Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 11/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VN-mislukking
  • Niemand kan dit verklaar nie
  • Die uitsterwing van voëls is ’n waarskuwing
  • Tienermoeders
  • Rekenaarhulp vir dowes
  • Artefak uit die Eerste Wêreldoorlog ontspoor ’n trein
  • Moorddadige gebruik van handgewere
  • Vlugtelingbere
  • Vlugtelinge trek aan die kortste ent
  • Gevaarlike feestelikhede
  • Toenemende getalle vlugtelinge
    Ontwaak!—1996
  • Help die “inwonende vreemdelinge” om Jehovah met blydskap te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • ’n Wêreld waar elkeen sy eie plek sal hê
    Ontwaak!—2002
  • Wat is die oplossing?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 11/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

VN-mislukking

“Dit is nie net ’n mislukking vir die Verenigde Nasies nie; dit is ’n mislukking vir die internasionale gemeenskap. En ons almal is vir hierdie mislukking verantwoordelik”, het die VN se sekretaris-generaal Boutros Boutros-Ghali gesê toe hy oor die slagting in Rwanda gepraat het. “Dit is rassemoord wat gepleeg is. Meer as 200 000 mense is al doodgemaak en die internasionale gemeenskap bespreek nog wat gedoen moet word.” Soos op 26 Mei berig is, het die sekretaris-generaal gesê dat hy aan meer as 30 staatshoofde geskryf het en hulle gesmeek het om troepe te stuur en dat hy met verskillende organisasies saamgewerk het om ’n oplossing te probeer vind. “Ongelukkig”, het hy bygevoeg, “het ek gefaal. Dit is ’n skande. Ek is die eerste om dit te erken.” Min Afrika-nasies kan dit bekostig om troepe te stuur, veral omdat die VN terugbetaling vertraag het as gevolg van sy eie finansiële moeilikhede. Die meeste Westerse nasies het geweier om betrokke te raak, en die Amerikaanse president Bill Clinton het gesê dat die gebruik van Amerikaanse militêre mag nie geregverdig word deur die belange wat op die spel is nie. Mnr. Boutros-Ghali het “skenkeruitputting” geblameer, aangesien die nasies wat troepe en geld voorsien, gevra word om dit vir 17 verskillende operasies van die Verenigde Nasies te doen, sê The New York Times.

Niemand kan dit verklaar nie

“Kan enigiets Rwanda se skielike, afskuwelike bloeddorstigheid verklaar?” vra The Economist van Londen. “Selfs eeue oue [etniese] vyandigheid verklaar nie die wrede slagting nie.” Hoewel die Tutsi’s en die Hutu’s miskien ietwat verskillend lyk, lewe hulle al eeue lank saam en deel hulle ’n gemeenskaplike taal en kultuur. Die artikel vergelyk hulle stamverskille met die verskille tussen die Skotte en die Engelse. “Tog het hulle nou teen mekaar gedraai, nie met onpersoonlike mortiere of langafstandgewere nie, maar met kapmesse, skoffels, knuppels en kaal hande. Bure het mekaar doodgemaak, selfs mense wat sedert hulle kinderdae vriende was. Mans, vrouens en kinders is deur die bank doodgemaak. Waarom? Dit lyk nie asof enigiemand kan sê nie.”

Die uitsterwing van voëls is ’n waarskuwing

Hoewel geharde voëlspesies—mossies, maina’s en kraaie—onder moeilike toestande floreer, vaar die meeste van die wêreld se voëls nie so goed nie. Sewentig persent van die 9600 voëlspesies is aan die afneem en 1000 spesies kan in die nabye toekoms voor uitwissing te staan kom. “Wat verontrustend is, buiten die direkte verliese wat gely word, is dat voëls, anders as baie ander lewensvorme, ’n besonder goeie aanduiding van die gesondheid van ander spesies is—asook van hele ekosisteme”, sê die tydskrif World Watch. “Wat ons sien, is nie net ’n waarskuwing van die naderende agteruitgang nie, maar ’n deel van die agteruitgang self—’n skeuring in die ekologiese web wat die planeet se gesondheid bewaar.” Voëls hou diere- en insekteplae onder beheer, bestuif plante en help met herbebossing deur boomsade in hulle uitwerpsels te versprei. Maar hulle lewe word bedreig en hulle habitat vernietig namate mense die omgewing verander—deur woude uit te kap, grasvelde vir weiding en landerye te gebruik, vleilande droog te lê en groot gebiede met reusedamprojekte te vernietig—om nie eens te praat van die regstreekse slagting deur jag, die oormatige gebruik van chemikalieë, giftige afvalstowwe en oliestortings nie. “Die tempo waarteen voëls—asook ander diere en plante—uitgewis word, sal waarskynlik vinnig toeneem”, sê die artikel.

Tienermoeders

Wêreldwyd is daar jaarliks meer as 15 miljoen vroue tussen die ouderdom van 15 en 20 wat geboorte gee, raam Populi, ’n tydskrif van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds. Hierdie syfer sluit nie meisies jonger as 15, asook aborsies of miskrame, in nie. In Afrika alleen gee ongeveer 28 persent van alle vroue geboorte voor hulle 18 jaar oud is. Volgens navorsers is van die redes vir die toenemende tienerswangerskappe op daardie vasteland onkunde oor seksuele sake, vroeë huwelike en ekonomiese ontbering wat jong vroue in die versoeking bring om verhoudings met ouer, ryk mans aan te gaan. “Tienervroue se kanse om gedurende swangerskap of bevalling te sterf, is nie net gemiddeld twee keer so groot as dié van vroue 20-34 jaar oud nie”, sê Populi, “maar daar is ook ’n groter moontlikheid dat tienermoeders se babas sal sterf.”

Rekenaarhulp vir dowes

’n Rekenaarstelsel wat onlangs ontwikkel is, sal dowes moontlik binnekort leer om normaal te praat. Dit is vir dowes byna net so moeilik om te leer praat as om ’n vreemde taal te leer. Hierdie feit het daartoe aanleiding gegee dat die Navorsingsentrum van Taaltegnologie by die Universiteit van Edinburg, Skotland, die program ontwikkel het. ’n Verslag deur die nuusdiens Agence France-Presse sê dat die stelsel se rekenaar ’n student se spraak ontleed en onmiddellik aantoon waar regstellings en wysigings vir regte uitspraak nodig is. Daarbenewens sal die program ’n reeks lesse insluit wat ontwerp is om dowes te help om hulle stembuiging en ritme geleidelik te verbeter. Die stelsel sal ook aangepas word om vreemde tale aan dowe studente te leer.

Artefak uit die Eerste Wêreldoorlog ontspoor ’n trein

’n Artefak uit die Eerste Wêreldoorlog het die trots van die Franse Nasionale Spoorweg, sy TGV (Sneltrein), op sy pas geopende spoorlyn tussen Parys en Valenciennes na die noorde van Frankryk ontspoor. Die Paryse nuusblad Le Monde sê dat die ongeluk gebeur het toe ondergrondse kelders, waarvan niemand bewus was nie, onder die TGV se spore skielik ingestort het. Die gebied waar die ongeluk gebeur het, was die toneel van een van die bloedigste stryde van die konflik in 1914-18, die Slag van die Somme. Hoewel dit byna onmoontlik is om hulle van die oppervlak af te sien, deurkruis ondergrondse gange, bedekte loopgrawe en bomkraters—oorblyfsels van die loopgraafoorlog van die Eerste Wêreldoorlog—die hele gebied. Tegniese spanne is gestuur om die oppervlak onder die spoor te fynkam sodat ander moontlike gevaarsones onder die spore opgespoor en versterk kan word.

Moorddadige gebruik van handgewere

Hoeveel mense is in 1992 deur middel van handgewere vermoor? Volgens statistiek wat onlangs beskikbaar gestel is, was daar 13 in Australië, 33 in Brittanje, 60 in Japan, 128 in Kanada, 36 in Swede, 97 in Switserland en ’n ongelooflike 13-220 in die Verenigde State. Soos in die International Herald Tribune berig is, is 38 317 mense gedurende 1991 in die Verenigde State in moorde, selfmoorde en ongelukke met vuurwapens doodgemaak—meer as 100 sterfgevalle elke dag. Die Amerikaanse president Bill Clinton het van ’n hospitaal gepraat waar die aantal opnames vir skietwonde in net vyf jaar van 449 tot 1220 toegeneem het. Ondanks die slagting maak vervaardigers elke 20 sekondes ’n nuwe handgeweer.

Vlugtelingbere

Dit is nie net mense wat die verwoesting van oorlog probeer ontvlug nie. “Die bruinbeer, verskrik deur die volgehoue oorlog in die eertydse Joego-Slawië, verlaat die groot immergroen woude van Bosnië en trek noordwaarts na Italië toe”, sê New Scientist. “Omgewingsgesindes in Italië en Slowenië werk saam om die vlugtelingbere te probeer beskerm.” Die bere het egter ander gevare van mense teëgekom. Talle van die migrerende bere is al deur motors op Italiaanse en Sloweense paaie doodgery. Party is ook doodgemaak ná hulle vee aangeval het of is deur wilddiewe doodgemaak. Boere in Slowenië mag volgens die wet diere doodmaak wat hulle gesaaides beskadig of hulle vee aanval. Geld is ingesamel om die bere van kos te voorsien en hulle sodoende te help om in beskermde gebiede te bly.

Vlugtelinge trek aan die kortste ent

In 1993 was daar ’n groot, wêreldwye toename in die aantal vlugtelinge tot meer as 20 miljoen, sê Sadako Ogata, kommissaris van die Verenigde Nasies se Hoë Kommissie vir Vlugtelinge. In 1991, toe sy haar amp aanvaar het, was daar net 15 miljoen vlugtelinge. Politieke onstabiliteit en etniese konflikte is die hoofredes vir die golf van vlugtelinge, sê die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung. Maar dit lyk asof vlugtelinge oral aan die kortste ent trek. Waarom? Omdat vlugtelinge dikwels in die nuwe lande waar hulle gehuisves word al hoe meer die teiken van geweld is, het die kommissaris bygevoeg. Sy het gesê dat rassehaat en veragting vir buitelanders algemeen voorkom.

Gevaarlike feestelikhede

“Die aantal moorde neem gedurende karnavaltyd met 58 persent toe”, berig die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. In Sao Paulo “was daar 79 moorde en 124 moordaanslae”. Daarbenewens was daar gedurende daardie vyf dae 2227 roofaanvalle (277 in 1993) en 807 aanrandings (282 in 1993) terwyl “diewe huise, winkels, nywerhede en mense op straat aangeval het”. Daar was ook 37 selfmoorde en 25 verkragtings. “In Rio de Janeiro het die Burgerlike Polisie berig dat geweld met 14 persent toegeneem het in vergelyking met die karnaval van 1993. Daar was 63 moorde, 10 meer as verlede jaar.” Waar Dom Eugênio de Araújo Sales, kardinaal-biskop van Rio de Janeiro, in die koerant Jornal do Brasil oor “die risiko’s van karnaval” geskryf het, het hy gesê: “Die Kerk is nie teen die vermaak en betoning van vreugde tydens die karnaval gekant nie, albei is tot groot voordeel van die mense se sielkundige balans. Die Kerk veroordeel wel die skending van die morele wet, waaraan ons almal onderhewig is, of ons nou daarvan hou of nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel