Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 11/22 bl. 16-19
  • Die Kanariese Eilande—aangename klimaat, aanloklike natuurskoon

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Kanariese Eilande—aangename klimaat, aanloklike natuurskoon
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tenerife—’n rotstuin bo die wolke
  • La Palma —’n grasgroen vulkaniese ketel
  • Gomera —’n trapklip na Amerika
  • Lanzarote—’n heel besonderse woestyneiland
  • Floreer te midde van teëspoed
    Ontwaak!—2004
  • Van vernietigende vulkaan tot rustige eiland
    Ontwaak!—2000
  • Eilande word gevorm
    Ontwaak!—1998
  • Vulkane—Is jy in gevaar?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 11/22 bl. 16-19

Die Kanariese Eilande—aangename klimaat, aanloklike natuurskoon

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

VER oor die see, anderkant die Pilare van Herkules, het daar glo ’n paar towereilande gelê. Die grond was so vrugbaar en die klimaat so aangenaam dat enigiets en alles daar gegroei het. Dit was die Gelukkige Eilande. Ons ken dit nou as die Kanariese Eilande, en “Kanaries” is afgelei van die Latynse woord canis, wat betrekking het op die groot, kwaai honde wat vroeër in groot getalle daar voorgekom het.

Hierdie romantiese vermenging van die waarheid en verdigsel, wat deur Romeinse en Griekse skrywers geïdealiseer is, is gegrond op die verhale van die paar onverskrokke seemanne wat die Atlantiese Oseaan voor die tyd van Christus bevaar het. Vandag is dit die toeris wat teruggaan op die voetspore van daardie eertydse seevaarders. Die eilande bestaan inderdaad, hoewel ván die betowering en die meeste van die geheimsinnigheid verdwyn het. Die klimaat is beslis aangenaam en aanloklik genoeg om miljoene besoekers aan te trek wat verligting soek van die strawwe winters van Noord-Europa.

Die gematigde klimaat is nie die enigste trekpleister nie. Die eilande se seldsame verskeidenheid wat natuurskoon en plantegroei betref, regverdig beslis die nasionale parke wat op vier van die sewe belangrikste eilande tot stand gebring is.

Tenerife—’n rotstuin bo die wolke

Die grootste eiland, Tenerife, word oorheers deur Pico de Teide, ’n rustende vulkaan wat ver bo die wolke uitsteek wat van die Atlantiese Oseaan af kom. Rondom die lawakoepel lê ’n yslike amfiteater, soos dié aan die voet van die Alpe, wat saam met die majestueuse vulkaan die Teide- Nasionale Park uitmaak. Die park onderhou ’n unieke flora wat in die laat lente en vroeë somer ontwaak wanneer die plante die opgegaarde vogtigheid van die wintersneeu benut. Skielik word die barre vulkaanlandskap in ’n kleurryke rotstuin omskep.

Twee van die park se seldsaamste blomme kom nêrens anders in die wêreld voor nie. Dit is die rooi tajinaste en die Teide-viooltjie. Die rooi tajinaste is seker die eilandgroep se indrukwekkendste plant—tallose trossies rooi blommetjies groei in digte spirale rondom ’n enkele steel wat ’n hoogte van twee meter of meer bereik. Die lang blomme lyk soos rooi skoorstene wat die diepblou hemel begroet.

Die Teide-viooltjie, wat die vulkaan se hals met ’n ligpers blomkrans versier, is merkwaardig omdat dit so gehard is. Dit groei net ’n paar meter onderkant die 3700 meter hoë piek, waar geen ander plante aan die lewe kan bly nie.

La Palma —’n grasgroen vulkaniese ketel

La Palma het een van die grootste kraters ter wêreld. Sy rand is sowat 27 kilometer in omtrek en is bykans 2400 meter hoog. Die ontsaglike holte daaronder, wat die middel van die eiland beslaan, is ’n ingesinkte vulkaan wat met die verloop van die jare deur die wind en reën gevorm is sodat dit soos ’n reuseketel lyk. Daarom het dit die Spaanse naam caldera (Spaans vir ketel), ’n woord wat vir soortgelyke kraters oor die hele wêreld gebruik word.a

Die kaldera, wat nou in sy geheel ’n nasionale park is, is feitlik heeltemal met ’n pragtige dennebos oordek. Die Kanariese den, die boom wat die meeste voorkom, bedek al die hellings behalwe die steilstes en beskerm die wande van die kaldera teen verdere verwering. Aangesien die ongerepte kaldera weens die onbereikbaarheid daarvan byna van die buitewêreld afgesny is, is dit ’n hawe van skoonheid en vrede vir natuurliefhebbers wat daar ingaan.

Gomera —’n trapklip na Amerika

Dit was van hierdie afgeleë eiland af wat Columbus die onbekende ingevaar het. Die Spanjaarde het dit kort tevore verower, en Columbus het die hawetjie San Sebastián aangedoen om water en voedselvoorraad op te laai.

In Columbus se tyd het die eilandbewoners, die Guanches, nog ’n primitiewe lewe gelei, maar hulle was ’n volk met aanpassingsvermoë. Omdat die gebied so bergagtig is, het hulle ’n unieke taal ontwikkel wat uit fluitgeluide bestaan, sodat hulle oor afstande van etlike kilometers of meer van bergrug tot bergrug met mekaar kon gesels. Hoewel hierdie “telefluit”-tegniek grotendeels vergete geraak het, maak bejaardes nog daarvan gebruik wanneer hulle vinnig ’n nuusbrokkie wil oordra. Getuies van Jehovah wat in afgesonderde dorpies gepreek het, het al by meer as een geleentheid gehoor hoe die boodskap “Die Getuies is hier!” van die heuweltoppe af gefluit is.

