Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/22 bl. 20-23
  • Die kompakskyf—Wat behels dit alles?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die kompakskyf—Wat behels dit alles?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Digitale opname—Wat is dit?
  • Van watter nut is dit?
  • Kompakskywe en rekenaars
  • Die gawe van musiek
    Ontwaak!—2011
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
  • Die remora se suier
    Is dit ontwerp?
  • Hoe word ’n liedjie ’n treffer?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/22 bl. 20-23

Die kompakskyf—Wat behels dit alles?

VANDAT die digitale kompakskyf in die vroeë tagtigerjare sy verskyning op die mark gemaak het, is dit as die grootste deurbraak in klankopname bestempel sedert Thomas Edison in 1877 sy grammofoon met ’n tinfoelie-silinder uitgevind het of sedert stereofoniese klank in die vroeë sestigerjare op die toneel verskyn het.

’n Verslag in die handelstydskrif Billboard toon dat vervaardigers in die Verenigde State gedurende 1992 meer as 414 miljoen kompakskywe verskeep het, teenoor slegs 22 miljoen vinielplate. Die verkope is so eensydig dat sommige platemaatskappye nie meer vinielplate vervaardig nie. Tog bly die blink kompakskyfie vir baie steeds ’n verborgenheid. Wat is digitale klank? Is dit werklik so goed as wat daar beweer word? Hoe werk die skyf? En kan verwante tegnologie gebruik word om versamelde inligting, soos inligting uit Die Wagtoring en die Ontwaak!, te berg en weer op te spoor?

Digitale opname—Wat is dit?

As ons wil verstaan wat digitale opname alles behels, moet ons eers ’n begrip hê van hoe die ou analoogopname werk. Op die bekende vinielplaat word musiek as ’n ononderbroke, golwende groef opgeneem, soos ’n prent, of analoog, van die klankgolf. Om die musiek te dupliseer, word die naald, of stilus, van die platespeler in die groef van die draaiende plaat geplaas. Die stilus volg die groef en die gewikkel van die groef laat die stilus vibreer. Dit veroorsaak op sy beurt ’n baie klein elektriese sein wat ’n weergawe is van wat die mikrofoon in die ateljee opgeneem het. Die sein word dan versterk—en daar is die musiek!

Digitale opname maak van ’n ander metode gebruik. ’n Digitale opnemer toets en meet die grootte van die sein met presiese tussenposes—tienduisende keer per sekonde—en neem hierdie afgemete waardes as syfers op. Die afmetings word geregistreer in binêre getalle—die taal van rekenaars—wat slegs uit nulle en ene bestaan. Die reeks syfers word dan deur ’n rekenaar ontwikkel en gewoonlik op band bewaar. Om dit terug te speel, lees die rekenaar die syfers en rekonstrueer ’n sein soos die oorspronklike. Hierdie sein word dan versterk en—weer eens—daar is die musiek!

Hierdie metode word nie soveel deur die beperkings van die opname- en vervaardigings-hardeware beïnvloed soos die analoogopname nie. Dit beteken minder geruis, minder vervorming en minder van die ander faktore wat die gehalte van opnames verlaag. Inligting in digitale vorm kan boonop in ’n baie kompakte formaat geberg en maklik opgespoor word. Digitale opname is as ’t ware die natuurlike resultaat van die verbintenis tussen ’n rekenaar en ’n opnemer.

Platemaatskappye maak al jare lank digitale opnames in hulle ateljees. Maar die terugspeeltoerusting is veels te ingewikkeld vir musiektoestelle tuis. Die werklike deurbraak in digitale opname, wat verbruikers betref, was toe daar ’n terugspeelstelsel ontwikkel is wat ekonomies en tegnies prakties vir die algemene gebruiker tuis was. Die resultaat is die digitale kompakskyf (CD) en die kompakskyfspeler.

Die binêre getalle, of bisse, word as ’n reeks mikroskopiese kepies en vlak holtes op die oppervlak van ’n plastiese skyf met ’n blink aluminiumlaag gekodeer. Die skyf is slegs 120 millimeter in deursnee. Die aluminiumlaag word met ’n beskermende lagie deursigtige plastiek verseël. Om die musiek te speel, laat jy die silwerkleurige skyf in ’n CD-speler gly. Pleks van ’n naald word ’n laserstraal gebruik wat noukeurig op die stroom kepies gefokus is. Wanneer die straal die mikroskopiese kepies tref, word dit verstrooi, maar wanneer dit die gladde oppervlak tref, word dit na die sensor toe weerkaats. Sodoende word die kepies en holtes op die oppervlak van die CD in ’n reeks elektriese pulse omgesit wat deur die ingewikkelde elektroniese stroombane in die speler ontsyfer word.

Van watter nut is dit?

Maar is die CD werklik beter as vinielplate? Wel, dink daaraan: Aangesien die CD gespeel word deur eerder van ’n ligstraal as ’n diamantnaald gebruik te maak, is daar geen slytasie nie, ongeag hoeveel keer die musiek gespeel word. Selfs klein vlekkies en merkies op die oppervlak van die skyf sal die klank nie benadeel nie, aangesien die laserstraal op die kepies gefokus is en nie op die oppervlak van die skyf nie. Daardie irriterende gekrap waarmee enigeen wat al ooit na ’n LP (langspeelplaat) geluister het maar alte bekend is, behoort tot die verlede. Al hierdie dinge gee die CD ’n mate van duursaamheid wat die LP nie kan nadoen nie. Teoreties gesproke behoort die kompakskyf vir ewig te hou—indien dit behoorlik vervaardig en reg hanteer word.

Die feit dat die CD ’n langer speeltyd het en kleiner is, tel ook in sy guns. Meer as ’n uur se musiek kan gespeel word sonder om op te staan en die plaat om te draai! Aangesien die CD minder as ’n vyfde van die LP se grootte is, is dit ook makliker om te hanteer en te bêre. Aangesien CD-spelers soos ’n rekenaar werk, kan baie van hulle ook geprogrammeer word sodat dele van ’n CD in enige volgorde van jou voorkeur gespeel of herhaal kan word. Sommige spelers het ook soekfunksies wat gebruik kan word om enige plek in die musiek gou te kry. Sulke geriefskenmerke word by baie gebruikers hoog aangeskryf.

Maar wat van die klank? Byna almal wat vir die eerste keer na ’n CD luister, is verbaas oor hoe helder en lewensgetrou die klank is. Die musiek kom met asemrowende detail uit die stilte voort. Een rede hiervoor is dat die verhouding tussen die sagste en die hardste musiek wat op ’n CD opgeneem kan word—wat dinamiek genoem word—baie groter is as dié op ’n gewone LP. Dit, asook die feit dat daar geen geruis en vervorming is nie, verleen groter realisme aan die musiek wat op CD’s gehoor word.

Andersyds kos ’n CD oor die algemeen aansienlik meer as ’n LP. Tog moet daar gesê word dat die CD die algemene publiek ’n verfyning in klankreproduksie gegee het wat in die verlede net deur ’n paar geesdriftige hoëtroustel-entoesiaste geniet is.

Kompakskywe en rekenaars

CD’s het onlangs ’n totaal nuwe faset aangeneem omdat dieselfde tegnologie gebruik kan word om ontsaglike hoeveelhede inligting, of data, te berg. Sulke inligting op ’n kompakskyf kan maklik opgespoor word met behulp van ’n rekenaar wat met ’n CD-leser toegerus of daaraan gekoppel is. Net soos enige deel van ’n musiek-CD gou op ’n CD-speler gevind kan word, kan enige deel van die inligting wat jy geberg het binne ’n paar sekondes deur middel van doeltreffend ontwerpte rekenaarpogramme met ’n ander soort CD-leser gelees, opgesoek of aangehaal word.

Die kompakskyf het ’n ongelooflike geheuekapasiteit. In rekenaartaal kan dit meer as 600 megagrepe berg, wat die ekwivalent van 1000 diskette of 200 000 gedrukte bladsye is. Met ander woorde, tien stelle van ’n 20-deel-ensiklopedie wat in digitale vorm omgesit is, kan in net een kompakskyf geberg word! Maar sy voordele is nie tot sy ontsaglike kapasiteit beperk nie.

Teen omstreeks 1985 het CD’s vir rekenaargebruik op die mark verskyn. Dit is CD-ROM genoem wat vir compact disc read-only memory, oftewel kompakskyf-leesalleengeheue, staan. Hulle het meestal verwysingsmateriaal bevat, soos ensiklopedieë, woordeboeke, inligtingsgidse, katalogusse, bibliografiese en tegniese data asook argiewe of versamelings van allerlei aard. Vanweë hulle hoë koste is hulle aan die begin meestal in biblioteke en ander akademiese of regeringsinstellings gebruik. Trouens, ’n skyf wat ’n paar jaar gelede honderde rande gekos het, kan vandag vir ’n geringe deel van die bedrag gekoop word.

Dit het nie lank geneem vir CD-ROM om te ontwikkel sodat dit vir meer as net die berging van data gebruik kon word nie. In die afgelope paar jaar het CD-ROM-skywe met kleurgrafieke en byklanke op die mark begin verskyn. Nou kan jy nie alleen ’n biografie lees en ’n beeld van ’n sekere persoon sien nie, maar jy kan ook hoor wat daardie persoon sê. En daar is natuurlik allerhande soorte rekenaarspeletjies met byklanke en bewegende kleurprente. Dit lyk asof hierdie sogenaamde multimedia, wisselwerkende stelsels, wat die rekenaar en vermaak by die huis met mekaar verbind, die tendens vir die toekoms is.

Die digitale kompakskyf is waarlik ’n tegnologiese wonder wat vir opvoedkundige en vermaaklikheidsdoeleindes baie nuttig kan wees. Hetsy dit aan sy potensiaal sal beantwoord of nie, moet ons nog sien.

[Venster op bladsy 21]

Die miniatuurwêreld van die CD

Die naam kompakskyf is beslis nie foutief nie. Op die glansende oppervlak van hierdie skyf wat so groot soos jou handpalm is, is vyf tot ses miljard mikroskopiese kepies in ’n spiraal gerangskik. As dit uitgestrek sou word, sou die lyn meer as 5,6 kilometer lank wees. Die spiraal bestaan uit 20 000 spiraallyne wat van die binne- na die buitekant van die skyf gedraai is en so dig saamgepak is dat 60 van hulle in die groef van ’n LP (langspeelplaat) sal pas. Daar is al geskat dat as elke kepie so groot soos ’n ryskorrel was, sou die skyf groter as vier rugbyvelde wees.

Vanweë sulke minuskule groottes moet CD’s in ’n skoon vertrek gemaak word waar die lug deeglik gefiltreer word. ’n Gewone stofdeeltjie, omtrent vyf keer die grootte van ’n kepie op die CD, kan genoeg kodes uitvee om ’n defek in die opname te veroorsaak. ’n Ingenieur sê: “In vergelyking met ons standaarde van sindelikheid is ’n operasiesaal ’n varkhok.”

Aangesien die skyf tot 500 omwentelinge per minuut maak terwyl dit gespeel word, is dit ’n ongelooflike prestasie om die laser op die klein kepies te fokus en dit op die styf gedraaide spiraallyn te hou. Om dit te doen, word die laserstraal deur ’n verbasend ingewikkelde kontroleerstelsel beheer.

[Venster op bladsy 23]

Die Wagtoringbiblioteek—CD-ROM

Die Wagtoringgenootskap het dit nog altyd raadsaam geag om gepaste tegnologiese ontwikkelings te gebruik om Koninkryksbelange te bevorder. In die verlede was die Genootskap van die eerstes wat van kleurrolprente, radionetwerke en die draagbare grammofoon in die verkondiging van die goeie nuus gebruik gemaak het. Nou het die Wagtoringgenootskap die Watchtower Library—1993 Edition in Engels vrygestel. Ons is seker daarvan dat dit ’n wonderlike instrument sal wees om Bybelstudie en navorsing mee te doen.

Hierdie nuwe vrystelling is inderdaad ’n biblioteek. Dit bevat die teks, in elektroniese vorm, van die New World Translation of the Holy Scriptures—With References, die jaarlikse bundels van The Watchtower van 1950 tot 1993 en die Awake! van 1980 tot 1993, die twee dele van die Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures sowel as talle ander boeke, brosjures en traktate wat sedert 1970 deur die Wagtoringgenootskap gedruk is. Daarbenewens bevat dit ’n indeks van al die Wagtoringpublikasies van 1930 tot 1993.

Saam met hierdie groot databasis voorsien hierdie CD-ROM ook ’n maklike program waarmee jy ’n woord, ’n kombinasie van woorde of ’n Bybelteks in enige van die publikasies in die Watchtower Library kan opsoek. Jy kan ook regstreeks by enige spesifieke publikasie oopmaak, selfs by ’n sekere hoofstuk, artikel of bladsy. Die inligting wat jy opgesoek het, kan op die rekenaarskerm gesien of in ’n woordverwerker gekopieer word vir gebruik in ’n toespraak of ’n brief. Met dié rekenaarprogram kan jy ook materiaal vir persoonlike studietake organiseer en jou eie aantekeninge byvoeg.

Ons hoop dat baie meer met behulp van hierdie nuwe instrument sal volhou om hulle te verdiep in ‘die volmaakte wet wat tot vryheid behoort’, en dat hulle daarvoor geseën sal word.—Jakobus 1:25, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel