Die gawe van musiek
KAN jy jou die lewe sonder musiek voorstel? Geen strelende wiegeliedjies, geen romantiese liefdesliedjies, geen opgewekte popliedjies, geen roerende simfonieë en geen inspirerende melodieë nie. Vir die meeste mense sal die lewe sonder musiek baie vervelig en oninteressant wees.
Ja, musiek kan feitlik elke menslike emosie na vore bring. Dit kalmeer ons en stimuleer ons, beur ons op en inspireer ons. Dit bring ons in vervoering en laat ons huil. En omdat musiek tot die hart spreek, is dit kragtig. Waarom het musiek so ’n invloed op ons? Die antwoord is eintlik redelik eenvoudig: Musiek is ’n wonderlike gawe van God af (Jakobus 1:17). Daarom moet dit as iets kosbaars beskou word, moet dit heilsaam wees en moet dit vir almal—jonk en oud—beskikbaar wees.
Musiek het ’n baie lang geskiedenis. Byvoorbeeld, argeologiese getuienis dui daarop dat Afrikastamme eeue voor die huidige jaartelling met tromme, horings en klokke musiek gemaak het. Die eertydse Chinese het ’n soort mondfluitjie en panfluit gespeel. Die volke van Egipte, Indië, Israel en Mesopotamië het die harp gespeel. Een van die mees spesifieke geskiedkundige verwysings na musiek is moontlik die een wat in die Bybel in Genesis 4:21 gevind word. Daar lees ons dat ’n man met die naam Jubal “die vader [was] van almal wat op die harp en die fluit speel”. Baie eeue later het Israel se koning Salomo groot belangstelling in musiek getoon en het hy die heel beste hout verkry om harpe en ander snaarinstrumente te laat maak.—1 Konings 10:11, 12.
As jy destyds instrumentele musiek wou geniet, moes jy natuurlik ’n instrument kon speel of na iemand luister wat dit kon doen. Maar vandag kan miljoene met die druk van ’n knoppie of die kliek van ’n muis na musiek luister. Trouens, alle soorte musiek kan opgeneem of afgelaai word en op toestelle gespeel word wat in jou sak pas. Volgens ’n opname wat in 2009 in ’n Westerse land gedoen is, bestee 8- tot 18-jariges elke dag meer as twee uur daaraan om na musiek en ander oudio-opnames te luister.
Hierdie tendens, wat baie algemeen is, help verklaar waarom musiek en die tegnologie wat daarmee gepaardgaan, vername handelsprodukte geword het. Ja, die musiekbedryf is ’n reusebedryf. Maar het jy al gewonder wat dit behels om ’n treffer te maak?
[Venster/Prent op bladsy 3]
Musiek op die Internet
JY KAN MUSIEK AFLAAI: Gebruikers betaal gewoonlik vir elke lêer wat hulle aflaai, en dit word dan hulle eiendom. Ander verkry ’n intekening—dikwels tesame met ’n selfoonkontrak of ander aankope—wat hulle in staat stel om musieklêers af te laai en te speel, maar slegs gedurende die kontrakperiode.
JY KAN REGSTREEKS NA MUSIEK LUISTER: Jy kan na digitale musiek luister sonder om die lêers af te laai. ’n Groot deel van hierdie musiek is gratis, hoewel ’n intekening nodig is om toegang tot party lêers met spesiale inhoud te verkry.
[Tabel/Prente op bladsy 3]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die ontwikkeling van opneemtegnologie
1880’s
Grammofoonplaat
1890’s
Staaldraadopnemer
1940’s
Tolbandopnemer
1960’s
Kompakte bandkasset
1980’s
Kompakskyf (CD)
1990’s
Digitale oudiolêers (MP3, AAC, WAV, ens.)