Eilande word gevorm
“HAWAII.” Die Hawaii-eilande wek beelde van ’n tropiese paradys, sonnige strande en vogtige passaatwinde. Maar het jy geweet hoe ongelooflik afgesonder hierdie eilande is? As jy Hawaii op ’n kaart soek, sal jy vind dat hierdie eilande in die middel van die noordelike Stille Oseaan lê—omtrent so ver weg van enige vasteland se kuslyn af as wat moontlik is! Daarom wonder jy dalk: ‘Hoe het die eilande daar gekom? Dink wetenskaplikes dat daar in die toekoms nog eilande sal ontstaan? Wat kan ons by hierdie eilande leer oor die aarde waarop ons woon?’
Die Hawaise Eilandgroep
Die meeste besoekers aan Hawaii leer die ketting van agt eilande ken wat van die noordweste tot die suidooste strek, waarvan die grootstes Kauai, Oahu, Molokai, Lanai, Maui en Hawaii is. Die kleiner Nihau is wes van Kauai, en Kahoolawe is suidwes van Maui. Die eiland Hawaii, wat ook die Groot Eiland genoem word, beslaan meer as 10 000 vierkante kilometer, terwyl klein Kahoolawe maar net 117 vierkante kilometer groot is. Die eilandketting sluit boonop ook nog 124 veel kleiner eilandjies in wat selfs verder noordwes lê. Midway, naby die noordwestelike punt van die ketting, is byna 2500 kilometer van die Groot Eiland af! Dié eilandjies, wat hoofsaaklik uit koraal en sand bestaan, beslaan ’n totale oppervlakte van net agt vierkante kilometer. Sommige gebruik gepas die naam Hawaise Eilandgroep om na die hele groep eilande te verwys.
As ons daaraan dink dat die eilande en eilandjies op breë basisse geleë is wat gemiddeld meer as 4000 meter bo die omliggende seebodem verhewe is, begin ons verstaan dat hulle maar net die sigbare punte en kruine van enorme berge is. Trouens, wanneer Mauna Kea en Mauna Loa op die eiland Hawaii van hulle basis op die seebodem af gemeet word, is hulle sowat 10 000 meter hoog. Hulle is dus in sekere sin die hoogste berge ter wêreld!
Hoe ’n eiland gevorm word
Laat ons die eiland Hawaii verder ondersoek. Geoloë het vasgestel dat die Groot Eiland uit vyf groot, ineengegroeide vulkane bestaan. Die meeste besoekers ken die drie grootstes—Mauna Kea, wat as rustend beskou word en spog met die hoogste punt op Hawaii, 4205 meter bo seevlak; Mauna Loa, wat 4169 meter hoog is en die grootste Hawaise vulkaan is wat volume betref, en Kilauea, wat die jongste vulkaan is en op die suidelike kant van die eiland geleë is. Daarbenewens vorm die vulkaan Kohala die noordwestelike punt van die eiland, en Hualalai toring bo die Kona-kus uit.
Elke vulkaan het gegroei deur die uitstorting en opeenstapeling van derduisende lawa-uitvloeiings. Uitbarstings begin onder water waar die lawa vinnig afkoel en korse en tongvormige strome vorm wat na ’n hoop opeengestapelde kussings lyk. Wanneer die groeiende vulkaan bo die water uitkom, lyk die lawastrome anders. Vulkanoloë gebruik die Hawaise uitdrukking “pahoehoe” vir vloeistofuitvloeiings wat gladde, golwende en touagtige oppervlaktes het en “aa” vir lawa wat grof, skerp en rotsagtig is. Die vulkaan ontwikkel tot ’n breë berg met ’n geleidelike helling wat soos die skilde lyk wat eertydse Romeinse soldate gedra het. Groot kraters ontstaan by die kruin van die vulkaan wanneer magma, oftewel gesmelte rots, uitbars of terugtrek van die holtes naby die oppervlak. Die magmareserwe binne die vulkaan oefen ook druk uit. Hierdie druk stoot ’n deel van die vulkaan seewaarts en veroorsaak ’n groot klomp krake. Uiteindelik, soos in die geval van Mauna Kea, word die uitbarstings van ’n skildvulkaan groter en word keëlvormige hope vulkaniese as gevorm wat oral op die vulkaan voorkom.
Mauna Loa en Kilauea is onder die aktiefste vulkane ter wêreld. Geskiedenisverslae van Hawaise boorlinge, sendelinge, wetenskaplikes en ander dui daarop dat 48 uitbarstings sedert 1832 op Mauna Loa en meer as 70 uitbarstings sedert 1790 op Kilauea plaasgevind het. Hierdie uitbarstings het enigiets van ure tot jare geduur. Die langste bekende uitbarsting was ’n lawameer in Halemaumau-krater op Kilauea wat byna onophoudelik aktief was van die vroeë 1800’s tot 1924. Kilauea bars nou al sedert Januarie 1983 uit en lewer af en toe skouspelagtige fonteine van vuur en riviere van lawa wat in die see invloei.
Weens hulle tipiese vloeibare lawa het die meeste Hawaise uitbarstings nie ontplof nie of net klein ontploffings veroorsaak. Maar in buitengewone gevalle meng grondwater met magma wat stoomontploffings tot gevolg het. In 1790 het so ’n uitbarsting 80 mense se dood veroorsaak toe ’n groep Hawaise krygsmanne en hulle gesinslede verswelg is deur die warm gasse en brandende as wat deur Kilauea uitgespuug is.
Bewegende eilande
Geskiedenis wat oor die afgelope 200 jaar opgeteken is, toon dat net die twee suidoostelikste eilande, Hawaii en Maui, aktief was. Hierdie vreemde situasie het wetenskaplikes beweeg om die rotsgeskiedenis van die eilandketting verder te bestudeer. Vasgevang binne-in die lawa is klein hoeveelhede van ’n radioaktiewe vorm van kalium en sy vervalproduk, argon, wat hulle in die laboratorium kon meet om die rotsouderdomme te beraam. So ’n ondersoek het aan die lig gebring dat ’n stelselmatige noordweswaartse veroudering van die hele Hawaise eilandgroep oor talle miljoene jare plaasgevind het.
Aangesien Hawaise uitbarstings meer in die suidoostelike deel van die eilandketting voorgekom het, beteken dit dan dat die bron van magma onder hulle ook beweeg het? Geoloë het vasgestel dat die magmabron, wat hulle ’n warm kol noem, in werklikheid nie beweeg nie. Dit is eerder die vloer van die Stille Oseaan wat oor die warm kol beweeg en die eilandvulkane van die warm kol af laat wegbeweeg soos hope klip op ’n vervoerband. Hierdie selfde beweging skuur die Pasifiese seebodem teen die omliggende vastelandmassas en ander dele van die seebodem en veroorsaak sodoende baie van die groot aardbewings wat langs die Stille Oseaan voorkom. As jy in Hawaii woon, het jou huis sedert verlede jaar ongeveer 7,5 sentimeter noordweswaarts geskuif!
Wetenskaplikes sê dat ander warm kolle soos die een onder Hawaii ’n verklaring is vir baie van die vulkane oor die wêreld, op land sowel as in die see. Die meeste van hierdie warm kolle toon ook bewyse van bewegende uitbarstings, wat beteken dat die aarde se oppervlakte waarskynlik ook beweeg het waar jý woon.
Vorming van nuwe eilande . . .
Aangesien dit honderdduisende jare geduur het om die yslike vulkane op die Groot Eiland te vorm, kan ons verwag dat die eiland gedurende hierdie tydperk van die warm kol af wegbeweeg het. Nuwe vulkane en eilande behoort dan te ontwikkel bokant die warm kol namate die seebodem daaroor beweeg. Het ’n potensiële opvolger vir die vulkane van die Groot Eiland al verskyn?
Daar het inderdaad. ’n Vulkanies aktiewe ondersese berg, Loihi, is besig om suid van die eiland Hawaii te groei. Maar moenie dink dat dit gou uit die see te voorskyn gaan kom nie. Dit moet nog 900 meter groei, wat tienduisende jare kan duur.
. . . en vernietiging van ou eilande
Die sterk vulkaniese skilde en ruwe lawastrome waaruit die Hawaii-eilande bestaan, laat dit bedrieglik veilig lyk, asof dit nie weer in die oseaan sal wegsink nie. Maar klein eilandjies en seeberge noordwes van Hawaii wat nou onder water is, toon iets anders. Die sand en koraalriwwe van Midway- en Kure-eiland is byvoorbeeld op groot vulkaniese berge gebou waarvan die kruine nou honderde meters onder seevlak is. Waarom verdwyn vulkaniese eilande?
Die eilande gee geleidelik mee onder die onophoudelike erosie wat deur strome afloopwater, golfwerking en ander kragte veroorsaak word. Die eilande sink ook al hoe dieper onder hulle eie gewig namate hulle die seebodem afdruk. Steil kranse aan die kante van sommige eilande dui op ’n ander proses waardeur vulkaniese eilande verweer—grondverskuiwings. Sonarbeelde van die kante van die eilande wat onder die see is, toon enorme grondverskuiwings wat baie kilometers ver oor die seebodem strek.
Warm kol in werking
Op die eiland Hawaii kan besoekers aan die Hawaii Vulkane- Nasionale Park self die immerwisselende landskappe sien wat deur vulkaniese aktiwiteit van die warm kolle teweeggebring is. Wetenskaplikes by die Hawaise Vulkaanobservatorium wat op die rand van die Kilauea-krater geleë is, monitor voortgesette en dreigende uitbarstings. Hulle studies het hulle groter insig laat kry in hoe vulkane werk en hoe die oppervlakte van die aarde geskuif het. Met ontsag besef ons dat geweldige geologiese kragte die Hawaise eilandgroep laat ontstaan en gevorm het—hierdie pragtige eilandketting in die middel van die Stille Oseaan.
[Kaart op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Hawaii-eilande
Nihau
Kauai
Oahu
Molokai
Lanai
Maui
Kahoolawe
Hawaii
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 24]
’n Ry vuurfonteine op die oostelike skeur van Kilauea
[Prent op bladsy 24, 25]
’n Uitbarsting op Kilauea
[Erkenning]
Vulkane: Dept. of Interior, National Park Service
[Prent op bladsy 25]
’n Lawarivier op Mauna Loa
[Prent op bladsy 26]
’n Gordyn van vuur op Mauna Loa
[Erkenning]
Links bo en regs onder: Dept. of Interior, National Park Service
[Prent op bladsy 26]
’n Uitbarsting van ’n vuurfontein op Kilauea
[Erkenning]
U.S. Geological Survey
[Prent op bladsy 26]
’n Lawameer op Kilauea
[Erkenning]
Links bo en regs onder: Dept. of Interior, National Park Service