Jong mense vra . . .
Waarom moet ek my ouers gehoorsaam?
STAN is deur godvresende ouers grootgemaak. Maar op 16-jarige ouderdom het hy opstandig geword. Stan verduidelik: “Ek wou mense ontmoet en deur hulle aanvaar word. Ek wou alles hê wat ander mense het.” Stan het hierdie dinge probeer bereik deur ’n dwelmsmous te word. Hy moes natuurlik leuens vertel oor sy doen en late en oor al die geld wat hy huis toe gebring het. “My gewete was dood”, sê Stan.
John is op 11-jarige ouderdom as ’n Christen gedoop. “Maar die waarheid was nie werklik in my hart nie”, erken hy. “Ek het dit gedoen omdat my familie dit van my verwag het. Toe ek hoërskool toe is, het ek wild begin word. Rockmusiek het ook ’n slegte invloed op my gehad. Ek het begin branderry en baie tyd op die strand begin deurbring met jongmense wat nie deur Bybelbeginsels gelei is nie. Daar was dwelms iets algemeens.” Kort voor lank het hy uit sy ouerhuis getrek en ’n lewenstyl aangeneem wat strydig was met alles wat hy geleer is.
Waarom hulle opstandig word
Dit is normaal vir jongmense om hulle perke te toets en ’n mate van onafhanklikheid te ontwikkel. Maar opstandige, onbeheerste en selfvernietigende gedrag is iets heel anders. Wat gee daartoe aanleiding? Daar is baie, verskillende redes. “Wanneer jy jonk is”, verduidelik John, “is jy op soek na pret. Jy wil ’n lekker tyd hê.” Maar vanweë ’n gebrek aan lewensondervinding lê jongmense nie altyd die beste oordeel aan die dag nie (Hebreërs 5:14). Verstandige ouers skryf derhalwe vir hulle kinders redelike grense voor—beperkings wat party jongmense heftig teëstaan.
Sommige jongmense het ongelukkig selfs die opvoeding verwerp wat hulle van godvresende ouers ontvang het (Efesiërs 6:1-4). Jesus het gesê dat die Christelike geloof ’n “nou” en “smal” weg sou wees (Mattheüs 7:13, 14). Christenjongmense kan dus dikwels nie die dinge doen wat hulle skoolmaats doen nie. Die meeste aanvaar die beperkings en besef dat God se wette nie werklik swaar is nie (1 Johannes 5:3). Trouens, hierdie wette beskerm jongmense teen probleme, soos buite-egtelike swangerskappe, dwelmmisbruik en seksueel oordraagbare siektes (1 Korinthiërs 6:9, 10). Maar sommige jongmense kan dit nie insien nie; hulle voel dat Bybelwette hulle lewenstyl beperk.
’n Jong persoon kan veral diep gegrief voel as hy meen dat sy ouers te streng is wat dissipline, ontspanning en vermaak betref. “Ek dink my ouers is te streng met ons”, het een jong meisie gekla. Dit kan weliswaar teleurstellend wees wanneer jy nie toegelaat word om dinge te doen wat ander Christenouers toelaat nie (Kolossense 3:21). Party jongmense gee uiting aan hulle frustrasie deur ongehoorsaam te wees.
Aan die ander kant dwaal party jongmense af omdat hulle ouers glad nie Goddelike beginsels respekteer nie. “My pa was ’n alkoholis”, sê John. “Hy en my ma het gestry omdat hy te veel gedrink het. Ons het verskeie kere verhuis om van hom af weg te kom.” Alkoholiste en ander verslaafdes kan eenvoudig nie voldoende na hulle kinders se behoeftes omsien nie. In sulke huise kan uitskellery en verkleinering ’n jeugdige se daaglikse lot wees.
Ander jongmense raak opstandig omdat hulle ouers hulle in werklikheid in die steek laat of ignoreer. Opstandigheid lyk dalk na ’n manier om hulle ouers se aandag te trek—of om hulle seer te maak. “Vandat ek kan onthou, was dit asof my ouers nooit tuis was nie”, sê ’n jong meisie met die naam Taylor wat uit ’n welgestelde gesin kom. “Ek is die enigste kind, en aangesien my ouers omtrent nooit tuis was nie, het hulle my gewoonlik baie geld gegee.” Weens ’n gebrek aan toesig het Taylor nagklubs toe begin gaan en te veel gedrink. Dit was eers ná sy vir dronkbestuur in hegtenis geneem is dat haar ouers van haar probleem bewus geword het.
Daarbenewens is daar die situasie waarna die apostel Paulus verwys het toe hy ’n groep Christene gevra het: “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” (Galasiërs 5:7). Slegte assosiasie is dikwels die probleem (1 Korinthiërs 15:33). “Ek het met die verkeerde groep begin meng”, sê ’n tiener met die naam Elizabeth. Sy erken dat sy as gevolg van portuurdwang “begin rook en dwelms gebruik het”. Sy sê voorts: “Hoerery was iets alledaags.”
Waarom opstandigheid dwaas is
Miskien is jy ook in ’n situasie wat frustrerend voorkom—of wat selfs onderdrukkend is. Jy kom dalk voor die versoeking om jou ouers te tart en net te doen wat jy wil. Maar soos die regverdige man Job gewaarsku het, moet jy ‘oppas dat woede jou nie tot kwaadwillige dade verlok nie. Wees op jou hoede dat jy jou nie wend tot wat skadelik is nie.’—Job 36:18-21, NW.
Kwaadwillige, onbeheerste gedrag kan moontlik ’n uitwerking op jou ouers hê, maar dit sal waarskynlik onaangenaam wees. Heel moontlik sal hulle jou verder beperk. Daarbenewens sal skadelike gedrag jou ouers baie pyn veroorsaak (Spreuke 10:1). Is dit liefdevol? Sal dit werklik jou situasie verbeter? ’n Veel verstandiger benadering is om sake uit te praat as jy meen dat jy gegronde klagtes het.a Hulle is dalk net bereid om sekere veranderinge aan te bring in die manier waarop hulle jou behandel.
Nog iets om in ag te neem, is die uitwerking wat jou dade op God kan hê. ‘Op God?’ vra jy dalk. Ja, want opstandigheid teenoor jou ouers is dieselfde as opstandigheid teenoor God, aangesien dit hy is wat jou beveel om jou ouers te eer (Efesiërs 6:2). Hoe voel God oor sulke gehoorsaamheid? Die Bybel sê aangaande die nasie Israel: “Hoe dikwels was hulle in die woestyn opstandig teen Hom.” Met watter gevolg? ‘Hulle het God bedroef!’ (Psalm 78:40, NAV). Jy is weliswaar dalk kwaad vir jou ouers en meen dat hulle te beperkend is. Maar wil jy werklik Jehovah God se hart seermaak—die een wat jou liefhet en wil hê dat jy vir ewig moet lewe?—Johannes 17:3; 1 Timotheüs 2:4.
Die hoë prys van “vryheid”
Daar is dus goeie rede waarom ons na ons liefdevolle hemelse Vader moet luister. Moenie deur valse beloftes van “vryheid” bedrieg word nie. (Vergelyk 2 Petrus 2:19.) Dit lyk dalk asof party jongmense met slegte gedrag wegkom. Maar die psalmis het gewaarsku: “Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog” (Psalm 37:1, 2). Jongmense wat opstandig raak, betaal dikwels duur vir hulle sogenaamde vryheid. Die Bybel sê in Galasiërs 6:7: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
Dink aan Stan wat in die begin genoem is. Net soos hy gehoop het, het hy gewild geraak onder sy slegte vriende. “Ek het gevoel asof ek aanvaar word”, sê hy. Dinge het egter gou begin verkeerd loop. Hy sê: “Ek is al geskiet, in hegtenis geneem, en nou gaan ek tronk toe. En al wat ek my kan afvra is: ‘Was dit die moeite werd?’”
Wat van John se soeke na “vryheid”? Ná hy in hegtenis geneem is omdat hy in besit van dwelms was, is hy uit die Christengemeente gesit. Hy het al hoe verder afgewyk. “Ek het motors gesteel om geld te kry”, erken John. “Ek was baie gewelddadig.” John het baie geld uit sy misdade gemaak. Maar hy sê: “Ek het alles verkwis. Die hoeveelheid dwelms wat ons gebruik het, was ongelooflik.” En wanneer John nie baklei, gesteel of dronk geword het nie, het hy vir die polisie gevlug. “Ek is omtrent 50 keer al in hegtenis geneem. Gewoonlik kon hulle geen aanklagte bewys nie, maar ek het eenkeer ’n hele jaar lank in die tronk gesit.” Ja, in plaas van vry te wees, was John verstrik in die “dieptes van Satan”.—Openbaring 2:24.
Dieselfde kan van Elizabeth gesê word. Haar betrokkenheid by wêreldse vriende het haar uiteindelik in die tronk laat beland. Sy erken: “Ek het selfs swanger geword—en as gevolg van my dwelmgebruik het ek die baba verloor. Dwelms was my lewe—dit het gevoel asof ek net vir my volgende dwelmvlug lewe. Uiteindelik het ek my woonstel verloor. Ek kon nie terugkeer huis toe nie en was selfs te skaam om Jehovah om hulp te vra.”
Baie soortgelyke voorbeelde kan genoem word van jongmense wat Goddelike beginsels verwerp het en derhalwe tragiese gevolge gelei het. Die Bybel waarsku: “Die pad wat jy dink reg is, kan tot jou dood lei” (Spreuke 14:12, Today’s English Version). Dit is dus raadsaam om met jou ouers oor die weg te probeer kom deur enige beperkings wat jy voel onredelik is met hulle te bespreek—pleks van opstandig te word.
Maar wat van jongmense vir wie hierdie inligting te laat gekom het; jongmense wie se gedrag reeds baie versleg het? Is daar enige manier waarop hulle sake met hulle ouers—en God—kan regstel? Ons artikel in die volgende nommer sal hierdie vrae ondersoek.
[Voetnoot]
a ’n Paar artikels het nuttige inligting in hierdie verband gegee. Sien byvoorbeeld die artikels “Jongmense vra . . . ” in die Ontwaak! se nommers van 8 Januarie 1985, 8 Augustus 1992 en 8 November 1992.
[Prent op bladsy 26]
Opstandigheid teenoor jou ouers sal jou dalk meer “vryheid” gee, maar het jy al die gevolge oorweeg?