Die reïnkarnasieverskynsel word verduidelik
EEN van die besware teen die teorie van reïnkarnasie is dat die oorgrote meerderheid mense op aarde glad nie kan onthou dat hulle voorheen gelewe het nie. Daarbenewens dink hulle glad nie eers dat hulle voorheen kon gelewe het nie.
Dit is waar dat ons soms ’n eienaardige gevoel kry dat ons iemand herken wat ons vir die eerste keer ontmoet. ’n Sekere huis, dorp of ’n skilderagtige gebied lyk dalk vir ons bekend, hoewel ons weet dat dit die eerste keer is dat ons daar kom. Maar dit kan verduidelik word sonder om ons tot die teorie van reïnkarnasie te wend.
Byvoorbeeld, sekere plekke in gebiede wat ver uitmekaar geleë is, lyk dalk baie dieselfde, en wanneer ons dan ’n nuwe plek besoek, dink ons moontlik dat ons al voorheen daar was, hoewel dit nie die geval is nie. Talle huise, kantore, winkels, dorpe en skilderagtige gebiede in een deel van die wêreld lyk soos dié op ander plekke. Die feit dat dit soos die plekke lyk wat ons voorheen gesien het, is nie ’n bewys dat ons tydens ’n vorige lewe op daardie plekke was nie. Hulle lyk net na plekke wat ons goed ken.
Dieselfde geld ook vir mense. Party mense lyk nogal na mekaar en het selfs ’n so genoemde dubbelganger. ’n Persoon het moontlik maniertjies wat ons herinner aan iemand anders wat nog lewe of selfs aan iemand wat dood is. Maar ons het daardie mense gedurende hierdie teenswoordige lewe geken, nie gedurende die een of ander vorige bestaan nie. ’n Ooreenkoms in voorkoms of persoonlikheid beteken nie dat ons hierdie mense tydens ’n vorige lewe geken het nie. Ons almal het al ongetwyfeld een persoon met ’n ander verwar. Maar albei hierdie persone het op dieselfde tydstip as jy gelewe en nie tydens die een of ander vorige lewe nie. Dit het niks met reïnkarnasie te doen nie.
Die invloed van hipnose
Selfs ondervindinge onder die invloed van hipnose kan verduidelik word sonder om ons tot die teorie van reïnkarnasie te wend. Ons onderbewussyn vorm ’n skatkamer van inligting wat baie omvattender is as wat ons ons kan voorstel. Inligting bereik daardie skatkamer deur middel van boeke, tydskrifte, die TV, radio asook deur ander ondervindinge en waarnemings.
Baie van hierdie inligting word in die een of ander verborge hoekie van ons onderbewussyn weggebêre omdat ons nie regstreekse of onmiddellike gebruik daarvoor het nie. Ons onderbewussyn is amper soos biblioteekboeke wat tans nie baie uitgeneem word nie en daarom eenkant op ’n rak weggesit word.
Maar onder hipnose word die persoon se bewussyn verander sodat vergete herinneringe herroep kan word. Party mense vertolk dit as herinneringe uit ’n vorige lewe, maar dit is niks meer as ondervindinge uit ons teenswoordige lewe waarvan ons tydelik vergeet het nie.
Daar is egter ’n paar gevalle wat moeiliker kan wees om op ’n natuurlike manier te verduidelik. ’n Voorbeeld daarvan is wanneer iemand onder die invloed van hipnose in ’n ander “taal” begin praat. Soms is die taal verstaanbaar, maar dikwels is dit nie. Diegene wat in reïnkarnasie glo, sê moontlik dat dit ’n taal is wat die persoon in ’n vroeëre lewe gepraat het.
Tog is dit algemeen bekend dat sogenaamde talespraak ook voorkom wanneer mense in ’n toestand van mistiese of godsdiensvervoering is. Die mense wat sulke ondervindinge het, is daarvan oortuig dat dit niks met ’n vorige lewe te doen het nie, maar dat hulle in die teenswoordige lewe deur die een of ander onsigbare krag beïnvloed word.
Daar is verskillende menings oor wat hierdie krag is. In ’n gesamentlike verklaring deur die Fountain Trust en die Anglikaanse Kerk se Evangeliese Raad is die volgende in verband met talespraak gesê: “Ons is ook bewus daarvan dat ’n soortgelyke verskynsel onder okkulte/demoniese invloed kan plaasvind.” As ons dus aanneem dat so ’n verskynsel ’n bewys daarvan is dat ons ’n vorige lewe gehad het, sou ons tot die verkeerde slotsom kom.
Skyndoodondervindinge
Wat dan van die skyndoodondervindinge wat mense sê hulle gehad het? Party mense het hierdie ondervindinge al vertolk as bewys daarvan dat ’n mens ’n siel het wat ná die dood van die liggaam voortleef. Maar sulke ondervindinge kan op verskeie natuurlike maniere baie beter verduidelik word.
In die Franse wetenskaplike tydskrif Science & Vie vir Maart 1991 word die verskillende stadiums van skyndoodondervindinge “’n universele prototipe van hallusinasie” genoem wat al lank reeds bekend is. Soortgelyke ondervindinge is nie tot diegene in skyndoodsituasies beperk nie. Hulle kan ook na aanleiding van “uitputting, koors, epileptiese aanvalle en dwelmmisbruik” voorkom.
’n Baanbreker op die gebied van neurochirurgie, Wilder Penfield, wat op epilepsielyers geopereer het terwyl hulle onder plaaslike verdowing was, het ’n interessante ontdekking gedoen. Hy het vasgestel dat as hy die verskillende dele van die brein met ’n elektrode stimuleer, kan hy die pasiënt die gevoel laat kry dat hy buite sy liggaam is, dat hy deur ’n tonnel reis en dat hy gestorwe familielede ontmoet.
’n Ander interessante feit in hierdie verband is dat kinders wat skyndoodondervindinge gehad het nie hulle gestorwe familielede ontmoet nie, maar skoolmaats of onderwysers—diegene wat nog lewe. Dit dui daarop dat sulke ondervindinge die een of ander kulturele verband het. Dit wat ondervind word, hou met die teenswoordige lewe verband, nie met iets ná die dood nie.
Dr. Richard Blacher skryf in die tydskrif The Journal of the American Medical Association: “Om op sterwe te lê of om jou in ’n lewensgevaarlike krisis te bevind, is ’n proses; die dood is ’n toestand.” Dr. Blacher gebruik as voorbeeld iemand wat vir die eerste keer van die Verenigde State af na Europa toe vlieg. “Die vliegrit is nie [soos om in] Europa [te wees] nie”, skryf hy. Die toeris wat Europa toe vertrek, maar wie se vliegtuig omdraai en minute ná die vertrek terugkeer, kan net so min vir mense iets oor Europa vertel as wat iemand wat uit ’n koma wakker word vir enigeen iets oor die dood kan vertel.
Diegene wat ’n skyndood gehad het, was met ander woorde nooit werklik dood nie. Hulle het iets ondervind terwyl hulle nog gelewe het. En iemand lewe steeds sekondes voor sy dood. Hulle was amper dood, maar nog nie werklik dood nie.
Selfs diegene wie se hart ’n kort rukkie gaan staan en toe weer begin klop het, kan nie werklik enigiets onthou wat gedurende daardie oomblikke van bewusteloosheid gebeur het nie, al kon hulle “dood” genoem word. Wat hulle onthou, indien daar enigiets is, sou dinge wees wat voor daardie kort onderbreking gebeur het, nie tydens die onderbreking nie.
Die skyndoodondervindinge waaroor daar geskryf word, word byna altyd as positief beskryf hoewel dit algemeen bekend is dat negatiewe ondervindinge ook voorkom. Die Franse psigoanalis Catherine Lemaire verduidelik dit so: “Diegene wat nie ’n [skyndood] ondervind het wat ooreenstem met die patroon wat deur die IANDS [internasionale vereniging vir skyndoodstudies] voorgeskryf word nie, stel nie daarin belang om hulle verhaal te vertel nie.”
Geen herinnering nie
Feit is dat ons geen ander lewe ondervind het behalwe die lewe wat ons nou het nie, nie ’n vorige lewe nie en ook nie ’n lewe ná die dood nie. Daarom het ons geen ware herinneringe aan enigiets buiten die lewe wat ons werklik nou al gelewe het nie.
Diegene wat in reïnkarnasie glo, sê dat die ware betekenis van hergeboorte is om ’n nuwe kans te kry om ons situasie te verbeter. As ons werklik vroeëre lewens gehad het, maar daarvan vergeet het, sal die feit dat ons hulle nie kan onthou nie ’n groot nadeel wees. Dit is deur ons foute te onthou dat ons daarby baat vind.
Diegene wat die so genoemde reïnkarnasieterapie voorstaan, meen ook dat ’n mens huidige probleme beter die hoof kan bied as jy jou vroeëre lewens deur middel van hipnose kan onthou. Volgens dié teorie word ons weer gebore om iets te verbeter; tog het ons vergeet wat daardie iets is.
Geheueverlies in die teenswoordige lewe word as ’n struikelblok beskou. Dit moet ook in hierdie geval geld. Om beswaar te maak deur te sê dat sulke vergeetagtigheid nie saak maak nie aangesien net goeie persone weer as mense gebore word, is nie ’n grondige argument in hierdie tyd waarin die wêreld meer as ooit tevore deur goddeloosheid oorheers word nie. Waar het al die goddelose mense vandaan gekom as net goeie persone weer as mense gebore word? Moet daar nie al hoe minder goddelose mense wees nie? Die waarheid is: Niemand, goed of sleg, word ooit gereïnkarneer om ’n ander lewe as ’n mens of enigiets anders te begin nie.
Maar jy sê moontlik: ‘Is reïnkarnasie nie ’n Bybellering nie?’ Ons sal hierdie vraag in die volgende artikel bespreek.
[Lokteks op bladsy 6]
Ons onderbewussyn is soos ’n biblioteek van inligting wat weggebêre is, maar later herroep kan word
[Lokteks op bladsy 7]
“Die dood is ’n toestand”, nie ’n proses nie.—Dr. Richard Blacher in The Journal of the American Medical Association