Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 11/22 bl. 24-27
  • Die Pelgrims en hulle stryd om vryheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Pelgrims en hulle stryd om vryheid
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die godsdienssituasie in Engeland
  • Hulle vlug na Holland
  • Die Mayflower vaar!
  • Die kolonie word gestig
  • Die Pelgrims en die Indiane
  • Latere verwikkelinge
  • Die Pelgrims se nalatenskap
  • Pelgrims en Puriteine—Wie was hulle?
    Ontwaak!—2006
  • Katolieke jongmense aangespoor om te getuig
    Ontwaak!—2009
  • Walsingham—Engeland se omstrede heiligdom
    Ontwaak!—1994
  • Van Ons Lesers
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 11/22 bl. 24-27

Die Pelgrims en hulle stryd om vryheid

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NEDERLAND

IN 1620 het ’n groep Engelse Puriteine wat van Delfshaven, naby Rotterdam, Nederland, af gevaar het die eerste permanente nedersetting van Europeërs in Nieu-Engeland—die Plymouth-kolonie—gevestig in wat nou die suidooste van Massachusetts is. Wat het hierdie uiters godsdienstige mense beweeg om so ’n lang en veeleisende seereis oor die verraderlike Atlantiese Oseaan op die kleinerige skip die Mayflower aan te durf? Waarom was hulle in die eerste plek in Nederland? Waarom het hulle daar weggegaan?

Die godsdienssituasie in Engeland

Gedurende die 1500’s is die Rooms-Katolieke Kerk deur die Hervorming verswak. Protestantse kerke het oral in Europa, asook in Engeland, begin ontstaan. Engeland het finaal van Rome weggebreek nadat die Pous geweier het om koning Hendrik VIII se versoek toe te staan om sy eerste huwelik te ontbind. Die Engelse kerk het hulle van Rome afgeskei, en in 1534 het die Engelse Parlement Hendrik amptelik as die “Anglikaanse Kerk se Oppergesag op aarde, direk onder God”, erken. Sy dogter Elizabeth, wat in 1533 gebore is, is as ’n Protestant grootgemaak, en nadat sy koningin Elizabeth I geword het, het sy die Anglikaanse Kerk ’n oorwegend Protestantse karakter gegee. Daar was nietemin kleiner Protestantse groepe wat nie met die heersende Anglikaanse Kerk saamgestem het nie. Baie van hulle is Puriteine genoem omdat hulle die Anglikaanse Kerk wou reinig van alle oorblyfsels van Rooms-Katolisisme. Een Puriteinse groep is as besonder radikaal beskou, aangesien hulle weggebreek het van die kerkhiërargie van biskoppe en priesters. Hulle het hulle gemeente as heeltemal onafhanklik beskou onder die gesag van hulle eie ouderlinge.

Koningin Elizabeth was bang dat sy haar houvas op die mense sou verloor as die Puriteine nie in bedwang gehou word nie. Sy het derhalwe streng wetgewing teen hulle ingestel. Ten spyte hiervan het die verskeie Puriteinse groepe steeds vergader, maar in die geheim, in privaat huise. Die Puriteine het ook baie godsdienspamflette versprei waarin hulle opvattings uiteengesit is. Die Londense Puriteine het hulle eie liggaam van ouderlinge aangestel, wat meestal uit geskorste Anglikaanse predikante bestaan het. Die groepe wat daarvan afgesien het om die Anglikaanse Kerk te hervorm en hulle daarvan afgeskei het, is Separatiste genoem.

Koning Jakobus I, koningin Elizabeth se opvolger, het haar godsdiensbeleid gevolg en gedreig om die Puriteine “uit die land te verdryf”. Terselfdertyd het hy opdrag gegee dat ’n nuwe Engelse vertaling van die Bybel uitgegee word—die King James Version, wat in 1611 voltooi is. Hierdie nuwe vertaling het baie mense aangespoor om die Bybel te ondersoek. Die gevolg? Selfs meer mense het met die staatskerk begin verskil. Wat sou jy gedoen het as jy in daardie dae gelewe het? Sou jy jou godsdiensopvattings verander het as jy met vervolging gedreig is? Sou jy onwrikbaar by jou oortuiging gehou het, ongeag die gevolge? Baie Puriteine het dit gedoen en geweier om hulle opvattings prys te gee.

Hulle vlug na Holland

Een groep Separatiste wat geweier het om hulle opvattings prys te gee, het in die Engelse dorpie Scrooby gewoon. Daar het hulle in die geheim ontmoet in die huis van posmeester William Brewster, hulle “Hoofouderling”. John Robinson, ’n voormalige Anglikaanse priester, het ook met hulle geassosieer. Behalwe dat die groep by Scrooby ten gunste daarvan was dat die kerk eerder deur ouderlinge as deur priesters en biskoppe bestuur word, het hulle ook priestergewade en baie van die ritusse van die Anglikaanse Kerk se dienste verwerp, hoewel hierdie dinge deur die wet vereis is.

Onder toenemende druk het hierdie klein groepie besluit om na Nederland te vlug, wat destyds die enigste plek in Europa was waar hulle sienswyses en gebruike geduld sou word. Maar emigrasie was onwettig. Hulle het derhalwe hulle huise en alles wat hulle nie kon saamneem nie so ongemerk moontlik verkoop en in 1608 per skip na Amsterdam gegaan. Dit was in Nederland dat die Separatiste hulleself as pelgrims begin beskou het.

’n Jaar ná hulle aankoms, dieselfde jaar waarin ’n wapenstilstand die oorlog onderbreek het wat tussen Spanje en Nederland gewoed het, het die Pelgrims na Leiden verhuis. Die wapenstilstand het ’n vreedsamer klimaat vir die Pelgrims tot gevolg gehad. Meer vlugtelinge het gaandeweg van Engeland af daar aangekom, en die groep het tot ongeveer 300 vermeerder. Hulle het mettertyd ’n groot huis gekoop, waar John Robinson en sy gesin gewoon het en waar hulle ook vergaderinge kon hou.

Nadat die Pelgrims sowat tien jaar in Leiden deurgebring het, het hulle verontrus begin voel. Die wapenstilstand met Spanje was byna iets van die verlede, en hulle was bang dat hulle, indien die Spaanse Inkwisisie mag in Nederland verkry, erger daaraan toe sou wees as wat hulle onder koning Jakobus was. Bowendien het hulle leerstellig verskil van hulle liberaler Hollandse bure, en hulle was bekommerd oor hulle kinders se omgang met die Hollandse kinders, wat volgens hulle bandeloos was. Wat moes hulle doen? Hulle het weer ’n baie groot verhuising oorweeg—hierdie keer na Amerika!

Die Mayflower vaar!

Die grootste uitdaging vir hulle was om so ’n lang seereis te finansier. Nog ’n groot probleem was dat toestemming vir die ekspedisie van die koning van Engeland verkry moes word—dieselfde koning van wie hulle probeer wegkom het toe hulle na Nederland gevlug het! Die Pelgrims het koning Jakobus moeg gemaak met hulle versoekskrifte totdat hy oplaas sy toestemming gegee het. Op die ou end het ’n groep Londense handelaars die onderneming gefinansier.

Eindelik het die tyd aangebreek om te vertrek! Diegene van die Pelgrimkerk in Leiden wat besluit het om te verhuis, het aan boord van die skip Speedwell gegaan en op 22 Julie 1620 van Delfshaven af na Engeland vertrek, waar nog lidmate by hulle sou aansluit. Die Pelgrims het hulle reis aan boord van twee skepe begin, die Speedwell en die Mayflower. Maar ernstige lekplekke in die romp van die Speedwell het die skepe genoodsaak om terug te draai na Engeland, waar die Mayflower passasiers en voorraad van die Speedwell af oorgelaai het. Uiteindelik, op 6 September, het die klein 27 meter lange Mayflower alleen uitgevaar van Plymouth, Engeland, met 24 gesinne aan boord—altesaam 102 passasiers—en ’n bemanning van 25. Watter moed het dit tog nie geverg van daardie onervare reisigers om ’n seereis van 5000 kilometer te onderneem nie! Die skip was erg oorlaai en moes die gevaarlike Noord-Atlantiese weer trotseer. Stel jou net die gevoelens voor van diegene aan boord toe hulle ná nege lange maande op see land gesien het!

Die kolonie word gestig

Voordat die Pelgrims aan wal gestap het, het hulle ’n onderlinge ooreenkoms, of verbond, gesluit oor die toekomstige regering van die nuwe kolonie. Deur middel van hierdie ooreenkoms, wat deur 41 van die mans in die groep onderteken is, het die Pelgrims hulleself tot ’n “Burgerlike Staatsgemeenskap” gevorm en die verantwoordelikheid aanvaar om reëls te maak, en te onderhou, om al hulle aangeleenthede te bestuur. Hoewel sommige geskiedkundiges hierdie dokument die eerste Amerikaanse grondwet genoem het, toon die Grote Winkler Prins Encyclopedie dat die Pelgrims wat dit opgestel het “die oprigting van ’n godsdiensgesag in gedagte gehad het”. Die doel daarvan was om al die lede van die kolonie daartoe te verbind om bymekaar te bly, fisies sowel as godsdienstig.

Nadat hulle die kus verken het en ekspedisies na die binneland gestuur het, het die groep hulle in ’n koue Desember op die plek gevestig wat hulle New Plymouth genoem het, wat later die Plymouth-kolonie genoem is. Hulle het ook op landerye afgekom wat deur Indiane bewerk is. Maar die ontsaglike Indiaanse bevolking wat net ’n paar jaar tevore deur ontdekkingsreisigers opgemerk is, is geteister deur die ontdekkingsreisigers se siektes—met inbegrip van pokke en masels. Anders sou die Indiane miskien die Pelgrims se pogings teëgestaan het om ’n kolonie te vestig.

Die Pelgrims het begin deur ’n gemeenskaplike huis en verskeie woonhuise te bou. Dit was ’n moeilike begin, want hulle het in die winter daar aangekom en het nie genoeg voedsel oorgehad uit hulle skip se voorraad nie. Gedurende daardie eerste winter het 52 gesterf aan siektes, waaronder 13 van die 24 getroude mans en tot 14 van die 18 getroude vrouens. Onder die sterfgevalle was hulle eerste goewerneur, John Carver. Maar die oorlewendes het hulle voorgeneem om in New Plymouth te bly. Die volgende goewerneur, die geesdriftige William Bradford, het uitvoerig verslag gehou van die geskiedenis van die jong kolonie en is derhalwe as Amerika se eerste geskiedskrywer beskou.

Die Pelgrims en die Indiane

Die eerste Pelgrims wat in New Plymouth aangekom het, het ’n onderlinge vredesverdrag gesluit met Massasoit, die opperhoof van die plaaslike Wampanoag-Indianestam. In die verdrag het die Pelgrims en die Wampanoag beloof dat hulle mekaar nie leed sou aandoen nie, en hulle het ’n gelofte afgelê dat hulle mekaar sou beskerm in geval van oorlog met buitestanders. Dit is onwaarskynlik dat enige van die Pelgrims sonder Massasoit se vriendskap behoue sou gebly het. Hierdie Indiane het die setlaars mielies gegee om te eet en te plant, en die verbond wat hulle gesluit het, het daartoe bygedra dat die Pelgrims nie deur ander stamme doodgemaak is nie.

Die koloniste het aanvanklik baie hulp van die Indiane ontvang. Volgens goewerneur William Bradford het ’n Indiaan met die naam Tisquantum die koloniste geleer “hoe om hulle mielies te plant, waar hulle vis kon vang en ander produkte kon verkry, en [hy] was ook hulle gids wat hulle tot hulle voordeel na onbekende plekke gelei het”. Die eerste mielieoes was goed, en die Pelgrims het suksesvolle voëljagters geword. Hulle was God dankbaar en het besluit om ’n driedaagse oesfees te hou. Massasoit en 90 van sy krygshelde het gekom en vyf herte saamgebring om by die feesmaal te voeg.

Die viering het, soos die kolonie self, ’n sterk godsdienstige inslag gehad. Hoewel die Pelgrims die fees die volgende jaar weens swak oeste nie gehou het nie, het Dankdag later ’n jaarlikse nasionale en godsdienstige vakansiedag in die Verenigde State, Kanada en ’n paar ander lande geword. Vandag is Dankdag in Noord-Amerika tipies ’n geleentheid vir ’n gesinsmaal van kalkoen, bosbessiesous en pampoenpastei—maar in beginsel bly dit “’n tyd vir ernstige godsdiensdenke, kerkdienste en gebed”.—The World Book Encyclopedia, 1994.a

Latere verwikkelinge

In 1622 het meer Pelgrims van Leiden en Engeland af gekom. Later het nog skepe aangekom met medegelowiges van Europa af. In 1630 het die laaste groep Pelgrims van Leiden af by die kolonie aangesluit, wat hulle getal op ongeveer 300 gebring het. Die kolonie het uiteindelik met die veel groter Massachusettsbaai-kolonie saamgesmelt, wat ’n bietjie verder noord daarvandaan was. Hierdie koloniste het ook Puriteinse opvattings gehad. Intussen het spanning egter tussen die koloniste en hulle Indiaanse bure begin toeneem. Die Puriteine, wat geglo het dat God hulle voorbestem het om die nuwe land te oorheers, het al hoe aanmatigender geword. Die Indiane het dit opgemerk en al hoe haatdraender teenoor hulle begin voel. Ongelukkig het die kolonie in Plymouth, net 55 jaar ná die verdrag met die Wampanoag, met drie ander Engelse kolonies en van die ander Indiane saamgespan en teen Massasoit se seun oorlog gevoer. Hy en sowat drieduisend Indiaanse mans, vrouens en kinders is doodgemaak, en die Puriteine het honderde ander as slawe verkoop. Die Wampanoag het uitgesterf.

Die Pelgrims se nalatenskap

In Nederland kan jy nog steeds die deel van Leiden besoek waar die Pelgrims gewoon het, asook Delfshaven, die hawe waarvandaan hulle na Amerika vertrek het. In die huidige stad Plymouth, Massachusetts, kan jy die Plymouth-nedersetting sien, ’n heropbouing van die oorspronklike dorpie wat deur die Pelgrims gebou is, tesame met ’n Pelgrim-museum en ’n replika van die Mayflower. In die dorpie beeld toneelspelers die oorspronklike inwoners uit. Hulle sal vir jou vertel dat God se naam Jehovah is en dat “die kerk” nie ’n steengebou is nie, maar uit mense bestaan. Op die vraag: “Hoeveel ouderlinge is daar in julle kerk?” antwoord hulle: “Soveel as wat aan die Bybel se vereistes voldoen.”

Volgens die boek The Puritan Heritage—America’s Roots in the Bible het die Pelgrims hulle gemeenskap “so na as moontlik aan Israel se twaalf stamme onder Moses” probeer vorm. Maar soms het die Puriteine tot uiterstes oorgegaan. Hulle reputasie as harde werkers het byvoorbeeld gedeeltelik voortgespruit uit hulle opvatting dat materiële voorspoed ’n aanduiding van God se guns is. En hoewel hulle hulle kinders opreg liefgehad het, het baie vroeë Puriteine geglo dat hulle “hulle diepe toegeneentheid . . . moet verberg”. “Puriteins” word dus verbind met hardheid, felheid en oordrewe strengheid. Maar ten spyte van hulle onvolmaakthede het die Pelgrims ’n mate van sedelike standvastigheid gehad, was hulle vroom en het hulle volgens die Bybel probeer lewe. Dit is duidelik dat hierdie eienskappe die Pelgrims verenig het en hulle deur baie van hulle beproewings onderskraag het.

[Voetnoot]

a Ware Christene het nie ’n spesifieke vakansiedag nodig om God te kan dank nie. Sien asseblief die Awake! van 22 November 1976, bladsye 9-13, vir bykomende inligting.

[Prent op bladsy 26]

Wampanoag-Indiane het die Pelgrims gehelp

[Erkenning]

Harper’s Encyclopædia of United States History

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Bo: Model van die Mayflower

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel