lawes, wat die skat gevind het, ’n ex gratia-uitbetaling sal ontvang wat gelykstaande aan die versameling se markwaarde is. Volgens die Guardian Weekly word die skat in die Britse Museum vir die publiek uitgestal.

Indië se dodelike aardbewing

“Die Heer Ganesja, met die kop van ’n olifant en die liggaam van ’n man met ’n ronde magie, is een van Hindoeïsme se mees geliefde godhede, ’n god van nuwe begin en geluk”, sê die tydskrif Time. Maar net ’n paar uur ná afloop van ’n tien dae lange fees ter ere van hierdie geluksgod is die suidwestelike streek van Indië deur ’n aardbewing getref wat huise in meer as 50 dorpe en stede laat ineenstort het. Die dorpie Killari, wat die naaste aan die episentrum van die aardbewing was en wat 6,4 op die Richterskaal geregistreer het, is 90 persent verwoes. Volgens sommige skattings was die dodetal meer as 20 000, wat beteken dat dit die ergste aardbewing is wat die Indiese subkontinent in 58 jaar getref het. Die meeste sterftes word nie aan die krag van die aardbewing toegeskryf nie, maar aan die feit dat die meeste huise op ’n primitiewe wyse van saamgeperste modder of stene gebou is wat ineengestort en hulle inwoners begrawe het. Die aardbewing in San Francisco ’n paar jaar gelede het byvoorbeeld 6,9 op die Richterskaal geregistreer. Tog het slegs 67 mense volgens berig gesterf, met inbegrip van sterftes weens hartaanvalle.

Geletterdheidprobleme in Kanada en die Verenigde State

’n Vier jaar lange federale studie oor geletterdheid in die Verenigde State het getoon dat “bykans die helfte van die land se 191 miljoen volwasse burgers nie bedrewe genoeg in Engels is om ’n brief oor ’n fout op ’n faktuur te skryf of om die lengte van ’n busrit van ’n gedrukte rooster af uit te werk nie”, berig The New York Times. Dit beteken dat hulle met alledaagse sake sukkel, soos om juiste inligting uit ’n koerant te verkry, ’n bankdepositostrokie in te vul, ’n busrooster te lees of van ’n etiket af vas te stel wat die regte dosis medisyne is om vir ’n kind te gee. Volgens The Globe and Mail het ’n soortgelyke amptelike studie in Kanada getoon dat “die leesvaardighede van 16 persent van die Kanadese volwassenes te beperk is om die meeste geskrewe materiaal wat hulle in die daaglikse lewe teëkom te verstaan” en dat ’n bykomende 22 persent slegs gedrukte materiaal kan lees wat ’n eenvoudige taak duidelik uiteensit en waarvan die konteks bekend is. Verlore produktiwiteit asook foute en ongelukke vanweë swak geletterdheid het sakeondernemings al baie miljarde rande gekos.

Die openbare beeld van geestelikes versleg

“Sedert 1988 toon Gallup-opnames nog elke jaar dat meer mense meen dat godsdiens sy invloed verloor as wat meen dat godsdiens se gesag toeneem”, sê die Los Angeles Times. Een rede is dat die geestelikes as ’n klas in die publiek se aansien daal. Agt jaar gelede het geestelikes by tot 67 persent van die Amerikaners “hoog” of selfs “baie hoog” aangeskryf gestaan wat eerlikheid en etiese standaarde betref. ’n Opname in 1993 het getoon dat dit tot 53 persent afgeneem het. Waarom? Skandale waarby seksuele wangedrag deur televisie-evangeliste, Protestantse predikante en Katolieke priesters betrokke was sowel as geskille oor fondsinsamelingseise het die geestelikes se beeld beklad. Volgens die publiek het aptekers teen 1988 die geestelikes se plek as die mees etiese beroep ingeneem. Volgens ’n ander opname meen mense selfs dat onafhanklike sakeondernemings sowel as rekenaars en die tegnologie ’n beter invloed as die kerke het. Maar die publiek meen steeds dat geestelikes eerliker as politici en joernaliste is.

Indië se natuurlewe word bedreig

Amptenare in Indië se Uniale Ministerie van Omgewingsake was verlede jaar op die punt om bekend te maak watter welslae hulle met die redding van die Indiese tier behaal het toe hulle uitvind dat die teenoorgestelde waar is: Die tier stuur op uitwissing af. Nagenoeg 1500 van die 4500 tiere in die natuur is al sedert 1988 deur wilddiewe doodgemaak. Feitlik al die dele van die dooie tiere—hulle vel, bene, bloed en selfs genitalieë—word in ondergrondse markte teen winsgewende pryse verkoop. Die onwettige handel veroorsaak ook dat uitwissing baie ander diere in Indië in die gesig staar. Die aantal renosters wat vir hulle horings doodgemaak word, het verdubbel. Olifantbulle word opnuut in groot getalle vir hulle tande doodgemaak. Alle soorte luiperds word vir hulle vel doodgemaak, muskusherte word vir die welriekende sakkie onder hulle maag gejag en Himalajabere word vir hulle galblaas uitgeroei. Daarbenewens word slange en akkedisse vir hulle vel doodgemaak en muishonde vir hulle stekelrige hare, wat gebruik word om borsels mee te maak. Ander diere, soos sterskilpaaie en valke, word in die onwettige troeteldierhandel uitgevoer. Boswagters vrees vir hulle lewe vanweë die swaar gewapende wilddiewe.

Wêreldgesondheidsverslag

Die Wêreldgesondheidsorganisasie skilder in sy agtste verslag oor die wêreld se gesondheidstoestand ’n sombere prentjie van die wêreldwye stryd teen siekte en sê: “Dit lyk of tropiese siektes handuit geruk het, met cholera wat hierdie eeu vir die eerste keer na die Amerikas versprei het, geelkoors- en denguekoorsepidemies wat selfs groter getalle mense beïnvloed en die situasie met malaria wat besig is om te versleg . . . Die vigs-pandemie versprei deur die hele wêreld . . . longtering is aan die toeneem . . . In die ontwikkelende wêreld is daar vir die eerste keer meer kankergevalle as in die ontwikkelde lande. Diabetes neem oral toe.” Die verslag dek die tydperk van 1985-90 en toon dat siekte 46,5 miljoen van die 50 miljoen jaarlikse sterftes veroorsaak en dat bykans 4 miljoen van die 140 miljoen babas wat elke jaar gebore word binne ure of dae ná hulle geboorte sterf. Daar is elke jaar sewemiljoen nuwe kankergevalle en meer as eenmiljoen mense word elke jaar met HIV besmet wat vigs veroorsaak. Die goeie nuus is dat sekere kindersiektes, soos Duitse masels en kinkhoes, afneem en dat die lewensverwagting met tussen een en twee jaar toegeneem het. Wêreldwyd is die gemiddelde lewensverwagting nou 65 jaar.

Minder rookverwante sterftes in die Verenigde State

Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) het bekend gemaak dat die aantal rookverwante sterftes afgeneem het—die eerste keer sedert daar in 1985 begin is om verslag te hou. Die getal Amerikaners wat elke jaar weens die rook van sigarette sterf, het met 15 000 afgeneem tot 419 000 in 1990—hoofsaaklik vanweë ’n vermindering in hartsiekte wat deur rokery veroorsaak word. In 1965 het nagenoeg 42,4 persent van die Amerikaanse volwassenes gerook. Teen 1990 was dit 25,5 persent. Maar rokery bly steeds die grootste oorsaak van voorkombare siekte en die dood en vermeerder die gesondheidskoste met ongeveer $20 miljard (R66,4 miljard) per jaar. Hoewel die regering ongeveer $1 miljoen (R3,32 miljoen) per jaar aan antirookadvertensies bestee, bestee die tabakbedryf $4 miljard (R13,3 miljard) aan promosies en advertensies om die rookgewoonte aan te moedig. Die CDC berig dat die rookgewoonte elke roker se lewensverwagting met gemiddeld vyf jaar verminder.

Wanhopigheid en die hart

“Knaende wanhoop en emosionele benoudheid vergroot ’n mens se kans aansienlik om hartsiekte op te doen en aan die gevolge daarvan te sterf”, sê die Science News. Navorsers sê dat “wanhoop en hartseer wat jare lank voortduur, maar nie as ‘ernstige depressie’ geklassifiseer kan word nie, die hart se werking kan belemmer”. Die navorsers het 2832 volwassenes tussen 45 en 77 gemiddeld 12 jaar lank bestudeer. Geeneen het aanvanklik enige hartsiekte of ander chroniese siektes gehad nie. Die bevindinge het getoon dat daar onder die proefpersone wat aan ernstige wanhoop gely het vier keer meer sterftes weens hartsiekte was as onder diegene wat nie wanhopig was nie en dat gevalle van nie-dodelike hartsiekte ook meer dikwels onder diegene voorgekom het wat depressief was. Die sterftesyfer weens hartsiekte was selfs onder diegene wat aan ligte depressie en matige wanhoop gely het aansienlik groter in vergelyking met diegene wat glad nie wanhopig was nie.

Geen einde in sig nie

In 1989 het Craig Shergold, ’n sewejarige Britse seun, ’n gewas op die brein gehad en daar is nie verwag dat hy sou bly leef nie. Sy wens was om die wêreldrekord te breek as die persoon wat die meeste word-gou-gesond-kaartjies ontvang het. Die media en die Children’s Wish Foundation International in Atlanta het publisiteit daaraan verleen, en die rekord is binne maande gebreek. Oor die 16 miljoen groetekaartjies is gedurende die eerste jaar ontvang en 33 miljoen teen 1992. Die kaartjies word steeds teen 300 000 per week ontvang ten spyte van die feit dat mense al meer as twee jaar gelede versoek is om nie meer kaartjies te stuur nie. Die telling het by 60 miljoen opgehou. “Ons het ’n pakhuis van 900 vierkante meter wat tot oorlopens toe vol van onoopgemaakte pos is”, sê Arthur Stein, die stigting se voorsitter. Danksy ’n weldoener is ’n operasie vroeg in 1991 op Craig uitgevoer, en 90 persent van die gewas is verwyder.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel