Hoe om ’n moeilike kind groot te maak
“HET jy ’n lekker dag gehad?” vra Susan haar seun Jimmy toe hy in die motor klim waar sy hom by die skool oplaai. Met ’n frons op sy gesig ignoreer hy haar. “O, jy het seker ’n slegte dag gehad”, sê sy simpatiek. “Wil jy my daarvan vertel?”
“Los my uit”, brom hy.
“Ek’s net bekommerd oor jou. Jy lyk so ongelukkig. Ek wil jou help.”
“Ek wil nie Ma se hulp hê nie!” skreeu hy. “Los my uit! Ek haat Ma. Ek wens ek was dood!”
“Jimmy!” hyg Susan, “moenie so met my praat nie of—of ek sal jou ’n pak slae gee! Ek het maar net vriendelik probeer wees. Ek verstaan nie wat jou makeer nie. Niks wat ek sê of doen, stel jou tevrede nie.”
Oorstuur en uitgeput as gevolg van haar eie dag se werk vleg Susan deur die verkeer en wonder hoe sy dit ooit reggekry het om so ’n kind te hê. Sy voel verward, magteloos en kwaad, asook verbitterd teenoor haar eie seun, en skuldgevoelens teister haar. Susan sien daarteen op om hom huis toe te neem—haar eie kind. Sy wil amper nie weet wat vandag by die skool gebeur het nie. Die onderwyser sal haar heel waarskynlik weer bel. Soms het Susan gevoel dat sy dit eenvoudig nie meer kan hou nie.
So lei skynbaar onskuldige voorvalle tot heftige emosionele uitbarstings belaai met angs. Kinders met ATS/ATSH, of wat andersyds as “moeilik” bestempel word, reageer kenmerkend taamlik heftig wanneer hulle met probleme te doen kry. Hulle is geneig om gou opvlieënd te raak, wat hulle ouers dan kwaad, verbysterd en uiteindelik uitgeput laat.
Beoordeling en tussenkoms
Dit is tipies dat hierdie kinders intelligent, skeppend en besonder sensitief is. Dit is belangrik om te besef dat hulle gesonde kinders met buitengewone behoeftes is en gevolglik met ’n besonder diep begrip behandel moet word. Hier volg ’n paar beginsels en idees waarmee ouers van sulke kinders welslae behaal het.
Eerstens is dit noodsaaklik om te leer om die situasies en die stimuli wat die kind ontstel te identifiseer. (Vergelyk Spreuke 20:5.) Dit is baie belangrik dat die ouer op die tekens in die kind let wat emosionele konfrontasies voorafgaan en om onmiddellik in te gryp. ’n Belangrike teken is die gesigsuitdrukking wat ’n aanduiding is van ’n stygende frustrasievlak en ’n onvermoë om ’n bepaalde situasie te hanteer. Dit kan help om die kind vriendelik daaraan te herinner dat hy hom moet beheers of, indien moontlik, om hom uit die situasie te neem. Isolasie is byvoorbeeld doeltreffend, nie soseer as ’n vorm van straf nie, maar as ’n manier om die kind sowel as die ouer ’n kans te gee om hulle kalmte te herwin en dan op rasionele wyse voort te gaan.
In die voorbeeld wat gegee is, het Jimmy oorgereageer op onskuldige vrae. Dit is vir Jimmy tipiese alledaagse optrede. Hoewel dit vir ’n ouer maklik is om te dink dat hierdie woede en wrewel teen hom as persoon gerig is, is dit noodsaaklik om te besef dat hierdie kinders dikwels begrip (redeneervermoë) verloor sodra hulle hulle strestoleransievlak bereik het. Dit is derhalwe belangrik om met insig te handel (Spreuke 19:11). In Jimmy se geval kon Susan die situasie ontlont het deur die saak daar te laat en haar seun tyd te gee om hom te beheers, en miskien kon hulle later oor die dag se gebeure gesels het.
Oorspanne kinders
Die mensegesin het nog nooit voorheen met sulke ontsaglike probleme, druk en sorge te kampe gehad soos dié wat die hedendaagse wêreld teister nie. Die tye is anders, die eise is hoër en meer word van kinders verwag. Die boek Good Kids, Bad Behavior het oor hierdie kwessie gesê: “Baie van die probleme wat kinders blykbaar ondervind, word moontlik óf veroorsaak óf beïnvloed deur veranderende sosiale verwagtinge.” Die skool kan ’n nagmerrie vir kinders met ATS/ATSH wees. Terwyl hulle sukkel om hulle eie tekortkominge die hoof te bied, moet hulle noodgedwonge by ’n ontploffing van tegnologiese vooruitgang aanpas wat voortdurend verander in ’n atmosfeer wat vyandig sowel as gevaarlik kan lyk, en dit dra tot hulle angs by. Kinders is emosioneel te onervare om al hierdie probleme te verwerk. Hulle het hulle ouers se hulp nodig.
Verminder die wrywing
Om gelukkiger, gesonder kinders te hê, is dit belangrik om ’n ordelike en stabiele milieu te voorsien. ’n Doeltreffende metode om wrywing in die huis te verminder, kan met ’n vereenvoudigde lewenstyl begin. Aangesien hierdie kinders impulsief, verstrooid en ooraktief is, is dit noodsaaklik om die negatiewe uitwerking van oorprikkeling te verminder. Verminder die aantal speelgoed waarmee sulke kinders toegelaat word om tegelykertyd te speel. Pak net een werkie of taak op ’n slag aan totdat dit voltooi is. Aangesien hierdie kinders dikwels self nie georganiseerd is nie, skakel organisasie frustrasie grootliks uit. Hoe minder en bereikbaarder die voorwerpe is wat hulle moet hanteer, hoe makliker is dit om te doen wat belangrik is.
Nog ’n doeltreffende manier om spanning in die huis te verlig, is om ’n sistematiese, nie onbuigsame nie, roetine te volg, wat kinders ’n gevoel van bestendigheid gee. Die tye is nie so belangrik soos die volgorde waarin gebeure plaasvind nie. Dit kan moontlik bereik word deur praktiese wenke soos die volgende te volg. Voorsien die regte voeding met eenvoudige, goedgebalanseerde maaltye en versnaperings op gereelde tye. Maak slaaptydrituele hartlik, liefdevol en ontspanne. Om inkopies te doen, kan uiters aktiewe kinders oorprikkel en daarom moet jy vooraf beplan en probeer om nie te veel winkels te besoek nie. En wanneer julle op ’n uitstappie is, moet jy verduidelik watter soort gedrag jy verwag. Vaste roetines help die kind met spesiale behoeftes om sy eie impulsiewe gedrag te beheer. Daarbenewens help dit om ouerlike voorspelbaarheid daar te stel.
Benewens ’n sistematiese roetine is dit nuttig om ’n stel reëls uiteen te sit en te verduidelik wat die gevolge daarvan is as nie-onderhandelbare reëls oortree word. Duidelik omlynde reëls wat konsekwent is en waaroor albei huweliksmaats dit eens is, stel die grense van aanvaarbare gedrag vir kinders vas—en leer hulle ook verantwoordelikheid. Plak ’n lys reëls, indien nodig, in ’n opvallende plek op (vir die ouer, sowel as die kind, om te onthou). Konsekwentheid is die sleutel tot emosionele sekuriteit.
As ’n kind se voorkeure, die dinge waarvan hy hou en nie hou nie, verstaan en in ag geneem word, kan dit grootliks help om onnodige druk in die huis te verlig. Aangesien die spesiale geaardheid van hierdie kinders dikwels wisselvallig en impulsief is, kan hulle omgang met ander kinders ’n baie moeilike ervaring wees. Om dinge, veral speelgoed, te deel, kan ’n spesifieke konfliksgebied wees; daarom kan ouers sulke kinders toelaat om geliefkoosde speelgoed te kies wat gedeel kan word. En as jy hulle stimulasievlak reguleer deur hulle met ’n klein groepie speelmaats te laat speel en bedrywighede te skep wat hulle nie sal oorprikkel nie, kan dit ook help om hulle lae gevoelsdrumpel te beheer.
Dit is belangrik dat ouers toelaat dat elke kind op sy of haar eie manier ontwikkel en hulle nie in onnodige gelykvormigheid te druk of daarna te vorm nie. As ’n kind ’n sekere kossoort of kledingstuk haat, moet dit uitgeskakel word. Hierdie dorinkies van irritasie is eenvoudig nie die onenigheid werd nie. Jy moet in werklikheid nie probeer om alles te beheer nie. Wees gebalanseerd, maar wanneer besluite geneem word oor wat vir ’n Christengesin aanvaarbaar is, moet jy daarby bly.
Gedragsbeheer
Onvoorspelbare kinders het gewoonlik ’n groter mate van leiding nodig. Gevolglik word baie ouers deur skuldgevoelens gekwel as hulle dikwels dissipline moet uitoefen. Dit is egter belangrik om tussen dissipline en mishandeling te onderskei. Volgens die boek A Fine Line—When Discipline Becomes Child Abuse vind 21 persent van alle liggaamlike mishandeling na bewering plaas wanneer kinders aggressief optree. Daarom kom navorsing tot die slotsom dat kinders met ATS/ATSH “groter gevaar [loop] om liggaamlik mishandel en verwaarloos te word”. Daar bestaan geen twyfel dat die grootmaak van kinders met spesiale behoeftes spanningsvol kan wees nie, maar hulle moet op ’n heilsame en gebalanseerde wyse beheer word. Aangesien hierdie kinders gewoonlik hoogs intelligent en baie skeppend is, bied hulle vir ouers ’n uitdaging in situasies wat redenering vereis. Sulke kinders het dikwels ’n manier om die foute in ’n ouer se briljantste logika uit te wys. Moenie hulle toelaat om dit te doen nie! Behou die gesag as die ouer.
Op ’n vriendelike dog ferm manier moet jy kort verduidelikings gee; met ander woorde, moenie te veel verduidelik nie en moenie oor nie-onderhandelbare reëls onderhandel nie. Laat jou “ja” ja wees en jou “nee” nee. (Vergelyk Mattheüs 5:37.) Kinders is nie diplomate nie; gevolglik lei onderhandelinge met hulle tot argumente, woede en frustrasie, en dit kan selfs in ’n geskreeu en geweld ontaard (Efesiërs 4:31). Moet eweneens nie te veel waarsku nie. As dissipline nodig is, moet dit onmiddellik gegee word. Die boek Raising Positive Kids in a Negative World sê: “Kalm, vol vertroue en ferm—dit is wat gesag eintlik behels.” Let verder op die uitstekende wenke in The German Tribune: “Praat altyd op so ’n wyse met die kind dat jy sy aandag behou: gebruik sy naam dikwels, behou oogkontak en gebruik eenvoudige taal.”
Mishandeling vind plaas wanneer ouers beheer verloor. As ’n ouer skreeu, het hy of sy reeds beheer verloor. Spreuke hoofstuk 15 bespreek die grootmaak van kinders en dissipline. Vers 4 sê byvoorbeeld: “Sagtheid van tong is ’n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees”; vers 18: “’n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar”; en laastens, vers 28: “Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord.” Daarom is dit belangrik om nie net te let op wat ons sê nie, maar ook op hoe ons dit sê.
Lof, nie veroordeling nie
Aangesien kinders wat moeilik is om groot te maak dinge doen wat skeppend, vreemd, selfs dwaas is, is dit vir ouers maklik om met hulle fout te vind, hulle te bespot, sleg te sê en hulle uit woede aan te val. Maar volgens Today’s English Version beveel die Bybel ouers in Efesiërs 6:4 om hulle kinders met “Christelike dissipline en onderrig” op te voed. Hoe het Jesus oortreders gedissiplineer? Jesus het leersame dissipline gebruik wat mense opgelei en geleer het, en hy het hulle regverdig en ferm behandel. Dissipline is ’n proses, ’n onderrigmetode, wat gewoonlik oor en oor toegepas moet word wanneer daar met kinders gewerk word.—Sien die artikel “Die Bybelse beskouing . . . ‘Die tugroede’—Is dit ouderwets?” in die Ontwaak! van 8 September 1992.
Die regte dissipline skep ’n milieu van vertroue, hartlikheid en stabiliteit; daarom moet dissipline, wanneer dit nodig is, met verduidelikings gepaardgaan. Daar is geen kitsoplossings wanneer kinders opgevoed word nie, aangesien kinders geleidelik, met verloop van tyd, leer. Dit vereis groot sorg en liefde, baie tyd en werk, om enige kind goed groot te maak, veral ’n moeilike kind. Dit kan nuttig wees om die volgende kort gesegde te onthou: “Sê wat jy meen, meen wat jy sê en doen wat jy sê jy gaan doen.”
Een van die frustrerendste aspekte wanneer jy met kinders werk wat kommerwekkende gedrag toon, is hulle oormatige drang na aandag. Die aandag wat hulle kry, is alte dikwels eerder negatief as positief. Maar wees gou om goeie gedrag of ’n knap stukkie werk op te merk, te prys of te beloon. Dit is baie aanmoedigend vir ’n kind. In die begin lyk jou pogings moontlik oordrewe, maar die resultate is beslis die moeite werd. Kinders het klein maar onmiddellike belonings nodig.
’n Vader se ondervinding met Greg
“Toe ons seun Greg vyf jaar oud en in die kleuterskool was, is daar vasgestel dat hy ATSH het. Destyds het ons na ’n ontwikkelingskinderarts gegaan wat bevestig het dat Greg beslis ATSH het. Hy het vir ons gesê: ‘Dis nie sy skuld nie en dis nie julle skuld nie. Hy kan niks daaromtrent doen nie, maar julle kan.’
“Ons dink dikwels aan daardie woorde, want dit laat ons besef dat ons as ouers ’n groot verantwoordelikheid het om ons seun te help om sy ATSH die hoof te bied. Die dokter het ons daardie dag huis toe gestuur met lektuur om te lees, en ons glo dat die kennis wat ons gedurende die afgelope drie jaar opgedoen het baie belangrik in die nakoming van ons ouerlike verantwoordelikhede teenoor Greg was.
“Dit is van die uiterste belang in die grootmaak van ’n kind met ATSH om die regte gedrag te versterk en om waarskuwings te gee en, indien nodig, wangedrag te straf. Hoe meer sistematies en konsekwent jy kan wees, hoe beter sal die resultate wees. Hierdie eenvoudige stellings is waarskynlik ’n sleutelfaktor in die grootmaak van ’n kind met ATSH. Maar omdat jy dit soveel keer per dag moet doen, is dit makliker gesê as gedaan.
“’n Middel wat ons baie doeltreffend gevind het, is isolasie. Wanneer ons ook al isolasie gebruik om wangedrag te verander, volg ons ook ’n program van versterking om positiewer gedrag aan te moedig. Hierdie versterker kan ’n woordjie van goedkeuring, ’n omhelsing of selfs ’n konkrete bewys of ’n voorreg wees. Ons het winkel toe gegaan en ’n kaart vir plakkertjies gekoop. Ons het boaan geskryf wat die regte gedrag is. Elke keer as ons sien dat Greg hom goed gedra, gee ons hom ’n plakkertjie om op sy kaart te plak. Wanneer die kaart vol is, miskien 20 plakkertjies of so, kry hy ’n beloning. Dit is gewoonlik iets wat hy werklik geniet om te doen, soos om park toe te gaan. Dit is nuttig, want dit spoor hom aan om goed te doen. Hy plak die plakkertjies op en kan sien hoe hy vorder en hoe na hy aan ’n beloning is.
“Nog ’n hulpmiddel wat ons doeltreffend gevind het, is om vir Greg keuses te gee. In plaas van ’n direkte opdrag gee ons hom ’n keuse. Hy kan hom óf goed gedra óf die logiese gevolge dra. Dit leer hom verantwoordelikheid en om die regte besluite te neem. As dit iets is wat gedurig ’n probleem is, soos wangedrag in ’n winkel of restaurant, kan ons die kaart met plakkertjies saam met ’n beloning gebruik. Hy besef dus die voordeel van regte gedrag en ons toon dat ons sy vordering erken.
“Die meeste mense is nie daarvan bewus dat ATSH die kind se vermoë om sy of haar optrede en reaksies te beheer, aantas nie. Baie mense meen dat hierdie kinders wel beheer kan hê oor hoe lank hulle kan konsentreer en oor hulle gedrag as hulle harder probeer, en wanneer hulle misluk, kry die ouers die skuld.
“Dit is fisies onmoontlik vir ’n kind met ATSH om twee uur lank in ’n gemeentelike vergadering by die Koninkryksaal stil te sit. Ons sal nooit vergeet hoe Greg, toe hy maar net vyf jaar oud was, gewoonlik voor elke vergadering gehuil en ons gevra het: ‘Is dit ’n lang of ’n kort vergadering?’ Hy het baie hard gehuil wanneer dit ’n twee uur lange vergadering was, omdat hy geweet het dat hy nie so lank kon stilsit nie. Ons moet toegewings maak vir die versteuring en die beperkinge wat daarmee gepaardgaan. Ons weet dat Jehovah die versteuring beter as enigiemand anders verstaan, en dit is ’n bron van bemoediging. Greg is tans nie op medikasie nie en hy is in die regte standerd vir sy ouderdom.
“Ons word onderskraag deur op Jehovah te hoop en ons oë op die nuwe wêreld gevestig te hou. Ons hoop beteken reeds baie vir Greg. Hy word werklik opgewonde, sy oë skiet selfs vol trane, wanneer hy dink aan hoe Jehovah in die Paradysaarde ’n einde aan ATSH gaan maak.”
[Venster op bladsy 9]
Moontlike belonings vir goeie gedrag:
1. LOF—lofprysing vir ’n knap stukkie werk; waardering wat uitgespreek word vir goeie gedrag, wat met liefde, omhelsings en ’n hartlike gesigsuitdrukking gepaardgaan.
2. ’N KAARTSTELSEL—op ’n opsigtelike plek, met aantreklike plakkertjies of sterretjies om goeie gedrag aan te moedig.
3. ’N LYS VAN GOEIE DINGE—van aanvaarbare en prysenswaardige prestasies. Elke keer as die kind ’n takie goed verrig, ongeag hoe klein dit aanvanklik is, kan dit neergeskryf en vir ’n gesinslid gelees word.
4. ’N GEDRAGSBAROMETER—na gelang van die kind se ouderdom kan lekkers in ’n fles gegooi word wanneer die kind ’n takie goed verrig (tasbare versterking). Die doel is om ’n puntestelsel te begin waar ’n beloning gegee word, wat moontlik iets insluit wat die gesin in elk geval sou gedoen het, soos om bioskoop toe te gaan, te gaan skaats of by ’n restaurant te gaan eet. In plaas van vir die kind te beklemtoon: “As jy jou nie gedra nie, sal ons nie gaan nie”, kan jy probeer sê: “As jy jou gedra, sal ons gaan.” Die sleutel is om negatiewe denke in positiewe denke te verander, terwyl redelike tyd toegelaat word vir ’n verandering om plaas te vind.
[Prent op bladsy 7]
Gesprekke kan soms op emosionele uitbarstings uitloop
[Prent op bladsy 8]
Wanneer besluite geneem word, moet jy dit verduidelik en daarby bly
[Prent op bladsy 10]
Hy voeg met trots ’n nuwe plakkertjie by sy kaart