Hoe ons vandag op trompetseine reageer
ONS almal glo dat Jehovah gedurende hierdie “laaste dae” sy mense lei en hulle gee wat hulle nodig het om na aan hom te bly (2 Tim. 3:1). Maar ons almal moet gehoorsaam wees aan Jehovah. Ons kan ons situasie vergelyk met dié van die Israeliete in die wildernis. Hulle moes op trompetseine reageer.
Jehovah het vir Moses gesê om twee trompette van silwer te maak “om die gemeenskap van Israel bymekaar te roep en om die kampe te laat opbreek” (Num. 10:2). Die priesters moes die trompette op verskillende maniere blaas om vir die mense aan te dui wat hulle moet doen (Num. 10:3-8). Vandag ontvang God se mense ook leiding op verskillende maniere. Kom ons kyk na drie van hierdie maniere wat ons aan die eertydse trompetseine herinner. Vandag word God se mense na groot byeenkomste genooi, ouermanne ontvang opleiding en teokratiese reëlings vir al die gemeentes word aangepas.
WANNEER ONS NA GROOT BYEENKOMSTE GENOOI WORD
Wanneer Jehovah “die hele gemeenskap van Israel” by die ingang aan die oostekant van die tabernakel bymekaar wou bring, het die priesters op albei trompette geblaas (Num. 10:3). Al die stamme, wat rondom die tabernakel in vier groepe gekamp het, het die duidelike geluid van die trompette gehoor. Dié wat naby aan die ingang kamp opgeslaan het, kon heel moontlik binne ’n paar minute reageer. Ander was verder weg en het dalk meer tyd nodig gehad en moes dalk meer moeite doen om daar uit te kom. Wat ook al die geval was, Jehovah wou hê dat almal bymekaar moes kom en na sy instruksies moes luister.
Vandag kom ons nie by ’n tabernakel bymekaar nie, maar ons word na byeenkomste van God se volk genooi. Dit sluit streekbyeenkomste en ander spesiale geleenthede in, waar ons belangrike inligting en instruksies ontvang. In lande regoor die wêreld geniet Jehovah se volk dieselfde program. So almal wat op die uitnodiging reageer, is deel van ’n groot, gelukkige groep. Party moet verder reis as ander. Maar almal wat op die uitnodiging reageer, stem saam dat dit beslis die moeite werd is.
Maar wat van persone wat in afgesonderde gebiede bly, ver weg van enige groot byeenkomste af? Moderne tegnologie maak dit vir baie van hulle moontlik om by dieselfde program baat te vind en om selfs deel te voel van die groot byeenkomste. Byvoorbeeld, toe ’n verteenwoordiger van die hoofkwartier die takkantoor in Benin besoek het, het hulle die program uitgesaai aan Arlit, Niger, ’n myndorpie in die Sahara-woestyn. Daar het altesaam 21 broers, susters en belangstellendes bymekaargekom. Alhoewel hulle in ’n afgeleë plek was, het hulle deel gevoel van die groot byeenkoms van 44 131 mense. Een broer het geskryf: “Baie, baie dankie dat julle hierdie program uitgesaai het. Dit het weer eens vir ons gewys hoe baie julle ons liefhet.”
WANNEER OUERMANNE VIR MEER OPLEIDING GENOOI WORD
Wanneer die Israelitiese priesters net op een trompet geblaas het, moes “slegs die hoofmanne, die hoofde van die duisende”, na die tent van samekoms toe gaan (Num. 10:4). Daar kon hulle inligting en opleiding van Moses ontvang. Dit sou hulle help om hulle verantwoordelikhede in hulle stamme na te kom. As jy een van daardie hoofmanne was, sou jy sekerlik alles gedoen het wat jy kon om daar te wees en om by die opleiding baat te vind.
Vandag is gemeentelike ouermanne nie “hoofmanne” nie. En hulle speel nie baas oor die kudde van God wat onder hulle sorg is nie (1 Pet. 5:1-3). Maar hulle doen hulle bes om herders vir die kudde te wees. So hulle reageer graag wanneer hulle vir meer opleiding genooi word, soos by die Koninkryksbedieningskool. Gedurende hierdie sessies leer ouermanne hoe om beter na gemeentelike sake om te sien. As gevolg van hierdie opleiding kan die ouermanne en die broers en susters in die gemeente nader aan Jehovah kom. Selfs al het jy nie een van hierdie skole bygewoon nie, vind jy nog steeds baat omdat dié wat dit wel bygewoon het, gebruik wat hulle geleer het om die gemeente te help.
WANNEER ONS GEVRA WORD OM VERANDERINGE TE MAAK
Die Israelitiese priesters het op sekere tye ’n wisselende trompetsein gegee. Dit het beteken dat Jehovah wou hê dat die hele kamp moes trek (Num. 10:5, 6). Wanneer die volk getrek het, het hulle dit op ’n baie georganiseerde manier gedoen, maar dit was baie harde werk. Soms wou party Israeliete dalk nie trek nie. Hoekom nie?
Party het dalk gevoel dat die trompetseine om te trek, te gereeld en te onverwags was. “Soms het die wolk net van die aand tot die oggend gebly.” En ander kere het hulle “twee dae, ’n maand of langer” op een plek gebly (Num. 9:21, 22). En hoeveel keer het die Israelitiese kamp nou eintlik getrek? Numeri hoofstuk 33 noem omtrent 40 plekke waar die Israeliete gekamp het.
Soms het party Israeliete ’n plek gekry waar daar skaduwee was. Dit sou baie lekker gewees het in die “groot en verskriklike wildernis” (Deut. 1:19). Daarom wou party dalk nie trek nie, want hulle kon dalk gedink het dat hulle nie weer so ’n lekker plek sou kry nie.
Wanneer die kamp begin trek het, was dit dalk vir party moeilik om vir hulle beurt te wag. Almal het die wisselende trompetsein gehoor, maar nie almal kon op dieselfde tyd trek nie. Daardie wisselende trompetsein het die stamme aan die oostekant, naamlik Juda, Issaskar en Sebulon, laat weet dat hulle moet trek (Num. 2:3-7; 10:5, 6). Nadat hulle vertrek het, het die priesters ’n tweede keer ’n wisselende trompetsein gegee om vir die drie stamme aan die suidekant te laat weet dat hulle moet trek. Die priesters het aangehou om dit te doen totdat die hele kamp vertrek het.
Miskien was dit moeilik vir jou om sekere veranderinge in die organisasie te aanvaar. Miskien het jy gedink dat daar te veel veranderinge is. Of miskien het jy gehou van hoe dinge was en jy wou nie hê dit moes verander nie. Jy het dit dalk moeilik gevind om geduldig te wees terwyl jy gewoond geraak het aan die verandering. Maar as ons probeer reageer soos ons weet ons moet, sal ons heel moontlik sien dat God ons seën.
In Moses se dag het Jehovah miljoene manne, vroue en kinders deur die wildernis gelei. As Jehovah nie vir hulle gesorg en hulle gelei het nie, sou hulle nie oorleef het nie. Vandag lei Jehovah ons deur die gevaarlike laaste dae. Hy help ons om na aan hom te bly en ons geloof sterk te hou. So ons wil alles doen wat ons kan om net soos die Israeliete gehoorsaam te wees aan die duidelike trompetseine!