Hoe om verslawing aan gewoontevormende middels te oorkom
OM ’N verslawing op te gee, is soos om uit die huis te trek waarin jy grootgeword het. Dit is moeilik om die huis te verlaat al is dit oud en vervalle. Dit was jou tuiste.
As jy ’n verslaafde is, was verslawing waarskynlik jou emosionele tuiste. Hoewel dit ongetwyfeld wanordelik was, is dit bekend. “Besopenheid is vir my normaal. Nugterheid is abnormaal”, sê Charles, ’n alkoholis wat besig is om te herstel. Om van verslawing af weg te beweeg, sal moeilik wees, maar dit is die moeite werd.
Die eerste stap is om jou van verslawingsmiddels te onthou.a Moenie uitstel of net beloof om geleidelik minder te gebruik nie. Raak onmiddellik van alle voorrade en verwante toerusting ontslae. ’n Mens sal ’n kort tydjie onttrekkingsimptome ondervind, en soms sal dit die beste wees om dan onder mediese toesig te wees. Dit is die begin van lewenslange onthouding. Maar moenie dink dat dit onmoontlik is nie. Begin deur ’n doel te stel wat binne jou bereik is: onthouding vir ’n maand, ’n week of selfs ’n dag. Hernieu jou voorneme aan die einde van elke tydperk sonder om die middels weer te gebruik.
Dit is net die begin daarvan om verslawende gedrag te verander. Die Bybel vermaan ons om ‘ons van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig’ (2 Korinthiërs 7:1). Verslawing is meer as net ’n besoedeling van die vlees. Die gees, of geestesgesteldheid, word ook geraak. Wat kan jou help om in vlees sowel as in gees te herstel?
Volgehoue inspanning is nodig
“Verslawing is ’n versteuring van die hele self”, sê dr. Robert L. DuPont. Om verslawing te oorwin, moet die persoon dus as geheel behandel word. Dit moet jou hele waardestelsel verander. Dít verg tyd. Daar is geen kortpad na herstel nie. Enige vooruitsig op ’n vinnige herstel sal net tot ’n vinnige terugval lei.
Dit is ’n voortdurende stryd om te doen wat reg is. Die Christenapostel Paulus het geskryf: “Ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen [“voortdurend in stryd is met”, Phillips] die wet van my gemoed” (Romeine 7:23). Hy het ook geskryf dat Christene ‘heiligheid moet vervolmaak’ (2 Korinthiërs 7:1, NW). Die boek Word Pictures in the New Testament sê dat die woord “vervolmaak” hier “nie op ’n skielike verkryging van volkome heiligheid nie, maar op ’n voortdurende proses” dui. Verslawing word derhalwe geleidelik oorwin.
Soek die oorsaak
Verslawing is vir baie mense ’n poging om pynlike gebeure van die verlede te begrawe. “Bulimie [’n eetversteuring] het my aandag van die herinneringe afgelei”, sê Janis. “Dit het my oorlewingstegniek geword.” Omdat Janis die verlede geïgnoreer het, het haar verslawing eenvoudig voortbestaan. Eers toe Janis die redes vir haar gedrag verstaan het, het dit haar gehelp om haar verslawende gedrag te verander.
Sommige verander eertydse gewoontes en kan verslawing met welslae die hoof bied sonder om die verlede te ondersoek. Ander vind dat die gevoelens wat met hulle vorige omgewing verband hou hulle verslawende gedrag voortdurend aanmoedig. Hulle voel dalk soos die psalmis Dawid, wat geskryf het: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg.”—Psalm 139:23, 24.
Hoe om jou gevoelens te verwerk
Het jy al ooit uit ’n donker gebou in direkte sonlig gestap? Jy deins terug van die skielike helderheid wat jou tref. Wanneer jy begin om verslawings die hoof te bied, kan jy eweneens vind dat jy skielik met ’n hele reeks pynlike gevoelens te kampe het. Liefde, woede, trots, jaloesie, vrees, wrewel en ander emosies wat lank verskuil was, ontvlam nou met volle intensiteit.
Angsgevoelens kan die begeerte by jou wek om na die bekende duisternis van dwelm- en alkoholmisbruik terug te keer. Maar jy hoef nie vir jou gevoelens te vlug nie. Hulle kan vir jou ’n nuttige bron van inligting wees. Gevoelens is dikwels bloot ’n teken dat iets aandag nodig het. Dink dus na oor jou gevoelens as dit nodig is. Wat sê hulle vir jou? Neem ’n volwasse vriend in jou vertroue as die boodskap onduidelik is of as jou gevoelens oorweldigend voorkom (Job 7:11). Jy hoef nie jou gevoelens alleen te verwerk nie.—Vergelyk Spreuke 12:25.
Hou in gedagte dat gevoelens nie noodwendig jou vyand is nie. Jehovah God self het intense gevoelens, en die mens—wat na God se beeld geskep is—ondervind dit ook (Genesis 1:26; Psalm 78:21, 40, 41; 1 Johannes 4:8). Gevoelens kan, soos die helder sonlig wat skielik in jou oë skyn, aanvanklik pynlik wees. Maar mettertyd sal hulle ook, soos sonlig, ’n bron van leiding en warmte word.
Die oplossing van probleme
Vir iemand wat aan hoogtevrees ly, is dit skrikaanjaend om op ’n spandraad te loop. Vir die verslaafde wat begin herstel, kan die lewe so skrikwekkend wees soos om op ’n spandraad te loop. Die verhewe verantwoordelikhede van nugterheid kan meebring dat die persoon as ’t ware hoogtevrees kry. As jy verwag dat jy gaan misluk, kan dit jou so laat redeneer: ‘Ek gaan tog ’n terugval hê. Waarom doen ek dit nie sommer nou nie?’
Maar onthou dat probleme nie aanvalle op jou as persoon is nie. Hulle is bloot situasies waarvan ’n mens werk moet maak. Moet dus nie wanhopig word nie. Pak jou probleme een vir een aan. Dit sal jou help om hulle in perspektief te plaas.—1 Korinthiërs 10:13.
Eiewaarde
Marion, ’n alkoholis wat besig is om te herstel, moes aandag aan haar swak gevoel van eiewaarde gee. “In my binneste”, sê sy, “het ek altyd gevoel dat [mense] nie regtig van my sal hou as ek optree soos ek werklik is nie.”
Voordat jy die greep van verslawing kan verbreek, moet jy leer—dalk vir die eerste keer—wat jou waarde as persoon is. Dit is moeilik as jou lewe deur verslawing uitmekaargeskeur is. Wat kan help?
Die Bybel is ’n boek wat vir die mismoediges vertroosting bied. Dit kan jou help om gesonde selfrespek op te bou (Psalm 94:19). Die psalmis Dawid het byvoorbeeld geskryf dat mense met “eer en heerlikheid” gekroon is. Hy het ook gesê: “Op ’n vreesinboesemende wyse [is ek] wonderbaar gemaak” (Psalm 8:5; 139:14, NW). Watter pragtige uitdrukkings van gesonde eiewaarde tog!
Koester jou liggaam, en dan sal jy in die gees van die volgende teks daarvoor sorg: “Niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit” (Efesiërs 5:29). Ja, jy kan die uitdaging die hoof bied om van verslawing te herstel.b
Maar verslawing kan meer insluit. Ander bedrywighede kan met dieselfde toewyding en om dieselfde rede as dwelms, alkohol en kos misbruik word. Van hierdie bedrywighede sal nou bespreek word.
[Voetnote]
a Diegene met eetversteurings kan natuurlik nie ophou eet nie. Maar hulle kan ophou om kos as ’n troosmiddel te gebruik. Patrone van oormatige etery, verhongering, vomering en purgering en om knaend aan kos te dink, kan met ’n verstandige dieet vervang word.
b Sommige het by ’n rehabilitasieprogram aangesluit wat hulle kan help om met hulle onthouding te volhard en aan te hou herstel. Daar is baie behandelingsentrums, hospitale en ander inrigtings wat sulke programme aanbied. Die Ontwaak! onderskryf nie enige spesifieke behandeling nie. Diegene wat in ooreenstemming met Bybelbeginsels wil leef, moet versigtig wees dat hulle nie by bedrywighede betrokke raak wat skriftuurlike beginsels skend nie.
[Lokteks op bladsy 6]
“Herstel behels veral dat [’n mens jou] hele waardestelsel verander.”—Dr. Robert L. DuPont.
[Prent op bladsy 7]
Die eerste stap is om jou van verslawingsmiddels te onthou
[Prent op bladsy 8]
Wanneer gevoelens jou oorweldig, moet jy daaroor praat