Op die hoër hellings van die eiland is ’n nasionale park tot stand gebring om ’n oerwoud te beskerm. Sy donker binneste, wat altyd in mis gehul is, is vol kronkelende takke wat met veeragtige mos bedek is, en dit wek herinneringe aan lank vergete sprokies. Hoe vreemd dit ook al mag lyk, hier reën dit gewoonlik onder die bome. Wolke wat deur die heersende noordewinde vinnig oor die woud gewaai word, word deur die bome vir hulle water “gemelk”. Daarom reën dit gewoonlik deurentyd liggies onder die bome, hoewel dit dalk glad nie in die oopte reën nie.

Fossieloorblyfsels toon dat hierdie lourierwoud (wat laurisilva genoem word) vroeër oor die hele Middellandse See-gebied voorgekom het. Maar ’n klimaatsverandering millenniums gelede het die omvang daarvan drasties verminder tot net ’n paar heuweltoppe van die Kanariese Eilande.

Lanzarote—’n heel besonderse woestyneiland

Lanzarote is ’n woestyneiland wat, hoewel dit nie verlate is nie, beslis woestynagtig is. Dit kry feitlik geen reën nie. Die lewe hier was altyd moeilik vir die klein bevolking, maar toe het ’n reeks kwaai vulkaniese uitbarstings twee eeue gelede die oppervlak van die eiland verander. Die vulkane het dood en lewe gebring. Dood, aangesien ’n kwart van die eiland onder lawastrome begrawe is wat ’n skielike einde aan baie dorpies en opstalle gemaak het. Lewe, aangesien die eilandbewoners uit die vulkaanas ’n bestaan kan maak.

Danksy groot hoeveelhede poreuse vulkaangruis, ’n oorblyfsel van die uitbarstings, kan die eilandbewoners vrugte en groente kweek al reën dit miskien maande lank nie. Die landerye is toe onder ’n gruislaag van tien sentimeter wat nie net die vog van die onderliggende grond bewaar nie, maar ook klamheid uit die vogtige naglug opvang en na die grond daaronder deurlaat. Wingerde, vyebome, tamaties, mielies en ander gewasse kom onverwags uit die swart gruis op.

In die Timanfaya- Nasionale Park is daar onder andere indrukwekkende kraters en ’n uitgestrekte gebied daaromheen wat begrawe lê onder die lawa wat deur die kraters uitgestoot is. Die woestynklimaat het die gestolde lawa feitlik onveranderd bewaar, en die besoeker wat deur die park reis, kan hom heel maklik verbeel dat die uitbarstings gister eers opgehou het. Die treffende vulkaanlandskap, sowel as die wit, skilderagtige dorpies, gee die eiland ’n buitengewoon surrealistiese skoonheid.

Hierdie betowerende vulkaaneilande getuig beslis van die aanpasbaarheid van hulle bewoners en die plante wat daar groei. Bowenal beweeg die natuurlike skoonheid daarvan die eerbiedige besoeker om die Skepper van so ’n verskeidenheid te loof.

[Voetnoot]

a Die Crater-meer in Oregon, VSA, is ’n bekende kaldera wat later vol water geword het.

[Venster/Prente op bladsy 18]

Die fauna en flora van die Kanariese Eilande

Die kanarie. (1) Hierdie voëls, wat na die eilandgroep vernoem is, kom nog volop voor, hoewel hulle in die natuur nie so kleurryk is soos die gewilde voëls in koutjies wie se helder kleure die gevolg van meer as vier eeue van keusteelt is nie.

Die Aeonium-spesies. (2) Meer as twintig soorte word oral op die eilande aangetref, en baie groei in rotsskeure. Party, soos die Aeonium lancerottensis, (3) groei selfs uit verharde lawa.

Die Teide-viooltjie. (4) Hierdie brose blommetjies gedy in ’n onherbergsame vulkaanomgewing bykans 3700 meter bo seevlak.

Die piesangplant. (5) Piesangs word al eeue lank op die Kanariese Eilande verbou. Spaanse koloniste het dit kort ná die ontdekking van Amerika na die Karibiese Eilande toe geneem.

Die rooi tajinaste. (6) Trossies klein, rooi blommetjies groei in spirale om ’n enkele steel wat dikwels ’n hoogte van meer as twee meter bereik.

Die drakeboom. (7) Hierdie voorbeeld van die eilande se eienaardigste en mees geliefde boom is glo drieduisend jaar oud. Ou bome soos dié word in munisipale parke goed versorg.

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

La Palma

Tenerife

Gomera

Hierro

Lanzarote

Fuerteventura

Gran Canaria

[Prente]

Tenerife word deur Pico de Teide, ’n rustende vulkaan, oorheers

Die kanarie.

Die Aeonium-spesies.

Aeonium lancerottensis

Die Teide-viooltjie.

Die piesangplant.

Die rooi tajinaste.

Die drakeboom.

[Prente op bladsy 16, 17]

1. Granadillo

2. Tabaiba Majorera

3. Verol dulce

4. Ercila

5. Hierba blanca

6. Teide-viooltjie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel