My haat het in liefde verander
Soos vertel deur Ludwig Wurm
Dit was die koudste nag wat ek nog beleef het—minus 52 grade Celsius. Die datum: Februarie 1942—midwinter en oorlogstyd. Die plek: die Russiese front naby Leningrad. Ek was ’n soldaat in die Duitse Waffen-SS (Waffen Schutzstaffel), ’n keurkorps. Ek en ’n sersant het die grusame opdrag gekry om 300 makkers te begrawe, waarvan die meeste in hulle skuilgate gesterf het—doodgevries. Die grond was egter so gevries dat dit onmoontlik was om hulle te begrawe. In plaas daarvan het ons die stywe lyke soos stompe agter ’n leë huis gepak. Hulle sou eers in die lente begrawe kon word.
EK STEL dit sag as ek sê dat hierdie opdrag my siek gemaak het. In my ellendige toestand het ek met trane uitgeroep: “Unterscharführer (sersant), kan jy vir my sê waarom hierdie sinlose slagting plaasvind? Waarom is daar soveel haat in die wêreld? Waarom moet ons oorloë hê?” Hy het my met ’n sagte stem geantwoord: “Ludwig, ek weet werklik nie. Glo my, ek kan ook nie verstaan waarom daar soveel lyding en haat in die wêreld is nie.”
Twee dae later het ’n springkoeël my in die nek getref waarna ek verlam, bewusteloos en byna dood was.
Maar my knaende vrae het my uiteindelik in staat gestel om self te ervaar hoe haat en wanhoop in liefde en hoop kan verander. Laat ek verduidelik.
My ontmoeting met Hitler
Ek is in 1920 in Oostenryk gebore. My pa was ’n Lutheraan en my ma ’n Katoliek. Ek het na ’n private Lutherse skool gegaan waar ek gereeld godsdiensonderrig van ’n geestelike ontvang het. Maar ek is nie geleer dat Jesus Christus die Verlosser is nie. Die aandag is voortdurend gevestig op ’n “godgegewe führer”, Adolf Hitler, en ’n voorgenome Al-Duitse Ryk. Dit was asof Hitler se boek Mein Kampf (My stryd) my handboek was in plaas van die Bybel. Ek het ook Alfred Rosenberg se boek Der Mythus des 20. Jahrhunderts (Die mite van die 20ste eeu) bestudeer waarin hy probeer bewys het dat Jesus Christus nie ’n Jood was nie, maar ’n blonde Ariër!
Ek het oortuig geraak dat Adolf Hitler in werklikheid godgegewe was, en in 1933 was ek trots om by die Hitlerjeug-beweging aan te sluit. Jy kan jou voorstel hoe opgewonde ek was toe ek die geleentheid gebied is om hom persoonlik te ontmoet. Tot vandag toe kan ek duidelik onthou hoe hy met sy buitengewoon deurdringende oë na my gekyk het. Dit het so ’n diepgaande uitwerking op my gehad dat ek, toe ek by die huis gekom het, vir my ma gesê het: “Van nou af behoort my lewe nie meer aan jou nie. My lewe behoort aan my führer, Adolf Hitler. As ek enigiemand sien wat hom probeer doodmaak, sal ek voor hom inspring om sy lewe te red.” Ek het jare later eers verstaan waarom my ma net gehuil het en my styf teen haar vasgehou het.
Vroeë invloed van die Nazi-party
In 1934 het die Nasionaal-Sosialiste teen die Oostenrykse regering in opstand gekom. Gedurende hierdie konflik is kanselier Engelbert Dollfuss, wat die eenwording van Oostenryk en Duitsland teëgestaan het, deur die Nazi’s vermoor. Die aanvoerders van die opstand is in hegtenis geneem, verhoor en ter dood veroordeel. Die Oostenrykse regering het toe krygswet ingestel, en ek het betrokke begin raak by die ondergrondse beweging van die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty—die Nazi-party.
Daarna het die Anschluss plaasgevind, die vereniging van Oostenryk met Duitsland in 1938, en die Nazi-party het wettig geword. Nie lank daarna nie was ek onder die lojale partylede wat daardie selfde jaar deur Hitler uitgenooi is om die Ryksparty se jaarlikse saamtrek in Neurenberg op die Zeppelin-veld by te woon. Daar het ek gesien hoe Hitler sy groeiende mag vertoon. Sy bombastiese toesprake, waarna gehore aandagtig geluister het, was vol haat teenoor alle teenstanders van die Nazi-party, waaronder die internasionale Jodedom en die Internasionale Bybelstudente, wat vandag as Jehovah se Getuies bekend staan. Ek onthou nog goed hoe hy gespog het: “Hierdie vyand van die Grote Duitsland, hierdie gespuis van Internasionale Bybelstudente, sal in Duitsland uitgeroei word.” Ek het nog nooit enige Getuies van Jehovah ontmoet nie en het gevolglik gewonder wie hierdie gevaarlike mense is waarvan hy met soveel venyn gepraat het.
My diens by Buchenwald-konsentrasiekamp
Ek het onmiddellik met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 aangebied om by Duitsland se keurkorps, die Waffen-SS, aan te sluit. Ek was oortuig dat enige opofferinge wat ek in hierdie oorlog sou moes maak geregverdig sou wees, want ons führer is mos deur God gestuur, nie waar nie? Maar terwyl ons troepe in 1940 deur Luxemburg en België tot in Frankryk beweeg het, is ek ontroer toe ek vir die eerste keer ’n dooie soldaat—’n aantreklike jong Fransman—van naby gesien het. Ek kon nie verstaan waarom jong Fransmanne hulle lewens wou opoffer in ’n oorlog wat Duitsland, met God aan ons kant, vanselfsprekend sou wen nie.
Ek is in Frankryk gewond en na ’n hospitaal in Duitsland teruggebring. Ná ek herstel het, is ek verplaas om aan die buitegrens van die Buchenwald-konsentrasiekamp, naby Weimar, diens te doen. Ons het ’n streng opdrag van ons offisiere ontvang om nie met die Totenkopfverbände (Doodskop) se SS-kampwagte of die gevangenes te meng nie. Ons is veral verbied om by die afdeling in te gaan waar die gevangenes gebly het en wat met ’n hoë muur met ’n groot hek omhein is. Bo die hek was ’n teken: “Arbeit Macht Frei” (Arbeid maak vry). Slegs die SS-wagte het spesiale passe gehad om hier in te gaan.
In die kamp het ons elke dag gesien hoe die gevangenes na hulle werkstoewysings gelei word onder toesig van ’n SS-wag en ’n ander gevangene wat ’n Kapo genoem is. Daar was Jode met die ster van Dawid as kenteken op hulle gevangenisbaadjies, politieke gevangenes met hulle rooi driehoek, misdadigers met hulle swart kol en Jehovah se Getuies met hulle pers driehoek.
Ek kon nie anders as om die buitengewoon stralende gesigte van die Getuies op te merk nie. Ek het geweet dat hulle in haglike toestande geleef het; tog het hulle ’n waardigheid gehad wat nie met hulle brandmaer voorkoms gestrook het nie. Aangesien ek feitlik niks omtrent hulle geweet het nie, het ek ons hoër offisiere gevra waarom die Getuies na die konsentrasiekampe toe gestuur is. Die antwoord was dat hulle ’n Joods-Amerikaanse sekte is wat noue bande met die Kommuniste het. Maar ek is deur hulle onberispelike gedrag, hulle beginselvastheid en hulle sedelike reinheid gefassineer.
My “Messias” se einde
In 1945 het die wêreld waarin ek geglo het in duie gestort. My “god”, Adolf Hitler, wat deur die geestelikes as die godgegewe führer geprys is, was ’n vals messias. Sy voorgenome Tausendjährige Reich (Duisendjarige heerskappy) het ná net 12 jaar heeltemal tot niet gegaan. Hy was ook ’n lafaard wat sy aanspreeklikheid vir die slagting van miljoene mans, vrouens en kinders vrygespring het deur selfmoord te pleeg. Die verdere nuus van die ontploffing van die eerste atoombom in Japan het amper daartoe gelei dat ek ’n geestesineenstorting gehad het.
Dramatiese veranderinge in my lewe
Kort ná die vyandelikhede van die Tweede Wêreldoorlog geëindig het, is ek aangekla by die Amerikaanse leër se CIC (Counterintelligence Corps), ’n deel van die Verenigde State se besettingsmag. Ek is as ’n Nazi en as ’n lid van die Waffen-SS in hegtenis geneem. My dierbare verloofde, Trudy, het uiteindelik ’n dokter opgespoor wat die CIC oortuig het om my vanweë my gesondheid uit die tronk vry te laat, want ek het aan die gevolge van ’n ruggraatbesering gely. Ek is toe onder huisares geplaas totdat ek vrygespreek is op alle aanklagte dat ek ’n oorlogsmisdadiger is.
As ’n oorlogsinvalide is ek vir ’n mediese ondersoek na ’n repatriasiehospitaal in die Oostenrykse Alpe gestuur. Terwyl ek een besonder mooi lenteoggend die asemrowende natuurskoon en warm sonskyn geniet het en na die melodieuse sang van die voëls geluister het, is ek beweeg om ’n kort gebed uit die diepte van my hart op te sê: “God, as u werklik bestaan, moet u my talle kwelvrae kan beantwoord.”
’n Paar weke later, nadat ek huis toe is, het een van Jehovah se Getuies my by my huis besoek. Ek het Bybellektuur by haar geneem. Hoewel sy gereeld elke Sondagoggend teruggekom het, het ek my destyds nie veel gesteur aan die lektuur wat sy by my gelaat het of dit gelees nie. Eendag het ek egter meer terneergedruk as gewoonlik by die huis gekom. My vrou het voorgestel dat ek iets lees om my gedagtes te laat ontspan—’n boekie met die titel Peace—Can It Last? wat die Getuies by ons gelaat het.
Ek het die boekie begin lees en het gevind dat ek dit nie kon neersit voor ek alles gelees het nie. Ek het vir my vrou gesê: “Hierdie boekie is in 1942 gedruk. As iemand op straat toe gesê het dat Hitler en Mussolini die oorlog sou verloor en dat die Volkebond weer in die vorm van die Verenigde Nasies sou verskyn, sou mense gedink het dat hy geestelik versteurd is. Maar wat nou geskiedenis is, is presies wat hierdie boekie gesê het sou gebeur. Het ons iewers ’n Bybel sodat ek hierdie teksverwysings kan nagaan?”
My vrou het na die solder gegaan en ’n ou Lutherse vertaling van die Bybel gevind. Ek het die Bybeltekste nagegaan wat in die boekie aangegee is. Ek het gou dinge begin leer waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Ek het geleer van die Bybel se belofte van ’n nuwe wêreld reg hier op die aarde onder God se Messiaanse Koninkryk. Hierdie ware hoop vir ’n gelukkige en veilige toekoms word weergegee deur die woorde van Jesus se modelgebed wat ek dikwels as ’n seun herhaal het: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” En ek het tot my groot verbasing geleer dat die almagtige God, die Skepper van hemel en aarde, ’n persoonlike naam, Jehovah, het.—Mattheüs 6:9, 10; Psalm 83:18, NW.
Dit was nie lank nie of ek het die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. By my eerste vergadering het ek ’n bejaarde vrou ontmoet wie se dogter en skoonseun vanweë hulle geloof in ’n Duitse konsentrasiekamp tereggestel is. Ek het vreeslik skaam gevoel. Ek het aan haar verduidelik dat ek as gevolg van my vroeëre verbintenisse persoonlik geweet het wat sy en haar gesin deurgemaak het, en vanweë my verbintenis met diegene wat daarvoor verantwoordelik was, het sy die reg om my met afsku in die gesig te spoeg.
Tot my verbasing het haar oë, nie vol haat nie, maar vol trane van vreugde geword. Sy het my hartlik omhels en gesê: “O, hoe wonderlik is dit tog dat die almagtige God, Jehovah, mense van sulke uiteenlopende groepe toelaat om in sy heilige organisasie te kom!”
In plaas van die haat wat ek om my gesien het, het hierdie mense waarlik God se onselfsugtige liefde—ware Christelike liefde—weerspieël. Ek onthou dat ek gelees het wat Jesus gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Dit is presies waarna ek gesoek het. Dit was nou my beurt om trane te stort. Ek het soos ’n kind begin huil uit waardering vir hierdie wonderlike God, Jehovah.
Ek het nog baie gehad om te leer
Mettertyd het ek my lewe aan Jehovah God toegewy, en in 1948 is ek gedoop. Maar ek het gou besef dat ek nog baie gehad het om te leer. Aangesien ek so deeglik deur Nazisme gebreinspoel is, kon ek byvoorbeeld nie verstaan waarom Jehovah se organisasie soms artikels teen die berugte SS gepubliseer het nie. Ek het geredeneer dat ons as individue nie skuldig was nie. Ons was bloot soldate, en die meeste van ons het glad nie geweet wat in die konsentrasiekampe gebeur nie.
Op ’n dag het ’n dierbare broer wat my probleem verstaan het en wat self baie jare lank in ’n konsentrasiekamp gely het sy arm om my skouer gesit en gesê: “Broer Ludwig, luister mooi na my. As jy dit moeilik vind om hierdie punt in te sien en jy voel dat dit jou hinder, moet jy dit net in jou gedagtes opsy sit. Laat dan jou probleem in gebed aan Jehovah oor. As jy dit doen, kan jy daarvan seker wees dat die dag sal kom wanneer Jehovah dit en enige ander saak wat jou pla duidelik sal maak.” Ek het sy wyse raad gevolg, en namate die jare verbygegaan het, het ek gevind dat dit presies is wat gebeur het. Ek het uiteindelik begin verstaan dat die hele stelsel van Nasionaal-Sosialisme, met sy SS, net nog ’n diaboliese deel van Satan die Duiwel se hele wêreldstelsel is.—2 Korinthiërs 4:4.
Terug na die Zeppelin-veld, Neurenberg
Stel jou voor wat ’n hoogtepunt dit in my lewe was om in 1955 na Neurenberg terug te keer en daar die byeenkoms van Jehovah se Getuies, met die tema “Triumphierendes Koenigreich” (Triomfantelike Koninkryk), by te woon! Ja, hierdie byeenkoms is op dieselfde plek gehou waar ek Hitler hoor spog het dat hy Jehovah se Getuies in Duitsland sou uitroei. Hier het meer as 107 000 Getuies van Jehovah en vriende van oor die hele wêreld ’n volle week vir aanbidding bymekaargekom. Daar was geen gestampery nie; daar was geen kwaai stemme nie. ’n Waarlik verenigde, internasionale familie wat in vrede saamleef.
Dit is moeilik om die gevoelens te beskryf wat ek ervaar het toe ek by daardie byeenkoms party van my vorige makkers van die Waffen-SS ontmoet het wat toe reeds toegewyde knegte van Jehovah God was. Inderdaad ’n vreugdevolle reünie!
Ek sien met hoop uit na die toekoms
Sedert my toewyding en doop het ek die voorreg gehad om ’n aantal tuisbybelstudies met oud-Nazi’s in Oostenryk te hou. Party van hulle is nou ook toegewyde Getuies van Jehovah. In 1956 het ek uit Oostenryk geëmigreer, en ek bly nou in Australië. Hier het ek die voorreg geniet om in die voltydse bediening te wees. Maar in die laaste tyd het ouderdom en swak gesondheid my bedrywighede beperk.
Een van my grootste begeertes is om van die getroue manne en vroue wat geweier het om met die bose Nazi-stelsel saam te werk en wat in konsentrasiekampe tereggestel is vir hulle onkreukbaarheid uit die dood terug te verwelkom.
Intussen het ek op ’n baie wesenlike manier gesien hoe die vernietigende eienskap van haat in liefde en hoop verander. My vaste hoop is nou om vir ewig op ’n paradysaarde in menslike volmaaktheid te lewe, vry van siekte en die dood—’n hoop nie net vir my nie maar ook vir almal wat hulleself nederig onderwerp aan Jehovah se tans heersende Koning, Christus Jesus. In my geval kan ek waarlik die woorde van die apostel Paulus met oortuiging herhaal: “Die hoop lei nie tot teleurstelling nie; omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur middel van die heilige gees, wat aan ons gegee is.”—Romeine 5:5, NW.
[Prent op bladsy 13]
In my SS-uniform
[Prente op bladsy 14,15]
Die “Triomfantelike Koninkryk”-Byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1955 wat in Neurenberg gehou is op die plek waar Hitler vroeër sy jaarlikse Nazi-saamtrekke gehou het
[Erkenning]
U.S. National Archives photo
[Prent op bladsy 15]
Met my tas, gereed om in Australië te preek
[Foto-erkenning op bladsy 11]
UPI/Bettmann