Ons beskou die wêreld
Fokus nou beter
Ná verskeie mislukkings wat vir NASA, die Amerikaanse ruimteagentskap, maar ’n verleentheid was, lyk dit of hulle een fiasko in ’n sege omskep het. Die Hubble-ruimteteleskoop, wat in 1990 deur die agentskap in ’n wentelbaan geplaas is, het ’n foutiewe primêre spieël gehad, wat verhinder het dat die teleskoop behoorlik fokus. In Desember 1993 het ruimtemanne egter 30 uur in ’n ruimtewandeling deurgebring om korrektiewe optika op die foutiewe teleskoop aan te bring en verouderde instrumente te vervang. Die resultaat? Die tydskrif New Scientist berig: “In sekere opsigte werk Hubble beter as wat aanvanklik verwag is.” Volgens die tydskrif Newsweek “is Hubble se skeidingsvermoë nou so skerp dat dit ’n vuurvliegie [14 000 kilometer] ver kan waarneem”. Nadat Duccio Macchetto van die Europese Ruimteagentskap foto’s van die verbeterde teleskoop gesien het, het hy glo uitgeroep: “Ek kan net sê: ‘ongelooflik’.”
Skoolafknouers in Australië
Kinders op skool tree in Australië op ’n jonger ouderdom gewelddadig op, berig die koerant The Australian. Twintig persent van die kinders in daardie land sê hulle voel nie veilig by die skool nie; 1 uit elke 7 kinders word gereeld afgeknou. Navorsers merk op dat aggressiewe kinders geneig is om swak presteerders met ’n lae selfbeeld te wees. Die bevindings toon dat rolprent-, video- en mediavoorstellings van geweld beslis ’n invloed op kinders het. Seuns is die grootste oortreders en meisies en skoolpersoneellede is gewoonlik die slagoffers. Selfs onderwysers ly onder skoolafknouers, en baie is nou teësinnig om teen moeilike leerlinge op te tree uit vrees vir weerwraak. Een onderwysersvereniging het tweerigtingradio’s aangevra vir onderwysers wat die skoolterrein gedurende pouses patroleer.
Kafeïen en swangerskap
In 1980 het die Amerikaanse Voedsel- en Dwelmadministrasie swanger vroue aangeraai om hulle inname van kafeïen, ’n chemikalie wat in koffie, tee, kakao en koladrankies voorkom, te beperk. Die aanbeveling is gemaak hoofsaaklik op grond van eksperimente wat op diere uitgevoer is. Sedertdien het studies op swanger vroue egter meer afdoende bewys gelewer oor die noodsaaklikheid om versigtig te wees wat die gebruik van kafeïen betref. The Journal of the American Medical Association het onlangs berig dat 75 persent van swanger vroue kafeïen inneem, al het die meeste studies getoon dat meer as 300 milligram per dag (ongeveer drie koppies koffie per dag) nadelig vir die fetus kan wees. In ’n meer onlangse studie word daar egter beweer dat selfs laer kafeïenvlakke—163 milligram per dag—die risiko van spontane aborsie by party vroue kan vergroot. Diegene wat die studie onderneem het, sê: “’n Redelike aanbeveling sal wees om die inname van kafeïendrankies gedurende swangerskap te verminder.”
Besoedelde liggame, besoedelde ekostelsels
Dit sal jou dalk nie verbaas dat 3020 mense elke jaar in die Verenigde State sterf nadat hulle kokaïen gebruik het nie; die dwelm se besoedelende uitwerking op die menseliggaam is alombekend. Maar die National Geographic het onlangs berig dat die vervaardiging van die dwelm ook ernstige besoedeling in die riviere en strome van die Boliviaanse, Peruaanse en Colombiaanse reënwoude veroorsaak. Die tydskrif sê: “Amptenare het in 1992 wêreldwyd op ongeveer 308 ton kokaïen beslag gelê, volgens die Amerikaanse Dwelmbeheeradministrasie. Om soveel kokaïen te maak—wat maar ’n breukdeel van die totaal is—vereis [106 miljoen liter] paraffien, [4,2 miljoen liter] oplosmiddels, [1,1 miljoen liter] swaelsuur, [70 000 liter] soutsuur en [14 000 liter] ammoniak. Baie van die totale hoeveelheid word in rivierstelsels gestort, wat waterlewe vernietig en besproeiingswater en drinkwater besoedel.”
Die algemeenheid van geestessiektes
The New York Times het vroeg in 1994 berig: “Byna een uit elke twee Amerikaners—48 persent—het op die een of ander tyd in hulle lewe ’n geestessiekte gehad.” ’n Studie van 8000 mans en vroue, wat deur ’n sosioloog gelei is, het deur middel van persoonlike diagnostiese onderhoude bevind dat major depressie die algemeenste siekte is; 17 persent het op die een of ander stadium in hulle lewe daaraan gely. Veertien persent was op die een of ander stadium van alkohol afhanklik. Die Times het opgemerk dat een van die verrassings van die studie was dat 12 persent van die vroue aan posttraumatiese stres gely het, waarvan die helfte van die gevalle die “gevolg van verkragting of seksuele molestering was”. Van almal wat aan geestessiektes gely het, het slegs ’n kwart professionele hulp ingewin. Dr. Ronald C. Kessler, die sosioloog wat die studie gelei het, het gesê: “Die slegte nuus is dat daar baie meer psigiatriese gevalle is as wat ons gedink het. Die goeie nuus is dat baie meer mense as wat jy sou dink gesond word—meestal op hulle eie.”
Alkoholverwante chirurgiegevaar
Volgens die Deense hoofchirurg dr. Finn Hardt is pasiënte wat daagliks meer as vyf alkoholiese drankies drink se kanse drie keer groter dat postchirurgiese komplikasies sal intree as pasiënte wat minder drink. Soos die Tydskrif van die Deense Mediese Vereniging onlangs berig het, het die misbruik van alkohol ’n vergiftigende uitwerking op feitlik al die orgaanstelsels; dit veroorsaak ’n groter neiging tot bloeding, asook hart- en longprobleme. Sulke toestande gee gewoonlik daartoe aanleiding dat dokters pasiënte langer in die hospitaal hou en meer bloedoortappings doen. Diegene wat daagliks groot hoeveelhede alkohol drink, loop ook die gevaar om hulle immuunstelsel te verswak en daardeur die gevaar van infeksie te vergroot. Toetse het egter bewys dat die immuunstelsel, ná ’n paar weke van onthouding, baie verbeter. Dr. Hardt stel voor dat pasiënte hulle voor enige chirurgie vir so ’n tydperk van alkohol onthou.
Oorlogskinders
Gedurende die afgelope tien jaar is ongeveer 1,5 miljoen kinders in oorloë dood, volgens The State of the World’s Children 1994, ’n verslag deur die Verenigde Nasies-kinderfonds. Nog viermiljoen is gestremd, vermink, blind of het breinbeserings. Die getal wat vlugtelinge geword het, is na raming ten minste vyfmiljoen. Kinders is al selfs in weermagte opgeneem. In baie lande is kinders gemartel of gedwing om na gruweldade te kyk of daaraan deel te neem. In een gebied het die verkragting van meisies ’n “sistematiese oorlogswapen” geword. Die verslag sê: “Dit lyk asof ons met reg tot die slotsom kan kom dat die lagie beskaafdheid nog nooit so dun verslyt was nie.”
’n Verlore stryd teen sprinkane
“Die VN is besig om sy oorlog teen sprinkane te verloor”, het die tydskrif New Scientist vroeg in 1994 berig. Volgens ’n onlangse vergadering van landboukundige wetenskaplikes in Nederland het die stryd van R1380 miljoen wat die Verenigde Nasies in die laat tagtigerjare teen die sprinkane gevoer het maar min uitgerig. Wat daardie plaag in werklikheid beëindig het, was ’n onverwagse wind wat die insekte in die see gewaai het. Sprinkane broei uit en vorm dan swerms wanneer ’n ligte reënbui oor die woestyn uitsak en groen lappies plantegroei laat verskyn. Die VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie probeer sprinkane doodmaak voordat hulle swerms begin vorm deur op satellietfoto’s van groen lappies plantegroei in die woestyn staat te maak. Die probleem is dat satelliete baie van die kleiner lappies mis. Op die grond verhoed plaaslike oorloë en ’n gebrek aan middele dikwels dat spuitspanne selfs by bekende broeiplekke uitkom.
Langlewende sterrekykers
Lewe astronome langer as ander mense? Die Duitse natuurwetenskaplike tydskrif Naturwissenschaftliche Rundschau berig oor ’n ondersoek wat gedoen is oor die langlewendheid van mense wat tussen 1715 en 1825 gebore is. Gedurende hierdie jare het 67 mans wat teen die ouderdom van 25 astronome was ’n gemiddelde leeftyd van 71,6 jaar bereik. Ongeveer die helfte van hierdie mans was Duits, en tog het 25-jarige Duitse mans gedurende hierdie tydperk ’n gemiddelde lewensverwagting van slegs 60,7 jaar gehad. Waarom die bonus vir sterrekykers? “Dit is moontlik dat die hoë lewensverwagting van astronome op die een of ander manier verband hou met die stilte en rustige aard van hulle werk”, berig die tydskrif. Of, dink hulle, “miskien het die blote feit dat hulle in aanraking is met en verdiep is in die wonders van die heelal ’n positiewe uitwerking op ’n mens se gesondheid”.
Die taal van burokrate
In Italië is die tegniese en burokratiese taal van baie amptelike dokumente so moeilik verstaanbaar dat die Italiaanse openbare administrasie meen dat dit vereenvoudig moet word. Volgens die Minister van Openbare Dienste, Sabino Cassese, “is dit ’n administrasie wat nie meer in voeling is met sy burgers nie, wat nie dieselfde taal praat nie”. Daarom sal openbare ampsdraers nou gewone Italiaans moet begin praat in plaas van “burokrataans”, ’n taal vol terme wat nie algemeen gebruik word nie. Die verandering is aangekondig met die uitreiking van ’n “Stylkode vir geskrewe kommunikasie in die openbare administrasie”. Deur 7050 maklik verstaanbare, basiese woorde te voorsien, probeer die woordeboek tallose ouderwetse en moeilike terme uit die weg ruim wat wette, vorms, omsendbriewe en openbare kennisgewings dikwels vir die gewone burger onverstaanbaar maak.