Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 5/22 bl. 22-24
  • Jou tjap—jou handtekening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou tjap—jou handtekening
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om ’n tjap te kry
  • Oorsprong van die tjap
  • Hoe tjappe lyk
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1995
  • Bome wat diewe straf
    Ontwaak!—1990
  • ’n Koninkryk soos ’n groot boom
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Keur God alle partytjies goed?
    Leer by die Groot Onderwyser
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 5/22 bl. 22-24

Jou tjap—jou handtekening

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN TAIWAN

“SIT net jou tjap hier”, sê die klerk agter die toonbank in die besige poskantoor in Taipei, Taiwan.

“My tjap?” prewel ek in volslae verwarring. “Maar verskoon tog, ek is nuut hier. Ek het nie ’n tjap nie—wat dit ook al is”, probeer ek verduidelik. “Kan ek nie maar net my naam teken nie?”

“Ja, jy kan, maar waarom laat jy nie vir jou ’n tjap maak nie?” antwoord die posklerk. “Dan sal jy nie meer probleme hê nie.”

Ek wonder wat ’n tjap is en waar die vreemde naam vandaan kom en gaan doen toe ’n bietjie navorsing. In my woordeboek sien ek dat ’n tjap ’n seël of ’n amptelike stempel of die afdruk daarvan is en dat die woord “tjap” van die Hindi-woord tsjip afkomstig is wat “stempel” beteken.

Hoe om ’n tjap te kry

Eers het ek ’n Chinese naam nodig.a Vir ’n buitelander is die naam dikwels ’n transliterasie van die klank van die naam. “John Smith” kan byvoorbeeld “Sjih Mi Sse” of “Sjih Joeë Han” word. Of ek kan ’n Chinese vriend kry om my ’n naam te help kies. Hy sal waarskynlik ’n naam kies wat hy dink my pas, maar dit sal dalk glad nie soos my regte naam klink nie.

Die volgende stap is om die winkel van ’n tjap-snyer te besoek. Daar kies ek ’n geskikte stuk materiaal uit die groot verskeidenheid wat beskikbaar is. Dan sny die ambagsman die gestileerde karakters van my Chinese naam op my tjap uit.

Nou is ek toegerus om sake te doen of ’n transaksie by ’n poskantoor, ’n bank of ’n ander plek vir ampsake aan te gaan. Vir sekere wetlike transaksies moet die stempel of afdruk van my tjap by die Binnelandse Registrasiekantoor geregistreer word. As dit vir ’n korporasie is, dan word dit by die geregshof geregistreer.

Maar ek wonder hoe ’n klerk weet of die tjap eg is. Om uit te vind en te sien hoe tjappe gemaak word, lê ek ’n besoek af by Lin Rongdeh, ’n tjapmaker in die stad Kaohsiung, in Suid-Taiwan. Volgens mnr. Lin meen baie mense dat selfs tjappe met dieselfde naam wat deur dieselfde tjapmaker uitgesny word nooit presies dieselfde is nie. Om te toets of ’n tjap eg is, sal ’n kantoorklerk die afdruk in die helfte vou, gewoonlik diagonaal, en dit oor die afdruk lê wat reeds op lêer is. Die twee helftes moet presies dieselfde wees.

“Maar deesdae”, sê mnr. Lin, en wys na ’n masjien in sy winkel, “is daar masjiene wat ’n tjap met behulp van ’n rekenaar kan uitsny. Tjappe wat op hierdie manier uitgesny word, kan identies wees.”

“Dit is verbasend!” antwoord ek. “Maar hoe maak ’n mens ’n tjap met ’n rekenaar?”

“Eers set of teken ek die letters van die naam op ’n stukkie halfdeursigtige papier of plastiek in ’n vorm wat vir ’n tjap geskik is”, verduidelik mnr. Lin. “Dan plaas ek dit op een draaiende kop van die masjien, wat die naam met ’n laserstraal lees. Terselfdertyd klem ek die tjap wat uitgesny moet word op ’n tweede draaiende kop vas, en ’n klein verdieper wat deur die laserstraal beheer word, sny die tjap uit om die letters te vorm wat ek geteken het.”

Aangesien hierdie metode taamlik goedkoop is, laat elke gesinslid gewoonlik vir hom ’n tjap maak. Dit word in die huis byderhand gehou om deur enigiemand gebruik te word wat geregistreerde pos of ander items ontvang waarvoor daar in Westerse lande geteken moet word.

Oorsprong van die tjap

Die eerste gebruik van ’n tjap in China waarvan ons weet, was in die jaar 1324 v.G.J. Maar dit het eers tydens die Tsjou-dinastie (1122-256 v.G.J.) gewild geword. In daardie vroeë tye is hulle nie as ’n handtekening gebruik nie, maar dikwels eerder aan die gordel gedra as ’n aanduiding van iemand se stand of amp of net dat iemand vernaam was. Dit het eerder die persoon se posisie verteenwoordig as die persoon self. Die tjap is, soos dit dikwels vandag die geval is, aan die volgende ampsdraer oorgedra wanneer die amptenaar afgetree of gesterf het. Wanneer ’n edelman ’n oudiënsie met die keiser wou hê, het hy sy jade-tjap gebruik om sy identiteit te bewys.

Toe papier uitgevind is, het die tjap gaandeweg die handtekening begin vervang. Mettertyd het selfs gewone mense dit al hoe meer begin gebruik. Vandag het almal hier ’n tjap, selfs ’n buitelandse inwoner soos ek, en enige transaksie waar ’n handtekening nodig is, kan afgehandel word deur net die tjap te gebruik. Hoewel ’n geskrewe handtekening amptelik ook gebruik kan word, is dit vir die meeste mense die tjap wat dinge wettig maak. Hierdie gebruik het na die grootste deel van die Ooste versprei, met die gevolg dat die Japannese en die Koreane ook ’n tjap gebruik.

Hoe tjappe lyk

’n Tjap kan vierkantig, langwerpig, ovaalvormig of rond wees, of dit kan tallose ander vorme aanneem. Die deursnee kan so klein as drie millimeter of so groot as 15 sentimeter wees. ’n Tjap kan gemaak word van jade, seepsteen, die horings van diere, bamboes, geelkoper, hout of plastiek, na gelang van wat die klant wil hê, hoeveel geld hy kan bestee en die doel waarvoor die tjap gebruik gaan word. As ’n tjap baie selde en vir minder belangrike transaksies gebruik gaan word, sal hout of plastiek moontlik voldoende wees. Maar as die eienaar beoog om dit sy hele lewe lank te gebruik, sal hy dalk iets kies wat waardevoller en aantrekliker is.

Die amptelike tjap van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania se takkantoor in Taiwan is byvoorbeeld op ’n blok hardehout van 7,5 sentimeter lank, vyf sentimeter breed en 2,5 sentimeter dik uitgesny. Nogal ’n lomp “handtekening”, of hoe? Die papier wat geteken moet word, is dikwels nie veel groter nie!

Die algemeenste tjappe is onversierde stukke van die gekose materiaal met die naam wat in gestileerde Chinees op die plat bodem uitgesny is. Snywerk aan die steel of aan die bokant maak die tjap mooier en waardevoller. Sommige tjappe is baie ryk versierde kunswerke. (Sien die foto op bladsy 23.) Die eienaar sal die tjap gewoonlik in ’n leersakkie dra of in ’n dosie met ’n klein vakkie aan die een kant wat vermiljoen-inksmeer bevat. Soms sal ’n pas getroude egpaar hulle tjappe laat uitsny op twee stukke wat uit dieselfde voorraad geneem of gesny is en eenderse ontwerpe het—nogal ’n romantiese idee. Of soos in die geval van die pragtige geel-jade-tjappe wat op bladsy 23 verskyn, is die drie tjappe en kettings almal uit een stuk steen gesny.

Wanneer die tjap eers uitgesny is, word dit die wettige handtekening van die eienaar of die ampsdraer, en daarom moet dit met die grootste sorg behandel word. Dit moet teen diefstal beskerm word, aangesien ’n dief dit kan gebruik om dokumente te vervals, geld uit banke te onttrek, tjeks of obligasies te wissel, ensovoorts.

Wat staan my te doen as ek my tjap verloor? Eers moet ek die poskantoor, die bank en ander belanghebbende agentskappe in kennis stel sodat hulle my tjap kan kanselleer. Ek moet dit natuurlik dadelik doen om te voorkom dat my tjap onwettig gebruik word. Dan moet ’n nuwe tjap gemaak word. As dit ’n geregistreerde tjap is wat vervang moet word, moet ek dit weer laat registreer en die belanghebbende kantore moet van my nuwe tjap in kennis gestel word. En jy meen dat dit lastig is om ’n kredietkaart te verloor? Dit is ’n verstandige persoon wat sorg dat sy tjap nie wegraak of gesteel word nie!

In die Weste is filatelie, of die versameling van posseëls, ’n gewilde stokperdjie. In China versamel baie mense tjappe of die stempel van verskillende tjappe, waarvoor daar spesiale boeke uitgegee word. Party tjappe is baie mooi, aangesien die styl van die letters en die vorm, kleur en tekstuur van die tjap saam dit ’n baie aangename voorkoms gee. Tjappe wat vroeër die eiendom van beroemde of invloedryke mense was of tjappe wat besonder oud is, word dikwels in museumversamelings gehou.

Vir elke persoon in die Weste wat ’n pen optel om ’n amptelike dokument te teken, is daar waarskynlik iemand in ’n Oosterse land wat ’n tjap uithaal, dit ’n paar keer op die vermiljoen-inkkussinkie druk en sy “handtekening” dan versigtig op die stippellyn stempel.

Hoe interessant maak verskillende gebruike die lewe tog nie!

[Voetnoot]

a Hoewel daar tjappe met name in ander tale gemaak kan word, lê die prag van die tjap in die ontwerp van die Chinese skrif.

[Prente op bladsy 23]

Regsom: Vermiljoen-stempel van ’n tjap; tjappe met ’n ketting wat almal uit een stuk jade gesny is; tjapmaker wat ’n ontwerp uitsny; tjap waarop daar ’n gedig gegraveer is

Tjap in die vorm van ’n skilpad

[Erkenning]

Chops: National Palace Museum, Taipei, Taiwan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel