Walsingham—Engeland se omstrede heiligdom
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
WALSINGHAM, ’n skilderagtige dorpie in die Norfolk-distrik, Engeland, ontvang jaarliks tot 100 000 pelgrims wat die heiligdomme van Die Maagd van Walsingham besoek. Die een heiligdom word deur die Rooms-Katolieke gesteun en die ander een deur die Anglikaanse Kerk. Dit het tot ’n omstrede situasie gelei.
“Die Nasionale Pelgrimstog na Walsingham was in onlangse jare ’n pynlike ervaring”, skryf ’n Anglikaanse geestelike in die Church Times. “Die pelgrimsoptog . . . word gekonfronteer deur die luide en ontstoke uitroepe van . . . ’n goed georganiseerde skare protesteerders wat al hoe groter word.”
Waarom die protes? “Wat hier in die naam van die Christelike godsdiens beoefen word, is niks anders as heidens nie”, sê die protesteerders teen die Anglikaanse Kerk se heiligdom, en “’n skaamtelose minagting van die waarheid, ’n gruwel voor God en ’n afskuwelike belediging van ons protestantse erfenis.”
In Engeland wek godsdiens selde sulke geesdrif. Wat is daar in Walsingham wat tot sulke sterk gevoelens aanleiding gee? ’n Terugblik op die geskiedenis van die heiligdomme sal jou dit help verstaan.
Protestant teenoor Katoliek
Voor die Hervorming van die 16de eeu was Engeland Rooms-Katoliek en het hy met baie heiligdomme gespog. Een van die oudstes was in Walsingham, die land se vernaamste heiligdom van die Maagd Maria. Dit het in die jaar 1061 ontstaan toe die landheer se vrou ’n huis in die dorpie laat bou het. Volgens oorlewering is besonderhede van die konstruksie daarvan in ’n gesig gegee, aangesien dit glo ’n replika van die huis in Nasaret was waar Maria, Jesus se moeder, gewoon het. In die Middeleeue het hierdie heiligdom aan Maria internasionale belang en gewildheid verwerf.
Konings en gewone mense het na Walsingham gestroom. Wat was die aantrekkingskrag? Buiten die houtbeeld van Maria met die kindjie Jesus op haar knie, was aflaatbriewe en aandenkings maklik verkrygbaar, en siektes is glo daar genees. Die pelgrims kon ook na die “wonder” van Walsingham gaan kyk, ’n flessie wat na bewering ’n paar druppels gestolde melk van Maria bevat het. Sommige besoekers was oortuig dat dit net kryt of witlood was, en Erasmus, die Bybelkenner, het die egtheid van die reliek, wat vir party na fyngemaakte kryt gelyk het wat met eierwit gemeng is, bevraagteken.
Waarom het ’n vername hervormer soos Erasmus ’n pelgrimstog na Walsingham onderneem? Blykbaar was dit om ’n eed te vervul. Hoewel hy die heiligdom breedvoerig beskryf het, “is sy satire oor die verering daarvan besonder bitsig”, sê The Catholic Encyclopedia. Erasmus het “op ’n satiriese en ongelowige trant” geskryf, verduidelik die geskiedkundige Frederic Seebohm, en hy voeg by dat daar geen bewys is “dat hy ’n aanbidder van die Maagd of ’n voorstander van die waarde van pelgrimstogte na haar heiligdom was nie”.
Tydens die Hervorming het die pas gestigte Anglikaanse Kerk die Rooms-Katolieke Kerk onttroon. In die jaar 1538 is die heiligdom van die “Heks van Walsingham”, soos dit toe bekend gestaan het, op bevel van koning Hendrik VIII, die hoof van die splinterkerk, vernietig en die grond verkoop. Die beeld, die gehate simbool van afgodediens, is 160 kilometer daarvandaan na Chelsea in Londen geneem en is daar in die openbaar verbrand.
Die Protestante boots die Katolieke na
Maar vroeg in hierdie eeu het die Anglikaanse Kerk Die Maagd van Walsingham herstel—as ’n Protestantse heiligdom! In 1921 is ’n gesnede replika van die oorspronklike beeld in Walsingham se kerk aangebring, en die eerste hedendaagse pelgrims het ’n jaar later daar opgedaag. Hoe gewilder die heiligdom geword het, hoe toorniger het party kerklidmate geword. Wanneer die beeld elke jaar in Mei tydens ’n optog van 30 minute deur die strate gedra word, protesteer hulle heftig teen die afgodediens.
In 1934 het die Rooms-Katolieke hulle Nasionale Heiligdom van Die Maagd in Walsingham opgerig. Hierdie heiligdom bevat ’n tweede replika van die oorspronklike beeld van die moeder en kind en is in die ou Slipper Chapel geplaas. Dit is die plek waar pelgrims hulle skoene gelaat het om kaalvoet na die oorspronklike dorpsheiligdom te loop. Dit is interessant dat die protes tot die heiligdom van die Anglikaanse Kerk beperk word, wat volgens die protesteerders ’n bevordering van Maria-verering en ’n verwerping van die kerk se Protestantse erfenis is.
Maar is daar nog ’n rede vir die protesteerders se vurige teenstand? Baie dink so. Die “protesbetogings het in die laaste tyd al hoe meer homofobies geraak”, berig die nuusblad The Independent, “en is veral op die homoseksuele element in die Anglikaanse Kerk gemik”. Hierdie Anglikaanse mans, hoofsaaklik geestelikes, het Walsingham die afgelope paar jaar hulle jaarlikse vergaderplek gemaak. Waarom kom hulle? Een gereelde pelgrim het opgemerk: “Dit is nie die mees heteroseksuele gebeurtenis op aarde nie.”
Dit is duidelik dat ’n gebeurtenis soos hierdie, wat van afgodediens deurtrek is en nou ’n ondertoon van homoseksualiteit het, deur ware Christene vermy moet word.—1 Korinthiërs 6:9, 10; 10:14; 1 Johannes 5:21.