Wie raak verslaaf, en waarom?
TERWYL jy met jou motor op ’n hoofweg ry, hoor jy ’n vreemde geraas wat van die enjin af kom. Hoe sal jy reageer? Sal jy die enjinkap oplig om uit te vind wat die probleem is? Of sal jy die radio se klank eenvoudig opdraai sodat jy nie die geraas hoor nie?
Die antwoord is voor die hand liggend, en tog neem mense wat verslaaf is telkens die verkeerde besluit—nie met hulle motors nie, maar met hulle lewe. Baie mense raak verslaaf aan middels soos dwelms, alkohol en selfs kos om van hulle persoonlike probleme te probeer vergeet pleks van dit met welslae die hoof te bied.
Hoe sal iemand weet of hy of sy verslaaf is? Een dokter beskryf dit so: “Die gebruik van ’n dwelm of ’n bedrywigheid is ’n verslawing as dit probleme in jou lewe veroorsaak, maar jy nietemin daarmee aanhou.”
Wanneer dit die geval is, is daar dikwels as ’t ware ’n veel ernstiger probleem onder die enjinkap wat gevind moet word voordat die verslawende gedrag verander kan word.
Dwelms en alkohol
Waarom raak mense aan dwelms en alkohol verslaaf? Portuurdwang en nuuskierigheid speel dikwels ’n belangrike rol, veral onder jongmense. Die rede waarom baie mense verslaaf raak, is inderdaad hulle slegte omgang met diegene wat alkohol en dwelms misbruik (1 Korinthiërs 15:33). Dit verduidelik moontlik ’n Amerikaanse opname wat aan die lig gebring het dat 41 persent van die hoërskoolseniors hulle elke twee weke aan alkohol vergryp.
Maar daar is ’n verskil tussen misbruik en verslawing. Baie mense wat drank en alkohol misbruik, is nie daaraan verslaaf nie.a Hulle kan dit ophou misbruik en sal dan geen drang ervaar om daarna terug te keer nie. Maar dié wat daaraan verslaaf is, vind dat hulle nie kan ophou nie. Daarbenewens word enige euforiese genot wat hulle vroeër daaruit geput het deur angs oorskadu. Die boek Addictions verduidelik: “Dit is kenmerkend van verslaafdes dat hulle hulleself êrens langs die pad begin haat, en hulle word uitermate gepynig deur die greep wat die verslawing op hulle lewe gekry het.”
Baie wat van alkohol of dwelms afhanklik is, gebruik dit as ’n ontvlugtingsmiddel uit emosionele krisisse. Sulke krisisse is deesdae baie algemeen. En dit behoort ons nie werklik te verbaas nie, aangesien die Bybel toon dat ons in “die laaste dae” van hierdie stelsel van dinge leef wanneer daar “kritieke tye” sal wees “wat moeilik is om deur te kom”. Die Bybel het voorspel dat mense “liefhebbers van geld”, “hoogmoedig”, “dislojaal”, “wreedaardig”, “verraaiers” en “opgeblase van trots” sal wees (2 Timotheüs 3:1-4, NW). Hierdie eienskappe het ’n omgewing geskep waarin verslawing kan floreer.
Susan se emosionele krisis was die gevolg van mishandeling in haar verlede. Sy het haar gevolglik tot kokaïen gewend. “Dit het my ’n valse gevoel van beheer en eiewaarde gegee”, sê sy. “Dit het my ’n magsgevoel gegee wat ek nie in my daaglikse lewe ervaar het nie.”
’n Studie van verslaafde seuns in hulle adolessensiejare het aan die lig gebring dat meer as ’n derde fisies mishandel is. ’n Ander studie van 178 volwasse vroulike alkoholiste het bevind dat 88 persent op die een of ander manier ernstig mishandel is. Die Bybel sê in Prediker 7:7: “Louter onderdrukking kan ’n wyse waansinnig laat handel” (NW). Iemand wat emosioneel ly as gevolg van vreeslike lewensondervindinge kan hom later irrasioneel tot dwelms of alkohol vir verligting wend.
Maar dwelms en alkohol is nie al waaraan mense verslaaf raak nie.
Eetversteurings
Eetversteurings (wat sommige deskundiges verslawings noem) word soms gebruik om die aandag van onaangename gevoelens af te lei. Sommige skryf byvoorbeeld die feit dat hulle oorgewig is aan persoonlike teleurstellings toe. “Soms dink ek dat ek vet bly omdat alles wat in my lewe verkeerd is daaraan toegeskryf kan word”, sê Jennie. “Met ander woorde, as iemand nie van my hou nie, kan ek altyd my gewig die skuld daarvoor gee.”
Kos gee ander weer ’n valse gevoel dat hulle in beheer is.b Kos is dalk die enigste lewensgebied waarop ’n persoon voel dat hy enige gesag het. Baie met eetversteurings dink dat hulle op die een of ander wyse minderwaardig is. Om ’n gevoel van eiewaarde op te bou, probeer hulle hulle liggaam se hunkering na kos onderdruk. Een vrou het gesê: “Jy gebruik jou liggaam om jou eie persoonlike koninkryk op te rig waar jy die alleenheerser, die absolute diktator, is.”
Die ondervindinge hierbo is hoegenaamd nie ’n volledige verduideliking van verslawing aan dwelms, alkohol en kos nie. ’n Verskeidenheid van faktore kan hierby betrokke wees. Sommige deskundiges sê selfs dat daar ’n genetiese skakel kan wees, wat party vatbaarder vir verslawing kan maak as ander. “Wat ons sien, is ’n wisselwerking tussen persoonlikheid, die omgewing, biologie en sosiale aanvaarbaarheid”, sê Jack Henningfield van die Nasionale Instituut vir Dwelmmisbruik. “Ons moenie bedrieg word deur na net een faktor te kyk nie.”
Wat ook al die geval is, geen verslaafde—ongeag wat die oorsaak van sy of haar verslawing is—is fisies of emosioneel verlore nie. Hulp ís beskikbaar.
[Voetnote]
a Die misbruik van alkohol of ander dwelms—of dit nou tot verslaafdheid lei of nie—is natuurlik besoedelend en moet deur Christene vermy word.—2 Korinthiërs 7:1.
b Bykomende inligting oor eetversteurings kan in die Ontwaak! se nommers van 22 Desember 1990 en 22 Februarie 1992 gevind word.
[Venster op bladsy 5]
’n Wêreldwye plaag van verslawing
◼ ’n Opname in Mexiko het aan die lig gebring dat 1 uit 8 mense tussen die ouderdom van 14 en 65 alkoholiste is.
◼ Die maatskaplike werkster Sarita Broden sê dat eetversteurings in Japan vinnig toeneem. Sy sê: “Tussen 1940 en 1965 het die omvang van eetversteurings geleidelik toegeneem, en tussen 1965 en 1981 was daar ’n skielike vermeerdering van binne- sowel as buitepasiënte. Maar sedert 1981 is daar ’n dramatiese toename in gevalle van anoreksie en bulimie.”
◼ In China neem die aantal heroïengebruikers blykbaar vinnig toe. Dr. Li Djianhoea, wat by die Koenming-navorsingsentrum vir Dwelmmisbruik werk, sê: “Heroïen het van die grensgebied na die binneland, van die platteland na die stede en na al hoe jonger mense versprei.”
◼ In Zürich, Switserland, het ’n eksperimentele ope dwelmmark teleurstelling veroorsaak. “Ons het gedink dat ons die handelaars sal uitsnuffel, maar ons het misluk”, sê dr. Albert Weittstein, wat die feit betreur dat hulle slegs daarin geslaag het om handelaars en gebruikers van ver af te lok.