Die trompet—van die slagveld na die konsertsaal
IN DIE tyd van koning Abia is Juda se leërs in ’n hinderlaag gelei. Met 800 000 vyandelike soldate wat hulle omsingel het, is hulle in getal met 2 teen 1 oortref. Dit het gelyk asof hulle vasgekeer is. Skielik het trompetgeskal die lug gevul! Terwyl adrenalien deur hulle are gepomp het, het Juda se manne ’n dawerende oorlogskreet geuiter en hulle in die stryd gewerp. Ten spyte van die oormag het die Judeërs die vyand oorwin.—2 Kronieke 13:1-20.
Hoe aangrypend moes dit tog nie gewees het om daardie trompette te hoor nie! Dit het die Judeërs ongetwyfeld aan Jehovah se belofte herinner: “En as julle in jul land in oorlog kom teen die vyand wat met julle veg, moet julle met die trompette alarm blaas; dan sal aan julle gedink word voor die aangesig van die HERE julle God, en julle sal van jul vyande verlos word” (Numeri 10:9). Die geskal van die trompette het getoon dat Juda op Jehovah vertrou het, en daardie vertroue is beloon.
Die trompet se geskiedenis gaan baie verder terug as hierdie voorval in die Bybel. Die metaaltrompet kan na Egipte teruggevoer word, ongeveer 2000 jaar voor Christus. Hierdie antieke trompette was baie anders as die trompette wat ons vandag ken. Kom ons kyk na die ontwikkeling van hierdie fassinerende instrument.
Die vroeë stadiums
Die Afrikaanse woord “trompet” is afgelei van ’n Oud-Franse woord, trompe, wat na ’n olifant se slurp verwys. Primitiewe trompette het klaarblyklik soos ’n olifant se slurp gelyk. Die Griekse dramaturg, Aischulos (525-456 v.G.J), het die trompet se klank “oorverdowend” genoem. Die trompet was slegs vir oorlogsdoeleindes, begrafnisse of feestelike gebeurtenisse, atletiekkompetisies en ander openbare plegtighede gebruik.
Hoewel trompette in Israel vir militêre doeleindes gebruik is, is hulle ook gebruik om musiek in die tempel te voorsien. Bedrewe ambagsmanne het instrumente van hoë gehalte van silwer gemaak. In die tempel het die trompetblasers so goed saamgespeel dat hulle musiek beskryf is as “presies gelyk, soos een man [“in volkome harmonie”, Today’s English Version]”.—2 Kronieke 5:13, NAV.
Israel se trompette het dus geensins primitief gelyk of geklink nie. Maar soos die trompette van die omliggende nasies kon hulle trompette net ’n beperkte hoeveelheid tone voortbring. Eeue sou verbygaan voordat die trompet se vermoë vergroot is.
Die ontwikkeling van die moderne trompet
Om die trompet se toonomvang te vergroot, moes die ontwerp verander word. Dit is eers langer gemaak. Daar is gemeen dat ’n langer instrument meer note sou kon speel. ’n Middeleeuse trompet (wat die buisine genoem is) was 1,8 meter lank! Soos jy jou kan voorstel, was dit ongemaklik om te speel. In die 14de eeu is die trompet gevolglik in ’n S-vorm gebuig sodat dit makliker hanteer kon word. ’n Eeu later het dit ’n U-vorm met drie parallelle vertakkings gekry.
Die nuwe trompet kon meer tone voortbring, maar net in ’n hoër register. Dit was moeilik om hierdie note te haal. Sommige het nietemin musiek begin skryf vir die clarino, wat geskik was vir dele in die hoër registers. ’n Beroemde komponis van daardie tydperk was Johann Sebastian Bach (1685-1750).
Die trompet het uiteindelik ekstra, gekronkelde buisdele, wat s-pypies genoem word, bygekry. Die idee was eenvoudig: Bykomende buise het die lengte van die hooflugkolom verleng en sodoende ’n groter verskeidenheid toonhoogtes voortgebring. Die s-pypies het die trompet se grondtoon van F tot so laag as B-mol verlaag.
Die clarino, met sy hoë toonhoogtes, is gevolglik teen die tyd van Wolfgang Amadeus Mozart (1756-1791) nie meer bespeel nie. Die hoër register kon toe met relatiewe gemak deur die klarinet gespeel word, terwyl die trompet gebruik is om die middelregister te speel.
Hierdie nuwe trompet was veelsydig. Maar dit was steeds ongemaklik om te speel omdat albei hande gebruik moes word om die s-pypies te verstel. Verdere veranderings sou dus verwelkom word.
’n Trompet met klappe
Omstreeks 1760 het ’n Russiese musikus genaamd Kolbel ’n deurbraak gemaak. Hy het ’n gat naby die beker van die trompet gemaak en dit met ’n kussingklap bedek wat die lug afgesluit het. Wanneer hierdie klap oopgemaak is, het dit die trompet se toon op enige noot met ’n halftoon verhoog. In 1801 het Anton Weidinger, ’n trompetblaser van Wenen, Kolbel se ontwerp verbeter deur ’n trompet met vyf klappe te maak. Uiteindelik was daar ’n trompet wat al die note van die toonleer kon voortbring en wat nie ongemaklik was om te speel nie.
Maar selfs Anton Weidinger se trompet het ’n ernstige beperking gehad. Wanneer die klappe oopgemaak is, het dit ’n uitwerking op die instrument se resonansie gehad en is die trompet se kenmerkende klank heelwat verander. Die trompet met klappe het gevolglik nie in gebruik gebly nie. Dit was nie lank voordat dit vir ’n algehele nuwe benadering in die ontwerp van trompette laat vaar is nie.
Die eerste kleptrompet
In 1815 het Heinrich Stölzel van Silesië die patent gekoop vir ’n uitvinding wat die trompet ventiele, of kleppe, gegee het. Deur middel van gate op strategiese plekke het elke klep die lugkolom van die hoofbuis na ’n s-pypie gedeflekteer. Sodoende kon verskeie s-pypies van verskillende lengtes tegelykertyd in enige kombinasie gedruk word. Daarbenewens was onmiddellike reaksie moontlik omdat die kleppe met ’n veer gewerk het.
Aan die begin het hierdie trompet probleme gehad met akkurate intonasie. Ná verloop van jare is hierdie probleme uitgestryk, en die kleptrompet bestaan tot vandag toe.
Beroemd vir sy veelsydigheid
Die trompet het ’n plek in feitlik alle soorte musiek. Dit smelt goed saam met die mensestem en met ander instrumente. Die trompet se heroïes-marsagtige toon maak dit doeltreffend vir fanfares en marse. Dit het terselfdertyd ’n deurdringende, opgewekte resonansie wat besonder geskik is vir concerto’s, operas en moderne jazz. Omdat die trompet so klankryk en liries is, is dit boonop uiters geskik vir ballades en word dit dikwels in solostukke gespeel.
Ja, die trompet het ’n lang geskiedenis. Dit is nie meer net ’n instrument vir militêre doeleindes in die hande van ’n soldaat nie. Dit kan nou ware musikale kuns voortbring—ten minste in die hande van ’n virtuoos. Dit het jou ongetwyfeld al genot verskaf om na ’n trompet te luister, ongeag jou voorkeur in musiek. Hoe dankbaar kan ons tog wees teenoor ons Skepper wat die mens die vermoë geskenk het om instrumente soos die trompet te ontwerp!
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Keyed Trumpet and Slide Trumpet: Encyclopædia Britannica/11th Edition (1911)